Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 25

Kan mense wat slegte dinge doen, verander?

Kan mense wat slegte dinge doen, verander?

SAL dit nie wonderlik wees as almal doen wat goed is nie?— Maar niemand doen altyd goeie dinge nie. Weet jy hoekom ons almal partykeer slegte dinge doen, selfs wanneer ons wil doen wat goed is?— Omdat ons almal met sonde gebore is. Maar party mense doen baie dinge wat regtig sleg is. Hulle haat ander mense en maak hulle moedswillig seer. Dink jy hulle kan verander en leer om goed te wees?—

Kyk na die jong man wat die klere oppas van die mans wat Stefanus met klippe gooi. Sy Hebreeuse naam was Saulus, maar sy Romeinse naam was Paulus. Hy was bly dat Stefanus, wat ’n dissipel van die Groot Onderwyser was, doodgemaak word. Kom ons kyk hoekom Saulus sulke slegte dinge gedoen het.

Saulus het aan ’n Joodse godsdiensgroep behoort wat die Fariseërs genoem is. Die Fariseërs het God se Woord gehad, maar die leringe van party van hulle eie godsdiensleiers was vir hulle belangriker. Dit het Saulus slegte dinge laat doen.

Saulus was daar toe Stefanus in Jerusalem in hegtenis geneem is. Stefanus is hof toe geneem, waar party van die regters Fariseërs was. Selfs al het die mense slegte dinge van Stefanus gesê, was hy nie bang nie. Hy het reguit gepraat en vir die regters ’n goeie getuienis oor Jehovah God en Jesus gegee.

Maar daardie regters het nie gehou van wat hulle gehoor het nie. Hulle het alreeds baie van Jesus geweet. Om die waarheid te sê, hulle het Jesus net ’n kort rukkie tevore laat doodmaak! Maar daarna het Jehovah Jesus teruggeneem hemel toe. In plaas daarvan om te verander, het die regters nou Jesus se dissipels vervolg.

Die regters het Stefanus gegryp en hom tot buite die stad geneem. Hulle het hom so hard geslaan dat hy op die grond geval het en het hom met klippe gegooi. En soos jy in die prent kan sien, het Saulus daarna gestaan en kyk. Hy het gedink dat dit reg is om Stefanus dood te maak.

Hoekom dink Saulus dat dit reg is om Stefanus dood te maak?

Weet jy hoekom Saulus so gedink het?— Wel, Saulus was sy hele lewe lank ’n Fariseër, en hy het geglo dat die leringe van die Fariseërs reg is. Hy het daardie manne as ’n voorbeeld beskou, en hy het hulle nagevolg.—Handelinge 7:54-60.

Wat het Saulus gedoen nadat Stefanus doodgemaak is?— Hy het probeer om van die res van Jesus se dissipels ontslae te raak! Hy het tot in hulle huise gegaan en mans sowel as vroue uitgesleep. Dan het hy hulle in die tronk laat gooi. Baie van die dissipels moes uit Jerusalem weggaan, maar hulle het nie opgehou om oor Jesus te preek nie.—Handelinge 8:1-4.

Dit het gemaak dat Saulus Jesus se dissipels selfs nog meer gehaat het. Daarom het hy na hoëpriester Kajafas toe gegaan en toestemming gekry om Christene in die stad Damaskus in hegtenis te neem. Saulus wou hulle as gevangenes na Jerusalem toe bring sodat hulle gestraf kon word. Maar terwyl hy op pad na Damaskus toe was, het iets vreemds gebeur.

Wie praat met Saulus, en wat stuur Hy Saulus om te doen?

’n Lig het uit die hemel geflits en ’n stem het gesê: “Saul, Saul, waarom vervolg jy my?” Dit was Jesus wat uit die hemel gepraat het! Die lig was so skerp dat dit Saulus blind gemaak het, en die mense saam met Saulus moes hom na Damaskus toe lei.

Drie dae later het Jesus in ’n visioen verskyn aan een van sy dissipels in Damaskus met die naam Ananias. Jesus het vir Ananias gesê om na Saulus toe te gaan, sy blindheid weg te neem en met hom te praat. Toe Ananias met hom praat, het Saulus die waarheid oor Jesus aangeneem. Toe kon hy weer sien. Sy lewenswyse het heeltemal verander, en hy het ’n getroue kneg van God geword.—Handelinge 9:1-22.

Kan jy nou sien hoekom Saulus voorheen slegte dinge gedoen het?— Dit was omdat hy verkeerde dinge geleer is. Hy het mense gevolg wat nie aan God getrou was nie. En hy het aan ’n groep mense behoort vir wie die idees van mense belangriker was as die Woord van God. Maar hoekom het Saulus sy lewe verander en goeie dinge begin doen, selfs al het ander Fariseërs aangehou om teen God te stry?— Dit is omdat Saulus nie regtig die waarheid gehaat het nie. Toe hy gewys is wat reg is, was hy dus gewillig om dit te doen.

Weet jy wie Saulus later geword het?— Ja, hy het die apostel Paulus geword, ’n apostel van Jesus. En onthou, Paulus het meer Bybelboeke as enigiemand anders geskryf.

Daar is baie mense soos Saulus wat kan verander. Maar dit is nie maklik nie, want daar is iemand wat baie hard werk om mense slegte dinge te laat doen. Weet jy wie dit is?— Jesus het van hom gepraat toe Jesus op die pad na Damaskus aan Saulus verskyn het. Daar het Jesus uit die hemel met Saulus gepraat en gesê: ‘Ek stuur jou om mense se oë oop te maak, om hulle van die duisternis na die lig en van die gesag van Satan na God te laat kom.’—Handelinge 26:17, 18.

Ja, dit is Satan die Duiwel wat probeer om almal slegte dinge te laat doen. Is dit partykeer vir jou moeilik om te doen wat reg is?— Dit is partykeer vir ons almal moeilik. Satan maak dit moeilik. Maar daar is nog ’n rede hoekom dit nie altyd maklik is om te doen wat reg is nie. Weet jy wat die rede is?— Dit is omdat ons met sonde gebore word.

Dit is hierdie sonde wat dit baiekeer vir ons makliker maak om te doen wat verkeerd is as om te doen wat reg is. Wat moet ons dan doen?— Ja, ons moet altyd hard probeer om te doen wat reg is. As ons dit doen, kan ons seker wees dat Jesus, wat vir ons lief is, ons sal help.

Toe Jesus op die aarde was, was hy lief vir mense wat voorheen verkeerde dinge gedoen het maar verander het. Hy het geweet hoe moeilik dit vir hulle was om te verander. Daar was byvoorbeeld vroue wat met baie mans geslagsomgang gehad het. Dit was natuurlik verkeerd. Die Bybel noem hierdie vroue hoere, of prostitute.

Hoekom het Jesus hierdie vrou vergewe wat slegte dinge gedoen het?

Eenkeer het so ’n vrou van Jesus gehoor en na hom toe gekom toe hy in die huis van ’n Fariseër was. Sy het olie op Jesus se voete gegooi en het haar trane met haar hare van sy voete afgevee. Sy was baie jammer oor haar sondes, en daarom het Jesus haar vergewe. Maar die Fariseër het nie gedink dat sy vergewe moes word nie.—Lukas 7:36-50.

Weet jy wat Jesus vir party van die Fariseërs gesê het?— Hy het vir hulle gesê: “Die hoere [gaan] voor julle in die koninkryk van God in” (Matteus 21:31). Jesus het dit gesê, want die hoere het hom geglo, en hulle het opgehou om slegte dinge te doen. Maar die Fariseërs het aangehou om slegte dinge aan Jesus se dissipels te doen.

Wanneer die Bybel dan wys dat iets wat ons doen, verkeerd is, moet ons gewillig wees om te verander. En wanneer ons uitvind wat Jehovah wil hê ons moet doen, moet ons gretig wees om dit te doen. Dan sal ons Jehovah bly maak, en hy sal vir ons die ewige lewe gee.

Om ons te help om nie verkeerde dinge te doen nie, kom ons lees Psalm 119:9-11; Spreuke 3:5-7 en 12:15.