Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 27

Wie is jou God?

Wie is jou God?

WAAROM is die vraag: ‘Wie is jou God?’ belangrik?— Omdat mense baie gode aanbid (1 Korintiërs 8:5). Toe die apostel Paulus krag van Jehovah ontvang het om ’n man te genees wat nog nooit geloop het nie, het die mense uitgeroep: “Die gode het soos mense geword en het na ons toe neergedaal!” Die mense wou Paulus en sy vriend Barnabas aanbid. Hulle het Paulus Hermes en Barnabas Zeus genoem, wat die name van valse gode was.

Maar Paulus en Barnabas het die mense nie toegelaat om hulle te aanbid nie. Hulle het tussen die skare ingespring en gesê: ‘Los hierdie nietige dinge en aanbid die lewende God’ (Handelinge 14:8-15). Wie is “die lewende God”, wat alles geskep het?— Ja, dit is Jehovah, “die Allerhoogste oor die hele aarde”. Jesus het Jehovah “die enigste ware God” genoem. Wie alleen verdien dan om aanbid te word?— Net Jehovah!—Psalm 83:18; Johannes 17:3; Openbaring 4:11.

Hoekom het Paulus en Barnabas die mense nie toegelaat om voor hulle neer te buig nie?

Die meeste mense aanbid ander gode en nie “die enigste ware God” nie. Baiekeer aanbid hulle goed wat hulle van hout, klip of metaal maak (Eksodus 32:4-7; Levitikus 26:1; Jesaja 44:14-17). Selfs mans en vroue wat beroemd geword het, word soms gode, sterre of helde genoem. Is dit reg om hulle te vereer?—

Nadat Saulus die apostel Paulus geword het, het hy geskryf: “Die god van hierdie stelsel van dinge [het] die verstande van die ongelowiges verblind” (2 Korintiërs 4:4). Wie is hierdie god?— Ja, Satan die Duiwel! Satan het mense gekry om baie mense en dinge te aanbid.

Wat het Jesus vir Satan gesê toe Satan Jesus probeer kry het om neer te buig en hom te aanbid?— “Jehovah jou God moet jy aanbid, en aan hom alleen moet jy heilige diens verrig” (Matteus 4:10). So het Jesus duidelik getoon dat aanbidding net aan Jehovah behoort. Kom ons lees van ’n paar jong mans wat dit geweet het. Hulle name was Sadrag, Mesag en Abednego.

Hierdie jong Hebreërs was lede van God se nasie Israel en is as gevangenes na die land Babilon geneem. Daar het ’n koning met die naam Nebukadnesar ’n groot goue beeld gebou. Eendag het hy beveel dat almal voor die beeld moet neerbuig wanneer musiek gespeel word. ‘Elkeen wat nie neerbuig en aanbid nie, sal in die brandende vuuroond gegooi word’, het hy gewaarsku. Wat sou jy gedoen het?—

Hoekom wil hierdie mans nie voor die beeld neerbuig nie?

Sadrag, Mesag en Abednego het gewoonlik alles gedoen wat die koning beveel het. Maar hulle het geweier om hierdie ding te doen. Weet jy hoekom?— Dit was omdat God se wet gesê het: ‘Jy mag geen ander gode buiten my hê nie. Jy mag vir jou geen gesnede beeld maak en jou daarvoor neerbuig nie’ (Eksodus 20:3-5). Daarom het Sadrag, Mesag en Abednego eerder Jehovah se wet as die bevel van die koning gehoorsaam.

Die koning was baie kwaad, en hy het dadelik die drie jong Hebreërs voor hom laat bring. Hy het gevra: ‘Is dit regtig so dat julle nie my gode dien nie? Ek sal julle nog ’n kans gee. Wanneer julle dan nou die musiek hoor, val neer en aanbid die beeld wat ek gemaak het. As julle dit nie doen nie, sal julle in die brandende vuuroond gegooi word. En wie is die god wat julle uit my hande kan red?’

Wat sou die jong mans nou doen? Wat sou jy gedoen het?— Hulle het vir die koning gesê: ‘Ons God wat ons dien, kan ons red. Maar selfs al doen hy dit nie, sal ons nie u gode dien nie. Ons sal nie voor u goue beeld neerbuig nie.’

Die koning was woedend. Hy het beveel: ‘Maak die oond sewe keer warmer as gewoonlik!’ Toe het hy sy sterk manne beveel om Sadrag, Mesag en Abednego vas te bind en hulle in die oond te gooi! Die oond was so warm dat die koning se manne deur die vlamme doodgebrand is! Wat van die drie Hebreërs?

Sadrag, Mesag en Abednego het binne-in die vuur geval. Maar toe het hulle opgestaan! Die vuur het niks aan hulle gedoen nie. En hulle was nie meer vasgebind nie. Hoe was dit moontlik?— Die koning het in die oond ingekyk, en wat hy gesien het, het hom bang gemaak. ‘Het ons nie drie mans in die vuur gegooi nie?’ het hy gevra. Sy knegte het geantwoord: “Ja, o koning.”

Hoe het Jehovah sy knegte uit die vuuroond gered?

Toe het die koning gesê: ‘Kyk! Ek sien vier persone wat daarbinne rondloop, en die vuur doen niks aan enigeen van hulle nie.’ Weet jy wie daardie vierde een was?— Dit was Jehovah se engel. Hy het die drie Hebreërs beskerm sodat hulle niks oorgekom het nie.

Wel, toe die koning dit sien, het hy na die deur van die oond gegaan en uitgeroep: “Sadrag, Mesag en Abednego, knegte van die Allerhoogste God, kom uit hierheen!” Toe hulle uitkom, kon almal sien dat hulle nie verbrand het nie. Hulle het nie eens na vuur geruik nie. Toe het die koning gesê: ‘Mag die God van Sadrag, Mesag en Abednego geloof word, wat ’n engel gestuur het om sy knegte te red omdat hulle geen ander god behalwe hulle eie God wou aanbid nie.’—Daniël, hoofstuk 3.

Watter afgode vereer mense vandag?

Ons kan ’n les leer uit wat daar gebeur het. Selfs vandag maak mense beelde, of afgode, om te aanbid. The Encyclopedia Americana sê: “Die vlag is, soos die kruis, heilig.” Beelde kan van hout, klip, metaal of lap gemaak word. Vroeë dissipels van Jesus het geweier om ’n daad van aanbidding voor die Romeinse keiser te verrig, wat volgens die geskiedskrywer Daniel P. Mannix min of meer dieselfde is as “om te weier om die vlag te salueer of om die eed van getrouheid af te lê”.

Dink jy dan dat dit vir God saak maak of ’n godsdiensbeeld van lap, hout, klip of metaal gemaak is?— Sou dit vir ’n kneg van Jehovah reg wees om ’n daad van aanbidding voor so ’n beeld te verrig?— Sadrag, Mesag en Abednego het geweier om dit te doen, en Jehovah was trots op hulle. Hoe kan jy hulle voorbeeld volg?—

Mense wat Jehovah dien, kan geen ander persoon of voorwerp aanbid nie. Lees wat dit hieroor sê in Josua 24:14, 15, 19-22; Jesaja 42:8; 1 Johannes 5:21 en Openbaring 19:10.