Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 28

Hoe om te weet aan wie ons gehoorsaam moet wees

Hoe om te weet aan wie ons gehoorsaam moet wees

DIT is partykeer moeilik om te weet aan wie ons gehoorsaam moet wees. Jou ma of pa sê miskien jy moet een ding doen. Maar dan sê ’n onderwyser of ’n polisieman dalk jy moet iets anders doen. Aan wie van hulle sal jy gehoorsaam wees as dit gebeur?—

Vroeër in hierdie boek, in Hoofstuk 7, het ons Efesiërs 6:1-3 uit die Bybel gelees. Daar sê dit dat kinders aan hulle ouers gehoorsaam moet wees. “Wees gehoorsaam aan julle ouers in eenheid met die Here”, sê die teks. Weet jy wat dit beteken om “in eenheid met die Here” te wees?— Ouers wat in eenheid met die Here is, leer hulle kinders om God se wette te gehoorsaam.

Maar party ouer mense glo nie in Jehovah nie. Sê nou een van hulle sê jy kan maar in ’n skooltoets kul of iets in ’n winkel vat sonder om daarvoor te betaal? Is dit dan reg vir ’n kind om te kul of te steel?—

Onthou, koning Nebukadnesar het eenkeer beveel dat almal moet neerbuig voor die goue beeld wat hy gebou het. Maar Sadrag, Mesag en Abednego het geweier om neer te buig. Weet jy hoekom?— Omdat die Bybel sê dat mense net Jehovah moet aanbid.—Eksodus 20:3; Matteus 4:10.

Wat sê Petrus vir Kajafas?

Nadat Jesus dood is, is sy apostels voor die Sanhedrin gebring, wat die vernaamste godsdienshof van die Jode was. Die hoëpriester Kajafas het gesê: “Ons het julle uitdruklik beveel om nie voort te gaan om in [Jesus se] naam te leer nie, en kyk! julle het Jerusalem nietemin met julle leer vervul.” Hoekom was die apostels nie aan die Sanhedrin gehoorsaam nie?— Petrus, wat namens al die apostels gepraat het, het vir Kajafas geantwoord: “Ons moet eerder aan God as heerser gehoorsaam wees as aan mense.”—Handelinge 5:27-29.

In daardie tyd het die godsdiensleiers van die Jode baie mag gehad. Maar die Romeinse regering het oor hulle land geheers. Die hoof van daardie regering is die keiser genoem. Al wou die Jode nie hê dat die keiser oor hulle moes heers nie, het die Romeinse regering baie goeie dinge vir die mense gedoen. En regerings doen vandag ook goeie dinge vir hulle burgers. Weet jy wat party van hierdie dinge is?—

Regerings bou paaie om op te ry en betaal polisiemanne en brandweermanne om ons te beskerm. Hulle voorsien moontlik ook skole vir kinders en gesondheidsorg vir ou mense. Dit kos ’n regering geld om hierdie dinge te doen. Weet jy waar die regering die geld kry?— Van die mense. Die geld wat mense aan die regering betaal, word belasting genoem.

Toe die Groot Onderwyser op die aarde gelewe het, wou baie Jode nie belasting aan die Romeinse regering betaal nie. Daarom het die priesters eendag ’n paar mans gehuur om vir Jesus ’n vraag te vra om hom in die moeilikheid te kry. Die vraag was: ‘Moet ons belasting aan die keiser betaal of nie?’ Dit was ’n strikvraag. As Jesus geantwoord het: ‘Ja, julle moet belasting betaal’, sou baie van die Jode nie gehou het van wat hy gesê het nie. Maar Jesus kon nie sê: ‘Nee, julle hoef nie belasting te betaal nie.’ Dit sou verkeerd wees om dit te sê.

Wat het Jesus toe gedoen? Wel, hy het gesê: ‘Wys vir my ’n muntstuk.’ Toe hulle vir hom een bring, het Jesus vir hulle gevra: ‘Wie se gesig en naam is hierop?’ Die mans het gesê: “Die keiser s’n.” Toe het Jesus gesê: “Betaal dan alte seker aan die keiser terug wat aan die keiser behoort, maar aan God wat aan God behoort.”—Lukas 20:19-26.

Hoe het Jesus hierdie mans se strikvraag beantwoord?

Wel, niemand kon met daardie antwoord foutvind nie. As die keiser dinge vir mense doen, is dit net reg om die geld wat die keiser gemaak het, te gebruik om hom vir hierdie dinge te betaal. So het Jesus gewys dat dit reg is om belasting aan die regering te betaal vir die dinge wat ons kry.

Jy is nou wel miskien nie oud genoeg om belasting te betaal nie. Maar daar is iets wat jy aan die regering moet gee. Weet jy wat dit is?— Gehoorsaamheid aan die regering se wette. Die Bybel sê: ‘Wees gehoorsaam aan die hoër owerhede.’ Hierdie owerhede is die mense wat mag het in die regering. Met ander woorde, dit is God wat sê dat ons die wette van die regering moet gehoorsaam.—Romeine 13:1, 2.

Daar is dalk ’n wet wat sê dat ’n mens nie papier of ander goed op die straat mag gooi nie. Moet jy daardie wet gehoorsaam?— Ja, God wil hê dat jy dit moet gehoorsaam. Moet jy ook aan polisiemanne gehoorsaam wees?— Die regering betaal polisiemanne om mense te beskerm. As ons aan hulle gehoorsaam is, is dit asof ons aan die regering gehoorsaam is.

Wat moet jy dan doen as jy oor ’n straat wil stap en ’n polisieman sê: “Wag!”?— Sê nou ander hardloop in elk geval oor; moet jy dit ook doen?— Jy moet wag, al is jy die enigste een wat wag. God sê vir jou om gehoorsaam te wees.

Daar is miskien moeilikheid in die buurt en ’n polisieman sê dalk: “Bly van die strate af. Moenie uitgaan nie.” Maar sê nou jy hoor ’n geskreeu en wonder wat gaan aan. Moet jy uitgaan om te kyk?— Sal jy aan “die hoër owerhede” gehoorsaam wees as jy dit doen?—

Op baie plekke bou die regering ook skole en betaal dit die onderwysers. Dink jy dan dat God wil hê jy moet aan die onderwyser gehoorsaam wees?— Dink ’n bietjie daaraan. Die regering betaal die onderwyser om die kinders te leer, net soos dit ’n polisieman betaal om mense te beskerm. As jy dan aan ’n polisieman of ’n onderwyser gehoorsaam is, is dit asof jy aan die regering gehoorsaam is.

Hoekom moet ons aan ’n polisieman gehoorsaam wees?

Maar sê nou ’n onderwyser sê dat jy ’n daad van aanbidding voor ’n beeld moet verrig? Wat sal jy dan doen?— Die drie Hebreërs het nie voor die beeld neergebuig nie, selfs toe koning Nebukadnesar gesê het hulle moet. Onthou jy hoekom nie?— Omdat hulle nie aan God ongehoorsaam wou wees nie.

’n Geskiedskrywer met die naam Will Durant het oor die vroeë Christene geskryf en gesê hulle ‘trou [of, lojaliteit] was nie allereers aan die keiser nie’. Nee, dit was heel eerste aan Jehovah! Onthou dan dat God eerste in ons lewe moet kom.

Ons is gehoorsaam aan die regering, want dit is wat God wil hê ons moet doen. Maar wat moet ons sê as ons beveel word om iets te doen wat God sê ons nie moet doen nie?— Ons moet sê wat die apostels vir die hoëpriester gesê het: “Ons moet eerder aan God as heerser gehoorsaam wees as aan mense.”—Handelinge 5:29.

Die Bybel leer ons om respek vir die wet te hê. Lees wat geskrywe staan in Matteus 5:41; Titus 3:1 en 1 Petrus 2:12-14.