Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 29

Keur God alle partytjies goed?

Keur God alle partytjies goed?

Hoekom het God hierdie partytjie goedgekeur?

HOU jy van partytjies?— Hulle kan groot pret wees. Dink jy dat die Groot Onderwyser wil hê ons moet na partytjies toe gaan?— Wel, hy het na iets toe gegaan wat ’n partytjie genoem kan word toe iemand getrou het, en party van sy dissipels het saam met hom gegaan. Jehovah is “die gelukkige God”, en daarom is hy bly wanneer ons ’n goeie partytjie geniet.—1 Timoteus 1:11; Johannes 2:1-11.

Bladsy 29 van hierdie boek vertel ons dat Jehovah die Rooi See verdeel het sodat die Israeliete daardeur kon trek. Onthou jy dit?— Daarna het die mense gesing en gedans en vir Jehovah dankie gesê. Dit was soos ’n partytjie. Die mense was baie gelukkig, en ons kan seker wees dat God ook gelukkig was.—Eksodus 15:1, 20, 21.

Amper 40 jaar later het die Israeliete na ’n ander groot partytjie toe gegaan. Maar hierdie keer was die mense wat hulle genooi het, nie eens aanbidders van Jehovah nie. Om die waarheid te sê, die mense wat hulle genooi het, het selfs voor ander gode neergebuig om hulle te aanbid en het geslagsomgang gehad met mense met wie hulle nie getroud was nie. Dink jy dit was reg om na so ’n partytjie toe te gaan?— Wel, Jehovah het nie daarvan gehou nie, en hy het die Israeliete gestraf.—Numeri 25:1-9; 1 Korintiërs 10:8.

Die Bybel vertel ook van twee verjaarsdagpartytjies. Was een van hulle om die verjaarsdag van die Groot Onderwyser te vier?— Nee. Al twee hierdie verjaarsdagpartytjies was vir manne wat Jehovah nie gedien het nie. Een was ’n verjaarsdagpartytjie vir koning Herodes Antipas. Hy was die heerser van die streek Galilea toe Jesus daar gebly het.

Koning Herodes het baie dinge gedoen wat sleg was. Hy het sy broer se vrou vir homself gevat. Haar naam was Herodias. God se kneg Johannes die Doper het vir Herodes gesê dat dit verkeerd van hom was om dit te doen. Herodes het nie daarvan gehou nie. Daarom het hy Johannes in die tronk laat gooi.—Lukas 3:19, 20.

Terwyl Johannes in die tronk was, het die dag gekom om Herodes se verjaarsdag te vier. Herodes het ’n groot partytjie gegee. Hy het ’n klomp belangrike mense genooi. Hulle het almal geëet en gedrink en dit geniet. Toe het Herodias se dogter ingekom en vir hulle gedans. Almal het haar dansery so geniet dat koning Herodes vir haar ’n spesiale geskenk wou gee. Hy het vir haar gesê: “Net wat jy my vra, sal ek vir jou gee, tot die helfte van my koninkryk.”

Wat sou sy vra? Sou dit geld wees? mooi klere? haar eie paleis? Die meisie het nie geweet wat om te sê nie. Daarom het sy na haar ma, Herodias, toe gegaan en gesê: “Wat moet ek vra?”

Wel, Herodias het Johannes die Doper verskriklik gehaat. Daarom het sy vir haar dogter gesê om vir sy kop te vra. Die meisie het na die koning toe teruggegaan en gesê: “Ek wil hê u moet dadelik vir my die kop van Johannes die Doper op ’n skottel gee.”

Koning Herodes wou Johannes nie doodmaak nie, want hy het geweet dat Johannes ’n goeie man was. Maar Herodes het ’n belofte gemaak, en hy was bang vir wat die ander by die partytjie sou dink as hy van plan verander. Daarom het hy ’n man na die tronk toe gestuur om Johannes se kop af te kap. Die man het gou teruggekom. Hy het Johannes se kop op ’n skottel gehad en dit vir die meisie gegee. Toe het die meisie dit vir haar ma gegee.—Markus 6:17-29.

Die ander verjaarsdagpartytjie waarvan die Bybel vertel, was niks beter nie. Dit was vir ’n koning van Egipte. Gedurende hierdie partytjie het die koning ook iemand se kop laat afkap. En toe het hy die man opgehang vir die voëls om te eet! (Genesis 40:19-22). Dink jy God het daardie twee partytjies goedgekeur?— Sou jy daar wou gewees het?—

Wat het by Herodes se verjaarsdagpartytjie gebeur?

Ons weet dat alles in die Bybel vir ’n rede daar is. Dit vertel van net twee verjaarsdagpartytjies. En by al twee is slegte dinge gedoen as deel van die partytjie. Wat sou jy dan sê probeer God vir ons van verjaarsdagpartytjies vertel? Wil God hê ons moet verjaarsdae vier?—

Dit is waar dat mense vandag by sulke partytjies nie iemand se kop afkap nie. Maar die hele idee om verjaarsdae te vier, het begin by mense wat nie die ware God aanbid het nie. The Catholic Encyclopedia sê oor die verjaarsdagpartytjies wat in die Bybel genoem word: “Dit is net sondaars . . . wat hulle geboortedag met groot blydskap vier.” Wil ons soos hulle wees?—

Wat van die Groot Onderwyser? Het hy sy verjaarsdag gevier?— Nee, die Bybel sê niks oor ’n verjaarsdagpartytjie vir Jesus nie. Om die waarheid te sê, Jesus se vroeë volgelinge het nie sy verjaarsdag gevier nie. Weet jy hoekom mense later besluit het om Jesus se verjaarsdag op 25 Desember te vier?—

Daardie datum is gekies omdat, soos The World Book Encyclopedia sê, “die mense van Rome dit reeds as die Saturnusfees, die viering van die geboorte van die son, gehou het”. Mense het dus besluit om Jesus se verjaarsdag te vier op ’n dag wat reeds vir heidene ’n heilige dag was!

Weet jy hoekom Jesus nie in Desember gebore kon gewees het nie?— Omdat die Bybel sê dat herders nog steeds in die nag in die veld was toe Jesus gebore is (Lukas 2:8-12). En hulle sou nie in die koue, reënerige Desembermaand daar buite gewees het nie.

Hoekom kon Jesus nie op 25 Desember gebore gewees het nie?

Baie mense weet Kersfees is nie Jesus se verjaarsdag nie. Hulle weet selfs dat heidene op daardie dag ’n viering gehad het wat God nie goedgekeur het nie. Maar baie mense vier Kersfees in elk geval. Dit is vir hulle belangriker om ’n partytjie te hou as om uit te vind wat God regtig daarvan dink. Maar ons wil Jehovah bly maak, nè?—

Wanneer ons dan partytjies hou, wil ons seker maak dat hulle goed is in Jehovah se oë. Ons kan hulle enige tyd in die jaar hou. Ons hoef nie vir ’n spesiale dag te wag nie. Ons kan spesiale kos eet en lekker speletjies speel. Sal jy dit graag wil doen?— Miskien kan jy met jou ouers praat en kan hulle jou help om ’n partytjie te reël. Dit sal lekker wees, nè?— Maar voordat jy planne vir ’n partytjie maak, moet jy seker maak dat dit die soort partytjie is wat God sal goedkeur.

Hoe kan ons seker maak dat God ons partytjies goedkeur?

Die belangrikheid daarvan om altyd te doen wat God goedkeur, word ook getoon in Spreuke 12:2; Johannes 8:29; Romeine 12:2 en 1 Johannes 3:22.