Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 31

Waar ons vertroosting kan vind

Waar ons vertroosting kan vind

VOEL jy ooit hartseer en alleen?— Wonder jy ooit of enigiemand lief is vir jou?— Party kinders voel so. Maar God belowe: “Ek sal jou nie vergeet nie” (Jesaja 49:15). Is dit nie wonderlik om daaraan te dink nie?— Ja, Jehovah God het ons regtig lief!

Hoe dink jy voel hierdie verdwaalde skapie?

’n Bybelskrywer het gesê: “As my eie vader en my eie moeder my sou verlaat, sal Jehovah my opneem” (Psalm 27:10). Dit kan ons regtig vertroos, of beter laat voel, as ons dit weet, nè?— Ja, Jehovah sê vir ons: “Moenie bang wees nie, want ek is met jou. . . . Ek sal jou werklik help.”Jesaja 41:10.

Maar partykeer laat Jehovah Satan toe om dinge vir ons moeilik te maak. Jehovah laat Satan selfs toe om Sy knegte te toets. Die Duiwel het Jesus eenkeer so erg laat ly dat Jesus uitgeroep en vir Jehovah gevra het: “My God, my God, waarom het u my verlaat?” (Matteus 27:46). Al het Jesus gely, het hy nog steeds geweet dat Jehovah hom liefhet (Johannes 10:17). Maar Jesus het ook geweet dat God Satan toelaat om Sy knegte te toets en om hulle te laat ly. In ’n ander hoofstuk sal ons verduidelik hoekom God Satan toelaat om dit te doen.

Wanneer ons klein is, is dit partykeer moeilik om nie bang te wees nie. Het jy byvoorbeeld al ooit verdwaal?— Was jy bang?— Baie kinders sou bang wees. Die Groot Onderwyser het eenkeer ’n storie vertel, nie oor ’n verdwaalde kind nie, maar oor ’n verdwaalde skaap.

In party opsigte kan jy met ’n skaap vergelyk word. Hoe so? Wel, skape is nie baie groot of sterk nie. En hulle het iemand nodig om vir hulle te sorg en hulle te beskerm. Die man wat vir skape sorg, word ’n herder genoem.

Jesus het in sy storie vertel van ’n herder wat honderd skape gehad het. Maar toe het een van die skape verdwaal. Hy wou miskien gesien het wat aan die ander kant van die bult was. Maar daardie skaap was gou ver van die ander af weg. Kan jy jou voorstel hoe daardie skaap moes gevoel het toe hy rondkyk en sien dat hy stoksielalleen is?—

Wat sou die herder doen wanneer hy agterkom dat die een skaap weg is? Sou hy sê dat dit die skaap se eie skuld is, en daarom gaan hy nie oor daardie skaap bekommerd wees nie? Of sou hy die 99 skape op ’n veilige plek los en na die één skaap gaan soek? Sou één skaap al daardie moeite werd wees?— Sou jy wou hê dat die herder na jou moet soek as jy daardie verdwaalde skaap was?—

Wie is soos die herder wat sy skaap gered het?

Die herder was baie lief vir al sy skape, selfs die een wat verdwaal het. Daarom het hy die een wat verdwaal het, gaan soek. Dink net hoe bly daardie verdwaalde skaap moes gewees het toe hy die herder sien aankom! En Jesus het gesê dat die herder bly was omdat hy sy skaap gevind het. Hy was blyer oor hom as oor die 99 skape wat nie verdwaal het nie. Wie is dan nou soos die herder in Jesus se storie? Wie gee soveel vir ons om soos daardie herder vir sy skape omgegee het?— Jesus het gesê dat sy Vader in die hemel soveel vir ons omgee. En sy Vader is Jehovah.

Jehovah God is die Groot Herder van sy volk. Hy het almal lief wat hom dien, ook kinders soos jy. Hy wil nie hê dat enigeen van ons moet seerkry of vernietig moet word nie. Dit is tog te wonderlik om te weet dat God soveel vir ons omgee!—Matteus 18:12-14.

Is Jehovah vir jou so werklik soos wat jou pa of ’n ander persoon is?

Glo jy regtig in Jehovah God?— Is hy vir jou ’n werklike persoon?— Dit is waar dat ons Jehovah nie kan sien nie. Dit is omdat hy ’n Gees is. Ons kan nie sy liggaam met ons oë sien nie. Maar hy is ’n werklike persoon, en hy kan ons sien. Hy weet wanneer ons hulp nodig het. En ons kan in gebed met hom praat, net soos ons met enige ander persoon op aarde praat. Jehovah wil hê dat ons dit moet doen.

Wat moet jy dan doen as jy ooit hartseer of alleen voel?— Praat met Jehovah. Kom nader aan hom, en hy sal jou vertroos en jou help. Onthou, Jehovah het jou lief, selfs wanneer jy baie alleen voel. Kom ons kry ons Bybel. Psalm 23 sê vir ons hier van vers 1 af: “Jehovah is my Herder. Niks sal my ontbreek nie. In grasryke weivelde laat hy my neerlê; by waterryke rusplekke bring hy my.”

Kyk wat sê die skrywer verder in vers 4: “Al wandel ek in die vallei van diep skaduwee, vrees ek niks slegs nie, want u is met my; u stok en u staf dié vertroos my.” Dit is hoe mense voel as Jehovah hulle God is. Hulle vind vertroosting wanneer hulle probleme het. Is dit hoe jy voel?—

Net soos ’n liefdevolle herder vir sy kudde sorg, sorg Jehovah goed vir sy volk. Hy wys vir hulle wat die regte pad is om te loop, en hulle volg hom graag. Selfs wanneer daar moeilikheid oral rondom hulle is, hoef hulle nie bang te wees nie. ’n Herder gebruik sy stok of sy staf om die skape te beskerm teen diere wat hulle kan seermaak. Die Bybel vertel hoe die jong herder Dawid sy skape teen ’n leeu en ’n beer beskerm het (1 Samuel 17:34-36). En God se volk weet dat Jehovah hulle ook sal beskerm. Hulle kan veilig voel omdat God met hulle is.

Wie kan ons help wanneer ons in die moeilikheid is, net soos ’n herder wat sy skape beskerm?

Jehovah is regtig lief vir sy skape, en hy sorg met teerheid vir hulle. Die Bybel sê: ‘Soos ’n herder sal hy sy skape lei. Met sy arms sal hy die kleintjies bymekaarbring.’—Jesaja 40:11.

Laat dit jou nie gelukkig voel om te weet dat Jehovah so is nie?— Wil jy een van sy skape wees?— Skape luister na die stem van hulle herder. Hulle bly naby hom. Luister jy na Jehovah?— Bly jy naby hom?— Dan hoef jy nooit bang te wees nie. Jehovah sal met jou wees.

Jehovah sorg liefdevol vir die mense wat hom dien. Kom ons lees saam wat die Bybel hieroor sê in Psalm 37:25; 55:22 en Lukas 12:29-31.