Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 36

Wie sal opgewek word? Waar sal hulle lewe?

Wie sal opgewek word? Waar sal hulle lewe?

VAN hoeveel mense het ons in die laaste twee hoofstukke gelees wat opgewek is?— Vyf. Hoeveel van hulle was kinders?— Drie. En ’n vierde een word ’n jong man genoem. Wat dink jy wys dit?—

Wel, dit wys dat God lief is vir jongmense. Maar hy sal ook baie ander mense opwek. Sal God net die mense opwek wat gedoen het wat goed is?— Ons dink dalk so. Maar baie mense het nooit die waarheid oor Jehovah God en sy Seun geleer nie. Met ander woorde, hulle het slegte dinge gedoen omdat hulle verkeerde dinge geleer is. Dink jy Jehovah sal sulke mense opwek?—

Die Bybel sê: “Daar [sal] ’n opstanding van die regverdiges sowel as die onregverdiges . . . wees” (Handelinge 24:15). Hoekom sal mense wat nie regverdig was nie, of wat nie gedoen het wat reg is nie, opgewek word?— Dit is omdat hulle nooit ’n kans gehad het om te leer van Jehovah en van wat hy wil hê mense moet doen nie.

Hoekom sal God party mense opwek wat nie gedoen het wat reg is nie?

Wanneer dink jy sal mense opgewek word?— Dink terug aan die tyd toe Lasarus dood is en Jesus sy suster Marta belowe het: “Jou broer sal opstaan.” Marta het geantwoord: “Ek weet dat hy in die opstanding op die laaste dag sal opstaan” (Johannes 11:23, 24). Wat het Marta bedoel toe sy gesê het dat Lasarus op “die laaste dag” sal opstaan?—

Waar is die Paradys waarvan Jesus die man vertel?

Wel, Marta het gehoor van Jesus se belofte: ‘Almal wat in die grafte is, sal uitkom’ (Johannes 5:28, 29). “Die laaste dag” is dan wanneer almal wat in God se geheue is, opgewek sal word. Hierdie laaste dag is nie ’n dag van 24 uur nie. Dit sal duisend jaar lank wees. Op hierdie dag, sê die Bybel, ‘sal God die mense van die aarde oordeel’. Die mense wat hy oordeel, sal dié insluit wat opgewek is.—Handelinge 17:31; 2 Petrus 3:8.

Dink net hoe wonderlik sal daardie dag wees! Gedurende hierdie duisend jaar lange dag sal miljoene mense wat doodgegaan het, opgewek word. Jesus noem die plek waar hulle gaan lewe nadat hulle opgewek is, die Paradys. Kom ons kyk waar die Paradys sal wees en hoe dit daar sal wees.

Omtrent drie uur voordat Jesus aan die folterpaal gesterf het, het hy met ’n man wat langs hom aan ’n paal gehang het, oor die Paradys gepraat. Die man is tereggestel vir misdade wat hy gepleeg het. Maar terwyl hierdie misdadiger Jesus dopgehou het en gehoor het wat die mense oor Hom sê, het hy in Jesus begin glo. Daarom het die misdadiger gesê: “Dink aan my wanneer u in u koninkryk kom.” Jesus het geantwoord: “Voorwaar, ek sê vir jou vandag: Jy sal saam met my in die Paradys wees.”—Lukas 23:42, 43.

Waaraan moet ons dink as ons van die Paradys lees?

Wat het Jesus bedoel toe hy dit gesê het? Waar is die Paradys?— Dink ’n bietjie hieraan. Waar was die Paradys heel in die begin?— Onthou, God het die eerste mens, Adam, en sy vrou ’n paradys hier op die aarde gegee om in te lewe. Dit is die tuin van Eden genoem. Daar was diere in daardie tuin, maar hulle het niemand seergemaak nie. En daar was bome vol lekker vrugte, en ook ’n groot rivier. Dit was ’n wonderlike plek om in te lewe!—Genesis 2:8-10.

Wanneer ons dan lees dat hierdie misdadiger in die Paradys sal wees, moet dit ons laat dink aan hierdie aarde wat verander is sodat dit ’n pragtige plek is om in te lewe. Sal Jesus saam met daardie man wat ’n misdadiger was, hier op die aarde in die Paradys wees?— Nee. Weet jy hoekom hy nie hier op die aarde sal wees nie?—

Dit is omdat Jesus in die hemel sal wees en as Koning oor die Paradys op aarde sal regeer. Jesus sal saam met daardie man wees omdat Jesus hom uit die dode sal opwek en vir hom alles sal gee wat hy nodig het. Maar hoekom sal Jesus iemand wat ’n misdadiger was, in die Paradys laat lewe?— Kom ons kyk of ons die antwoord kan kry.

Het die misdadiger van God se voornemens geweet voordat hy met Jesus gepraat het?— Nee, hy het nie. Hy het slegte dinge gedoen omdat hy nie die waarheid oor God geken het nie. In die Paradys sal hy van God se voornemens geleer word. Dan sal hy die kans hê om te bewys dat hy God regtig liefhet deur Sy wil te doen.

Sal almal wat opgewek word, in die Paradys op aarde lewe?— Nee, hulle sal nie. Weet jy hoekom nie?— Want party sal opgewek word om saam met Jesus in die hemel te lewe. Hulle sal saam met hom as konings oor die Paradysaarde regeer. Kom ons kyk hoe ons dit weet.

Die aand voordat Jesus gesterf het, het hy vir sy apostels gesê: ‘In die huis van my Vader in die hemel is daar baie woonplekke, en ek gaan om vir julle ’n plek voor te berei.’ Toe het Jesus vir hulle belowe: “Ek [kom] weer en sal julle tuis ontvang by my, sodat julle ook kan wees waar ek is.”—Johannes 14:2, 3.

Waarheen het Jesus gegaan nadat hy opgewek is?— Ja, terug hemel toe om saam met sy Vader te wees (Johannes 17:4, 5). Met ander woorde, Jesus het vir sy apostels en ander volgelinge belowe dat hy hulle sal opwek sodat hulle saam met hom in die hemel kan wees. Wat sal hulle daar saam met Jesus doen?— Die Bybel sê dat sy dissipels wat deel het aan “die eerste opstanding”, in die hemel sal lewe en “die duisend jaar lank saam met hom as konings” oor die aarde sal regeer.—Openbaring 5:10; 20:6; 2 Timoteus 2:12.

Hoeveel sal deel hê aan “die eerste opstanding” en saam met Jesus as konings regeer?— Jesus het vir sy dissipels gesê: “Moenie vrees nie, klein kuddetjie, want julle Vader het dit goedgevind om aan julle die koninkryk te gee” (Lukas 12:32). Hierdie “klein kuddetjie”, wat opgewek word om saam met Jesus in sy hemelse Koninkryk te wees, is ’n presiese getal. Die Bybel wys dat “honderd-vier-en-veertigduisend” van die aarde af opgewek word.—Openbaring 14:1, 3.

Waar sal die mense lewe wat opgewek word, en wat sal hulle doen?

Hoeveel mense sal in die Paradys op aarde lewe?— Die Bybel sê nie. Maar toe Adam en Eva in die tuin van Eden was, het God vir hulle gesê om kinders te hê en die aarde te vul. Hulle het dit nou wel nie gedoen nie. Maar God sal sorg dat sy voorneme om die aarde vol goeie mense te hê, vervul word.—Genesis 1:28; Jesaja 45:18; 55:11.

Dink net hoe wonderlik dit sal wees om in die Paradys te lewe! Die hele aarde sal soos ’n park word. Dit sal vol voëls en diere en allerhande pragtige bome en blomme wees. Niemand sal pyn hê omdat hy siek is nie, en niemand sal hoef dood te gaan nie. Almal sal vriende wees. As ons vir ewig in die Paradys wil lewe, is dit nou die tyd om daarvoor voor te berei.

Lees meer oor God se voorneme vir die aarde, in Spreuke 2:21, 22; Prediker 1:4; Jesaja 2:4; 11:6-9; 35:5, 6 en 65:21-24.