Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 38

Hoekom ons Jesus moet liefhê

Hoekom ons Jesus moet liefhê

SÊ NOU jy is in ’n boot wat sink. Sal jy wil hê iemand moet jou red?— Sê nou iemand offer sy eie lewe op om dit te doen?— Wel, dit is wat Jesus Christus gedoen het. Soos ons in Hoofstuk 37 geleer het, het hy sy lewe as ’n losprys gegee sodat ons gered kan word.

Jesus red ons natuurlik nie omdat ons verdrink nie. Waarvan red hy ons dan? Kan jy onthou?— Van die sonde en die dood wat ons almal van Adam geërf het. Selfs al het party mense baie slegte dinge gedoen, het Jesus ook vir hulle gesterf. Sal jy jou lewe waag om sulke mense te probeer red?—

Die Bybel sê: “Iemand sal beswaarlik vir ’n regverdige mens sterf; ja, vir die goeie mens het iemand miskien nog die moed om te sterf.” Maar die Bybel verduidelik dat Jesus ‘vir goddeloses gesterf het’. Dit sluit mense in wat God nie eens dien nie! Die Bybel sê verder: “Christus [het] vir ons gesterf . . . terwyl ons nog sondaars was [nog verkeerde dinge gedoen het].”—Romeine 5:6-8.

Kan jy aan ’n apostel dink wat voorheen dinge gedoen het wat baie sleg was?— Daardie apostel het geskryf: “Christus Jesus [het] in die wêreld ingekom . . . om sondaars te red. Van hulle is ek die vernaamste.” Die apostel wat dit gesê het, was Paulus. Hy het gesê dat hy “eens onverstandig” was en “in slegtheid” gelewe het.—1 Timoteus 1:15; Titus 3:3.

Dink net hoe groot God se liefde moes gewees het om sy Seun te stuur om vir sulke mense te sterf! Kry gou jou Bybel en lees hiervan in Johannes hoofstuk 3, vers 16. Daar sê dit: “God het die wêreld [dit wil sê die mense wat op die aarde lewe] so liefgehad dat hy sy enigverwekte Seun gegee het, sodat elkeen wat geloof in hom beoefen, nie vernietig sal word nie maar die ewige lewe kan hê.”

Wat het alles met Jesus gebeur toe hy sy lewe vir ons gegee het?

Jesus het bewys dat hy ons net so liefhet as wat sy Vader ons het. Jy onthou dalk dat ons in Hoofstuk 30 van hierdie boek gelees het van party van die dinge wat met Jesus gebeur het die nag toe hy in hegtenis geneem is. Hy is na die huis van die hoëpriester Kajafas geneem, waar Hy verhoor is. Valse getuies is ingebring wat leuens oor Jesus vertel het, en die mense het hom met hulle vuiste geslaan. Dit was toe dat Petrus gesê het dat hy Jesus nie ken nie. Kom ons maak nou of ons daar is en kan sien watter ander dinge gebeur.

Dit word dag. Jesus is al die hele nag wakker. Die hofsaak in die nag was nie ’n regte hofsaak nie en daarom roep die priesters gou die Sanhedrin, of Joodse Hoë Raad, bymekaar en hou nog ’n hofsaak. Hier beskuldig hulle Jesus weer van misdade teen God.

Dan laat die priesters Jesus boei, en hulle lei hom na Pilatus, die Romeinse goewerneur, toe. Hulle sê vir Pilatus: ‘Jesus is teen die regering. Hy moet doodgemaak word.’ Maar Pilatus kan sien dat die priesters leuens vertel. Daarom sê Pilatus vir hulle: ‘Ek vind niks verkeerd met hierdie man nie. Ek sal hom laat gaan.’ Maar die priesters en ander skreeu: ‘Nee! Maak hom dood!’

Later probeer Pilatus weer om vir die mense te sê dat hy Jesus gaan loslaat. Maar die priesters steek die skare op om te skreeu: ‘As u hom laat gaan, is u ook teen die regering! Maak hom dood!’ Die skare maak ’n groot geraas. Weet jy wat doen Pilatus nou?—

Hy gee toe. Eers laat hy Jesus met swepe slaan. Dan gee hy hom aan die soldate oor om doodgemaak te word. Hulle sit ’n doringkroon op Jesus se kop en spot met hom deur voor hom te buig. Dan gee hulle vir Jesus ’n groot paal om te dra en lei hom uit die stad na ’n plek wat Skedelplek genoem word. Daar spyker hulle Jesus se hande en voete aan die paal vas. Dan laat hulle dit regop staan sodat Jesus daaraan hang. Hy bloei. Dit is baie, baie seer.

Jesus sterf nie dadelik nie. Hy hang net daar aan die paal. Die hoofpriesters spot met hom. En mense wat verbyloop, sê: “As jy ’n seun van God is, kom van die folterpaal af!” Maar Jesus weet wat sy Vader hom gestuur het om te doen. Hy weet dat hy sy volmaakte lewe moet gee sodat ons die kans kan hê om die ewige lewe te kry. Uiteindelik, omtrent drie-uur daardie middag, roep Jesus tot sy Vader uit en sterf.—Matteus 26:36–27:50; Markus 15:1; Lukas 22:39–23:46; Johannes 18:1–19:30.

Hoe anders was Jesus tog as Adam! Adam het God nie liefgehad nie. Hy was ongehoorsaam aan God. Adam het ons ook nie liefgehad nie. Omdat hy gesondig het, word ons almal in sonde gebore. Maar Jesus het God liefgehad, en ook vir ons. Hy was altyd gehoorsaam aan God. En hy het sy lewe gegee sodat hy die slegte dinge wat Adam oor ons gebring het, kon wegneem.

Wat kan ons doen om te wys dat ons Jesus liefhet?

Waardeer jy hierdie wonderlike ding wat Jesus gedoen het?— Wanneer jy tot God bid, sê jy vir hom dankie dat hy sy Seun vir ons gegee het?— Die apostel Paulus het waardeer wat Christus vir hom gedoen het. Paulus het geskryf: “Die Seun van God [het] my liefgehad . . . en homself vir my oorgegee” (Galasiërs 2:20). Jesus het ook vir my en vir jou gesterf. Hy het sy volmaakte lewe gegee sodat ons die ewige lewe kan hê! Dit is ’n baie goeie rede hoekom ons Jesus moet liefhê.

Die apostel Paulus het vir Christene in die stad Korinte geskryf: “Die liefde van Christus laat ons optree.” Wat laat Christus se liefde ons doen? Wat dink jy?— Let op Paulus se antwoord: “Christus het vir almal gesterf sodat hulle vir Hom kan lewe. Hulle moenie lewe om hulleself te behaag nie.”—Ons kursiveer; 2 Korintiërs 5:14, 15, New Life Version.

Kan jy aan maniere dink waarop jy kan wys dat jy lewe om Christus te behaag, of bly te maak?— Wel, een manier is deur ander te vertel wat jy van hom geleer het. Of dink ’n bietjie hieraan: Jy is miskien alleen en jou ma of pa kan nie sien wat jy doen nie, en geen ander mens kan jou sien nie. Sal jy na TV-programme of miskien na goed op die Internet kyk waarvan jy weet Jesus nie sal hou nie?— Onthou, Jesus lewe nou, en hy kan alles sien wat ons doen!

Wie kan alles sien wat ons doen?

Nog ’n rede hoekom ons Jesus moet liefhê, is omdat ons Jehovah wil navolg. “Die Vader [het] my lief”, het Jesus gesê. Weet jy hoekom hy Jesus liefhet en hoekom ons hom ook moet liefhê?— Omdat Jesus gewillig was om te sterf sodat God se wil gedoen kon word (Johannes 10:17). Laat ons dan doen wat die Bybel vir ons sê: “Word . . . navolgers van God, as geliefde kinders, en gaan voort om in liefde te wandel, net soos die Christus julle ook liefgehad het en homself vir julle oorgegee het.”—Efesiërs 5:1, 2

Om waardering op te bou vir Jesus en vir wat hy vir ons gedoen het, lees asseblief Johannes 3:35; 15:9, 10 en 1 Johannes 5:11, 12.