Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 41

Kinders wat God gelukkig maak

Kinders wat God gelukkig maak

WATTER kind op aarde dink jy het Jehovah die gelukkigste gemaak?— Dit was sy Seun, Jesus. Kom ons praat oor dinge wat Jesus gedoen het om sy hemelse Vader gelukkig te maak.

Jesus se gesin het ’n reis van omtrent drie dae van Jerusalem af gebly, waar Jehovah se pragtige tempel was. Jesus het die tempel “die huis van my Vader” genoem. Hy en sy gesin het elke jaar daarheen gegaan om die Pasga te vier.

Een jaar, toe Jesus 12 was, het sy gesin ná die Pasga begin terugreis. Dit was eers toe hulle vir die nag uitspan dat hulle gesien het dat Jesus nêrens tussen hulle familielede en vriende is nie. Toe het Maria en Josef dadelik na Jerusalem toe teruggegaan om Jesus te gaan soek. Waar dink jy was hy?—

Hulle het Jesus in die tempel gekry. Hy het na die leermeesters geluister en het vir hulle vrae gevra. En wanneer hulle vir hom iets gevra het, het hy hulle geantwoord. Hulle was baie verbaas oor die goeie antwoorde wat hy gegee het. Sien jy hoekom God trots was op sy Seun?—

Toe Maria en Josef Jesus uiteindelik gekry het, het hulle natuurlik baie beter gevoel. Maar Jesus was nie bekommerd nie. Hy het geweet dat die tempel ’n goeie plek was om te wees. Daarom het hy gevra: “Het julle nie geweet dat ek in die huis van my Vader moet wees nie?” Hy het geweet dat die tempel God se huis was, en hy het dit geniet om daar te wees.

Daarna het Maria en Josef die 12-jarige Jesus saam met hulle teruggeneem huis toe in Nasaret. Hoe dink jy het Jesus sy ouers behandel?— Wel, die Bybel sê dat hy ‘aan hulle onderdanig gebly het’. Wat dink jy beteken dit?— Dit beteken dat hy aan hulle gehoorsaam was. Ja, hy het gedoen wat sy ouers hom gevra het om te doen, al was dit iets soos om water by die put te gaan haal.—Lukas 2:41-52.

Hoe het Jesus God gelukkig gemaak toe hy ’n kind was?

Dink dan ’n bietjie hieraan: Selfs al was Jesus volmaak, was hy gehoorsaam aan sy onvolmaakte ouers. Het dit God gelukkig gemaak?— Ja, beslis, want God se Woord sê vir kinders: “Wees gehoorsaam aan julle ouers” (Efesiërs 6:1). Jy sal God ook gelukkig maak as jy aan jou ouers gehoorsaam is, soos Jesus was.

Nog ’n manier waarop jy God gelukkig kan maak, is deur ander van hom te vertel. Party mense sê dalk dat dit nie iets is wat jongmense behoort te doen nie. Maar toe mense jong seuns probeer keer het om dit te doen, het Jesus gesê: ‘Het julle nooit in die Skrif gelees nie: “Uit die mond van klein kindertjies sal God lof voortbring”?’ (Matteus 21:16). Met ander woorde, as ons regtig wil, kan almal van ons vir ander vertel van Jehovah en watter wonderlike God hy is. En as ons dit doen, sal ons God gelukkig maak.

Waar leer ons dinge oor God waaroor ons met ander mense kan praat?— In ons Bybelstudie by die huis. Maar ons leer meer by die plek waar God se knegte bymekaarkom om te studeer. Maar hoe weet ons wie sy knegte is?—

Wel, wat doen die mense by hulle vergaderinge? Leer hulle regtig wat in die Bybel is? Lees en bespreek hulle dit? Dit is hoe ons na God luister, nie waar nie?— En by Christelike vergaderinge verwag ons om te hoor wat God sê, nè?— Maar sê nou mense sê dat jy nie hoef te lewe soos die Bybel sê jy moet nie? Sou jy sê dat hulle God se knegte is?—

Hier is iets anders om aan te dink. Die Bybel sê dat God se knegte “’n volk vir sy naam” sal wees (Handelinge 15:14). Aangesien God se naam Jehovah is, kan ons mense vra of Jehovah hulle God is. As hulle nee sê, dan weet ons dat hulle nie sy knegte is nie. God se knegte sal ook met ander oor God se Koninkryk praat. En hulle sal wys dat hulle God liefhet deur sy gebooie te hou.—1 Johannes 5:3.

As jy weet van mense wat al hierdie dinge doen, dan moet jy saam met hulle bymekaarkom om te aanbid. Jy moet goed luister by hierdie vergaderinge en dan antwoord wanneer daar vrae gevra word. Dit is wat Jesus gedoen het toe hy in God se huis was. En as jy hierdie dinge doen, sal jy God gelukkig maak, net soos Jesus gedoen het.

Kan jy aan ander kinders in die Bybel dink wat God gelukkig gemaak het?— Timoteus is ’n baie goeie voorbeeld. Sy pa het nie in Jehovah geglo nie. Maar sy ma, Eunice, en sy ouma, Lois, het. Timoteus het na hulle geluister en van Jehovah geleer.

Wat wou Timoteus doen, al was sy pa nie ’n gelowige nie?

Toe Timoteus ouer was, het die apostel Paulus die dorp besoek waar hy gebly het. Hy het gesien hoe graag Timoteus Jehovah wou dien. Daarom het hy Timoteus genooi om saam met hom te kom om selfs meer in God se diens te doen. Oral waar hulle gereis het, het hulle mense vertel van God se Koninkryk en van Jesus.—Handelinge 16:1-5; 2 Timoteus 1:5; 3:14, 15.

Maar is die voorbeelde in die Bybel net van jong seuns wat God gelukkig gemaak het?— Glad nie. Kyk byvoorbeeld na ’n jong Israelitiese meisie wat dit gedoen het. Toe sy gelewe het, was die nasie Sirië en die nasie Israel vyande. Eendag het die Siriërs teen Israel geveg en daardie jong meisie gevange geneem. Sy is na die huis van die leërhoof, Naäman, gestuur. Daar het sy die diensmeisie van Naäman se vrou geword.

Naäman het ’n siekte gehad wat melaatsheid genoem word. Nie een van die dokters kon hom help nie. Maar die jong meisie van Israel het geglo dat een van God se spesiale knegte, ’n profeet, Naäman kon help. Naäman en sy vrou het Jehovah natuurlik nie aanbid nie. Moes die jong meisie vir hulle vertel wat sy geweet het? Wat sou jy gedoen het?—

Hoe het hierdie Israelitiese meisie God gelukkig gemaak?

Wel, die meisietjie het gesê: ‘As Naäman tog maar net na Jehovah se profeet in Israel sal gaan, dan sal Naäman genees word van sy melaatsheid.’ Naäman het na die meisie geluister en na Jehovah se profeet toe gegaan. Toe hy gedoen het wat die profeet gesê het, is hy gesond gemaak. Dit het Naäman ’n aanbidder van die ware God laat word.—2 Konings 5:1-15.

Wil jy graag, soos daardie jong meisie, iemand help om van Jehovah te leer en van wat hy kan doen?— Wie kan jy help?— Hulle sal natuurlik aan die begin nie dink dat hulle hulp nodig het nie. Maar jy kan met hulle praat oor die goeie dinge wat Jehovah doen. En hulle sal dalk luister. Jy kan seker wees dat dit God gelukkig sal maak.

Daar is verdere aanmoediging vir jongmense om hulle diens aan God te geniet, in Psalm 122:1; 148:12, 13; Prediker 12:1; 1 Timoteus 4:12 en Hebreërs 10:23-25.