Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 43

Wie is ons broers en susters?

Wie is ons broers en susters?

DIE Groot Onderwyser het eenkeer ’n verbasende vraag gevra. Dit was: “Wie is my moeder, en wie is my broers?” (Matteus 12:48). Kan jy daardie vraag beantwoord?— Jy weet miskien dat die naam van Jesus se ma Maria was. Maar weet jy wat die name van sy broers was?— Het hy ook susters gehad?—

Die Bybel sê dat Jesus se broers se name “Jakobus en Josef en Simon en Judas” was. En Jesus het susters gehad wat gelewe het toe hy gepreek het. Jesus was die eersgeborene en daarom was almal van hulle jonger as hy.—Matteus 13:55, 56; Lukas 1:34, 35.

Was Jesus se broers ook sy dissipels?— Die Bybel sê dat hulle aan die begin ‘nie geloof in hom beoefen het nie’ (Johannes 7:5). Maar later het Jakobus en Judas sy dissipels geword, en hulle het selfs boeke in die Bybel geskryf. Weet jy watter boeke hulle geskryf het?— Ja, Jakobus en Judas.

Al word die name van Jesus se susters nie in die Bybel genoem nie, weet ons dat hy ten minste twee gehad het. Maar daar was dalk meer. Het hierdie susters sy volgelinge geword?— Die Bybel sê nie; daarom weet ons nie. Maar weet jy hoekom Jesus die vraag gevra het: “Wie is my moeder, en wie is my broers?”— Kom ons vind uit.

Jesus was besig om sy dissipels te leer toe iemand hom in die rede geval het en gesê het: “U moeder en u broers staan buite en wil met u praat.” Jesus het toe die geleentheid gebruik om ’n belangrike les te leer deur hierdie verbasende vraag te vra: “Wie is my moeder, en wie is my broers?” Hy het sy hand na sy dissipels uitgesteek en dit beantwoord deur te sê: “Kyk! My moeder en my broers!”

Toe het Jesus verduidelik wat hy bedoel het en gesê: “Elkeen wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is, dié is my broer en suster en moeder” (Matteus 12:47-50). Dit wys hoe na Jesus aan sy dissipels gevoel het. Hy het ons geleer dat sy dissipels soos regte broers, susters en moeders vir hom was.

Wie het Jesus verduidelik was sy broers en susters?

In daardie tyd het Jesus se eie broers—Jakobus, Josef, Simon en Judas—nie geglo dat Jesus God se Seun is nie. Hulle het seker nie geglo wat die engel Gabriël vir hulle ma gesê het nie (Lukas 1:30-33). Hulle was dalk lelik met Jesus. Enigiemand wat dit doen, gedra hom nie soos ’n regte broer of suster nie. Weet jy van enigiemand wat lelik was met sy broer of suster?—

Die Bybel vertel van Esau en Jakob en hoe Esau so kwaad geword het dat hy gesê het: ‘Ek gaan my broer Jakob doodmaak.’ Hulle ma, Rebekka, was so bang dat sy Jakob weggestuur het sodat Esau hom nie kon doodmaak nie (Genesis 27:41-46). Maar baie jare later het Esau verander, en hy het Jakob omhels en gesoen.—Genesis 33:4.

Mettertyd het Jakob 12 seuns gehad. Maar Jakob se ouer seuns was nie lief vir hulle jonger broer Josef nie. Hulle was jaloers op hom, want hy was hulle pa se gunsteling. Daarom het hulle hom aan slawehandelaars verkoop wat op pad was na Egipte toe. Toe het hulle vir hulle pa gesê dat ’n wilde dier vir Josef doodgemaak het (Genesis 37:23-36). Was dit nie verskriklik nie?—

Josef se broers het later jammer gevoel oor wat hulle gedoen het. Daarom het Josef hulle vergewe. Kan jy sien hoe Josef soos Jesus was?— Jesus se apostels het weggehardloop toe hy in die moeilikheid was, en Petrus het selfs gesê dat hy Jesus nie ken nie. Maar net soos Josef, het Jesus hulle almal vergewe.

Watter les moet ons leer uit wat Kain aan Abel gedoen het?

Dan is daar die twee broers Kain en Abel. Ons kan ook ’n les by hulle leer. God het gesien dat Kain sy broer nie regtig in sy hart liefgehad het nie. Daarom het God vir Kain gesê dat hy moet verander. As Kain God regtig liefgehad het, sou hy geluister het. Maar hy het God nie liefgehad nie. Eendag het Kain vir Abel gesê: “Laat ons die veld ingaan.” Abel het saam met Kain gegaan. Terwyl hulle daar alleen in die veld was, het Kain sy broer so hard geslaan dat hy hom doodgemaak het.—Genesis 4:2-8.

Die Bybel sê vir ons dat daar ’n spesiale les is wat ons hieruit moet leer. Weet jy wat dit is?— ‘Dít is die boodskap wat julle van die begin af gehoor het: Ons moet liefde vir mekaar hê; nie soos Kain, wat van die bose af gekom het nie.’ Daarom moet broers en susters lief wees vir mekaar. Hulle moenie soos Kain wees nie.—1 Johannes 3:11, 12.

Hoekom sal dit sleg wees om soos Kain te wees?— Omdat die Bybel sê dat hy ‘van die bose af gekom het’, dit wil sê van Satan die Duiwel af. Aangesien Kain soos die Duiwel opgetree het, was dit asof die Duiwel sy vader was.

Kan jy sien hoekom dit belangrik is lief te wees vir jou broers en susters?— Soos wie se kinders is jy as jy nie lief is vir hulle nie?— Soos die kinders van die Duiwel. Jy wil mos nie so wees nie, nè?— Hoe kan jy dan bewys dat jy ’n kind van God wil wees?— Deur regtig lief te wees vir jou broers en susters.

Maar wat is liefde?— Liefde is ’n diep gevoel binne-in ons wat ons goeie dinge vir ander wil laat doen. Ons wys dat ons lief is vir ander mense as ons ’n goeie gevoel vir hulle het en wanneer ons goeie dinge vir hulle doen. En wie is ons broers en susters vir wie ons moet lief wees?— Onthou, Jesus het geleer dat dit die mense is wat deel is van die groot Christengesin.

Hoe kan jy wys dat jy jou broer liefhet?

Hoe belangrik is dit dat ons vir hierdie Christenbroers en -susters moet lief wees?— Die Bybel sê: “Hy wat sy broer [of sy suster], wat hy gesien het, nie liefhet nie, kan nie God liefhê, wat hy nie gesien het nie” (1 Johannes 4:20). Met ander woorde, ons kan nie net vir ’n paar mense in die Christengesin lief wees nie. Ons moet vir hulle almal lief wees. Jesus het gesê: “Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het” (Johannes 13:35). Het jy al die broers en susters lief?— Onthou, as jy hulle nie liefhet nie, kan jy God nie regtig liefhê nie.

Hoe kan ons wys dat ons regtig lief is vir ons broers en susters?— Wel, as ons vir hulle lief is, sal ons nie van hulle af wegbly omdat ons nie met hulle wil praat nie. Ons sal met hulle almal vriendelik wees. Ons sal altyd goeie dinge vir hulle doen en bereid wees om dinge met hulle te deel. En as hulle ooit in die moeilikheid is, sal ons hulle help omdat ons regtig ’n groot gesin is.

Wat bewys dit as ons regtig lief is vir ons broers en susters?— Dit bewys dat ons dissipels van Jesus, die Groot Onderwyser, is. En is dit nie wat ons wil wees nie?—

Die feit dat ons liefde aan ons broers en susters moet betoon, word ook bespreek in Galasiërs 6:10 en 1 Johannes 4:8, 21. Maak gerus jou eie Bybel oop en lees hierdie tekste.