Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 44

Ons vriende moet God liefhê

Ons vriende moet God liefhê

VRIENDE is mense met wie ons graag gesels en saam met wie ons graag wil wees. Maar dit is belangrik om die regte soort vriende te hê. Wie dink jy is die beste vriend wat ons kan hê?— Ja, dit is Jehovah God.

Kan ons regtig God se vriend wees?— Wel, die Bybel sê dat Abraham, ’n man wat lank gelede gelewe het, “Jehovah se vriend” was (Jakobus 2:23). Weet jy hoekom hy God se vriend was?— Die Bybel sê dat Abraham aan God gehoorsaam was. Hy was gehoorsaam selfs wanneer dit moeilik was om te doen wat hy gevra is. As ons Jehovah se vriend wil wees, moet ons dan dinge doen wat hom bly maak, net soos Abraham gedoen het en net soos die Groot Onderwyser altyd gedoen het.—Genesis 22:1-14; Johannes 8:28, 29; Hebreërs 11:8, 17-19.

Hoekom was Abraham “Jehovah se vriend”?

Jesus het vir sy apostels gesê: “Julle is my vriende as julle doen wat ek julle beveel” (Johannes 15:14). Omdat alles wat Jesus vir mense gesê het van Jehovah af gekom het, het Jesus gesê dat mense wat doen wat God sê hulle moet doen, sy vriende is. Ja, al sy vriende het God liefgehad.

Party van die Groot Onderwyser se beste vriende was sy apostels, wie se prente jy op bladsy 75 van hierdie boek kan sien. Hulle het saam met hom gereis en hom gehelp om die predikingswerk te doen. Jesus het baie van sy tyd saam met hierdie manne deurgebring. Hulle het saam geëet. Hulle het saam oor God gepraat. En hulle het ander dinge saam gedoen. Maar Jesus het baie ander vriende gehad. Hy het by hulle gebly, en hulle het lekker tye saam deurgebring.

Een gesin by wie Jesus graag gebly het, het in die klein dorpie Betanië, net buitekant die groot stad Jerusalem, gebly. Onthou jy hulle?— Hulle was Maria en Marta en hulle broer, Lasarus. Jesus het Lasarus sy vriend genoem (Johannes 11:1, 5, 11). Die rede hoekom Jesus hierdie gesin liefgehad het en dit geniet het om saam met hulle te wees, was omdat hulle Jehovah liefgehad het en Hom gedien het.

Hoekom het Jesus baiekeer by hierdie gesin gebly wanneer hy Jerusalem besoek het? Ken jy hulle name?

Dit beteken nie dat Jesus nie vriendelik was met mense wat God nie gedien het nie. Hy was. Hy het selfs na hulle huise toe gegaan en saam met hulle geëet. Dit het party mense laat sê dat Jesus “’n vriend van belastinggaarders en sondaars” was (Matteus 11:19). Jesus het nie na hierdie mense se huise toe gegaan omdat hy gehou het van die manier waarop hulle lewe nie. Hy het hulle besoek sodat hy met hulle oor Jehovah kon praat. Hy het hulle probeer help om die slegte dinge wat hulle gedoen het, te laat staan en om God te dien.

Hoekom het Saggeus in die boom geklim?

Dit het eendag in die stad Jerigo gebeur. Jesus het net deur die stad gegaan op pad na Jerusalem toe. Daar was ’n skare mense, en in die skare was ’n man met die naam Saggeus. Hy wou Jesus sien. Maar Saggeus was kort en omdat daar so ’n groot skare was, kon hy Hom nie sien nie. Daarom het hy vooruit gehardloop en in ’n boom geklim sodat hy mooi kon sien wanneer Jesus verbygaan.

Toe Jesus by daardie boom kom, het hy opgekyk en gesê: ‘Maak gou en klim af, want vandag gaan ek na jou huis toe kom.’ Maar Saggeus was ’n ryk man wat slegte dinge gedoen het. Hoekom wou Jesus na só ’n man se huis toe gaan?—

Dit was nie omdat Jesus gehou het van die manier waarop daardie man gelewe het nie. Hy het soontoe gegaan om met Saggeus oor God te praat. Hy het gesien hoe hard hierdie man probeer het om hom te sien. Daarom het hy geweet dat Saggeus moontlik sou luister. Dit was ’n goeie tyd om met hom te praat oor hoe God sê mense moet lewe.

Hoekom besoek Jesus Saggeus, en wat belowe Saggeus om te doen?

Wat sien ons het toe gebeur?— Saggeus het gehou van wat Jesus geleer het. Hy was baie jammer dat hy mense gekul het, en hy het belowe om die geld terug te gee wat hy geen reg gehad het om te vat nie. Toe het hy ’n volgeling van Jesus geword. Eers toe het Jesus en Saggeus vriende geword.—Lukas 19:1-10.

Sal ons, as ons by die Groot Onderwyser leer, ooit mense besoek wat nie ons vriende is?— Ja, ons sal. Maar ons sal nie na hulle huis toe gaan omdat ons hou van die manier waarop hulle lewe nie. En ons sal nie saam met hulle verkeerde dinge doen nie. Ons sal hulle besoek sodat ons met hulle oor God kan praat.

Maar ons beste vriende is die mense saam met wie ons baie graag wil wees. Om die regte soort vriende te wees, moet hulle die soort mense wees van wie God hou. Party mense weet miskien nie eens wie Jehovah is nie. Maar as hulle van hom wil leer, kan ons hulle help. En wanneer hulle, net soos ons, Jehovah liefhet, kan ons goeie vriende word.

Daar is ’n ander manier om uit te vind of iemand ’n goeie vriend sal wees. Kyk na die dinge wat hy doen. Doen hy lelike dinge aan ander mense en lag hy dan daaroor? Dit is nie reg nie, nè?— Is hy altyd in die moeilikheid? Ons sal nie saam met hom in die moeilikheid wil kom nie, of hoe?— Of doen hy moedswillig slegte dinge en dink hy dan dat hy slim is omdat hy nie betrap word nie? Selfs al word hy nie betrap nie, het God gesien wat hy gedoen het, nie waar nie?— Dink jy dat mense wat sulke dinge doen, goeie vriende vir ons sal wees?—

Kry gou jou Bybel. Kom ons kyk wat dit sê oor die invloed wat ons maats op ons lewe het. Die teks is in 1 Korintiërs hoofstuk 15, vers 33. Het jy dit?— Dit sê: “Moenie mislei word nie. Slegte omgang bederf nuttige gewoontes.” Dit beteken dat ons sleg kan word as ons slegte maats het. En dit is ook waar dat goeie maats ons help om goeie gewoontes te vorm.

Laat ons nooit vergeet dat Jehovah die heel belangrikste Persoon in ons lewe is nie. Ons wil nie ons vriendskap met hom bederf nie, nè?— Daarom moet ons sorg dat ons net vriende maak met mense wat God liefhet.

Die belangrikheid van die regte soort vriende word getoon in Psalm 119:115; Spreuke 13:20; 2 Timoteus 2:22 en 1 Johannes 2:15.