Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 45

Wat is God se Koninkryk? Hoe ons kan wys dat ons dit wil hê

Wat is God se Koninkryk? Hoe ons kan wys dat ons dit wil hê

KEN jy die gebed wat Jesus vir sy volgelinge geleer het?— As jy dit nie ken nie, kan ons dit saam in die Bybel lees in Matteus 6:9-13. In die gebed, wat baie mense die Onse Vader noem, kry ons die woorde: “Laat u koninkryk kom.” Weet jy wat God se Koninkryk is?—

Wel, ’n koning is die heerser van ’n land of gebied. En sy regering word ’n koninkryk genoem. In party lande word die leier van die regering die president genoem. Wat word die Heerser van God se regering genoem?— Die Koning. Dit is hoekom God se regering die Koninkryk genoem word.

Weet jy wie Jehovah God gekies het om die Koning van Sy regering te wees?— Sy Seun, Jesus Christus. Hoekom is hy beter as enige heerser wat mense kan kies?— Dit is omdat Jesus sy Vader, Jehovah, regtig liefhet. Daarom doen hy altyd wat reg is.

Lank voordat Jesus in Betlehem gebore is, het die Bybel van sy geboorte gepraat en gesê dat hy God se uitverkore Heerser sou word. Kom ons lees hiervan in Jesaja 9:6, 7. Dit sê: “’n Kind is vir ons gebore, ’n seun is vir ons gegee; en die vorstelike heerskappy [of, regering] sal op sy skouer wees. En hy sal genoem word: . . . Vredevors. Aan die oorvloed van die vorstelike heerskappy en aan vrede sal daar geen einde wees nie.”

Weet jy hoekom die Heerser van God se Koninkryk hier “Vredevors” genoem word?— Wel, hierdie vors, wat ’n ander naam vir ’n prins is, is die seun van ’n koning. En Jesus is die Seun van die Groot Koning, Jehovah. Maar Jehovah het Jesus ook die Koning van Sy regering gemaak, wat duisend jaar lank oor die aarde gaan heers (Openbaring 20:6). Nadat Jesus gedoop is, het hy “begin preek en sê: ‘Toon berou, want die koninkryk van die hemele het naby gekom.’”—Matteus 4:17.

Hoekom dink jy het Jesus gesê dat die Koninkryk naby gekom het?— Omdat die Koning, wat later in die hemel sou heers, daar by hulle was! Dit is hoekom Jesus vir mense gesê het: “Die koninkryk van God is in julle midde” (Lukas 17:21). Sou jy nie daarvan hou om Jehovah se Koning so naby aan jou te hê dat jy selfs aan hom kan raak nie?—

Sê bietjie vir my, watter belangrike werk het Jesus op die aarde kom doen?— Jesus het hierdie vraag beantwoord en gesê: “Ook aan ander stede moet ek die goeie nuus van die koninkryk van God bekend maak, want hiervoor is ek uitgestuur” (Lukas 4:43). Jesus het geweet dat hy nie self al die predikingswerk sou kon doen nie. Wat dink jy het hy toe gedoen?—

Watter werk het Jesus op die aarde kom doen?

Jesus het mense saam met hom geneem en hulle gewys hoe om die predikingswerk te doen. Die eerstes wat hy opgelei het, was die 12 wat hy as apostels gekies het (Matteus 10:5, 7). Maar het Jesus net sy apostels opgelei om hierdie werk te doen? Nee, die Bybel sê dat Jesus ook baie ander opgelei het om te preek. Later het hy 70 ander dissipels twee-twee voor hom uit gestuur. En wat het hulle vir mense geleer?— Jesus het gesê: “Hou aan om vir hulle te sê: ‘Die koninkryk van God het naby julle gekom’” (Lukas 10:9). So het die mense van God se regering geleer.

Lank gelede het nuwe konings in Israel op ’n hingsvul in die stad ingery om hulleself vir die mense te wys. En dit is wat Jesus gedoen het toe hy vir die laaste keer na Jerusalem toe gegaan het. Jy sien, Jesus gaan die Heerser van God se Koninkryk wees. Wou die mense hom as Koning hê?—

Wel, terwyl hy gery het, het die meeste mense hulle boklere op die pad voor hom begin neersit. Ander het takke van die bome afgekap en dit op die pad gesit. Deur dit te doen, het hulle gewys dat hulle wou hê dat Jesus hulle Koning moet wees. Hulle het uitgeroep: “Geseënd is Hy wat in Jehovah se naam as die Koning kom!” Maar nie almal was gelukkig nie. Om die waarheid te sê, party godsdiensleiers het selfs vir Jesus gesê: ‘Sê vir u dissipels om stil te bly.’—Lukas 19:28-40.

Hoekom het mense verander en wou hulle Jesus nie meer as Koning hê nie?

Vyf dae later is Jesus in hegtenis geneem en na ’n paleis geneem om voor die goewerneur, Pontius Pilatus, te verskyn. Jesus se vyande het gesê dat Jesus sê hy is ’n koning en dat hy teen die Romeinse regering is. Toe het Pilatus vir Jesus hieroor gevra. Jesus het gewys dat hy nie probeer om die regering oor te neem nie. Hy het vir Pilatus gesê: “My koninkryk is geen deel van hierdie wêreld nie.”—Johannes 18:36.

Pilatus het toe uitgegaan en vir die mense gesê dat hy nie dink dat Jesus aan enigiets skuldig is nie. Maar nou wou die mense nie hê dat Jesus hulle Koning moet wees nie. Hulle wou nie hê dat hy vrygelaat moet word nie (Johannes 18:37-40). Nadat Pilatus weer met Jesus gepraat het, was hy seker dat Jesus niks gedoen het wat verkeerd was nie. Toe het Pilatus Jesus vir die laaste keer buitentoe geneem en gesê: “Kyk! Julle koning!” Maar die mense het geskreeu: “Neem hom weg! Neem hom weg! Hang hom aan die paal!”

Pilatus het gevra: “Moet ek julle koning aan die paal hang?” Die hoofpriesters het geantwoord: “Ons het geen koning behalwe die keiser nie.” Kan jy dit glo? Daardie goddelose priesters het dit reggekry om die mense teen Jesus te laat draai!—Johannes 19:1-16.

Vandag is dit baie dieselfde. Die meeste mense wil nie regtig hê dat Jesus hulle Koning moet wees nie. Hulle sê dalk dat hulle in God glo, maar hulle wil nie hê dat God of Christus vir hulle moet sê wat om te doen nie. Hulle wil hulle eie regerings hier op die aarde hê.

Wat van ons? Hoe laat dit ons oor God voel wanneer ons van God se Koninkryk leer en van al die wonderlike dinge wat dit gaan doen?— Ons het hom lief, nè?— Hoe kan ons dan vir God wys dat ons hom liefhet en dat ons wil hê sy Koninkryk moet oor ons heers?—

Hoekom het Jesus hom laat doop, en hoe het God gewys dat hy bly was daaroor?

Ons kan vir God wys hoe ons voel deur Jesus se voorbeeld na te volg. En wat het Jesus gedoen om te wys dat hy Jehovah liefhet?— ‘Ek doen altyd die dinge wat hom behaag’, het Jesus verduidelik (Johannes 8:29). Ja, Jesus het aarde toe gekom ‘om God se wil te doen’ en “om sy werk te volbring” (Hebreërs 10:7; Johannes 4:34). Kyk na wat Jesus gedoen het voordat hy met sy predikingswerk begin het.

Jesus het na Johannes die Doper toe gegaan by die Jordaanrivier. Nadat hulle in die water ingegaan het, het Johannes Jesus heeltemal onder die water gedruk en hom weer daaruit opgelig. Weet jy hoekom Johannes Jesus gedoop het?—

Waar kan ons met ander oor God se Koninkryk praat?

Jesus het Johannes gevra om dit te doen. Maar hoe weet ons dat God wou hê dat Jesus gedoop moet word?— Ons weet dit omdat Jesus, toe hy uit die water opgekom het, God se stem uit die hemel hoor sê het: “Jy is my Seun, die geliefde; ek het jou goedgekeur.” God het selfs sy heilige gees in die vorm van ’n duif op Jesus laat neerdaal. Deur gedoop te word, het Jesus gewys dat hy Jehovah sy hele lewe lank, ja, vir ewig, wil dien.—Markus 1:9-11.

Jy word nog groot. Maar wat gaan jy later doen?— Sal jy soos Jesus wees en jou laat doop?— Jy moet hom navolg, want die Bybel sê dat hy vir jou ‘’n voorbeeld gelaat het sodat jy sy voetstappe noukeurig kan volg’ (1 Petrus 2:21). Wanneer jy jou dan laat doop, sal jy wys dat jy regtig onder God se Koninkryk wil lewe. Maar dit is nie genoeg om net gedoop te word nie.

Ons moet alles gehoorsaam wat Jesus ons geleer het. Jesus het gesê dat ons “geen deel van die wêreld” moet wees nie. Sal ons aan hom gehoorsaam wees as ons by die dinge van die wêreld betrokke raak? Jesus en sy apostels het niks met sulke dinge te doen gehad nie (Johannes 17:14). Wat het hulle eerder gedoen?— Hulle het met ander mense oor God se Koninkryk gepraat. Dít was die groot werk in hulle lewe. Kan ons dit ook doen?— Ja, en ons sal dit doen as ons bedoel wat ons sê wanneer ons bid dat God se Koninkryk moet kom.

Kyk asseblief na hierdie ander tekste wat vir ons sê wat ons kan doen om te wys dat ons wil hê God se Koninkryk moet kom: Matteus 6:24-33; 24:14; 1 Johannes 2:15-17 en 5:3.