Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 46

Water vernietig ’n wêreld—Sal dit weer gebeur?

Water vernietig ’n wêreld—Sal dit weer gebeur?

HET jy al ooit iemand van die einde van die wêreld hoor praat?— Vandag praat baie mense daarvan. Party mense dink dat die wêreld sal eindig in ’n oorlog waarin mense atoombomme gaan gebruik. Dink jy God sal ooit toelaat dat mense ons pragtige aarde vernietig?—

Soos ons geleer het, praat die Bybel van die einde van die wêreld. “Die wêreld gaan verby”, sê die Bybel (1 Johannes 2:17). Dink jy dat die einde van die wêreld die einde van die aarde sal beteken?— Nee, die Bybel sê dat God die aarde gemaak het “om bewoon te word”, ja, vir mense om daarop te lewe en dit te geniet (Jesaja 45:18). Psalm 37:29 sê: “Die regverdiges sal die aarde besit, en hulle sal vir ewig daarop woon.” Daarom sê die Bybel ook dat die aarde vir ewig sal bestaan.—Psalm 104:5; Prediker 1:4.

As die einde van die wêreld nie die einde van die aarde beteken nie, wat beteken dit dan?— Ons kan uitvind as ons mooi kyk na wat in Noag se dag gebeur het. Die Bybel verduidelik: “Die wêreld van daardie tyd [is] vernietig toe dit met water oorstroom is.”—2 Petrus 3:6.

Het enigiemand die einde van die wêreld gedurende daardie groot Vloed in Noag se dag oorleef?— Die Bybel sê dat God “Noag, ’n prediker van regverdigheid, met sewe ander veilig bewaar het toe hy ’n watervloed oor ’n wêreld van goddelose mense gebring het”.—2 Petrus 2:5.

Wat was die wêreld wat in Noag se dag vernietig is?

Wat was die wêreld dan wat geëindig het? Was dit die aarde, of was dit die slegte mense?— Die Bybel sê dat dit die “wêreld van goddelose mense” was. En let op dat Noag “’n prediker” genoem word. Waaroor dink jy het hy gepreek?— Noag het die mense gewaarsku oor die einde van “die wêreld van daardie tyd”.

Toe Jesus van die groot Vloed gepraat het, het hy vir sy dissipels vertel wat die mense gedoen het net voordat die einde gekom het. Hy het vir hulle gesê: “In daardie dae voor die vloed . . . het [mense] geëet en gedrink, manne het getrou en vroue is in die huwelik gegee, tot die dag dat Noag in die ark ingegaan het; en hulle het geen ag daarop geslaan totdat die vloed gekom en hulle almal weggesleur het nie.” Toe het Jesus gesê dat mense dieselfde sal doen voor hierdie wêreld tot ’n einde kom.—Matteus 24:37-39.

Jesus se woorde wys vir ons dat ons lesse kan leer uit wat die mense voor die Vloed gedoen het. Kan jy uit Hoofstuk 10 van hierdie boek onthou wat daardie mense gedoen het?— Party manne was boelies en het gewelddadige dinge gedoen. Maar baie ander, het Jesus gesê, het net nie geluister toe God vir Noag gestuur het om vir hulle te preek nie.

Toe het die dag gekom waarop Jehovah vir Noag gesê het dat Hy die slegte mense deur ’n vloed gaan vernietig. Die water sou die hele aarde bedek, selfs die berge. Jehovah het vir Noag gesê om ’n groot ark te bou. Dit was soos ’n groot, lang kis, soos jy kan sien as jy terugblaai na die prent op bladsy 238.

God het vir Noag gesê om die ark groot genoeg te bou sodat hy en sy gesin en baie van die diere veilig daarin kon wees. Noag en sy gesin het baie hard gewerk. Hulle het groot bome afgekap en die hout gebruik om die ark aanmekaar te sit. Dit het baie, baie jare geneem omdat die ark so groot was.

Onthou jy wat Noag nog gedoen het gedurende al die jare wat hy die ark gebou het?— Hy het gepreek en die mense gewaarsku oor die Vloed wat gaan kom. Het enigiemand geluister? Nee, niemand behalwe Noag se gesin nie. Die res was eenvoudig te besig met ander dinge. Onthou jy wat Jesus gesê het hulle gedoen het?— Hulle was besig om te eet en te drink en te trou. Hulle het nie gedink dat hulle so sleg was nie, en hulle het nie tyd gemaak om na Noag te luister nie. Kom ons kyk wat het met hulle gebeur.

Nadat Noag en sy gesin in die ark ingegaan het, het Jehovah die deur gesluit. Die mense buite het nog steeds nie geglo dat die Vloed sou kom nie. Maar ewe skielik het daar water uit die hemel begin val! Dit was nie net gewone reën nie. Dit was stortreën! Die water het gou soos groot riviere geword en het ’n groot geraas gemaak. Dit het groot bome omgestoot en groot klippe gerol asof dit klein klippies was. En wat van die mense buite die ark?— Jesus het gesê: “Die vloed [het] gekom en hulle almal weggesleur.” Almal buite die ark is dood. Hoekom?— Soos Jesus gesê het: “Hulle het geen ag daarop geslaan [nie].” Hulle het nie geluister nie!—Matteus 24:39; Genesis 6:5-7.

Hoekom moet ons nie net aan pret dink nie?

Onthou nou, Jesus het gesê dat wat met daardie mense gebeur het, vandag ’n les vir ons is. Watter les kan ons leer?— Wel, mense is nie vernietig net omdat hulle sleg was nie, maar omdat baie van hulle eenvoudig te besig was om tyd te maak om van God te leer en van wat hy gaan doen. Ons moet versigtig wees dat ons nie soos hulle is nie, nè?—

Dink jy dat God weer die wêreld deur ’n vloed sal vernietig?— Nee, God het belowe dat hy dit nie sal doen nie. Hy het gesê: “My reënboog gee ek in die wolk, en dit sal dien as ’n teken.” Jehovah het gesê dat die reënboog ’n teken sou wees dat ‘die waters nie weer ’n sondvloed sal word om alle vlees te vernietig nie’.—Genesis 9:11-17.

Ons kan dan seker wees dat God nooit weer die wêreld deur ’n vloed sal vernietig nie. Maar soos ons gesien het, praat die Bybel wel van die einde van die wêreld. Wie sal God laat lewe wanneer hy hierdie wêreld vernietig?— Sal dit mense wees wat soveel in ander dinge belanggestel het dat hulle nooit van God wou leer nie? Sal dit mense wees wat altyd te besig was om die Bybel te bestudeer? Wat dink jy?—

Ons wil die soort mense wees wat God sal laat lewe, nè?— Sal dit nie wonderlik wees as ons gesin soos Noag s’n kan wees sodat God almal van ons sal red nie?— As ons die einde van die wêreld wil oorleef, moet ons verstaan hoe God dit gaan vernietig en sy regverdige nuwe wêreld gaan bring. Kom ons kyk hoe hy dit gaan doen.

Die Bybel gee vir ons die antwoord in Daniël hoofstuk 2, vers 44. Hierdie teks praat van ons dag wanneer dit sê: “In die dae van dié konings sal die God van die hemel ’n koninkryk [of, regering] oprig wat nooit vernietig sal word nie. En die koninkryk sal aan geen ander volk oorgedra word nie. Dit sal al hierdie koninkryke verbrysel en daar ’n einde aan maak, en self sal dit tot onbepaalde tye bly staan.”

Verstaan jy dit?— Die Bybel sê dat God se regering al die aardse regerings gaan vernietig. Hoekom?— Omdat hulle nie gehoorsaam is aan die Een vir wie God Koning gemaak het nie. En wie is dit?— Ja, Jesus Christus!

Jesus Christus, die Koning wat God gekies het, sal hierdie wêreld by Armageddon vernietig

Jehovah God het die reg om te besluit watter soort regering moet heers, en hy het sy Seun, Jesus, gekies om Koning te wees. Binnekort sal God se Heerser, Jesus Christus, die leiding neem wanneer al die regerings van hierdie wêreld vernietig gaan word. In Openbaring hoofstuk 19, verse 11 tot 16, beskryf die Bybel hom terwyl hy dit doen, soos hierdie prent wys. In die Bybel word God se oorlog wat al die regerings van die wêreld sal vernietig, Har–Magedon, of Armageddon, genoem.

God sê dat sy Koninkryk die regerings van mense gaan vernietig. Maar sê hy dat ons dit moet doen?— Nee, in die Bybel word Armageddon “die oorlog van die groot dag van God die Almagtige” genoem (Openbaring 16:14, 16). Ja, Armageddon is God se oorlog, en hy gebruik Jesus Christus om die hemelse leërs in die geveg te lei. Is die oorlog van Armageddon naby? Kom ons kyk hoe ons kan uitvind.

Kom ons lees saam oor wanneer God van al die slegte mense ontslae gaan raak en die mense gaan red wat hom dien, in Spreuke 2:21, 22; Jesaja 26:20, 21; Jeremia 25:31-33 en Matteus 24:21, 22.