Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK EEN

Wat is die waarheid omtrent God?

Wat is die waarheid omtrent God?
  • Gee God werklik vir jou om?

  • Watter soort persoon is God? Het hy ’n naam?

  • Is dit moontlik om na aan God te kom?

1, 2. Waarom is dit dikwels goed om vrae te vra?

HET jy al ooit opgelet hoe kinders vrae vra? Baie begin sodra hulle leer praat. Hulle kyk met groot, gretige ogies op na jou en vra dinge soos: Hoekom is die lug blou? Waarvan is die sterre gemaak? Wie het die voëls geleer sing? Jy probeer dalk hard om ’n antwoord te gee, maar dit is nie altyd maklik nie. Selfs jou beste antwoord lei dalk net tot nog ’n vraag: Hoekom?

2 Kinders is nie die enigstes wat vrae vra nie. Terwyl ons grootword, hou ons aan om vrae te vra. Ons doen dit om ons pad te vind, om te leer van gevare wat ons moet vermy of om ons nuuskierigheid te bevredig. Maar baie mense hou blykbaar op om vrae te vra, veral dié wat die belangrikste is. Of hulle hou ten minste op om na die antwoorde te soek.

3. Waarom hou baie mense op om antwoorde op die belangrikste vrae te probeer vind?

3 Dink aan die vraag op die voorblad van hierdie boek, die vrae wat in die voorwoord gevra word of dié aan die begin van hierdie hoofstuk. Dit is van die belangrikste vrae wat ’n mens kan vra. En tog het baie mense moed opgegee om die antwoorde te probeer vind. Waarom? Bevat die Bybel die antwoorde? Party voel dat die antwoorde daarin te moeilik is om te verstaan. Ander is bekommerd dat hulle in die verleentheid gestel sal word as hulle vrae vra. En party besluit dat sulke vrae eerder aan godsdiensleiers en -onderrigters oorgelaat moet word. Wat dink jy?

4, 5. Wat is van die belangrikste vrae wat ons in die lewe kan vra, en waarom moet ons die antwoorde soek?

4 Jy stel heel waarskynlik daarin belang om antwoorde te kry op die belangrike vrae in die lewe. Jy wonder ongetwyfeld soms: ‘Wat is die doel van die lewe? Is hierdie lewe al wat daar is? Watter soort persoon is God werklik?’ Dit is goed om sulke vrae te vra, en dit is belangrik dat jy nie moed opgee voordat jy bevredigende, betroubare antwoorde gevind het nie. Die beroemde onderrigter Jesus Christus het gesê: “Hou aan vra, en vir julle sal gegee word; hou aan soek, en julle sal vind; hou aan klop, en vir julle sal oopgemaak word.”—Matteus 7:7.

5 As jy ‘aanhou soek’ na antwoorde op die belangrike vrae, sal jy vind dat die soektog baie lonend kan wees (Spreuke 2:1-5). Ongeag wat ander mense dalk vir jou gesê het, daar is antwoorde en jy kan dit vind—in die Bybel. Die antwoorde is nie te moeilik om te verstaan nie. Nog beter, dit is ’n bron van hoop en vreugde. En dit kan jou help om nou al ’n vervullende lewe te lei. Om mee te begin, kom ons bespreek ’n vraag wat baie mense kwel.

IS GOD ONBESORG OOR ONS EN GEVOELLOOS?

6. Waarom dink baie mense dat God nie besorg is oor menselyding nie?

6 Baie mense dink dat die antwoord op hierdie vraag ja is. ‘As God besorg was oor ons’, redeneer hulle, ‘sou die wêreld dan nie baie anders gewees het nie?’ Wanneer ons om ons kyk, sien ons ’n wêreld vol oorlog, haat en ellende. En elkeen van ons word siek, ly en staan geliefdes aan die dood af. Daarom sê baie mense: ‘As God besorg was oor ons en ons probleme, sou hy dan nie gekeer het dat sulke dinge gebeur nie?’

7. (a) Hoe het godsdiensonderrigters baie laat dink dat God gevoelloos is? (b) Wat leer die Bybel werklik omtrent die beproewinge wat oor ons kom?

7 Nog erger, godsdiensonderrigters laat mense dink dat God gevoelloos is. Hoe so? Wanneer daar ’n tragedie is, sê hulle dat dit God se wil is. Sulke onderrigters blameer God in werklikheid vir die slegte dinge wat gebeur. Is dit die waarheid omtrent God? Wat leer die Bybel werklik? Jakobus 1:13 antwoord: “Laat niemand, wanneer hy beproef word, sê: ‘Ek word deur God beproef’ nie. Want met bose dinge kan God nie beproef word nie, en ook beproef hy self niemand nie.” God is dus nooit die oorsaak van die goddeloosheid wat jy in die wêreld om jou sien nie (Job 34:10-12). Hy laat wel toe dat slegte dinge gebeur. Maar daar is ’n groot verskil tussen om toe te laat dat iets gebeur en om dit te veroorsaak.

8, 9. (a) Hoe sou jy illustreer wat die verskil is tussen om goddeloosheid toe te laat en om dit te veroorsaak? (b) Waarom sou dit onregverdig van ons wees om fout te vind met God se besluit om die mensdom toe te laat om ’n opstandige weg te volg?

8 Dink byvoorbeeld aan ’n wyse en liefdevolle vader met ’n volwasse seun wat nog by sy ouers in die huis woon. Wanneer die seun opstandig raak en besluit om die huis te verlaat, keer sy vader hom nie. Die seun lei ’n slegte lewe en kom in die moeilikheid. Is die vader die oorsaak van die seun se probleme? Nee (Lukas 15:11-13). Net so keer God mense nie wanneer hulle kies om ’n slegte weg te volg nie, maar hy is nie die oorsaak van die probleme wat as gevolg daarvan ontstaan nie. Daarom sou dit beslis onregverdig wees om God te blameer vir al die mensdom se probleme.

9 God het goeie redes waarom hy die mensdom toelaat om ’n slegte weg te volg. As ons wyse en magtige Skepper hoef hy nie sy redes aan ons te verduidelik nie. Maar uit liefde doen God dit wel. Jy sal in Hoofstuk 11 meer omtrent hierdie redes leer. Maar jy kan seker wees dat God nie vir ons probleme verantwoordelik is nie. Inteendeel, hy gee ons die enigste hoop op ’n oplossing!—Jesaja 33:2.

10. Waarom kan ons die vertroue hê dat God al die gevolge van goddeloosheid ongedaan sal maak?

10 Wat meer is, God is heilig (Jesaja 6:3). Dit beteken dat hy suiwer en rein is. Daar is nie ’n sweempie van slegtheid in hom nie. Daarom kan ons hom ten volle vertrou. Dit is meer as wat ons kan sê van mense, wat soms verdorwe raak. Selfs die opregste mens in ’n gesagsposisie het dikwels nie die mag om die skade wat slegte mense aanrig, ongedaan te maak nie. Maar God is almagtig. Hy kan en sal al die gevolge wat goddeloosheid op die mensdom gehad het, ongedaan maak. Wanneer God optree, sal hy dit op ’n manier doen wat vir ewig ’n einde aan boosheid sal maak!—Psalm 37:9-11.

HOE VOEL GOD OOR DIE ONREGTE WAARMEE ONS TE KAMPE HET?

11. (a) Hoe voel God oor ongeregtigheid? (b) Hoe voel God oor die lyding wat jy ondervind?

11 Hoe voel God intussen oor die dinge wat in die wêreld en in jou lewe gebeur? Wel, die Bybel leer dat God ‘geregtigheid liefhet’ (Psalm 37:28). Hy is dus baie besorg oor wat reg en wat verkeerd is. Hy haat alle vorme van ongeregtigheid. Die Bybel sê dat God “gekrenk gevoel [het] in sy hart” toe die wêreld in die verlede vol slegtheid geword het (Genesis 6:5, 6). God het nie verander nie (Maleagi 3:6). Hy haat dit nog steeds om al die lyding te sien wat in die wêreld plaasvind. God haat dit om te sien hoe mense ly. Die Bybel verseker ons van God se besorgdheid oor ons met hierdie woorde: “Hy sorg vir ons.”—1 Petrus 5:7.

Die Bybel leer dat Jehovah die liefdevolle Skepper van die heelal is

12, 13. (a) Waarom het ons goeie eienskappe soos liefde, en watter uitwerking het liefde op ons beskouing van die wêreld? (b) Waarom kan jy seker wees dat God werklik iets omtrent wêreldprobleme gaan doen?

12 Hoe kan ons seker wees dat God dit haat om lyding te sien? Hier is verdere bewys. Die Bybel leer dat die mens na die beeld van God gemaak is (Genesis 1:26). Ons het dus goeie eienskappe omdat God goeie eienskappe het. Byvoorbeeld, kwel dit jou om te sien hoe onskuldige mense ly? As jy besorg is oor sulke onregte, kan jy seker wees dat God selfs sterker voel daaroor.

13 Een van die mooiste eienskappe van die mens is ons vermoë om lief te hê. Dit is ook ’n weerspieëling van God. Die Bybel leer dat ‘God liefde is’ (1 Johannes 4:8). Ons het lief omdat God liefhet. Sou liefde jou beweeg om ’n einde te maak aan die lyding en ongeregtigheid wat jy in die wêreld sien? As jy die mag gehad het om dit te doen, sou jy dit doen? Natuurlik sou jy! Jy kan net so seker wees dat God ’n einde aan lyding en ongeregtigheid gaan maak. Die beloftes wat in die voorwoord van hierdie boek genoem word, is nie net drome of ongegronde verwagtinge nie. God se beloftes sal beslis verwesenlik word! Maar om in sulke beloftes geloof te kan stel, moet jy meer weet van die God wat hulle gemaak het.

GOD WIL HÊ DAT JY MOET WEET WIE HY IS

As jy wil hê dat iemand jou moet leer ken, sê jy wat jou naam is, nie waar nie? God openbaar sy naam aan ons in die Bybel

14. Wat is God se naam, en waarom moet ons dit gebruik?

14 Wat sal jy doen as jy wil hê dat iemand jou moet leer ken? Sal jy nie vir daardie persoon sê wat jou naam is nie? Het God ’n naam? Baie godsdienste sê dat sy naam “God” of “Here” is, maar dit is nie werklik persoonsname nie. Dit is titels, net soos “koning” en “president” titels is. Die Bybel leer dat God baie titels het. “God” en “Here” is twee daarvan. Maar die Bybel leer ook dat God ’n persoonlike naam het: Jehovah. Psalm 83:18 sê: “U, wie se naam Jehovah is, U alleen [is] die Allerhoogste oor die hele aarde.” As jou vertaling van die Bybel nie hierdie naam bevat nie, sal jy dalk na die Aanhangsel op bladsye 195-7 van hierdie boek wil blaai om uit te vind waarom dit so is. Die waarheid is dat God se naam duisende kere in antieke Bybelmanuskripte verskyn. Jehovah wil dus hê dat jy sy naam moet ken en dit moet gebruik. ’n Mens kan sê dat hy hom deur middel van die Bybel aan jou bekend stel.

15. Wat beteken die naam Jehovah?

15 God het homself ’n naam gegee wat ryk aan betekenis is. Sy naam, Jehovah, beteken dat God enige belofte wat hy maak, kan nakom en enige voorneme wat hy in gedagte het, kan verwesenlik. * God se naam is uniek, enig in sy soort. Dit behoort net aan hom. Jehovah is in etlike opsigte uniek. Hoe?

16, 17. Wat kan ons van Jehovah leer uit die volgende titels: (a) “die Almagtige”? (b) “Koning van die ewigheid”? (c) “Skepper”?

16 Ons het gesien dat Psalm 83:18 van Jehovah gesê het: “U alleen [is] die Allerhoogste.” Net so word Jehovah alleen “die Almagtige” genoem. Openbaring 15:3 sê: “Groot en wonderbaar is u werke, Jehovah God, die Almagtige. Regverdig en waaragtig is u weë, Koning van die ewigheid.” Die titel “die Almagtige” leer ons dat Jehovah die magtigste wese is wat bestaan. Sy mag is sonder gelyke; niemand is magtiger as hy nie. En die titel “Koning van die ewigheid” laat ons dink aan die feit dat Jehovah in ’n ander opsig uniek is. Hy alleen het nog altyd bestaan. Psalm 90:2 sê: “Van onbepaalde tyd tot onbepaalde tyd [of, vir ewig] is u God.” Dit is ’n ontsagwekkende gedagte, nie waar nie?

17 Jehovah is ook uniek omdat hy alleen die Skepper is. Openbaring 4:11 sê: “U is waardig, Jehovah, ja, ons God, om die heerlikheid en die eer en die krag te ontvang, want u het alles geskep, en weens u wil het hulle bestaan en is hulle geskep.” Alles waaraan jy kan dink—die onsigbare geesskepsele in die hemel, die sterre aan die naghemel, die vrugte wat aan die bome groei en die visse wat in die oseane en riviere swem—alles bestaan omdat Jehovah die Skepper is!

KAN JY NA AAN JEHOVAH WEES?

18. Waarom voel party mense dat hulle nooit na aan God sal kan kom nie, maar wat leer die Bybel?

18 Party mense voel effens ongemaklik wanneer hulle van Jehovah se ontsagwekkende eienskappe lees. Hulle is bang dat God te hoog is vir hulle, dat hulle nooit na aan hom sal kan kom of enigsins vir so ’n verhewe God iets sal beteken nie. Maar is dit waar? Die Bybel leer presies die teenoorgestelde. Dit sê van Jehovah: “Hy [is] eintlik nie ver van elkeen van ons af . . . nie” (Handelinge 17:27). Die Bybel spoor ons selfs aan: “Kom nader aan God, en hy sal nader aan julle kom.”—Jakobus 4:8.

19. (a) Hoe kan ons begin om nader aan God te kom, en hoe sal dit ons help? (b) Watter eienskappe van God is vir jou die aantreklikste?

19 Hoe kan jy nader aan God kom? Om mee te begin, hou aan om te doen wat jy nou doen—om van God te leer. Jesus het gesê: “Dít beteken die ewige lewe, dat hulle kennis inneem van u, die enigste ware God, en van die een wat u uitgestuur het, Jesus Christus” (Johannes 17:3). Ja, die Bybel leer dat dit tot “die ewige lewe” lei as ons van Jehovah en Jesus leer! Soos ons reeds gesê het: “God is liefde” (1 Johannes 4:16). Jehovah het ook baie ander pragtige en aantreklike eienskappe. Die Bybel sê byvoorbeeld dat Jehovah “’n barmhartige en genadige God [is], wat nie gou toornig word nie en oorvloedig is in liefderyke goedhartigheid en waarheid” (Eksodus 34:6). Hy is “goed en vergewensgesind” (Psalm 86:5). God is geduldig (2 Petrus 3:9). Hy is lojaal (Openbaring 15:4). Hoe meer jy die Bybel lees, hoe meer sal jy sien hoe Jehovah gewys het dat hy hierdie sowel as baie ander aantreklike eienskappe het.

20-22. (a) Verhoed die feit dat ons God nie kan sien nie, ons om na aan hom te kom? Verduidelik. (b) Wat sal party welmenende mense dalk vir jou sê, maar wat moet jy doen?

20 Jy kan God weliswaar nie sien nie, omdat hy ’n onsigbare gees is (Johannes 1:18; 4:24; 1 Timoteus 1:17). Maar deur in die Bybel van hom te leer, kan jy hom as ’n persoon leer ken. Soos die psalmis gesê het, kan jy “die lieflikheid van Jehovah . . . sien” (Psalm 27:4; Romeine 1:20). Hoe meer jy van Jehovah leer, hoe werkliker sal hy vir jou word en hoe meer rede sal jy hê om hom lief te hê en na aan hom te voel.

Die liefde wat ’n goeie vader vir sy kinders voel, is ’n weerspieëling van die groter liefde wat ons hemelse Vader vir ons voel

21 Jy sal verstaan waarom die Bybel ons leer om aan Jehovah te dink as ons Vader (Matteus 6:9). Nie alleen gee hy ons lewe nie, maar hy wil hê dat ons die beste lewe moontlik moet hê—net soos enige liefdevolle vader dit vir sy kinders wil hê (Psalm 36:9). Die Bybel leer ook dat mense Jehovah se vriende kan word (Jakobus 2:23). Stel jou dit voor—jy kan ’n vriend van die Skepper van die heelal word!

22 Terwyl jy meer van die Bybel leer, sal jy moontlik vind dat party welmenende mense vir jou sal sê om hierdie studies stop te sit. Hulle is dalk bang dat jy jou godsdiensopvattings sal verander. Maar moenie toelaat dat enigiemand jou keer om die beste vriendskap te sluit wat jy ooit kan hê nie.

23, 24. (a) Waarom moet jy aanhou vrae vra oor die dinge wat jy leer? (b) Waaroor handel die volgende hoofstuk?

23 Daar sal natuurlik dinge wees wat jy aan die begin nie sal verstaan nie. Dit verg nederigheid om hulp te vra, maar moenie terughou omdat jy te verleë is om dit te doen nie. Jesus het gesê dat dit goed is om nederig te wees, soos ’n kindjie (Matteus 18:2-4). En soos ons weet, vra kinders baie vrae. God wil hê dat jy die antwoorde moet vind. Die Bybel prys die mense wat gretig was om van God te leer. Hulle het die Skrif noukeurig ondersoek om seker te maak dat wat hulle geleer het, die waarheid was.—Handelinge 17:11.

24 Die beste manier om van Jehovah te leer, is om die Bybel te ondersoek. Dit is anders as enige ander boek. Hoe? Die volgende hoofstuk sal hierdie onderwerp bespreek.

^ par. 15 Daar is meer inligting oor die betekenis en uitspraak van God se naam in die Aanhangsel op bladsye 195-7.