Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK DRIE

Wat is God se voorneme met die aarde?

Wat is God se voorneme met die aarde?
  • Wat is God se voorneme met die mensdom?

  • Hoe is God uitgedaag?

  • Hoe sal die lewe op die aarde in die toekoms wees?

1. Wat is God se voorneme met die aarde?

GOD se voorneme met die aarde is werklik wonderlik. Jehovah wil hê dat die aarde vol gelukkige, gesonde mense moet wees. Die Bybel sê dat “God ’n tuin in Eden geplant” het en dat hy “allerhande bome, begeerlik om te sien en goed vir voedsel, . . . laat groei” het. Nadat God die eerste man en vrou, Adam en Eva, geskep het, het Hy hulle in daardie lieflike tuiste gesit en vir hulle gesê: “Wees vrugbaar en word baie en vul die aarde en onderwerp dit” (Genesis 1:28; 2:8, 9, 15). Dit was dus God se voorneme dat mense kinders moes hê, die grense van daardie tuintuiste oor die hele aarde moes uitbrei en vir die diere moes sorg.

2. (a) Hoe weet ons dat God se voorneme met die aarde vervul sal word? (b) Wat sê die Bybel oor ewige lewe vir die mens?

2 Dink jy dat Jehovah God se voorneme dat mense in ’n aardse paradys moet lewe, ooit verwesenlik sal word? “Ek het dit gespreek”, sê God, “ek sal dit ook doen” (Jesaja 46:9-11; 55:11). Ja, wat God hom voorgeneem het, sal hy beslis doen! Hy sê dat hy die aarde “nie verniet geskep het nie”, maar dat hy “dit gevorm het om bewoon te word” (Jesaja 45:18). Watter soort mense wou God hê moes op die aarde lewe? En hoe lank wou hy hê moes hulle hier lewe? Die Bybel antwoord: “Die regverdiges sal die aarde besit, en hulle sal vir ewig daarop woon.”Psalm 37:29; Openbaring 21:3, 4.

3. Watter droewige toestande heers vandag op die aarde, en watter vrae laat dit ontstaan?

3 Dit het natuurlik nog nie gebeur nie. Mense word vandag siek en gaan dood; hulle baklei selfs en maak mekaar dood. Iets het verkeerd geloop. Maar God se voorneme was tog sekerlik nie dat die aarde moet wees soos dit vandag is nie! Wat het dan gebeur? Waarom is God se voorneme nie vervul nie? Geen geskiedenisboek wat deur die mens geskryf is, kan ons die antwoord gee nie, want die moeilikheid het in die hemel begin.

DIE OORSPRONG VAN ’N VYAND

4, 5. (a) Wie het in werklikheid deur middel van ’n slang met Eva gepraat? (b) Hoe kan iemand wat voorheen ordentlik en eerlik was, ’n dief word?

4 Die eerste boek van die Bybel vertel van ’n teenstander van God wat sy opwagting in die tuin van Eden gemaak het. Hy word as “die slang” beskryf, maar hy was nie ’n blote dier nie. Die laaste boek van die Bybel identifiseer hom as “die een wat Duiwel en Satan genoem word, wat die hele bewoonde aarde mislei”. Hy word ook “die oorspronklike slang” genoem (Genesis 3:1; Openbaring 12:9). Hierdie magtige engel, of onsigbare geesskepsel, het ’n slang gebruik om met Eva te praat, net soos ’n geoefende persoon dit kan laat klink asof sy stem uit ’n pop kom. Daardie geespersoon was ongetwyfeld teenwoordig toe God die aarde vir die mens voorberei het.—Job 38:4, 7.

5 Maar wie het hierdie “Duiwel”, hierdie “Satan”, gemaak, aangesien alles wat Jehovah geskep het, volmaak is? Eenvoudig gestel, een van die magtige geesseuns van God het homself in die Duiwel verander. Hoe was dit moontlik? Wel, vandag kan iemand wat voorheen ordentlik en eerlik was, ’n dief word. Hoe gebeur dit? Hy laat moontlik toe dat ’n verkeerde begeerte in sy hart ontwikkel. As hy aanhou om daaroor te dink, kan daardie slegte begeerte baie sterk word. Wanneer hy die geleentheid kry, sal hy dalk die slegte dinge doen waaroor hy gedink het.—Jakobus 1:13-15.

6. Hoe het ’n magtige geesseun van God Satan die Duiwel geword?

6 Dit het in die geval van Satan die Duiwel gebeur. Hy het blykbaar gehoor hoe God vir Adam en Eva sê om kinders te hê en om die aarde met hulle nageslag te vul (Genesis 1:27, 28). ‘Al hierdie mense kan mos eerder vir mý aanbid as vir God!’ het Satan blykbaar gedink. Só het ’n verkeerde begeerte in sy hart ontwikkel. Uiteindelik het hy opgetree en vir Eva bedrieg deur vir haar leuens oor God te vertel (Genesis 3:1-5). Sodoende het hy ’n “Duiwel” geword, wat “Lasteraar” beteken. Terselfdertyd het hy “Satan” geword, wat “Teenstander” beteken.

7. (a) Waarom het Adam en Eva gesterf? (b) Waarom word al Adam se nakomelinge oud en sterf hulle?

7 Deur middel van leuens en bedrog het Satan die Duiwel Adam en Eva sover gekry om aan God ongehoorsaam te wees (Genesis 2:17; 3:6). As gevolg daarvan het hulle uiteindelik gesterf, net soos God gesê het sou gebeur as hulle ongehoorsaam was (Genesis 3:17-19). Aangesien Adam onvolmaak geword het toe hy gesondig het, het al sy nakomelinge sonde van hom geërf (Romeine 5:12). Die situasie kan toegelig word met ’n pan waarin ’n mens brood bak. As daar ’n duik in die pan is, hoe lyk elke brood wat daarin gebak word? Elke brood het ook ’n duik, of onvolmaaktheid, daarin. So ook het elke mens ’n “duik” van onvolmaaktheid van Adam geërf. Dit is waarom alle mense oud word en sterf.—Romeine 3:23.

8, 9. (a) Watter uitdaging het Satan blykbaar geopper? (b) Waarom het God die opstandelinge nie onmiddellik vernietig nie?

8 Toe Satan vir Adam en Eva in ’n weg van sonde teen God gelei het, het hy eintlik ’n opstand gelei. Hy het die manier waarop Jehovah regeer, teëgestaan. Satan het in werklikheid gesê: ‘God is ’n slegte heerser. Hy vertel leuens en weerhou goeie dinge van sy onderdane. Mense het God nie nodig om oor hulle te regeer nie. Hulle kan self besluit wat goed en wat sleg is. En hulle sal beter af wees onder my heerskappy.’ Hoe sou God so ’n beledigende uitdaging hanteer? Party mense dink dat God die opstandelinge eenvoudig moes doodgemaak het. Maar sou dit ’n antwoord op Satan se uitdaging voorsien het? Sou dit bewys het dat God se manier van regeer reg is?

9 Jehovah se volmaakte sin vir geregtigheid het hom daarvan weerhou om die opstandelinge op die plek dood te maak. Hy het besluit dat tyd nodig was om ’n bevredigende antwoord op Satan se uitdaging te voorsien en om te bewys dat die Duiwel ’n leuenaar is. Daarom het God besluit dat hy mense sou toelaat om hulleself ’n tyd lank onder Satan se invloed te regeer. Waarom Jehovah dit gedoen het en waarom hy toegelaat het dat soveel tyd verbygaan voordat hy hierdie geskille oplos, sal in Hoofstuk 11 van hierdie boek bespreek word. Maar dit is nou goed om hieroor na te dink: Was dit reg van Adam en Eva om Satan te glo, wat nog nooit vir hulle iets goeds gedoen het nie? Was dit reg van hulle om te glo dat Jehovah, wat hulle alles gegee het wat hulle gehad het, ’n wrede leuenaar is? Wat sou jy gedoen het?

10. Hoe kan jy Jehovah se kant ondersteun en ’n antwoord op Satan se uitdaging voorsien?

10 Dit is goed om oor hierdie vrae na te dink, want elkeen van ons staan vandag voor soortgelyke geskille. Ja, jy het die geleentheid om Jehovah se kant te ondersteun en ’n antwoord op Satan se uitdaging te voorsien. Jy kan Jehovah as jou Heerser aanvaar en help om te toon dat Satan ’n leuenaar is (Psalm 73:28; Spreuke 27:11). Ongelukkig is daar maar min onder die miljarde mense in hierdie wêreld wat kies om dit te doen. Dit laat ’n belangrike vraag ontstaan: Leer die Bybel werklik dat Satan oor hierdie wêreld heers?

WIE HEERS OOR HIERDIE WÊRELD?

Hoe kon Satan al die koninkryke van die wêreld vir Jesus aangebied het as hy dit nie besit het nie?

11, 12. (a) Hoe openbaar ’n versoeking van Jesus dat Satan die heerser van hierdie wêreld is? (b) Wat anders bewys dat Satan die heerser van hierdie wêreld is?

11 Jesus het nooit daaraan getwyfel dat Satan die heerser van hierdie wêreld is nie. Op die een of ander wonderdadige manier het Satan eenkeer vir Jesus “al die koninkryke van die wêreld en hulle heerlikheid” gewys. Satan het Jesus toe belowe: “Al hierdie dinge sal ek jou gee as jy neerval en ’n daad van aanbidding teenoor my verrig” (Matteus 4:8, 9; Lukas 4:5, 6). Dink net daaraan. Sou daardie aanbod vir Jesus ’n versoeking gewees het as Satan nie die heerser van daardie koninkryke was nie? Jesus het nie gesê dat al daardie wêreldse regerings nie aan Satan behoort het nie. Jesus sou dit tog sekerlik gedoen het as Satan nie die mag daaragter was nie.

12 Jehovah is natuurlik die almagtige God, die Skepper van die wonderlike heelal (Openbaring 4:11). Maar die Bybel sê nêrens dat Jehovah God of Jesus Christus die heerser van hierdie wêreld is nie. Trouens, Jesus het spesifiek na Satan verwys as “die heerser van hierdie wêreld” (Johannes 12:31; 14:30; 16:11). Die Bybel noem Satan die Duiwel selfs “die god van hierdie stelsel van dinge” (2 Korintiërs 4:3, 4). Van hierdie teenstander, of Satan, het die Christenapostel Johannes geskryf: “Die hele wêreld lê in die mag van die bose.”—1 Johannes 5:19.

HOE SATAN SE WÊRELD VERNIETIG SAL WORD

13. Waarom is ’n nuwe wêreld nodig?

13 Met elke jaar wat verbygaan, word die wêreld al hoe gevaarliker. Oral sien jy strydende leërs, oneerlike politici, skynheilige godsdiensleiers en geharde misdadigers. Die wêreld in sy geheel kan nie meer hervorm word nie. Die Bybel openbaar dat die tyd naby is wanneer God die goddelose wêreld tydens sy oorlog van Armageddon sal vernietig. Dit sal die weg baan vir ’n regverdige nuwe wêreld.—Openbaring 16:14-16.

14. Wie het God gekies om die Heerser van Sy Koninkryk te wees, en hoe is dit voorspel?

14 Jehovah God het Jesus Christus gekies om die Heerser van Sy hemelse Koninkryk, of regering, te wees. Die Bybel het lank gelede voorspel: “’n Kind is vir ons gebore, ’n seun is vir ons gegee; en die vorstelike heerskappy sal op sy skouer wees. En hy sal genoem word: . . . Vredevors. Aan die oorvloed van die vorstelike heerskappy en aan vrede sal daar geen einde wees nie” (Jesaja 9:6, 7). Aangaande hierdie regering het Jesus sy volgelinge geleer bid: “Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde” (Matteus 6:10). Soos ons later in hierdie boek sal sien, sal al die regerings van hierdie wêreld binnekort deur God se Koninkryk vernietig word, en dit sal hulle almal vervang (Daniël 2:44). Dan sal God se Koninkryk ’n aardse paradys tot stand bring.

’N NUWE WÊRELD IS OP HANDE!

15. Wat is die “nuwe aarde”?

15 Die Bybel verseker ons: “Daar is nuwe hemele en ’n nuwe aarde wat ons volgens [God se] belofte verwag, en daarin sal regverdigheid woon” (2 Petrus 3:13; Jesaja 65:17). Wanneer die Bybel van “die aarde” praat, bedoel dit soms die mense wat op die aarde lewe (Genesis 11:1). Die regverdige “nuwe aarde” is dus ’n gemeenskap van mense wat God se goedkeuring wegdra.

16. Watter kosbare gawe sal God aan diegene gee wat sy goedkeuring wegdra, en wat moet ons doen om dit te ontvang?

16 Jesus het belowe dat diegene wat deur God goedgekeur word, in die komende nuwe wêreld die “ewige lewe” sal verkry (Markus 10:30). Slaan asseblief Johannes 3:16 en 17:3 in jou Bybel na, en lees wat Jesus gesê het ons moet doen as ons die ewige lewe wil verkry. Kyk nou in die Bybel watter seëninge diegene sal geniet wat aan die vereistes voldoen om hierdie wonderlike gawe van God in die komende aardse Paradys te ontvang.

17, 18. Hoe kan ons seker wees dat daar oral op die aarde vrede en veiligheid sal wees?

17 Goddeloosheid, oorlog, misdaad en geweld sal nie meer bestaan nie. “Die goddelose sal daar nie meer wees nie . . . Maar die sagmoediges sal die aarde besit” (Psalm 37:10, 11). Daar sal vrede wees, want ‘God sal oorloë laat ophou tot aan die eindes van die aarde’ (Psalm 46:9; Jesaja 2:4). Dan “sal die regverdige bloei, en die oorvloed van vrede totdat die maan nie meer is nie”—en dit beteken vir ewig!—Psalm 72:7.

18 Aanbidders van Jehovah sal in veiligheid lewe. Solank die Israeliete in Bybeltye aan God gehoorsaam was, het hulle in veiligheid gelewe (Levitikus 25:18, 19). Hoe wonderlik sal dit tog wees om dieselfde soort veiligheid in die Paradys te geniet!—Jesaja 32:18; Miga 4:4.

19. Waarom weet ons dat daar volop kos in God se nuwe wêreld sal wees?

19 Daar sal geen voedseltekorte wees nie. “Daar sal volop graan op die aarde wees”, het die psalmis gesing. “Op die top van die berge sal daar ’n oorvloed wees” (Psalm 72:16). Jehovah God sal sy regverdige knegte seën, en “die aarde sal beslis sy opbrengs lewer”.—Psalm 67:6.

20. Waarom kan ons seker wees dat die hele aarde ’n paradys sal word?

20 Die hele aarde sal ’n paradys word. Lieflike nuwe huise en tuine sal op grond staan wat vroeër deur sondige mense verniel is (Jesaja 65:21-24; Openbaring 11:18). Mettertyd sal dele van die aarde wat reeds onderwerp is, uitbrei totdat die hele aarde so pragtig en vrugbaar is soos die tuin van Eden. En God sal nooit nalaat om ‘sy hand oop te maak en die begeerte van alles wat lewe, te bevredig’ nie.—Psalm 145:16.

21. Wat wys dat daar vrede tussen mense en diere sal wees?

21 Daar sal vrede tussen mense en diere wees. Wilde en mak diere sal saam wei. Selfs ’n klein kindjie sal glad nie bang hoef te wees vir diere wat nou gevaarlik is nie.—Jesaja 11:6-9; 65:25.

22. Wat sal van siekte word?

22 Siekte sal verdwyn. As die Heerser van God se hemelse Koninkryk, sal Jesus mense op ’n veel groter skaal genees as toe hy op die aarde was (Matteus 9:35; Markus 1:40-42; Johannes 5:5-9). Dan sal “geen inwoner . . . sê: ‘Ek is siek’ nie”.—Jesaja 33:24; 35:5, 6.

23. Waarom sal die opstanding ons harte bly maak?

23 Geliefdes wat gesterf het, sal opgewek word met die vooruitsig om nooit dood te gaan nie. Almal wat nou in die dood slaap en in God se geheue is, sal weer lewend gemaak word. Trouens, “daar [sal] ’n opstanding van die regverdiges sowel as die onregverdiges . . . wees”.—Handelinge 24:15; Johannes 5:28, 29.

24. Hoe voel jy daaroor om in die Paradys op die aarde te lewe?

24 Wat ’n wonderlike toekoms wag daar tog op diegene wat kies om van ons Grootse Skepper, Jehovah God, te leer en om hom te dien! Jesus het na die komende Paradys op die aarde verwys toe hy hierdie belofte gemaak het aan die kwaaddoener wat langs hom gesterf het: “Jy sal saam met my in die Paradys wees” (Lukas 23:43). Dit is noodsaaklik dat ons meer van Jesus Christus leer, die een deur wie al hierdie seëninge moontlik gemaak sal word.