Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK VIER

Wie is Jesus Christus?

Wie is Jesus Christus?
  • Wat is Jesus se spesiale rol?

  • Waar het hy vandaan gekom?

  • Watter soort persoon was hy?

1, 2. (a) Waarom beteken die feit dat jy van ’n beroemde persoon weet, nie dat jy hom werklik ken nie? (b) Watter verwarring bestaan daar oor Jesus?

DAAR is baie beroemde mense in die wêreld. Party is baie bekend in hulle eie gemeenskap, stad of land. Ander is wêreldbekend. Maar as ’n mens net weet wat die naam van ’n beroemde persoon is, beteken dit nie dat jy hom werklik ken nie. Dit beteken nie dat jy besonderhede oor sy agtergrond ken of dat jy weet watter soort persoon hy werklik is nie.

2 Mense in alle wêrelddele het al van Jesus Christus gehoor, al het hy sowat 2 000 jaar gelede op die aarde gelewe. Maar baie is verward oor wie Jesus werklik was. Party sê dat hy net ’n goeie mens was. Ander beweer dat hy niks meer as ’n profeet was nie. Nog ander glo dat Jesus God is en dat hy aanbid moet word. Is dit werklik so?

3. Waarom is dit belangrik dat jy weet wat die waarheid omtrent Jesus is?

3 Dit is belangrik dat jy weet wat die waarheid omtrent Jesus is. Waarom? Omdat die Bybel sê: “Dít beteken die ewige lewe, dat hulle kennis inneem van u, die enigste ware God, en van die een wat u uitgestuur het, Jesus Christus” (Johannes 17:3). Ja, as jy die waarheid omtrent Jehovah God en Jesus Christus ken, kan dit tot die ewige lewe op ’n paradysaarde lei (Johannes 14:6). Jesus het ook die beste voorbeeld gestel van hoe om te lewe en hoe om ander te behandel (Johannes 13:34, 35). In die eerste hoofstuk van hierdie boek het ons die waarheid omtrent God bespreek. Kom ons kyk nou wat die Bybel werklik omtrent Jesus Christus leer.

DIE BELOOFDE MESSIAS

4. Wat beteken die titels “Messias” en “Christus”?

4 Lank voor Jesus gebore is, het die Bybel voorspel dat iemand sou kom wat God as die Messias, of Christus, sou uitstuur. Die titels “Messias” (afgelei van ’n Hebreeuse woord) en “Christus” (afgelei van ’n Griekse woord) beteken albei “Gesalfde”. Hierdie Een wat belowe is, sou gesalf word, dit wil sê, God sou hom in ’n spesiale posisie aanstel. In latere hoofstukke van hierdie boek sal ons meer leer van die belangrike rol van die Messias in die vervulling van God se beloftes. Ons sal ook leer van die seëninge wat Jesus nou al vir ons kan bring. Maar voor Jesus gebore is, het baie ongetwyfeld gewonder: ‘Wie sal die Messias wees?’

5. Waarvan was Jesus se dissipels ten volle oortuig in verband met hom?

5 In die eerste eeu G.J. was Jesus van Nasaret se dissipels ten volle oortuig dat hy die voorspelde Messias is (Johannes 1:41). Een van die dissipels, ’n man met die naam Simon Petrus, het openlik vir Jesus gesê: “U is die Christus” (Matteus 16:16). Maar hoe kon daardie dissipels—en hoe kan ons—seker wees dat Jesus werklik die beloofde Messias is?

6. Lig toe hoe Jehovah getroues gehelp het om die Messias te identifiseer.

6 Die profete van God wat voor Jesus gelewe het, het baie besonderhede oor die Messias voorspel. Daardie besonderhede sou ander help om hom te identifiseer. Ons kan dit so toelig: Sê nou jy word gevra om iemand wat jy nog nooit ontmoet het nie, by ’n besige bushalte, spoorwegstasie of lughawe te gaan haal. Sou dit nie help as iemand jou ’n paar besonderhede oor hom gee nie? Net so het Jehovah, deur middel van die Bybelprofete, ’n taamlik volledige beskrywing gegee van wat die Messias sou doen en wat met hom sou gebeur. Die vervulling van al hierdie profesieë sou getroues help om hom duidelik te identifiseer.

7. Wat is twee van die profesieë wat in verband met Jesus vervul is?

7 Kyk na net twee voorbeelde. Eerstens, meer as 700 jaar voor die tyd het die profeet Miga voorspel dat die Een wat belowe is, in Betlehem, ’n klein dorpie in die gebied van Juda, gebore sou word (Miga 5:2). Waar is Jesus gebore? In daardie einste dorpie! (Matteus 2:1, 3-9). Tweedens, baie eeue voor die tyd het die profesie wat in Daniël 9:25 opgeteken is, na die presiese jaar gewys wanneer die Messias sou verskyn—29 G.J. * Die vervulling van hierdie en ander profesieë bewys dat Jesus die beloofde Messias was.

Toe hy gedoop is, het Jesus die Messias, of Christus, geword

8, 9. Watter bewys dat Jesus die Messias is, het aan die lig gekom toe hy gedoop is?

8 Kort voor die einde van 29 G.J. het verdere bewys dat Jesus die Messias was, aan die lig gekom. Dit was die jaar toe Jesus na Johannes die Doper toe gegaan het om in die Jordaanrivier gedoop te word. Jehovah het vir Johannes ’n teken belowe sodat hy die Messias sou kon identifiseer. Johannes het daardie teken gesien toe Jesus gedoop is. Volgens die Bybel is dit wat gebeur het: “Nadat Jesus gedoop is, het hy onmiddellik uit die water opgekom; en kyk! die hemele is geopen, en hy het gesien hoe God se gees soos ’n duif neerdaal en op hom kom. Kyk! Ook was daar ’n stem uit die hemele wat gesê het: ‘Dit is my Seun, die geliefde, wat ek goedgekeur het’” (Matteus 3:16, 17). Ná wat Johannes hier gesien en gehoor het, het hy geen twyfel gehad dat Jesus deur God gestuur is nie (Johannes 1:32-34). Die oomblik toe God se gees, of werkende krag, daardie dag op Jesus uitgegiet is, het hy die Messias, of Christus, geword, die een wat aangestel is om Leier en Koning te wees.—Jesaja 55:4.

9 Die vervulling van Bybelprofesieë en Jehovah God se eie getuienis toon duidelik dat Jesus die beloofde Messias was. Maar die Bybel beantwoord twee ander belangrike vrae oor Jesus Christus: Waar het hy vandaan gekom, en watter soort persoon was hy?

WAAR HET JESUS VANDAAN GEKOM?

10. Wat leer die Bybel omtrent Jesus se bestaan voordat hy na die aarde toe gekom het?

10 Die Bybel leer dat Jesus in die hemel gelewe het voordat hy na die aarde toe gekom het. Miga het voorspel dat die Messias in Betlehem gebore sou word en het ook gesê dat Sy oorsprong “uit die vroeë tye” was (Miga 5:2). Jesus het by baie geleenthede self gesê dat hy in die hemel gelewe het voordat hy as ’n mens gebore is (Johannes 3:13; 6:38, 62; 17:4, 5). Terwyl hy ’n geesskepsel in die hemel was, het Jesus ’n spesiale verhouding met Jehovah gehad.

11. Hoe wys die Bybel dat Jesus Jehovah se mees geliefde Seun is?

11 Jesus is Jehovah se mees geliefde Seun—en met goeie rede. Hy word “die eersgeborene van die hele skepping” genoem, want hy was God se eerste skepping (Kolossense 1:15). * Daar is iets anders wat hierdie Seun spesiaal maak. Hy is die “enigverwekte Seun” (Johannes 3:16). Dit beteken dat Jesus die enigste een is wat direk deur God geskep is. Jesus is ook die enigste een wat God gebruik het toe Hy alle ander dinge geskep het (Kolossense 1:16). Dan word Jesus ook “die Woord” genoem (Johannes 1:14). Dit sê vir ons dat hy namens God gepraat het, ongetwyfeld deur boodskappe en instruksies oor te dra aan die Vader se ander seuns, geeste sowel as mense.

12. Hoe weet ons dat die eersgebore Seun nie gelyk is aan God nie?

12 Is die eersgebore Seun gelyk aan God, soos party glo? Dit is nie wat die Bybel leer nie. Soos ons in die vorige paragraaf gesê het, is die Seun geskep. Dit is dan duidelik dat hy ’n begin gehad het, terwyl Jehovah God geen begin of einde het nie (Psalm 90:2). Die enigverwekte Seun het dit nooit eers oorweeg om aan sy Vader gelyk te probeer wees nie. Die Bybel leer duidelik dat die Vader groter is as die Seun (Johannes 14:28; 1 Korintiërs 11:3). Jehovah alleen is “God die Almagtige” (Genesis 17:1). Gevolglik het hy geen gelyke nie. *

13. Wat bedoel die Bybel wanneer dit sê dat die Seun “die beeld van die onsigbare God” is?

13 Jehovah en sy eersgebore Seun het miljarde jare lank noue omgang geniet—lank voordat die sterrehemel en die aarde geskep is. Hoe lief moes hulle mekaar tog gehad het! (Johannes 3:35; 14:31). Hierdie geliefde Seun was net soos sy Vader. Dit is waarom die Bybel sê dat die Seun “die beeld van die onsigbare God” is (Kolossense 1:15). Ja, net soos ’n menseseun op verskeie maniere baie soos sy vader is, het hierdie hemelse Seun sy Vader se eienskappe en persoonlikheid weerspieël.

14. Hoe is Jehovah se enigverwekte Seun as ’n mens gebore?

14 Jehovah se enigverwekte Seun het die hemel gewillig verlaat en aarde toe gekom om as ’n mens te lewe. Maar jy wonder dalk: ‘Hoe was dit vir ’n geesskepsel moontlik om as ’n mens gebore te word?’ Om dit reg te kry, het Jehovah ’n wonderwerk gedoen. Hy het die lewe van sy eersgebore Seun uit die hemel na die baarmoeder van ’n Joodse maagd, Maria, oorgeplaas. Geen mensevader was daarby betrokke nie. Maria het dus aan ’n volmaakte seun geboorte gegee en hom Jesus genoem.—Lukas 1:30-35.

WATTER SOORT PERSOON WAS JESUS?

15. Waarom kan ons sê dat ons Jehovah deur middel van Jesus beter leer ken?

15 Wat Jesus gesê en gedoen het terwyl hy op die aarde was, help ons om hom goed te leer ken. Wat meer is, deur middel van Jesus leer ons Jehovah beter ken. Waarom is dit so? Onthou dat hierdie Seun ’n volmaakte weerspieëling van sy Vader is. Daarom het Jesus vir een van sy dissipels gesê: “Hy wat my gesien het, het ook die Vader gesien” (Johannes 14:9). Die vier Bybelboeke wat as die Evangelies bekend staan—Matteus, Markus, Lukas en Johannes—vertel ons baie oor die lewe, bedrywighede en eienskappe van Jesus Christus.

16. Wat was Jesus se boodskap hoofsaaklik, en waar het sy leringe vandaan gekom?

16 Jesus was bekend as ’n “Leermeester” (Johannes 1:38; 13:13). Wat het hy mense geleer? Sy boodskap was hoofsaaklik “die goeie nuus van die koninkryk”—dit wil sê God se Koninkryk, die hemelse regering wat oor die hele aarde sal regeer en eindelose seëninge vir gehoorsame mense sal bring (Matteus 4:23). Wie se boodskap was dit? Jesus self het gesê: “Wat ek leer, is nie myne nie, maar behoort aan hom wat my gestuur het”, naamlik Jehovah (Johannes 7:16). Jesus het geweet dat sy Vader wil hê dat mense die goeie nuus van die Koninkryk moet hoor. In Hoofstuk 8 sal ons meer leer van God se Koninkryk en van wat dit sal doen.

17. Waar het Jesus sy onderrigtingswerk gedoen, en waarom het hy baie moeite gedoen om ander te leer?

17 Waar het Jesus sy onderrigtingswerk gedoen? Oral waar hy mense gekry het—op die platteland sowel as in stede, in dorpies, op markpleine en in hulle huise. Jesus het nie verwag dat mense na hom toe moet kom nie. Hy het na hulle toe gegaan (Markus 6:56; Lukas 19:5, 6). Waarom het Jesus soveel moeite gedoen en soveel van sy tyd daaraan bestee om die predikings- en onderrigtingswerk te doen? Omdat dit God se wil was dat hy dit moes doen. Jesus het altyd sy Vader se wil gedoen (Johannes 8:28, 29). Maar daar was nog ’n rede waarom hy gepreek het. Hy het medelye gehad met die skares mense wat gekom het om hom te sien (Matteus 9:35, 36). Hulle godsdiensleiers, wat veronderstel was om hulle die waarheid omtrent God en sy voornemens te leer, het hulle verwaarloos. Jesus het geweet hoe nodig dit was dat die mense die Koninkryksboodskap moes hoor.

Jesus het gepreek oral waar hy mense gekry het

18. Watter eienskappe van Jesus is vir jou besonder aantreklik?

18 Jesus was ’n mens met tere geneentheid en diep gevoelens. Ander het hom dus genaakbaar en goedhartig gevind. Selfs kinders was op hulle gemak by hom (Markus 10:13-16). Jesus was onpartydig. Hy het korrupsie en ongeregtigheid gehaat (Matteus 21:12, 13). In ’n tyd toe vroue min respek gekry het en min voorregte geniet het, het hy hulle met waardigheid behandel (Johannes 4:9, 27). Jesus was werklik nederig. By een geleentheid het hy die voete van sy apostels gewas, iets wat gewoonlik deur ’n kneg gedoen is.

19. Watter voorbeeld toon dat Jesus op die behoeftes van ander gelet het?

19 Jesus het gelet op die behoeftes van ander. Dit was veral opvallend wanneer hy, met die krag van God se gees, mense wonderdadig genees het (Matteus 14:14). ’n Melaatse man het byvoorbeeld na Jesus toe gekom en gesê: “As u net wil, kan u my rein maak.” Dit was asof Jesus self hierdie man se pyn en lyding gevoel het. Hy is deur innige jammerte beweeg en het sy hand uitgesteek, die man aangeraak en gesê: “Ek wil. Word gereinig.” En die siek man is gesond gemaak! (Markus 1:40-42). Kan jy jou voorstel hoe daardie man moes gevoel het?

TOT DIE EINDE TOE GETROU

20, 21. Hoe het Jesus ’n voorbeeld van lojale gehoorsaamheid aan God gestel?

20 Jesus het die beste voorbeeld van lojale gehoorsaamheid aan God gestel. Hy het onder allerhande omstandighede en ten spyte van allerhande vorme van teenstand en lyding aan sy hemelse Vader getrou gebly. Jesus het Satan se versoekings kragtig en suksesvol weerstaan (Matteus 4:1-11). Daar was ’n tyd toe Jesus se eie familielede nie geloof in hom gestel het nie en selfs gesê het dat hy “van sy verstand af” was (Markus 3:21). Maar Jesus het nie toegelaat dat hulle hom beïnvloed nie; hy het eenvoudig aangehou om God se werk te doen. Jesus het sy selfbeheersing ondanks beledigings en mishandeling behou en nooit probeer om sy teenstanders kwaad aan te doen nie.—1 Petrus 2:21-23.

21 Jesus het getrou gebly tot die dood—’n wrede en pynlike dood deur die toedoen van sy vyande (Filippense 2:8). Dink net wat hy gedurende die laaste dag van sy lewe as ’n mens verduur het. Hy is in hegtenis geneem, deur valse getuies beskuldig, deur korrupte regters skuldig bevind, deur skares uitgelag en deur soldate gemartel. Hy is aan ’n paal genael, en met sy laaste asem het hy uitgeroep: “Dit is volbring!” (Johannes 19:30). Maar op die derde dag ná Jesus se dood het sy hemelse Vader hom tot geeslewe opgewek (1 Petrus 3:18). ’n Paar weke later het hy teruggegaan hemel toe. Daar het hy “aan die regterhand van God gaan sit” en gewag om koninklike mag te ontvang.—Hebreërs 10:12, 13.

22. Wat het Jesus bereik deur tot die dood getrou te bly?

22 Wat het Jesus bereik deur tot die dood getrou te bly? Jesus se dood gee ons in werklikheid die geleentheid om, in ooreenstemming met Jehovah se oorspronklike voorneme, vir ewig op ’n paradysaarde te lewe. Hoe Jesus se dood dit moontlik maak, sal in die volgende hoofstuk bespreek word.

^ par. 7 Vir ’n verduideliking van Daniël se profesie wat in verband met Jesus vervul is, sien die Aanhangsel, bladsye 197-9.

^ par. 11 Jehovah word ’n Vader genoem omdat hy die Skepper is (Jesaja 64:8). Aangesien Jesus deur God geskep is, word hy God se Seun genoem. Om soortgelyke redes word ander geesskepsele en selfs die mens Adam seuns van God genoem.—Job 1:6; Lukas 3:38.

^ par. 12 Vir verdere bewys dat die eersgebore Seun nie gelyk is aan God nie, sien die Aanhangsel, bladsye 201-4.