Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK SES

Waar is die dooies?

Waar is die dooies?
  • Wat gebeur met ons wanneer ons sterf?

  • Waarom sterf ons?

  • Sou dit vertroostend wees om te weet wat die waarheid omtrent die dood is?

1-3. Watter vrae vra mense oor die dood, en watter antwoorde gee verskeie godsdienste?

MENSE wonder al duisende jare lank oor hierdie vrae. Dit is belangrike vrae. Ongeag wie ons is of waar ons woon, die antwoorde raak elkeen van ons.

2 In die vorige hoofstuk het ons bespreek hoe die losprysoffer van Jesus Christus die weg tot ewige lewe gebaan het. Ons het ook geleer dat die Bybel ’n tyd voorspel wanneer ‘die dood nie meer daar sal wees nie’ (Openbaring 21:4). Intussen sterf ons almal. “Die lewendes is daarvan bewus dat hulle sal sterf”, het die wyse koning Salomo gesê (Prediker 9:5). Ons probeer om so lank as moontlik te lewe. Maar ons wonder wat met ons sal gebeur wanneer ons sterf.

3 Wanneer ons geliefdes sterf, treur ons. En ons vra dalk: ‘Wat het met hulle gebeur? Ly hulle? Waak hulle oor ons? Kan ons hulle help? Sal ons hulle ooit weer sien?’ Die wêreld se godsdienste gee verskillende antwoorde op hierdie vrae. Party leer dat jy hemel toe sal gaan as jy ’n goeie lewe gelei het, maar dat jy in ’n plek van foltering sal brand as jy ’n slegte lewe gelei het. Ander godsdienste leer dat mense by die dood na die geesteryk oorgaan om by hulle voorvaders te wees. Nog ander godsdienste leer dat die dooies na ’n onderwêreld gaan om geoordeel te word en dan gereïnkarneer word, of weer gebore word in ’n ander liggaam.

4. Watter basiese idee het baie godsdienste oor die dood?

4 Sulke godsdiensleringe het almal een basiese idee—dat die een of ander deel van ons ná die dood van die liggaam voortleef. Volgens amper elke godsdiens van die hede en die verlede lewe ons op die een of ander manier vir ewig voort met die vermoë om te sien, te hoor en te dink. Maar hoe kan dit wees? Ons sintuie, sowel as ons gedagtes, word alles met die werking van ons brein verbind. Wanneer ons sterf, hou ons brein op om te werk. Ons herinneringe, gevoelens en sintuie bestaan nie op die een of ander raaiselagtige manier onafhanklik voort nie. Dit oorleef nie die dood van ons brein nie.

WAT GEBEUR WERKLIK BY DIE DOOD?

5, 6. Wat leer die Bybel omtrent die toestand van die dooies?

5 Wat by die dood gebeur, is nie vir Jehovah, die Skepper van die brein, ’n raaisel nie. Hy weet wat die waarheid is, en in sy Woord, die Bybel, verduidelik hy wat die toestand van die dooies is. Die duidelike lering daarin is dít: Wanneer ’n mens sterf, hou hy op om te bestaan. Dood is die teenoorgestelde van lewe. Die dooies sien of hoor of dink nie. Geen deel van ons lewe voort ná die dood van die liggaam nie. Ons het nie ’n onsterflike siel of gees nie. *

Wat het van die vlam geword?

6 Nadat Salomo opgemerk het dat die lewendes weet dat hulle sal sterf, het hy geskryf: “Wat die dooies betref, hulle is bewus van hoegenaamd niks.” Toe het hy op daardie grondwaarheid uitgebrei deur te sê dat die dooies nie kan liefhê of haat nie en dat “daar . . . geen werk of beplanning of kennis of wysheid in [die graf]” is nie (Prediker 9:5, 6, 10). Psalm 146:4 sê ook dat ‘’n mens se gedagtes vergaan’ wanneer hy sterf. Ons is sterflik en lewe nie ná die dood van ons liggaam voort nie. Die lewe wat ons geniet, is soos die vlam van ’n kers. Wanneer die vlam geblus word, gaan dit nêrens heen nie. Dit is net weg.

WAT JESUS OOR DIE DOOD GESÊ HET

7. Waarmee het Jesus die dood vergelyk?

7 Jesus Christus het oor die toestand van die dooies gepraat. Hy het dit gedoen in die geval van Lasarus, ’n man wat hy goed geken het en wat gesterf het. Jesus het vir sy dissipels gesê: “Lasarus, ons vriend, het gaan rus.” Die dissipels het gedink dat Jesus bedoel het dat Lasarus gaan slaap het om van sy siekte te herstel. Hulle was verkeerd. Jesus het verduidelik: “Lasarus het gesterf” (Johannes 11:11-14). Let daarop dat Jesus die dood met rus en slaap vergelyk het. Lasarus was nie in die hemel of in ’n brandende hel nie. Hy het nie engele of sy voorvaders ontmoet nie. Lasarus is nie weer gebore as ’n ander mens nie. Hy het in die dood gerus, asof hy in ’n diep, droomlose slaap was. Ander tekste vergelyk ook die dood met slaap. Toe die dissipel Stefanus gestenig is, sê die Bybel byvoorbeeld dat hy “ontslaap” het (Handelinge 7:60). Die apostel Paulus het ook geskryf van party in sy dag wat “ontslaap” het.—1 Korintiërs 15:6.

Jehovah het mense gemaak om vir ewig op die aarde te lewe

8. Hoe weet ons dat dit nie God se voorneme was dat mense moet sterf nie?

8 Was dit God se oorspronklike voorneme dat mense moet sterf? Glad nie! Jehovah het die mens gemaak om vir ewig op die aarde te lewe. Soos ons vroeër in hierdie boek geleer het, het God die eerste mensepaar in ’n pragtige paradys gesit. Hy het hulle met volmaakte gesondheid geseën. Jehovah wou net goeie dinge vir hulle hê. Wil enige liefdevolle ouer hê dat sy kinders die pyn moet ly wat met die ouderdom en die dood gepaardgaan? Natuurlik nie! Jehovah het sy kinders liefgehad en wou hê dat hulle eindelose geluk op die aarde moes geniet. Van mense sê die Bybel: “Onbepaalde tyd het [Jehovah] in hulle hart gesit” (Prediker 3:11). God het ons geskep met die begeerte om vir ewig te lewe. En hy het dit moontlik gemaak dat hierdie begeerte vervul kan word.

WAAROM MENSE STERF

9. Watter beperking het Jehovah aan Adam opgelê, en waarom was dit nie moeilik om hierdie gebod te gehoorsaam nie?

9 Waarom sterf mense dan? Om die antwoord hierop te vind, moet ons dink aan wat gebeur het toe daar net een man en een vrou op die aarde was. Die Bybel verduidelik: “Jehovah God [het] allerhande bome, begeerlik om te sien en goed vir voedsel, uit die grond laat groei” (Genesis 2:9). Maar daar was een beperking. Jehovah het vir Adam gesê: “Van al die bome van die tuin mag jy tot versadiging toe eet. Maar wat die boom van die kennis van goed en kwaad betref, daarvan mag jy nie eet nie, want die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterf” (Genesis 2:16, 17). Dit was nie moeilik om hierdie gebod te gehoorsaam nie. Daar was baie ander bome waarvan Adam en Eva kon eet. Maar nou het hulle ’n spesiale geleentheid gekry om hulle dankbaarheid te betoon teenoor die Een wat hulle alles, volmaakte lewe inkluis, gegee het. Hulle gehoorsaamheid sou ook wys dat hulle die gesag van hulle hemelse Vader respekteer en dat hulle sy liefdevolle leiding wou hê.

10, 11. (a) Hoe het dit gebeur dat die eerste mensepaar aan God ongehoorsaam was? (b) Waarom was Adam en Eva se ongehoorsaamheid ’n ernstige saak?

10 Ongelukkig het die eerste mensepaar gekies om ongehoorsaam te wees aan Jehovah. Satan het deur ’n slang gepraat en vir Eva gevra: “Is dit werklik so dat God gesê het dat julle nie van al die bome van die tuin mag eet nie?” Eva het geantwoord: “Van die vrugte van die bome van die tuin mag ons eet. Maar van die vrugte van die boom wat in die middel van die tuin is, het God gesê: ‘Julle mag daarvan nie eet nie, nee, julle mag daaraan nie raak nie, sodat julle nie sterf nie.’”—Genesis 3:1-3.

11 “Julle sal sekerlik nie sterf nie”, het Satan gesê. “God weet dat die dag as julle daarvan eet, julle oë sekerlik geopen sal word en julle sekerlik soos God sal word deur goed en kwaad te ken” (Genesis 3:4, 5). Satan wou hê Eva moes glo dat dit tot haar voordeel sou wees as sy die verbode vrug eet. Volgens hom kon sy self besluit wat reg en wat verkeerd is; sy kon doen wat sy wil. Satan het ook gesê dat Jehovah gelieg het oor wat die gevolge sou wees as sy die vrug eet. Eva het Satan geglo. Daarom het sy van die vrugte gepluk en dit geëet. Daarna het sy vir haar man daarvan gegee, en hy het ook daarvan geëet. Hulle het nie uit onkunde opgetree nie. Hulle het geweet dat hulle doen wat God uitdruklik gesê het hulle nie moes doen nie. Deur van die vrugte te eet, was hulle opsetlik ongehoorsaam aan ’n eenvoudige en redelike gebod. Hulle het minagting getoon vir hulle hemelse Vader en sy gesag. Sulke oneerbiedigheid teenoor hulle liefdevolle Skepper was onverskoonbaar!

12. Wat kan ons help om te verstaan hoe Jehovah gevoel het toe Adam en Eva ’n weg van teenstand teen hom ingeslaan het?

12 Ter toeligting: Hoe sou jy voel as jy ’n seun of dogter grootgemaak en versorg het en dié dan aan jou ongehoorsaam is op ’n manier wat vir jou wys dat hy of sy geen respek of liefde vir jou het nie? Dit sou jou baie hartseer maak. Dink dan net hoe seergemaak Jehovah gevoel het toe Adam sowel as Eva ’n weg van teenstand teen hom ingeslaan het.

Adam het uit die stof gekom, en hy het tot die stof teruggekeer

13. Wat het Jehovah gesê sou met Adam gebeur wanneer hy sterf, en wat beteken dit?

13 Jehovah het geen rede gehad om die ongehoorsame Adam en Eva vir ewig aan die lewe te hou nie. Hulle het gesterf, net soos hy gesê het sou gebeur. Adam en Eva het opgehou bestaan. Hulle het nie na die geesteryk oorgegaan nie. Ons weet dit uit wat Jehovah vir Adam gesê het nadat Hy hom oor sy ongehoorsaamheid tot verantwoording geroep het. God het gesê: “Jy [sal] na die grond terugkeer, want daaruit is jy geneem. Want stof is jy en tot stof sal jy terugkeer” (Genesis 3:19). God het Adam uit die stof van die aarde gemaak (Genesis 2:7). Voor daardie tyd het Adam nie bestaan nie. Daarom het Jehovah, toe hy gesê het dat Adam tot die stof sou terugkeer, bedoel dat Adam nie meer sou bestaan nie. Adam sou net so leweloos wees soos die stof waaruit hy gemaak is.

14. Waarom sterf ons?

14 Adam en Eva kon vandag nog gelewe het, maar hulle het gesterf omdat hulle gekies het om aan God ongehoorsaam te wees en sodoende gesondig het. Die rede waarom ons sterf, is dat Adam se sondige toestand sowel as die dood aan al sy nakomelinge oorgedra is (Romeine 5:12). Daardie sonde is soos ’n vreeslike oorgeërfde siekte waaraan niemand kan ontkom nie. Die gevolg daarvan, die dood, is ’n vervloeking. Die dood is ’n vyand, nie ’n vriend nie (1 Korintiërs 15:26). Hoe dankbaar kan ons tog wees dat Jehovah die losprys voorsien het om ons van hierdie verskriklike vyand te verlos!

DIT IS GOED OM TE WEET WAT DIE WAARHEID OMTRENT DIE DOOD IS

15. Waarom is dit vertroostend om te weet wat die waarheid omtrent die dood is?

15 Wat die Bybel omtrent die toestand van die dooies leer, is vertroostend. Soos ons gesien het, ervaar die dooies nie pyn of hartseer nie. Daar is geen rede om vir hulle bang te wees nie, want hulle kan ons nie seermaak nie. Hulle het nie ons hulp nodig nie, en hulle kan ons nie help nie. Ons kan nie met hulle praat nie, en hulle kan nie met ons praat nie. Baie godsdiensleiers maak die valse bewering dat hulle diegene wat gesterf het, kan help, en mense wat hierdie leiers glo, gee vir hulle geld. Maar as ons die waarheid ken, beskerm dit ons sodat ons nie bedrieg word deur mense wat sulke leuens verkondig nie.

16. Wie het die leringe van baie godsdienste beïnvloed, en hoe?

16 Leer jou godsdiens dieselfde as die Bybel omtrent die dooies? Die meeste doen dit nie. Waarom nie? Omdat hulle leringe deur Satan beïnvloed is. Hy gebruik valse godsdiens om mense te laat glo dat hulle in die geesteryk sal aanhou lewe nadat hulle liggaam gesterf het. Dit is ’n leuen wat Satan saam met ander leuens gebruik om mense van Jehovah God af te keer. Hoe so?

17. Waarom doen die lering van ewige foltering Jehovah oneer aan?

17 Soos vroeër genoem is, leer party godsdienste dat iemand wat ’n slegte lewe gelei het, ná sy dood na ’n plek van vurige foltering sal gaan om vir ewig te ly. Hierdie lering doen God oneer aan. Jehovah is ’n God van liefde en sal mense nooit so laat ly nie (1 Johannes 4:8). Hoe sou jy oor ’n man voel wat ’n ongehoorsame kind straf deur sy hande in ’n vuur te hou? Sou jy so ’n man respekteer? Trouens, sou jy hom hoegenaamd wil leer ken? Beslis nie! Jy sou heel moontlik dink dat hy baie wreed is. Maar Satan wil hê dat ons moet glo dat Jehovah mense vir ewig—tallose miljarde jare lank—in ’n vuur pynig!

18. Op watter godsdiensleuen is aanbidding van die dooies gegrond?

18 Satan gebruik ook sommige godsdienste om te leer dat mense ná hulle dood geeste word aan wie die lewendes respek en eer moet bewys. Volgens hierdie lering kan die geeste van die dooies kragtige vriende of verskriklike vyande word. Baie mense glo hierdie leuen. Hulle is bang vir die dooies en vereer en aanbid hulle. In teenstelling hiermee leer die Bybel dat die dooies slaap en dat ons alleenlik die ware God, Jehovah, ons Skepper en Voorsiener, moet aanbid.—Openbaring 4:11.

19. Watter ander Bybellering kan ons beter verstaan as ons weet wat die waarheid omtrent die dood is?

19 As jy weet wat die waarheid omtrent die dooies is, beskerm dit jou sodat jy nie deur godsdiensleuens mislei word nie. Dit help jou ook om ander Bybelleringe te verstaan. Wanneer jy byvoorbeeld besef dat mense nie na die geesteryk oorgaan wanneer hulle sterf nie, kry die belofte van ewige lewe op ’n paradysaarde ware betekenis vir jou.

20. Watter vraag sal ons in die volgende hoofstuk bespreek?

20 Lank gelede het die regverdige man Job hierdie vraag gevra: “As ’n man sterf, kan hy weer lewe?” (Job 14:14). Kan ’n lewelose persoon wat in die dood slaap, weer lewend gemaak word? Wat die Bybel hieromtrent leer, is baie vertroostend, soos die volgende hoofstuk sal wys.

^ par. 5 Vir ’n bespreking van die terme “siel” en “gees”, sien asseblief die Aanhangsel, bladsye 208-11.