Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK AGT

Wat is God se Koninkryk?

Wat is God se Koninkryk?
  • Wat leer die Bybel ons omtrent die Koninkryk van God?

  • Wat sal God se Koninkryk doen?

  • Wanneer sal die Koninkryk God se wil op die aarde laat geskied?

1. Watter beroemde gebed gaan nou bespreek word?

MILJOENE mense regoor die wêreld ken die gebed wat baie die Onse Vader, of die Gebed van die Here, noem. Albei uitdrukkings verwys na ’n beroemde gebed wat Jesus Christus self as ’n model gegee het. Dit is ’n baie betekenisvolle gebed, en ’n bespreking van die eerste drie versoeke daarin sal jou help om meer uit te vind omtrent wat die Bybel werklik leer.

2. Wat is drie van die dinge waarvoor Jesus sy dissipels leer bid het?

2 Aan die begin van hierdie modelgebed het Jesus vir sy toehoorders gesê: “Julle moet dan só bid: ‘Ons Vader in die hemele, laat u naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde’” (Matteus 6:9-13). Wat beteken hierdie drie versoeke?

3. Wat moet ons van God se Koninkryk weet?

3 Ons het al baie oor God se naam, Jehovah, geleer. En ons het God se wil in sekere mate bespreek—wat hy vir die mensdom gedoen het en nog gaan doen. Maar waarna het Jesus verwys toe hy vir ons gesê het om te bid: “Laat u koninkryk kom”? Wat is God se Koninkryk? Hoe sal die koms daarvan God se naam heilig? En hoe hou die koms van die Koninkryk verband met die uitvoering van God se wil?

WAT GOD SE KONINKRYK IS

4. Wat is God se Koninkryk, en wie is die Koning daarvan?

4 God se Koninkryk is ’n regering wat deur Jehovah God opgerig is, met ’n Koning wat deur God gekies is. Wie is die Koning van God se Koninkryk? Jesus Christus. As Koning is Jesus groter as alle menseheersers, en hy word “die Koning van dié wat as konings heers en Here van dié wat as here heers”, genoem (1 Timoteus 6:15). Hy het die mag om in baie groter mate goed te doen as enige menseheerser, selfs die beste onder hulle.

5. Waarvandaan regeer God se Koninkryk, en waaroor?

5 Waarvandaan sal God se Koninkryk regeer? Wel, waar is Jesus? Jy sal onthou dat jy geleer het dat hy aan ’n folterpaal tereggestel en toe opgewek is. Kort daarna het hy na die hemel opgevaar (Handelinge 2:33). Dít is dus waar God se Koninkryk is—in die hemel. Daarom noem die Bybel dit ’n “hemelse koninkryk” (2 Timoteus 4:18). Al is God se Koninkryk in die hemel, sal dit oor die aarde regeer.—Openbaring 11:15.

6, 7. Wat maak Jesus ’n besondere Koning?

6 Wat maak Jesus ’n besondere Koning? Om maar een ding te noem, hy sal nooit sterf nie. Waar die Bybel Jesus met mensekonings vergelyk, noem dit hom die een “wat alleen onsterflikheid het, wat in ontoeganklike lig woon” (1 Timoteus 6:16). Dit beteken dat die goeie dinge wat Jesus tot stand bring, nooit tot niet sal gaan nie. En hy sal groot en goeie dinge doen.

7 Dink aan hierdie Bybelprofesie oor Jesus: “Op hom sal die gees van Jehovah rus, die gees van wysheid en van begrip, die gees van raad en van mag, die gees van kennis en van die vrees van Jehovah; en hy sal vreugde vind in die vrees van Jehovah. En hy sal nie oordeel net volgens wat sy oë sien nie, en ook nie teregwys net volgens wat sy ore hoor nie. En met regverdigheid sal hy die geringes oordeel, en met billikheid sal hy teregwysing gee ten behoewe van die sagmoediges van die aarde” (Jesaja 11:2-4). Hierdie woorde toon dat Jesus ’n regverdige en medelydende Koning oor mense op die aarde sal wees. Sou jy so ’n heerser wou hê?

8. Wie sal saam met Jesus regeer?

8 Hier is nog ’n waarheid oor God se Koninkryk: Jesus sal nie alleen regeer nie. Hy sal medeheersers hê. Die apostel Paulus het byvoorbeeld vir Timoteus gesê: “As ons volhard, sal ons ook saam as konings heers” (2 Timoteus 2:12). Ja, Paulus, Timoteus en ander getroues wat deur God gekies is, sal saam met Jesus in die hemelse Koninkryk regeer. Hoeveel sal daardie voorreg hê?

9. Hoeveel sal saam met Jesus regeer, en wanneer het God hulle begin kies?

9 Soos jy in Hoofstuk 7 van hierdie boek geleer het, is die apostel Johannes ’n visioen gegee waarin hy gesien het dat ‘die Lam [Jesus Christus] op die berg Sion [sy koninklike posisie in die hemel] staan, en saam met hom honderd-vier-en-veertigduisend met sy naam en die naam van sy Vader op hulle voorkoppe geskrywe’. Wie is hierdie 144 000? Johannes sê self vir ons: “Dit is hulle wat die Lam bly volg ongeag waar hy gaan. Hulle is uit die mensdom gekoop as eerstelinge vir God en vir die Lam” (Openbaring 14:1, 4). Ja, hulle is getroue volgelinge van Jesus Christus wat spesiaal gekies is om in die hemel saam met hom te regeer. Nadat hulle uit die dode tot hemelse lewe opgewek is, gaan hulle saam met Jesus “as konings oor die aarde heers” (Openbaring 5:10). Van die dae van die apostels af het God getroue Christene gekies om die getal 144 000 vol te maak.

10. Waarom is dit ’n liefdevolle reëling dat Jesus en die 144 000 oor die mensdom gaan regeer?

10 Dit is ’n baie liefdevolle reëling dat Jesus en die 144 000 oor die mensdom gaan regeer. Om maar een ding te noem, Jesus weet wat dit beteken om ’n mens te wees en te ly. Paulus het gesê dat Jesus “nie iemand [is] wat nie met ons swakhede kan simpatiseer nie, maar iemand wat in alle opsigte soos ons op die proef gestel is, maar sonder sonde” (Hebreërs 4:15; 5:8). Sy medeheersers het ook as mense gely en volhard. Wat meer is, hulle het teen onvolmaaktheid gestry en allerhande soorte siektes verduur. Hulle sal beslis die probleme verstaan waarmee mense te kampe het!

WAT SAL GOD SE KONINKRYK DOEN?

11. Waarom het Jesus gesê dat sy dissipels moet bid dat God se wil in die hemel gedoen moet word?

11 Toe Jesus gesê het dat sy dissipels moet bid vir God se Koninkryk om te kom, het hy ook gesê dat hulle moet bid dat God se wil gedoen moet word, “soos in die hemel, so ook op die aarde”. God is in die hemel, en die getroue engele daar het nog altyd sy wil gedoen. Maar in Hoofstuk 3 van hierdie boek het ons geleer dat ’n goddelose engel opgehou het om God se wil te doen en Adam en Eva sover gekry het om te sondig. In Hoofstuk 10 sal ons meer leer van wat die Bybel omtrent hierdie goddelose engel leer, wat ons as Satan die Duiwel ken. Satan en die geesskepsele wat gekies het om hom te volg—wat demone genoem word—is toegelaat om ’n ruk lank in die hemel te bly. Gevolglik het nie almal wat op daardie stadium in die hemel was, God se wil gedoen nie. Dit sou verander wanneer God se Koninkryk begin regeer. Die pas gekroonde Koning, Jesus Christus, sou teen Satan oorlog voer.—Openbaring 12:7-9.

12. Watter twee belangrike gebeurtenisse word in Openbaring 12:10 beskryf?

12 Die volgende profetiese woorde beskryf wat sou gebeur: “Ek het ’n harde stem in die hemel hoor sê: ‘Nou het die redding en die krag en die koninkryk van ons God en die gesag van sy Christus gekom, want die beskuldiger van ons broers [Satan], wat hulle dag en nag voor ons God beskuldig, is neergeslinger!’” (Openbaring 12:10). Het jy opgelet dat twee baie belangrike gebeurtenisse in hierdie Bybelvers beskryf word? Eerstens, God se Koninkryk onder Jesus Christus begin regeer. Tweedens, Satan word uit die hemel na die aarde neergewerp.

13. Wat was die resultaat van Satan se uitwerping uit die hemel?

13 Wat was die resultaat van hierdie twee gebeurtenisse? Ons lees aangaande wat in die hemel gebeur het: “Daarom, wees bly, o hemele en julle wat daarin woon!” (Openbaring 12:12). Ja, die getroue engele in die hemel is bly, want nadat Satan en sy demone uitgewerp is, is almal wat in die hemel is, getrou aan Jehovah God. Daar heers algehele, onversteurde vrede en harmonie daar. God se wil word in die hemel gedoen.

Toe Satan en sy demone uit die hemel gewerp is, het dit wee vir die aarde meegebring. Hierdie probleme sal binnekort tot ’n einde kom

14. Wat het gebeur omdat Satan na die aarde neergewerp is?

14 Maar wat van die aarde? Die Bybel sê: “Wee die aarde en die see, want die Duiwel het na julle toe neergedaal en het groot toorn, omdat hy weet dat hy ’n kort tydjie het” (Openbaring 12:12). Satan is woedend omdat hy uit die hemel gewerp is en net ’n kort tydjie oorhet. As gevolg van sy woede veroorsaak hy benoudheid, of “wee”, op die aarde. Ons sal in die volgende hoofstuk meer van hierdie “wee” leer. Maar met die oog hierop kan ons vra: Hoe kan die Koninkryk God se wil op die aarde laat geskied?

15. Wat is God se wil vir die aarde?

15 Wel, onthou wat God se wil vir die aarde is. Jy het in Hoofstuk 3 daarvan geleer. In Eden het God getoon dat dit sy wil is dat hierdie aarde ’n paradys moet wees wat gevul is met regverdige mense wat nooit sal sterf nie. Satan het Adam en Eva sover gekry om te sondig, en dit het wel ’n uitwerking gehad op die vervulling van God se wil vir die aarde, maar dit het dit nie verander nie. Jehovah se voorneme is nog steeds dat ‘die regverdiges die aarde besit en vir ewig daarop woon’ (Psalm 37:29). En God se Koninkryk sal dit bewerkstellig. Hoe?

16, 17. Wat leer Daniël 2:44 ons van God se Koninkryk?

16 Kyk na die profesie wat in Daniël 2:44 opgeteken staan. Daar lees ons: “In die dae van dié konings sal die God van die hemel ’n koninkryk oprig wat nooit vernietig sal word nie. En die koninkryk sal aan geen ander volk oorgedra word nie. Dit sal al hierdie koninkryke verbrysel en daar ’n einde aan maak, en self sal dit tot onbepaalde tye bly staan.” Wat leer dit ons van God se Koninkryk?

17 Eerstens leer dit ons dat God se Koninkryk “in die dae van dié konings” opgerig sou word, of terwyl ander koninkryke nog bestaan. Tweedens leer dit ons dat die Koninkryk vir ewig sal bestaan. Dit sal nie verower word en deur ’n ander regering vervang word nie. Derdens sien ons dat daar ’n oorlog tussen God se Koninkryk en die koninkryke van hierdie wêreld sal wees. God se Koninkryk sal seëvier. Uiteindelik sal dit die enigste regering oor die mensdom wees. Dan sal mense die beste heerskappy geniet wat hulle nog ooit geken het.

18. Wat is die naam van die finale oorlog tussen God se Koninkryk en die regerings van hierdie wêreld?

18 Die Bybel sê baie oor daardie finale oorlog tussen God se Koninkryk en die regerings van hierdie wêreld. Dit leer byvoorbeeld dat bose geeste leuens sal versprei om “die konings van die hele bewoonde aarde” te bedrieg wanneer die einde naby is. Waarom? “Om hulle [die konings] te versamel vir die oorlog van die groot dag van God die Almagtige.” Die konings van die aarde sal versamel word na “die plek wat in Hebreeus Har–Magedon genoem word” (Openbaring 16:14, 16). Uit hierdie twee verse kan ons sien dat die finale konflik tussen menseregerings en God se Koninkryk die slag van Har–Magedon, of Armageddon, genoem word.

19, 20. Wat keer dat God se wil nou op die aarde gedoen word?

19 Wat sal God se Koninkryk deur middel van Armageddon bereik? Dink weer oor wat God se wil vir die aarde is. Jehovah God se voorneme is dat die aarde vol regverdige, volmaakte mense moet wees wat hom in die Paradys dien. Wat keer dat dit nou gebeur? Eerstens, ons is sondig, ons word siek en sterf. Maar ons het in Hoofstuk 5 geleer dat Jesus vir ons gesterf het sodat ons vir ewig kan lewe. Jy onthou heel moontlik die woorde wat in die Evangelie van Johannes opgeteken staan: “God het die wêreld so liefgehad dat hy sy enigverwekte Seun gegee het, sodat elkeen wat geloof in hom beoefen, nie vernietig sal word nie maar die ewige lewe kan hê.”—Johannes 3:16.

20 Nog ’n probleem is dat baie mense goddelose dinge doen. Hulle lieg, bedrieg en lei onsedelike lewens. Hulle wil nie God se wil doen nie. Mense wat goddelose dinge doen, sal in God se oorlog van Armageddon vernietig word (Psalm 37:10). Nog ’n rede waarom God se wil nie op die aarde gedoen word nie, is omdat regerings mense nie aanmoedig om dit te doen nie. Baie regerings is swak, wreed of korrup. Die Bybel sê tereg: “Die mens [het] oor die mens geheers . . . tot sy nadeel.”—Prediker 8:9.

21. Hoe sal die Koninkryk God se wil op die aarde laat geskied?

21 Ná Armageddon sal daar net een regering oor die mensdom wees, God se Koninkryk. Daardie Koninkryk sal God se wil doen en wonderlike seëninge meebring. Dit sal byvoorbeeld Satan en sy demone verwyder (Openbaring 20:1-3). Die krag van Jesus se offerande sal aangewend word sodat getroue mense nie meer sal siek word en sterf nie. In plaas daarvan sal hulle onder die Koninkryksheerskappy vir ewig kan lewe (Openbaring 22:1-3). Die aarde sal in ’n paradys omskep word. So sal die Koninkryk God se wil op die aarde laat geskied en God se naam heilig. Wat beteken dit? Dit beteken dat almal wat onder God se Koninkryk lewe, uiteindelik Jehovah se naam sal eer.

WANNEER TREE GOD SE KONINKRYK OP?

22. Waarom weet ons dat God se Koninkryk nie gekom het toe Jesus op die aarde was of onmiddellik nadat hy opgewek is nie?

22 Dit was duidelik dat die Koninkryk nog nie gekom het toe Jesus gesê het dat sy volgelinge moet bid: “Laat u koninkryk kom” nie. Het dit gekom toe Jesus opgevaar het hemel toe? Nee, want Petrus sowel as Paulus het gesê dat die profesie in Psalm 110:1 eers in Jesus vervul is nadat hy opgewek is: “Jehovah het vir my Here gesê: ‘Sit aan my regterhand totdat ek jou vyande ’n voetbank vir jou voete maak’” (Handelinge 2:32-34; Hebreërs 10:12, 13). Daar was dus ’n wagtyd.

Onder die Koninkryksheerskappy sal God se wil op die aarde gedoen word soos in die hemel

23. (a) Wanneer het God se Koninkryk begin regeer? (b) Wat sal in die volgende hoofstuk bespreek word?

23 Hoe lank was dit? Gedurende die 19de eeu het opregte Bybelstudente bereken dat die wagtyd in 1914 sou eindig. (Vir meer inligting oor hierdie datum, sien die Aanhangsel, bladsye 215-18.) Wêreldgebeure wat in 1914 begin het, bevestig dat hierdie opregte Bybelstudente se berekeninge korrek was. Die vervulling van Bybelprofesieë toon dat Christus in 1914 Koning geword het en dat God se hemelse Koninkryk toe begin regeer het. Gevolglik lewe ons in die “kort tydjie” wat Satan oorhet (Openbaring 12:12; Psalm 110:2). Ons kan ook met sekerheid sê dat God se Koninkryk binnekort gaan optree sodat God se wil op die aarde gedoen sal word. Dink jy nie dit is wonderlike nuus nie? Glo jy dat dit waar is? Die volgende hoofstuk sal jou help om te sien dat die Bybel werklik hierdie dinge leer.