Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK NEGE

Lewe ons in “die laaste dae”?

Lewe ons in “die laaste dae”?
  • Watter gebeure in ons tyd is in die Bybel voorspel?

  • Hoe sê God se Woord sal mense gedurende “die laaste dae” wees?

  • Watter goeie dinge voorspel die Bybel met betrekking tot “die laaste dae”?

1. Waar kan ons van die toekoms leer?

HET jy al ooit na die televisienuus gekyk en gewonder: ‘Wat word van hierdie wêreld?’ Tragiese dinge gebeur so skielik en onverwags dat geen mens kan voorspel wat die dag van môre inhou nie (Jakobus 4:14). Maar Jehovah weet wat die toekoms inhou (Jesaja 46:10). Lank gelede het sy Woord, die Bybel, nie net die slegte dinge voorspel wat in ons dag plaasvind nie, maar ook die wonderlike dinge wat in die nabye toekoms sal gebeur.

2, 3. Watter vraag het die dissipels Jesus gevra, en hoe het hy geantwoord?

2 Jesus Christus het oor die Koninkryk van God gepraat, wat ’n einde sal maak aan goddeloosheid en die aarde in ’n paradys sal omskep (Lukas 4:43). Mense wou weet wanneer die Koninkryk gaan kom. Trouens, Jesus se dissipels het hom gevra: “Wat sal die teken van u teenwoordigheid en van die voleinding van die stelsel van dinge wees?” (Matteus 24:3). In antwoord daarop het Jesus vir hulle gesê dat net Jehovah God presies weet wanneer die einde van hierdie stelsel van dinge gaan kom (Matteus 24:36). Maar Jesus het dinge voorspel wat op die aarde sou gebeur net voordat die Koninkryk ware vrede en veiligheid vir die mensdom bring. Wat hy voorspel het, gebeur nou!

3 Voordat ons die getuienis ondersoek dat ons in “die voleinding van die stelsel van dinge” lewe, kom ons bespreek eers kortliks ’n oorlog wat geen mens kon sien nie. Dit het in die onsigbare geesteryk plaasgevind, en die uitslag daarvan raak ons.

’N OORLOG IN DIE HEMEL

4, 5. (a) Wat het in die hemel gebeur kort nadat Jesus as Koning op die troon geplaas is? (b) Wat sou volgens Openbaring 12:12 die gevolg van die oorlog in die hemel wees?

4 Die vorige hoofstuk in hierdie boek het verduidelik dat Jesus Christus in 1914 in die hemel Koning geword het (Daniël 7:13, 14). Kort nadat hy Koninkryksmag ontvang het, het Jesus opgetree. “Oorlog het in die hemel uitgebreek”, sê die Bybel. “Migael [’n ander naam vir Jesus] en sy engele het teen die draak [Satan die Duiwel] geveg, en die draak en sy engele het geveg.” * Satan en sy bose engele, die demone, het daardie oorlog verloor en is uit die hemel na die aarde toe gewerp. God se getroue geesseuns was bly dat Satan en sy demone nie meer daar by hulle was nie. Maar mense sou nie in hierdie vreugde deel nie. Die Bybel het eerder voorspel: “Wee die aarde . . . , want die Duiwel het na julle toe neergedaal en het groot toorn, omdat hy weet dat hy ’n kort tydjie het.”—Openbaring 12:7, 9, 12.

5 Let asseblief op wat die gevolg van die oorlog in die hemel sou wees. In sy woede sou Satan weë, of probleme, bring oor dié wat op die aarde woon. Soos jy sal sien, lewe ons nou in daardie tyd van weë. Maar dit sal betreklik kort wees—net “’n kort tydjie”. Selfs Satan besef dit. Die Bybel noem hierdie tyd “die laaste dae” (2 Timoteus 3:1). Hoe bly kan ons tog wees dat God binnekort ’n einde sal maak aan die Duiwel se invloed oor die aarde! Kom ons kyk na ’n paar van die dinge wat in die Bybel voorspel is en wat nou gebeur. Dit bewys dat ons in die laaste dae lewe en dat God se Koninkryk binnekort ewige seëninge sal meebring vir diegene wat Jehovah liefhet. Kom ons ondersoek eers vier aspekte van die teken wat volgens Jesus die tyd waarin ons lewe, sou kenmerk.

BELANGRIKE VERWIKKELINGE IN DIE LAASTE DAE

6, 7. Hoe word Jesus se woorde oor oorloë en voedseltekorte vandag vervul?

6 “Nasie sal teen nasie opstaan en koninkryk teen koninkryk” (Matteus 24:7). Miljoene mense het gedurende die afgelope eeu hulle lewe in oorloë verloor. Een Britse geskiedkundige het geskryf: “Die 20ste eeu was die moorddadigste in die opgetekende geskiedenis. . . . Dit was ’n eeu van byna ononderbroke oorlog, en die tye wanneer daar nêrens enige georganiseerde gewapende konflik was nie, was maar min en kort.” ’n Verslag van die Worldwatch-instituut sê: “Drie keer soveel mense was gedurende [die 20ste] eeu slagoffers van oorlog as in al die oorloë vanaf die eerste eeu n.C. tot 1899.” Meer as 100 miljoen mense het vanaf 1914 as gevolg van oorloë gesterf. Selfs al het ons die droefheid ervaar wat veroorsaak word wanneer ’n mens een geliefde in oorlog verloor, kan ons ons skaars voorstel hoe erg daardie hartseer en pyn moet wees as dit miljoene kere vermenigvuldig word.

7 “Daar sal voedseltekorte . . . wees” (Matteus 24:7). Navorsers sê dat voedselproduksie gedurende die afgelope 30 jaar grootliks toegeneem het. Voedseltekorte duur nogtans voort omdat baie mense nie genoeg geld het om kos te koop of grond waarop hulle voedselgewasse kan kweek nie. In ontwikkelende lande lewe baie meer as ’n miljard mense van ’n inkomste van ’n dollar per dag of minder. Die meeste van hulle ly chronies honger. Die Wêreldgesondheidsorganisasie skat dat ondervoeding ’n vername rol speel in die dood van meer as vyfmiljoen kinders elke jaar.

8, 9. Wat toon dat Jesus se profesieë oor aardbewings en pessiektes waar geword het?

8 “Daar sal groot aardbewings wees” (Lukas 21:11). Volgens die Amerikaanse Departement van Geologiese Opnames was daar vanaf 1990 gemiddeld 17 aardbewings per jaar wat sterk genoeg was om geboue te beskadig en die grond te laat skeur. En daar was gemiddeld elke jaar een aardbewing wat sterk genoeg was om geboue heeltemal te vernietig. ’n Ander bron sê: “Aardbewings het gedurende die afgelope 100 jaar honderdduisende lewens geëis, en verbeteringe in tegnologie het die dodetal net effens laat daal.”

9 ‘Daar sal pessiektes wees’ (Lukas 21:11). Ondanks mediese vooruitgang word die mensdom deur ou en nuwe siektes geteister. Een verslag sê dat 20 bekende siektes—onder meer tuberkulose, malaria en cholera—in onlangse dekades algemener geword het en dat dit al hoe moeiliker is om party soorte siektes met behulp van medisyne te genees. Trouens, minstens 30 nuwe siektes het verskyn. Party daarvan kan tans nie genees word nie en is dodelik.

MENSE IN DIE LAASTE DAE

10. Watter soort mense sien jy vandag in die wêreld, soos in 2 Timoteus 3:1-5 voorspel is?

10 Die Bybel het nie net sekere verwikkelinge in die wêreld geïdentifiseer nie, maar het ook voorspel dat die laaste dae deur ’n verandering in die mensegemeenskap gekenmerk sou word. Die apostel Paulus het beskryf hoe mense oor die algemeen sou wees. In 2 Timoteus 3:1-5 lees ons: “In die laaste dae [sal daar] kritieke tye . . . wees wat moeilik is om deur te kom.” Paulus het mense soos volg beskryf:

  • liefhebbers van hulleself

  • liefhebbers van geld

  • ongehoorsaam aan ouers

  • dislojaal

  • sonder natuurlike geneentheid

  • sonder selfbeheersing

  • wreedaardig

  • liefhebbers van genot eerder as liefhebbers van God

  • persone wat ’n vorm van godvrugtige toegewydheid het maar die krag daarvan verloën

11. Hoe beskryf Psalm 92:7 wat met die goddeloses sal gebeur?

11 Het mense in jou gemeenskap so geword? Ongetwyfeld. Daar is oral mense wat slegte eienskappe het. Dit toon dat God binnekort gaan optree, want die Bybel sê: “Wanneer die goddeloses uitspruit soos die plante en almal wat skadelike dinge beoefen, bloei, is dit sodat hulle vir ewig verdelg kan word.”—Psalm 92:7.

POSITIEWE VERWIKKELINGE!

12, 13. Hoe het “ware kennis” in hierdie “tyd van die einde” oorvloedig geword?

12 Die laaste dae is inderdaad vol probleme, net soos die Bybel voorspel het. Maar in hierdie wêreld vol probleme is daar positiewe verwikkelinge onder die aanbidders van Jehovah.

13 “Die ware kennis sal oorvloedig word”, het die Bybelboek Daniël voorspel. Wanneer sou dit gebeur? Gedurende “die tyd van die einde” (Daniël 12:4). Veral van 1914 af het Jehovah diegene wat hom werklik wou dien, gehelp om die Bybel beter te verstaan. Hulle het groter waardering gekry vir kosbare waarhede in verband met God se naam en voorneme, die losprysoffer van Jesus Christus, die toestand van die dooies en die opstanding. Aanbidders van Jehovah het ook geleer hoe om hulle lewe te lei op ’n manier wat hulle tot voordeel strek en lof bring aan God. Hulle het ook ’n duideliker begrip verkry van die rol van God se Koninkryk en hoe dit sake op die aarde sal regstel. Wat doen hulle met hierdie kennis? Daardie vraag bring ons by nog ’n profesie wat in hierdie laaste dae vervul word.

“Hierdie goeie nuus van die koninkryk sal in die hele bewoonde aarde verkondig word.”—Matteus 24:14

14. Hoe uitgebreid is die verkondiging van die goeie nuus van die Koninkryk vandag, en wie verkondig dit?

14 “Hierdie goeie nuus van die koninkryk sal in die hele bewoonde aarde verkondig word”, het Jesus Christus gesê in sy profesie oor “die voleinding van die stelsel van dinge” (Matteus 24:3, 14). Die goeie nuus van die Koninkryk—wat die Koninkryk is, wat dit sal doen en hoe ons die seëninge daarvan kan ontvang—word regoor die aarde in meer as 230 lande en in meer as 400 tale verkondig. Miljoene van Jehovah se Getuies verkondig die goeie nuus van die Koninkryk ywerig. Hulle kom uit “alle nasies en stamme en volke en tale” (Openbaring 7:9). Die Getuies hou gratis tuisbybelstudies met miljoene mense wat wil weet wat die Bybel werklik leer. Wat ’n indrukwekkende vervulling van profesie is dit tog, veral aangesien Jesus voorspel het dat ware Christene “vir alle mense voorwerpe van haat” sal wees!—Lukas 21:17.

WAT GAAN JY DOEN?

15. (a) Glo jy dat ons in die laaste dae lewe, en waarom? (b) Wat sal “die einde” beteken vir diegene wat Jehovah teëstaan en vir diegene wat hulle aan die heerskappy van God se Koninkryk onderwerp?

15 Aangesien soveel Bybelprofesieë vandag vervul word, sou jy nie saamstem dat ons in die laaste dae lewe nie? Wanneer Jehovah tevrede is met die mate waarin die goeie nuus verkondig is, sal “die einde” beslis kom (Matteus 24:14). “Die einde” beteken die tyd wanneer God alle goddeloosheid van die aarde af sal verwyder. Jehovah sal Jesus en sy kragtige engele gebruik om almal wat Hom doelbewus teëstaan, te vernietig (2 Tessalonisense 1:6-9). Satan en sy demone sal die nasies nie meer mislei nie. Daarna sal God se Koninkryk seëninge oor almal uitstort wat hulle aan die regverdige heerskappy daarvan onderwerp.—Openbaring 20:1-3; 21:3-5.

16. Wat sal dit vir jou verstandig wees om te doen?

16 Aangesien die einde van Satan se stelsel naby is, moet ons ons afvra: ‘Wat moet ek nou doen?’ Dit is verstandig om voortdurend meer van Jehovah en sy vereistes vir ons te leer (Johannes 17:3). Wees ’n ernstige Bybelstudent. Maak ’n gewoonte daarvan om gereeld met ander te assosieer wat Jehovah se wil probeer doen (Hebreërs 10:24, 25). Neem die oorvloedige kennis in wat Jehovah God vir mense in alle wêrelddele beskikbaar gestel het en maak die nodige veranderinge in jou lewe sodat jy God se guns kan geniet.—Jakobus 4:8.

17. Waarom sal die vernietiging van die goddeloses die meeste mense onkant vang?

17 Jesus het voorspel dat die meeste mense die bewyse dat ons in die laaste dae lewe, sal ignoreer. Die goddeloses sal skielik en onverwags vernietig word. Soos ’n dief in die nag, sal dit die meeste mense onkant vang (1 Tessalonisense 5:2). Jesus het gewaarsku: “Net soos die dae van Noag was, so sal die teenwoordigheid van die Seun van die mens wees. Want soos hulle in daardie dae voor die vloed was—hulle het geëet en gedrink, manne het getrou en vroue is in die huwelik gegee, tot die dag dat Noag in die ark ingegaan het; en hulle het geen ag daarop geslaan totdat die vloed gekom en hulle almal weggesleur het nie—so sal die teenwoordigheid van die Seun van die mens wees.”—Matteus 24:37-39.

18. Op watter waarskuwing van Jesus moet ons ag slaan?

18 Daarom het Jesus vir sy toehoorders gesê: “Let op julleself dat julle harte nooit beswaar word met oormatige etery en strawwe drinkery en sorge van die lewe, en dié dag skielik, in ’n oomblik, oor julle kom soos ’n strik nie. Want dit sal oor almal kom wat op die oppervlak van die hele aarde woon. Bly dus wakker en doen te alle tye smeekbedes dat julle daarin sal slaag om te ontkom aan al hierdie dinge wat bestem is om te gebeur en om [in ’n goedgekeurde posisie] voor die Seun van die mens te staan” (Lukas 21:34-36). Dit is verstandig om op Jesus se woorde ag te slaan. Waarom? Omdat diegene wat die goedkeuring geniet van Jehovah God en “die Seun van die mens”, Jesus Christus, die vooruitsig het om die einde van Satan se stelsel van dinge te oorleef en om vir ewig in die wonderlike nuwe wêreld te lewe wat nou so naby is!—Johannes 3:16; 2 Petrus 3:13.

^ par. 4 Vir inligting wat toon dat Migael ’n ander naam vir Jesus Christus is, sien die Aanhangsel, bladsye 218-9.