Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK TIEN

Geesskepsele—Hoe hulle ons lewe raak

Geesskepsele—Hoe hulle ons lewe raak
  • Help engele mense?

  • Hoe het bose geeste mense beïnvloed?

  • Moet ons bang wees vir bose geeste?

1. Waarom moet ons omtrent die engele wil leer?

AS JY iemand wil leer ken, beteken dit gewoonlik dat jy iets van sy familie te wete moet kom. As ons Jehovah God wil leer ken, beteken dit dan ook dat ons meer omtrent sy gesin van engele moet leer. Die Bybel noem die engele “seuns van God” (Job 38:7). Wat is hulle plek in God se voorneme? Het hulle ’n rol in die mensegeskiedenis gespeel? Beïnvloed die engele jou lewe? Indien wel, hoe?

2. Waar het engele vandaan gekom, en hoeveel van hulle is daar?

2 Die Bybel verwys honderde kere na engele. Kom ons kyk na ’n paar van hierdie plekke om meer omtrent engele te leer. Waar het engele vandaan gekom? Kolossense 1:16 sê: “Deur middel van hom [Jesus Christus] is alle ander dinge in die hemele en op die aarde geskep.” Al die geesskepsele wat engele genoem word, is dus afsonderlik deur Jehovah God en deur middel van sy eersgebore Seun geskep. Hoeveel engele is daar? Die Bybel gee te kenne dat honderdmiljoene engele geskep is, en hulle is almal kragtig.—Psalm 103:20. *

3. Wat leer Job 38:4-7 ons omtrent engele?

3 God se Woord, die Bybel, vertel vir ons dat “al die seuns van God begin juig het” toe die aarde geskep is (Job 38:4-7). Engele het dus bestaan lank voor mense geskep is, selfs voor die aarde geskep is. Hierdie Bybelgedeelte wys ook dat engele gevoelens het, want dit sê dat hulle “saam van vreugde uitgeroep het”. Let daarop dat “al die seuns van God” saam bly was. Destyds was al die engele deel van ’n verenigde familie wat Jehovah God gedien het.

ONDERSTEUNING EN BESKERMING DEUR DIE ENGELE

4. Hoe toon die Bybel dat getroue engele in die bedrywighede van mense belangstel?

4 Vandat getroue geesskepsele gesien het hoe die eerste mense geskep is, het hulle lewendige belangstelling getoon in die groeiende mensegesin en in die vervulling van God se voorneme (Spreuke 8:30, 31; 1 Petrus 1:11, 12). Maar met verloop van tyd het die engele opgelet dat die grootste deel van die mensegesin daarvan afgewyk het om hulle liefdevolle Skepper te dien. Dit het die getroue engele sonder twyfel ongelukkig gemaak. Aan die ander kant, wanneer selfs een mens na Jehovah terugkeer, “ontstaan daar vreugde onder die engele” (Lukas 15:10). Aangesien engele so besorg is oor die welsyn van diegene wat God dien, is dit geen wonder nie dat Jehovah herhaaldelik engele gebruik het om sy getroue knegte op die aarde te versterk en te beskerm (Hebreërs 1:7, 14). Kom ons kyk na ’n paar voorbeelde.

“My God het sy engel gestuur en die bek van die leeus gesluit.”—Daniël 6:22

5. Watter voorbeelde van ondersteuning deur engele vind ons in die Bybel?

5 Twee engele het die regverdige man Lot en sy dogters gehelp om die vernietiging van die goddelose stede Sodom en Gomorra te oorleef deur hulle uit daardie gebied uit te lei (Genesis 19:15, 16). Eeue later is die profeet Daniël in ’n leeukuil gegooi, maar hy het niks oorgekom nie en het gesê: “My God het sy engel gestuur en die bek van die leeus gesluit” (Daniël 6:22). In die eerste eeu G.J. het ’n engel die apostel Petrus uit die tronk vrygelaat (Handelinge 12:6-11). Engele het ook vir Jesus aan die begin van sy aardse bediening ondersteun (Markus 1:13). En kort voor Jesus se dood het ’n engel aan hom verskyn en “hom versterk” (Lukas 22:43). Wat ’n vertroosting moes dit tog vir Jesus gewees het op daardie belangrike tye in sy lewe!

6. (a) Hoe beskerm engele God se knegte vandag? (b) Watter vrae gaan ons nou bespreek?

6 Vandag verskyn engele nie meer aan God se knegte op die aarde nie. Hoewel God se magtige engele onsigbaar is vir menseoë, beskerm hulle sy knegte nog steeds, veral teen enigiets wat geestelik skadelik is. Die Bybel sê: “Die engel van Jehovah slaan kamp op rondom dié wat hom vrees, en hy red hulle” (Psalm 34:7). Waarom behoort hierdie woorde vir ons baie vertroostend te wees? Omdat daar gevaarlike bose geesskepsele is wat ons wil vernietig! Wie is hulle? Waar kom hulle vandaan? Hoe probeer hulle ons skade aandoen? Om dit uit te vind, kom ons kyk kortliks na iets wat aan die begin van die mensegeskiedenis gebeur het.

GEESSKEPSELE WAT ONS VYANDE IS

7. In watter mate het Satan daarin geslaag om mense van God af te keer?

7 Soos ons in Hoofstuk 3 van hierdie boek geleer het, het een van die engele ’n begeerte ontwikkel om oor ander te regeer en gevolglik teen God gedraai. Later het hierdie engel as Satan die Duiwel bekend geword (Openbaring 12:9). Gedurende die 16 eeue nadat Satan vir Eva bedrieg het, het hy daarin geslaag om byna alle mense behalwe ’n paar getroues, soos Abel, Henog en Noag, van God af te keer.—Hebreërs 11:4, 5, 7.

8. (a) Hoe het party engele demone geword? (b) Wat moes die demone doen om die Vloed van Noag se dag te oorleef?

8 In Noag se dag het ander engele teen Jehovah in opstand gekom. Hulle het hulle plek in God se hemelse gesin verlaat, na die aarde toe gekom en vleeslike liggame aangeneem. Waarom? Ons lees in Genesis 6:2: “Die seuns van die ware God [het] die dogters van die mense begin opmerk, dat hulle mooi is; en hulle het vir hulle vrouens geneem, naamlik almal wat hulle verkies het.” Maar Jehovah God het nie toegelaat dat die dade van hierdie engele en die verderwing van die mensdom wat daardeur veroorsaak is, voortduur nie. Hy het ’n wêreldwye vloed oor die aarde gebring wat al die goddelose mense uitgewis het en het net sy getroue knegte behoue laat bly (Genesis 7:17, 23). Die opstandige engele, of demone, is dus gedwing om hulle vleeslike liggame agter te laat en as geesskepsele na die hemel terug te keer. Hulle het hulle aan die kant van die Duiwel geskaar, wat gevolglik “die heerser van die demone” geword het.—Matteus 9:34.

9. (a) Wat het met die demone gebeur toe hulle na die hemel teruggekeer het? (b) Wat gaan ons in verband met die demone bespreek?

9 Toe die ongehoorsame engele na die hemel teruggekeer het, is hulle, net soos hulle heerser, Satan, as uitgeworpenes behandel (2 Petrus 2:4). Al kan hulle nou nie meer menseliggame aanneem nie, het hulle nog steeds ’n baie slegte invloed op mense. Trouens, met die hulp van hierdie demone ‘mislei Satan die hele bewoonde aarde’ (Openbaring 12:9; 1 Johannes 5:19). Hoe? Die demone gebruik hoofsaaklik metodes wat bedoel is om mense te mislei (2 Korintiërs 2:11). Kom ons kyk na ’n paar van hierdie metodes.

HOE DEMONE MISLEI

10. Wat is spiritisme?

10 Die demone gebruik spiritisme om mense te mislei. Spiritisme is betrokkenheid by die demone, regstreeks of deur ’n mensemedium. Die Bybel veroordeel spiritisme en waarsku ons om weg te bly van enigiets wat daarmee verband hou (Galasiërs 5:19-21). Spiritisme doen vir die demone wat aas vir vissermanne doen. ’n Visserman gebruik verskillende soorte aas om verskillende soorte vis te vang. Net so gebruik bose geeste verskillende vorme van spiritisme om allerhande soorte mense onder hulle invloed te bring.

11. Wat is waarsêery, en waarom moet ons dit vermy?

11 Een soort aas wat die demone gebruik, is waarsêery. Wat is waarsêery? Dit is ’n poging om inligting oor die toekoms of oor iets onbekends te kry. Party vorme van waarsêery is astrologie, die gebruik van tarotkaarte, kristalkykery, handlesery en om in drome na geheimsinnige voortekens te soek. Al dink baie mense dat waarsêery onskadelik is, toon die Bybel dat waarsêers en bose geeste saam werk. Handelinge 16:16-18 praat byvoorbeeld van “’n waarsêende demoon” wat ’n meisie in staat gestel het om “die voorspelkuns te beoefen”. Maar sy het hierdie vermoë verloor toe die demoon uit haar uitgedryf is.

Die demone maak van verskillende dinge gebruik om mense te bedrieg

12. Waarom is dit gevaarlik om met die dooies te probeer kommunikeer?

12 Nog ’n manier waarop die demone mense mislei, is deur hulle aan te moedig om die dooies te raadpleeg. Mense wat rou oor die dood van ’n geliefde, word dikwels bedrieg deur verkeerde idees oor dié wat gesterf het. ’n Geesmedium kan spesiale inligting gee of met ’n stem praat wat klink of dit behoort aan iemand wat gesterf het. As gevolg daarvan begin baie mense glo dat die dooies in werklikheid lewe en dat dit die lewendes sal help om hulle droefheid te verduur as hulle met hulle in verbinding tree. Maar enige “troos” uit hierdie bron is in werklikheid vals sowel as gevaarlik. Waarom? Omdat die demone die stem van ’n dooie persoon kan naboots en ’n geesmedium inligting kan gee oor die persoon wat gesterf het (1 Samuel 28:3-19). Boonop het die dooies, soos ons in Hoofstuk 6 geleer het, opgehou om te bestaan (Psalm 115:17). Daarom kan ons sê dat enigiemand wat “die dooies raadpleeg”, deur bose geeste mislei is en dat hy in stryd met die wil van God optree (Deuteronomium 18:10, 11; Jesaja 8:19). Sorg dus dat jy hierdie gevaarlike aas wat deur die demone gebruik word, verwerp.

13. Wat kon baie wat die demone vroeër gevrees het, doen?

13 Bose geeste mislei mense nie net nie; hulle maak hulle ook bang. Vandag weet Satan en sy demone dat hulle net “’n kort tydjie” oorhet voordat hulle buite aksie gestel gaan word, en hulle is nou boosaardiger as ooit (Openbaring 12:12, 17). Maar duisende mense wat vroeër elke dag in vrees vir sulke bose geeste gelewe het, kon hulle van daardie vrees bevry. Hoe het hulle dit gedoen? Wat kan ’n persoon doen al is hy reeds by spiritisme betrokke?

HOE OM BOSE GEESTE TE WEERSTAAN

14. Hoe kan ons ons van bose geeste bevry, soos die eerste-eeuse Christene in Efese gedoen het?

14 Die Bybel sê vir ons hoe ons bose geeste kan weerstaan sowel as hoe ons ons van hulle kan bevry. Dink aan die voorbeeld van die eerste-eeuse Christene in die stad Efese. Party van hulle het spiritisme beoefen voordat hulle Christene geword het. Wat het hulle gedoen toe hulle besluit het om hulle van spiritisme te bevry? Die Bybel sê: “Heelparty van dié wat toorkunste beoefen het, het hulle boeke bymekaargebring en voor almal verbrand” (Handelinge 19:19). Deur hulle boeke oor die toorkuns te verbrand, het hierdie nuwe Christene ’n voorbeeld gestel vir diegene wat vandag bose geeste wil weerstaan. Mense wat Jehovah wil dien, moet ontslae raak van alles wat met spiritisme te doen het. Dit sluit boeke, tydskrifte, rolprente, plakkate en musiek in wat die beoefening van spiritisme aanmoedig en dit aantreklik en opwindend laat lyk. Dit sluit ook gelukbringers of ander dinge in wat mense dra om hulle teen boosheid te beskerm.—1 Korintiërs 10:21.

15. Wat moet ons doen om teen bose geesmagte weerstand te kan bied?

15 ’n Paar jaar nadat die Christene in Efese hulle boeke oor die toorkuns vernietig het, het die apostel Paulus vir hulle geskryf: “Ons het ’n worstelstryd . . . teen die bose geesmagte” (Efesiërs 6:12). Die demone het nie tou opgegooi nie. Hulle het nog altyd die oorhand probeer kry. Wat moes daardie Christene dan nog doen? “Neem bowenal die groot skild van geloof op”, het Paulus gesê, “waarmee julle al die brandende pyle van die bose [Satan] sal kan blus” (Efesiërs 6:16). Hoe sterker ons skild van geloof is, hoe sterker sal die weerstand wees wat ons teen bose geesmagte bied.—Matteus 17:20.

16. Hoe kan ons ons geloof versterk?

16 Hoe kan ons dan ons geloof versterk? Deur die Bybel te bestudeer. Die sterkte van ’n muur hang grootliks af van die sterkte van sy fondament. Op dieselfde manier hang die sterkte van ons geloof grootliks af van die sterkte van die grondslag daarvan, naamlik juiste kennis van God se Woord, die Bybel. As ons die Bybel elke dag lees en bestudeer, sal ons geloof sterk word. Soos ’n sterk muur, sal sulke geloof ons teen die invloed van bose geeste beskerm.—1 Johannes 5:5.

17. Wat is nodig om bose geeste te weerstaan?

17 Wat moes daardie Christene in Efese nog doen? Hulle het verdere beskerming nodig gehad omdat hulle in ’n stad gewoon het wat vol demonisme was. Daarom het Paulus vir hulle gesê: “[Julle moet] met elke vorm van gebed en smeking aanhou om by elke geleentheid in gees te bid” (Efesiërs 6:18). Aangesien ons ook in ’n wêreld lewe wat vol demonisme is, is dit noodsaaklik om opreg tot Jehovah te bid vir sy beskerming as ons bose geeste wil weerstaan. Ons moet natuurlik Jehovah se naam in ons gebede gebruik (Spreuke 18:10). Ons moet dus aanhou om tot God te bid om ons ‘te verlos van die bose’, Satan die Duiwel (Matteus 6:13). Jehovah sal sulke opregte gebede verhoor.—Psalm 145:19.

18, 19. (a) Waarom kan ons seker wees van oorwinning in ons stryd teen bose geesskepsele? (b) Watter vraag sal in die volgende hoofstuk beantwoord word?

18 Bose geeste is gevaarlik, maar ons hoef nie vir hulle bang te wees as ons die Duiwel teëstaan en nader aan God kom deur Sy wil te doen nie (Jakobus 4:7, 8). Die krag van bose geeste is beperk. Hulle is in Noag se dag gestraf, en hulle gaan in die toekoms finaal geoordeel word (Judas 6). Onthou ook dat ons die beskerming van Jehovah se kragtige engele het (2 Konings 6:15-17). Daardie engele stel opreg daarin belang om te sien dat ons bose geeste suksesvol weerstaan. Die regverdige engele moedig ons as ’t ware aan in die stryd. Laat ons derhalwe na aan Jehovah en sy gesin van getroue geesskepsele bly. Mag ons ook elke vorm van spiritisme vermy en altyd die raad van God se Woord toepas (1 Petrus 5:6, 7; 2 Petrus 2:9). Dan kan ons seker wees van oorwinning in ons stryd teen bose geesskepsele.

19 Maar waarom het God bose geeste en die goddeloosheid wat soveel lyding vir mense veroorsaak het, toegelaat? Hierdie vraag sal in die volgende hoofstuk beantwoord word.

^ par. 2 Aangaande regverdige engele sê Openbaring 5:11: “Hulle getal was tienduisende van tienduisende.” Die Bybel gee dus wel te kenne dat honderdmiljoene engele geskep is.