Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK ELF

Waarom laat God lyding toe?

Waarom laat God lyding toe?
  • Het God die lyding in die wêreld veroorsaak?

  • Watter geskil is in die tuin van Eden geopper?

  • Hoe sal God die gevolge van menselyding ongedaan maak?

1, 2. Voor watter soort lyding kom mense vandag te staan, en watter vrae laat dit baie mense vra?

NÁ ’N hewige geveg in een oorloggeteisterde land is die duisende vroue en kinders wat doodgemaak is, in ’n massagraf begrawe. Rondom die graf is merkers gesit met die woord “Waarom?” op elkeen. Soms is dit die heel moeilikste vraag om te beantwoord. Bedroefde mense vra dit wanneer oorlog, ’n ramp, siekte of misdaad een van hulle onskuldige geliefdes wegneem, hulle huis vernietig of op ander maniere vir hulle onbeskryflike lyding veroorsaak. Hulle wil weet waarom sulke tragedies oor hulle kom.

2 Waarom laat God lyding toe? As Jehovah God almagtig, liefdevol, wys en regverdig is, waarom is die wêreld dan so vol haat en onregverdigheid? Het jy al ooit self oor hierdie dinge gewonder?

3, 4. (a) Wat toon dat dit nie verkeerd is om te vra waarom God lyding toelaat nie? (b) Hoe voel Jehovah oor goddeloosheid en lyding?

3 Is dit verkeerd om te vra waarom God lyding toelaat? Party is bekommerd dat, as hulle so ’n vraag vra, dit sou beteken dat hulle nie genoeg geloof het nie of dat hulle oneerbiedig teenoor God is. Maar wanneer jy die Bybel lees, sal jy sien dat getroue, godvresende mense soortgelyke vrae gevra het. Die profeet Habakuk het byvoorbeeld vir Jehovah gevra: “Waarom laat u my sien wat skadelik is en hou u aan om te kyk na wat niks anders as moeite is nie? En waarom is plundering en geweld voor my, en waarom is daar rusie, en waarom ontstaan twis?”—Habakuk 1:3.

Jehovah sal ’n einde maak aan alle lyding

4 Het Jehovah die getroue profeet Habakuk bestraf omdat hy sulke vrae gevra het? Nee. God het eerder Habakuk se opregte woorde in die geïnspireerde Bybelverslag ingesluit. God het hom ook gehelp om ’n duideliker begrip van sake en groter geloof te verkry. Jehovah wil dieselfde vir jou doen. Onthou, die Bybel leer dat ‘hy vir jou sorg’ (1 Petrus 5:7). God haat goddeloosheid en die lyding wat daardeur veroorsaak word, baie meer as wat enige mens dit haat (Jesaja 55:8, 9). Waarom is daar dan soveel lyding in die wêreld?

WAAROM IS DAAR SOVEEL LYDING?

5. Watter redes word soms gegee om te verduidelik waarom mense ly, maar wat leer die Bybel?

5 Mense uit verskillende godsdienste het hulle godsdiensleiers en -onderrigters gevra waarom daar soveel lyding is. Dikwels was die antwoord dat lyding God se wil is en dat hy lank gelede alles bepaal het wat ooit sal gebeur, selfs tragiese gebeurtenisse. Vir baie mense word daar gesê dat God se weë raaiselagtig is of dat hy die dood oor mense—selfs kinders—bring sodat hy hulle in die hemel by hom kan hê. Maar soos jy geleer het, is Jehovah God nooit die oorsaak van slegte dinge nie. Die Bybel sê: “Ver is dit van die ware God om goddeloos te handel, en van die Almagtige om onregverdig te handel!”—Job 34:10.

6. Waarom maak baie mense die fout om God vir die lyding in die wêreld te blameer?

6 Weet jy waarom mense die fout maak om God vir al die lyding in die wêreld te blameer? In baie gevalle blameer hulle God die Almagtige omdat hulle dink dat hy die ware heerser van hierdie wêreld is. Hulle weet nie van ’n eenvoudige maar belangrike waarheid wat die Bybel leer nie. Jy het daardie waarheid in Hoofstuk 3 van hierdie boek geleer. Die ware heerser van hierdie wêreld is Satan die Duiwel.

7, 8. (a) Hoe weerspieël die wêreld die persoonlikheid van sy heerser? (b) Hoe dra menslike onvolmaaktheid en “tyd en onvoorsiene gebeurtenisse” tot lyding by?

7 Die Bybel sê duidelik: “Die hele wêreld lê in die mag van die bose” (1 Johannes 5:19). Dink ’n bietjie daaraan: Maak dit nie sin nie? Hierdie wêreld weerspieël die persoonlikheid van die onsigbare geesskepsel wat “die hele bewoonde aarde mislei” (Openbaring 12:9). Satan is vol haat, bedrog en wreedaardigheid. Daarom is die wêreld, wat onder sy invloed is, ook vol haat, bedrog en wreedaardigheid. Dit is een rede waarom daar soveel lyding is.

8 ’n Tweede rede waarom daar soveel lyding is, is dat die mensdom vanaf die opstand in die tuin van Eden onvolmaak en vol sonde is, soos ons in Hoofstuk 3 bespreek het. Sondige mense is geneig om oor mekaar te probeer heers, en dit lei tot oorloë, onderdrukking en lyding (Prediker 4:1; 8:9). ’n Derde rede vir lyding is “tyd en onvoorsiene gebeurtenisse” (Prediker 9:11). In ’n wêreld sonder Jehovah as ’n beskermende Heerser ly mense soms omdat hulle op die verkeerde tyd op die verkeerde plek is.

9. Waarom kan ons seker wees dat Jehovah ’n goeie rede het om lyding te laat voortduur?

9 Dit is vir ons vertroostend om te weet dat God nie lyding veroorsaak nie. Hy is nie verantwoordelik vir die oorloë, die misdaad, die onderdrukking of selfs die natuurrampe wat mense laat ly nie. Maar ons moet nogtans weet: Waarom laat Jehovah al hierdie lyding toe? As hy die Almagtige is, het hy die krag om ’n einde daaraan te maak. Waarom doen hy dit dan nie? Die liefdevolle God wat ons leer ken het, moet ’n goeie rede hiervoor hê.—1 Johannes 4:8.

’N BELANGRIKE GESKIL WORD GEOPPER

10. Wat het Satan bevraagteken, en hoe?

10 Om uit te vind waarom God lyding toelaat, moet ons terugdink aan die tyd toe lyding begin het. Toe Satan vir Adam en Eva sover gekry het om ongehoorsaam aan Jehovah te wees, is ’n belangrike vraag geopper. Satan het nie Jehovah se krag in twyfel getrek nie. Selfs Satan weet dat daar geen perke aan Jehovah se krag is nie. Satan het eerder Jehovah se reg om te regeer bevraagteken. Deur God ’n leuenaar te noem wat goeie dinge van sy onderdane weerhou, het Satan die aantyging gemaak dat Jehovah ’n slegte heerser is (Genesis 3:2-5). Satan het te kenne gegee dat die mensdom beter af sou wees sonder God se heerskappy. Dit was ’n aanval op Jehovah se soewereiniteit, sy reg om te regeer.

11. Waarom het Jehovah die opstandelinge in Eden nie net vernietig nie?

11 Adam en Eva het teen Jehovah in opstand gekom. Hulle het in werklikheid gesê: “Ons het nie Jehovah as ons Heerser nodig nie. Ons kan self besluit wat reg en wat verkeerd is.” Hoe kon Jehovah daardie geskil oplos? Hoe kon hy alle intelligente skepsele leer dat die opstandelinge verkeerd was en dat sy manier werklik die beste is? Iemand sê dalk dat God die opstandelinge eenvoudig moes vernietig het en van nuuts af moes begin het. Maar Jehovah het gesê dat dit sy voorneme is om die aarde met Adam en Eva se nageslag te vul, en hy wou hê dat hulle in ’n aardse paradys moet lewe (Genesis 1:28). Jehovah vervul altyd sy voornemens (Jesaja 55:10, 11). Wat meer is, as hy van die opstandelinge in Eden ontslae geraak het, sou dit nie ’n antwoord voorsien het op die vraag wat geopper is aangaande Jehovah se reg om te regeer nie.

12, 13. Illustreer waarom Jehovah Satan toegelaat het om die heerser van hierdie wêreld te word en waarom God die mens toegelaat het om oor homself te regeer.

12 Kom ons lig die punt toe. Stel jou voor ’n onderwyser verduidelik vir sy leerlinge hoe om ’n moeilike probleem op te los. ’n Slim maar opstandige leerling sê dat die onderwyser se manier om die probleem op te los, verkeerd is. Hierdie opstandige leerling gee te kenne dat die onderwyser nie die probleem kan oplos nie en dat hý van ’n baie beter manier weet om dit te doen. Party leerlinge dink dat hy reg is, en hulle raak ook opstandig. Wat moet die onderwyser doen? Watter uitwerking sal dit op die ander leerlinge hê as hy die opstandige leerlinge uit die klas stuur? Sal hulle nie glo dat hulle medeleerling en dié wat saam met hom gegaan het, reg was nie? Al die ander leerlinge in die klas sal dalk respek vir die onderwyser verloor en dink dat hy bang is om verkeerd bewys te word. Maar sê nou die onderwyser laat die opstandige leerling toe om vir die klas te wys hoe hy die probleem sal oplos.

Is die leerling bekwamer as die onderwyser?

13 Jehovah het iets soortgelyks gedoen. Onthou dat die opstandelinge in Eden nie die enigstes was wat by die saak betrokke is nie. Miljoene engele het toegekyk (Job 38:7; Daniël 7:10). Hoe Jehovah die opstand hanteer het, sou ’n kragtige uitwerking op al daardie engele en later op die hele intelligente skepping hê. Wat het Jehovah dus gedoen? Hy het Satan toegelaat om te wys hoe hy oor die mensdom sou regeer. God het die mens ook toegelaat om onder Satan se leiding oor homself te regeer.

14. Watter voordeel sal voortspruit uit Jehovah se besluit om die mens toe te laat om oor homself te regeer?

14 Die onderwyser in ons illustrasie weet dat die opstandige leerling en die leerlinge aan sy kant verkeerd is. Maar hy weet ook dat dit tot voordeel van die hele klas sal wees as hy die opstandiges die geleentheid gee om hulle punt te probeer bewys. Wanneer hulle misluk, sal al die leerlinge wat eerlik is, sien dat die onderwyser die enigste een is wat bevoeg is om die klas te lei. Hulle sal verstaan waarom die onderwyser enige opstandige leerlinge daarna uit die klas stuur. Net so weet Jehovah dat dit tot voordeel van alle opregte mense en engele sal wees as hulle sien dat Satan en sy medeopstandelinge misluk het en dat mense nie oor hulleself kan regeer nie. Soos Jeremia van ouds, sal hulle hierdie lewensbelangrike waarheid leer: “Ek weet goed, o Jehovah, dat aan die mens sy weg nie behoort nie. Dit behoort nie aan die mens wat loop om sy voetstappe te rig nie.”—Jeremia 10:23.

WAAROM SO LANK?

15, 16. (a) Waarom het Jehovah toegelaat dat lyding so lank voortduur? (b) Waarom het Jehovah nie dinge soos aaklige misdade gekeer nie?

15 Maar waarom het Jehovah toegelaat dat lyding so lank voortduur? En waarom keer hy nie dat slegte dinge gebeur nie? Wel, dink aan twee dinge wat die onderwyser in ons illustrasie nie sou doen nie. Eerstens, hy sou die opstandige leerling nie keer om sy saak te stel nie. Tweedens, die onderwyser sou die opstandige leerling nie help om sy saak te stel nie. Kyk nou na twee dinge wat Jehovah ook besluit het om nie te doen nie. Eerstens, hy het Satan en dié wat hulle aan sy kant skaar, nie gekeer om te probeer bewys dat hulle reg is nie. Dit was dus nodig om tyd te laat verbygaan. In die duisende jare van die mensegeskiedenis het die mensdom elke vorm van selfbestuur, of menseheerskappy, op die proef gestel. Die mensdom het op wetenskaplike en ander gebiede ’n mate van vooruitgang gemaak, maar ongeregtigheid, armoede, misdaad en oorlog het al hoe erger geword. Daar is nou bewys dat menseheerskappy misluk het.

16 Tweedens, Jehovah het Satan nie gehelp om oor hierdie wêreld te regeer nie. Sou God nie as ’t ware die opstandelinge se saak ondersteun het as hy byvoorbeeld aaklige misdade gekeer het nie? Sou God mense nie laat dink het dat hulle miskien tog sonder rampspoedige gevolge oor hulleself kan regeer nie? As Jehovah so opgetree het, sou hy medepligtig gewees het aan ’n leuen. Maar ‘dit is onmoontlik vir God om te lieg’.—Hebreërs 6:18.

17, 18. Wat sal Jehovah doen in verband met al die skade wat as gevolg van menseheerskappy en die invloed van Satan gedoen is?

17 Maar wat van al die skade wat gedoen is gedurende die langdurige opstand teen God? Dit is goed as ons onthou dat Jehovah almagtig is. Hy kan en sal dus die gevolge van die mensdom se lyding ongedaan maak. Soos ons reeds geleer het, sal die verderwing van ons planeet ongedaan gemaak word deurdat die aarde in ’n paradys omskep sal word. Die gevolge van sonde sal deur geloof in Jesus se losprysoffer verwyder word, en die gevolge van die dood sal deur middel van die opstanding omgekeer word. Só sal God Jesus gebruik “om die werke van die Duiwel te verbreek” (1 Johannes 3:8). Jehovah sal al hierdie dinge op presies die regte tyd laat gebeur. Ons kan bly wees dat hy nie vroeër opgetree het nie, want sy geduld het ons die geleentheid gegee om die waarheid te leer en hom te dien (2 Petrus 3:9, 10). Intussen het God aktief na opregte aanbidders gesoek en hulle gehelp om enige lyding te verduur wat in hierdie wêreld vol probleme oor hulle kom.—Johannes 4:23; 1 Korintiërs 10:13.

18 Party wonder dalk: Sou dit nie al hierdie lyding kon voorkom het as God Adam en Eva só geskep het dat dit vir hulle onmoontlik was om in opstand te kom nie? Om daardie vraag te beantwoord, moet jy aan ’n kosbare gawe dink wat Jehovah jou gegee het.

HOE SAL JY DIE GAWE VAN GOD GEBRUIK?

God sal jou help om lyding te verduur

19. Watter kosbare gawe het Jehovah ons gegee, en waarom moet ons dit waardeer?

19 Soos in Hoofstuk 5 genoem is, is mense met wilsvryheid geskep. Besef jy wat ’n kosbare gawe dit is? God het tallose diere gemaak, en hulle word hoofsaaklik deur instink aangedryf (Spreuke 30:24). Die mens het robotte gemaak wat geprogrammeer kan word om enige opdrag uit te voer. Sou ons gelukkig gewees het as God ons so gemaak het? Nee, ons is bly dat ons die vryheid het om te kies watter soort persoon ons sal word, watter weg ons in die lewe sal inslaan, watter vriendskappe ons sal aanknoop, ensovoorts. Ons hou daarvan om ’n mate van vryheid te hê, en God wil hê dat ons dit moet geniet.

20, 21. Hoe kan ons die gawe van wilsvryheid op die beste manier moontlik gebruik, en waarom moet ons dit wil doen?

20 Jehovah stel nie belang in diens wat onder dwang verrig word nie (2 Korintiërs 9:7). Ter toeligting: Wat sal ’n ouer blyer maak—as ’n kind sê: “Ek het jou lief” omdat hy aangesê word om dit te sê of omdat hy dit uit sy eie en uit die hart sê? Die vraag is dus: Hoe sal jy die wilsvryheid gebruik wat Jehovah jou gegee het? Satan, Adam en Eva het wilsvryheid op die slegste manier moontlik gebruik. Hulle het Jehovah God verwerp. Wat sal jy doen?

21 Jy het die geleentheid om die wonderlike gawe van wilsvryheid op die beste manier moontlik te gebruik. Jy kan by die miljoene aansluit wat hulle aan Jehovah se kant geskaar het. Hulle maak God bly omdat hulle deur hulle dade bewys dat Satan ’n leuenaar en ’n jammerlike mislukking as ’n heerser is (Spreuke 27:11). Jy kan dit ook doen deur die regte lewensweg te kies. Dit sal in die volgende hoofstuk verduidelik word.