Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK DERTIEN

’n Goddelike beskouing van lewe

’n Goddelike beskouing van lewe
  • Hoe beskou God lewe?

  • Hoe beskou God aborsie?

  • Hoe toon ons respek vir lewe?

1. Wie het alles wat lewe, geskep?

“JEHOVAH is waarlik God”, het die profeet Jeremia gesê. “Hy is die lewende God” (Jeremia 10:10). Jehovah God is ook die Skepper van alles wat lewe. Hemelse wesens het vir hom gesê: “U het alles geskep, en weens u wil het hulle bestaan en is hulle geskep” (Openbaring 4:11). In ’n loflied aan God het koning Dawid gesê: “By u is die bron van die lewe” (Psalm 36:9). Lewe is dus ’n gawe van God.

2. Wat doen God om ons lewe te onderhou?

2 Jehovah onderhou ook ons lewe (Handelinge 17:28). Hy voorsien die kos wat ons eet, die water wat ons drink, die lug wat ons inasem en die grond waarop ons woon (Handelinge 14:15-17). Jehovah het dit alles op ’n manier gedoen wat die lewe genotvol maak. Maar om die lewe ten volle te geniet, moet ons God se wette leer ken en hulle gehoorsaam.—Jesaja 48:17, 18.

TOON RESPEK VIR LEWE

3. Hoe het God die moord op Abel beskou?

3 God wil hê dat ons respek moet hê vir lewe—vir ons eie lewe sowel as vir dié van ander. In die dae van Adam en Eva het hulle seun Kain byvoorbeeld baie kwaad geword vir sy jonger broer Abel. Jehovah het Kain gewaarsku dat sy woede hom ernstig kan laat sondig. Kain het daardie waarskuwing geïgnoreer. Hy het “sy broer Abel aangeval en hom doodgemaak” (Genesis 4:3-8). Jehovah het Kain gestraf omdat hy sy broer vermoor het.—Genesis 4:9-11.

4. Hoe het God die regte beskouing van lewe in die Mosaïese Wet beklemtoon?

4 Duisende jare later het Jehovah die nasie Israel wette gegee om hulle te help om hom op ’n aanneemlike wyse te dien. Omdat hierdie wette deur die profeet Moses gegee is, word dit soms die Mosaïese Wet genoem. Die Mosaïese Wet het onder andere gesê: “Jy mag nie moord pleeg nie” (Deuteronomium 5:17). Dit het vir die Israeliete gewys dat God waarde heg aan menselewe en dat mense waarde moet heg aan die lewe van ander.

5. Hoe moet ons aborsie beskou?

5 Wat van die lewe van ’n ongebore kind? Wel, volgens die Mosaïese Wet was dit verkeerd om die dood van ’n baba in die baarmoeder te veroorsaak. Ja, selfs so ’n lewe is vir Jehovah kosbaar (Eksodus 21:22, 23; Psalm 127:3). Dit beteken dat aborsie verkeerd is.

6. Waarom moet ons nie ons medemens haat nie?

6 Respek vir lewe sluit in dat ons die regte beskouing van ons medemens moet hê. Die Bybel sê: “Elkeen wat sy broer haat, is ’n moordenaar, en julle weet dat geen moordenaar die ewige lewe as iets blywends in hom het nie” (1 Johannes 3:15). As ons die ewige lewe wil hê, moet ons alle haat vir ons medemens uit ons hart uitroei, want in die meeste gevalle is haat die oorsaak van geweld (1 Johannes 3:11, 12). Dit is noodsaaklik dat ons leer om mekaar lief te hê.

7. Wat is party gebruike wat minagting toon vir lewe?

7 Hoe toon ons respek vir ons eie lewe? Mense wil gewoonlik nie doodgaan nie, maar party waag hulle lewe vir genot. Baie mense gebruik byvoorbeeld tabak, rook dagga of neem dwelms. Sulke middels doen skade aan die liggaam en veroorsaak dikwels die dood van dié wat dit gebruik. Iemand wat ’n gewoonte daarvan maak om hierdie middels te gebruik, beskou lewe nie as iets heiligs nie. Hierdie gebruike is onrein in God se oë (Romeine 6:19; 12:1; 2 Korintiërs 7:1). As ons God op ’n aanneemlike wyse wil dien, moet ons hierdie gebruike laat vaar. Al is dit dalk baie moeilik om dit te doen, kan Jehovah ons die nodige hulp gee. En hy waardeer ons pogings om ons lewe as ’n kosbare gawe van hom te behandel.

8. Waarom moet ons in gedagte hou dat dit belangrik is om veiligheidsbewus te wees?

8 As ons respek het vir lewe, sal ons in gedagte hou dat dit belangrik is om veiligheidsbewus te wees. Ons sal nie onverskillig wees nie en sal nie gevaarlike dinge doen net vir genot of opwinding nie. Ons sal nie roekeloos bestuur of aan gewelddadige of gevaarlike sportsoorte deelneem nie (Psalm 11:5). God se wet aan eertydse Israel het gesê: “As jy ’n nuwe huis [met ’n plat dak] bou, moet jy ook ’n muurtjie om jou dak bou, sodat jy nie bloedskuld op jou huis bring nie, want iemand wat val, kan daarvan afval” (Deuteronomium 22:8). In ooreenstemming met die beginsel in daardie wet moet dinge in jou huis, soos trappe, altyd in ’n goeie toestand wees sodat niemand struikel, val en ernstig seerkry nie. As jy ’n motor besit, moet jy sorg dat dit veilig is om dit te bestuur. Moenie toelaat dat jou huis of jou motor vir jou of vir ander ’n gevaar is nie.

9. Hoe sal ons diere behandel as ons respek het vir lewe?

9 Wat van die lewe van ’n dier? Dit is ook vir die Skepper heilig. God laat toe dat diere doodgemaak word vir kos en klere of om mense teen gevaar te beskerm (Genesis 3:21; 9:3; Eksodus 21:28). Maar dit is verkeerd om diere wreed te behandel of om hulle net vir sport dood te maak, en dit toon absolute minagting vir die heiligheid van lewe.—Spreuke 12:10.

TOON RESPEK VIR BLOED

10. Hoe het God getoon dat daar ’n verband tussen lewe en bloed bestaan?

10 Nadat Kain sy broer Abel doodgemaak het, het Jehovah vir hom gesê: “Jou broer se bloed roep van die grond af na my toe uit” (Genesis 4:10). Toe God van Abel se bloed gepraat het, het hy na Abel se lewe verwys. Kain het Abel se lewe geneem, en nou moes Kain gestraf word. Dit was asof Abel se bloed, of lewe, na Jehovah toe uitgeroep het om geregtigheid. Die verband tussen lewe en bloed is weer getoon ná die Vloed van Noag se dag. Voor die Vloed het mense net vrugte, groente, graan en neute geëet. Ná die Vloed het Jehovah vir Noag en sy seuns gesê: “Al die diere wat beweeg en lewe, mag vir julle as voedsel dien. Soos in die geval van die groen plante, gee ek dit alles aan julle.” Maar God het hierdie beperking ingesluit: “Net vleis met sy siel [of, lewe]—sy bloed—mag julle nie eet nie” (Genesis 1:29; 9:3, 4). Dit is duidelik dat daar vir Jehovah ’n baie noue verband tussen ’n skepsel se lewe en sy bloed bestaan.

11. Watter gebruik van bloed het God van Noag se dag af verbied?

11 Ons toon respek vir bloed deur dit nie te eet nie. In die Wet wat Jehovah aan die Israeliete gegee het, het hy beveel: “Wat enige man . . . betref . . . wat tydens die jag ’n wilde dier of ’n voël vang wat geëet mag word, hy moet in dié geval die bloed daarvan uitgiet en dit met stof bedek. . . . Ek [het] vir die kinders van Israel gesê: ‘Julle mag nie die bloed van enige soort vlees eet nie’” (Levitikus 17:13, 14). God se bevel om nie dierebloed te eet nie, wat vir die eerste keer sowat 800 jaar vroeër vir Noag gegee is, was nog steeds geldig. Jehovah se beskouing was duidelik: Sy knegte kon die vleis van diere eet, maar nie die bloed nie. Hulle moes die bloed op die grond uitgooi—waardeur die dier se lewe as ’t ware aan God teruggegee is.

12. Watter gebod met betrekking tot bloed is in die eerste eeu deur die heilige gees gegee en is vandag nog geldig?

12 ’n Soortgelyke gebod geld vir Christene. Die apostels en ander manne wat in die eerste eeu onder Jesus se volgelinge die leiding geneem het, het bymekaargekom om te besluit aan watter gebooie almal in die Christengemeente gehoorsaam moet wees. Hulle het tot hierdie slotsom gekom: “Die heilige gees en ons het dit goedgedink om geen verdere las vir julle by te voeg nie, behalwe hierdie noodsaaklike dinge: om julle voortdurend te onthou van afgodsoffers en van bloed en van wat verwurg is [wat die bloed in die vleis laat agterbly] en van hoerery” (Handelinge 15:28, 29; 21:25). Ons moet ons dus ‘voortdurend van bloed onthou’. In God se oë is dit net so belangrik om dit te doen as om afgodediens en geslagsonsedelikheid te vermy.

As jou dokter vir jou sê om jou van drank te onthou, sou jy dit in jou are laat inspuit?

13. Lig toe waarom die gebod om ons van bloed te onthou, bloedoortappings insluit.

13 Sluit die gebod om ons van bloed te onthou, bloedoortappings in? Ja. Ter toeligting: Sê nou ’n dokter sê vir jou om jou van drank te onthou. Sou dit beteken dat jy nie drank mag drink nie, maar dat jy dit in jou are kan laat inspuit? Natuurlik nie! Net so beteken onthouding van bloed dat ons dit glad nie in ons liggaam inneem nie. Die gebod om ons van bloed te onthou, beteken dus dat ons niemand sal toelaat om bloed in ons are oor te tap nie.

14, 15. Hoe sal ’n Christen reageer as dokters sê dat hy ’n bloedoortapping moet kry, en waarom?

14 Sê nou ’n Christen is ernstig beseer of het ’n groot operasie nodig? Gestel dokters sê dat hy ’n bloedoortapping moet kry, anders sal hy doodgaan. Die Christen wil natuurlik nie doodgaan nie. In ’n poging om God se kosbare gawe van lewe te bewaar, sal hy ander soorte behandeling aanvaar waarin bloed nie misbruik word nie. Gevolglik sal hy hierdie mediese aandag soek en ’n verskeidenheid alternatiewe vir bloed aanvaar.

15 Sal ’n Christen God se wet verbreek net om ’n rukkie langer in hierdie stelsel van dinge aan die lewe te bly? Jesus het gesê: “Elkeen wat sy siel [of, lewe] wil red, sal dit verloor; maar elkeen wat sy siel ter wille van my verloor, sal dit vind” (Matteus 16:25). Ons wil nie doodgaan nie. Maar as ons ons teenswoordige lewe probeer red deur God se wet te verbreek, sal ons die gevaar loop om die ewige lewe te verloor. Dit sal dus verstandig van ons wees om ons vertroue in die regmatigheid van God se wet te stel, met die vaste oortuiging dat ons Lewegewer ons in die opstanding sal onthou en vir ons die kosbare gawe van lewe sal teruggee, al sou ons weens enige oorsaak sterf.—Johannes 5:28, 29; Hebreërs 11:6.

16. Wat is God se knegte vasbeslote om te doen met betrekking tot bloed?

16 Vandag is getroue knegte van God vasbeslote om sy riglyne met betrekking tot bloed te volg. Hulle sal dit in geen vorm eet nie. Hulle sal bloed ook nie om mediese redes aanvaar nie. * Hulle is seker dat die Skepper van bloed weet wat vir hulle die beste is. Glo jy dit?

DIE ENIGSTE TOELAATBARE GEBRUIK VAN BLOED

17. Wat was in eertydse Israel die enigste gebruik van bloed wat vir Jehovah God aanneemlik was?

17 Die Mosaïese Wet het die aandag gevestig op die enigste toelaatbare gebruik van bloed. Aangaande die aanbidding wat van die eertydse Israeliete vereis is, het Jehovah beveel: “Die siel [of, lewe] van die vlees is in die bloed, en ek het dit vir julle op die altaar geplaas om vir julle siel versoening te doen, want die bloed doen versoening” (Levitikus 17:11). Wanneer die Israeliete gesondig het, kon hulle vergifnis verkry deur ’n dier te offer en van sy bloed op die altaar in die tabernakel of later in God se tempel te laat sit. Die enigste toelaatbare gebruik van bloed was in sulke offerandes.

18. Watter voordele en seëninge kan ons verkry omdat Jesus se bloed vergiet is?

18 Ware Christene is nie onder die Mosaïese Wet nie en bring dus nie diereoffers en sit nie dierebloed op ’n altaar nie (Hebreërs 10:1). Maar die gebruik van bloed op die altaar in die dae van eertydse Israel het gewys na die kosbare offerande van God se Seun, Jesus Christus. Soos ons in Hoofstuk 5 van hierdie boek geleer het, het Jesus sy menselewe vir ons gegee deur toe te laat dat sy bloed as ’n offer vergiet word. Toe het hy opgevaar hemel toe en eens en vir altyd die waarde van sy vergote bloed voor God aangebied (Hebreërs 9:11, 12). Dit het die grondslag voorsien vir die vergifnis van ons sondes en het die weg gebaan vir ons om die ewige lewe te verkry (Matteus 20:28; Johannes 3:16). Hoe uiters belangrik is daardie gebruik van bloed tog! (1 Petrus 1:18, 19). Slegs deur middel van geloof in die waarde van Jesus se vergote bloed kan ons redding verkry.

Hoe kan jy respek toon vir lewe en bloed?

19. Wat moet ons doen om “rein . . . van die bloed van alle mense” te wees?

19 Ons kan baie dankbaar teenoor Jehovah God wees vir die liefdevolle voorsiening van lewe! En behoort dit ons nie aan te spoor om ander te vertel van die geleentheid om ewige lewe te verkry op grond van geloof in Jesus se offerande nie? Goddelike besorgdheid oor die lewe van ons medemens sal ons beweeg om dit gretig en ywerig te doen (Esegiël 3:17-21). As ons hierdie verantwoordelikheid pligsgetrou nakom, sal ons, soos die apostel Paulus, kan sê: “Ek [is] rein . . . van die bloed van alle mense, want ek het my nie daarvan weerhou om julle al die raad van God te vertel nie” (Handelinge 20:26, 27). Om mense van God en sy voornemens te vertel, is ’n wonderlike manier om te wys dat ons die hoogste agting vir lewe en bloed het.

^ par. 16 Vir inligting oor alternatiewe vir bloedoortappings, sien bladsye 13-17 van die brosjure Hoe kan bloed jou lewe red?, uitgegee deur Jehovah se Getuies.