Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK SEWENTIEN

Kom nader aan God deur gebed

Kom nader aan God deur gebed
  • Waarom moet ons tot God bid?

  • Wat moet ons doen sodat God na ons sal luister?

  • Hoe verhoor God ons gebede?

“Die Maker van hemel en aarde” is gewillig om na ons gebede te luister

1, 2. Waarom moet ons gebed as ’n groot voorreg beskou, en waarom is dit nodig dat ons weet wat die Bybel daaromtrent leer?

IN VERGELYKING met die ontsaglike heelal is die aarde baie klein. Trouens, vir Jehovah, “die Maker van hemel en aarde”, is die nasies van die mensdom soos ’n klein druppeltjie water uit ’n emmer (Psalm 115:15; Jesaja 40:15). En tog sê die Bybel: “Jehovah is naby almal wat hom aanroep, almal wat hom in waaragtigheid aanroep. Aan die begeerte van dié wat hom vrees, sal hy voldoen, en hulle hulpgeroep sal hy hoor” (Psalm 145:18, 19). Dink net wat dit beteken! Die almagtige Skepper is naby ons en sal ons hoor as ons “hom in waaragtigheid aanroep”. Wat ’n voorreg het ons tog om God in gebed te nader!

2 Maar as ons wil hê dat Jehovah na ons gebede moet luister, moet ons tot hom bid op die manier wat sy goedkeuring wegdra. Hoe kan ons dit doen tensy ons verstaan wat die Bybel omtrent gebed leer? Dit is noodsaaklik dat ons weet wat die Skrif oor hierdie onderwerp sê, want gebed help ons om nader aan Jehovah te kom.

WAAROM MOET ONS TOT JEHOVAH BID?

3. Wat is een belangrike rede waarom ons tot Jehovah moet bid?

3 Een belangrike rede waarom ons tot Jehovah moet bid, is omdat hy ons nooi om dit te doen. Sy Woord spoor ons aan: “Moet julle oor niks kwel nie, maar laat julle versoeke in alles deur gebed en smeking tesame met danksegging by God bekend word; en die vrede van God wat alle denke te bowe gaan, sal julle harte en julle verstandelike vermoëns deur middel van Christus Jesus bewaak” (Filippense 4:6, 7). Ons wil tog sekerlik nie so ’n liefdevolle voorsiening wat deur die Opperheerser van die heelal vir ons gemaak is, ignoreer nie!

4. Hoe versterk gereelde gebed tot Jehovah ons verhouding met hom?

4 Nog ’n rede om te bid, is dat gereelde gebed tot Jehovah ’n manier is om ons verhouding met hom te versterk. Ware vriende kommunikeer nie net wanneer hulle iets nodig het nie. Goeie vriende stel eerder in mekaar belang, en hulle vriendskap word hegter wanneer hulle hulle gedagtes, bekommernisse en gevoelens vryelik uitspreek. In sekere opsigte is ons verhouding met Jehovah God ook so. Met behulp van hierdie boek het jy baie geleer van wat die Bybel omtrent Jehovah, sy persoonlikheid en sy voornemens leer. Jy het hom as ’n werklike persoon leer ken. Gebed gee jou die geleentheid om jou gedagtes en diepste gevoelens teenoor jou hemelse Vader uit te spreek. Wanneer jy dit doen, kom jy nader aan Jehovah.—Jakobus 4:8.

AAN WATTER VEREISTES MOET ONS VOLDOEN?

5. Wat toon dat Jehovah nie na alle gebede luister nie?

5 Luister Jehovah na alle gebede? Kyk na wat hy in die dae van die profeet Jesaja vir die opstandige Israeliete gesê het: “Selfs al doen julle baie gebede, luister ek nie; julle hande is vol bloedvergieting” (Jesaja 1:15). Sekere dinge kan dus keer dat God na ons gebede luister. As ons wil hê dat ons gebede deur God verhoor moet word, moet ons dan aan ’n paar basiese vereistes voldoen.

6. Wat is ’n belangrike vereiste sodat God na ons gebede sal luister, en hoe kan ons daaraan voldoen?

6 ’n Belangrike vereiste is dat ons geloof moet beoefen (Markus 11:24). Die apostel Paulus het geskryf: “Sonder geloof is dit onmoontlik om vir [God] welbehaaglik te wees, want hy wat tot God nader, moet glo dat hy is en dat hy die beloner word van dié wat hom ernstig soek” (Hebreërs 11:6). Om ware geloof te hê, is meer as om net te weet dat God bestaan en dat hy na gebede luister en dit verhoor. Geloof word bewys deur ons dade. Ons moet duidelik bewys dat ons geloof het deur die manier waarop ons elke dag lewe.—Jakobus 2:26.

7. (a) Waarom moet ons eerbiedig wees wanneer ons in gebed met Jehovah praat? (b) Hoe kan ons toon dat ons nederig en opreg is wanneer ons tot God bid?

7 Jehovah vereis ook dat diegene wat hom in gebed nader, dit in nederigheid en opregtheid moet doen. Het ons nie rede om nederig te wees wanneer ons met Jehovah praat nie? Wanneer mense die geleentheid kry om met ’n koning of ’n president te praat, doen hulle dit gewoonlik met eerbied omdat hulle die heerser se hoë posisie erken. Hoeveel te meer moet ons eerbiedig wees wanneer ons Jehovah nader! (Psalm 138:6). Hy is immers “God die Almagtige” (Genesis 17:1). Wanneer ons tot God bid, behoort die manier waarop ons dit doen, te toon dat ons ons posisie voor hom nederig erken. Sulke nederigheid sal ons ook beweeg om opreg uit ons hart te bid en meganiese, herhalende gebede te vermy.—Matteus 6:7, 8.

8. Hoe kan ons optree in ooreenstemming met die dinge waarvoor ons bid?

8 Nog ’n vereiste waaraan ons moet voldoen sodat God na ons sal luister, is om in ooreenstemming met ons gebede op te tree. Jehovah verwag dat ons alles in ons vermoë sal doen om te werk in ooreenstemming met die dinge waarvoor ons bid. As ons byvoorbeeld bid: “Gee ons vandag ons brood vir hierdie dag”, moet ons ons bes doen in enige beskikbare werk wat binne ons vermoë is (Matteus 6:11; 2 Tessalonisense 3:10). As ons bid vir hulp om ’n vleeslike swakheid te bowe te kom, moet ons versigtig wees om omstandighede en situasies te vermy wat ons in die versoeking kan lei (Kolossense 3:5). Buiten hierdie basiese vereistes is daar ook vrae oor gebed waarop ons antwoorde moet kry.

ANTWOORDE OP PARTY VRAE OOR GEBED

9. Tot wie moet ons bid, en deur wie?

9 Tot wie moet ons bid? Jesus het sy volgelinge geleer om tot “ons Vader in die hemele” te bid (Matteus 6:9). Ons gebede moet dus net tot Jehovah God gerig word. Maar Jehovah vereis dat ons die posisie van sy enigverwekte Seun, Jesus Christus, erken. Soos ons in Hoofstuk 5 geleer het, is Jesus na die aarde toe gestuur om as ’n losprys te dien om ons van sonde en die dood los te koop (Johannes 3:16; Romeine 5:12). Hy is die aangestelde Hoëpriester en Regter (Johannes 5:22; Hebreërs 6:20). Daarom sê die Skrif dat ons deur Jesus moet bid. Hy het self gesê: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader behalwe deur my nie” (Johannes 14:6). As ons wil hê dat ons gebede verhoor moet word, moet ons net tot Jehovah en deur sy Seun bid.

10. Waarom word geen spesifieke posisie of liggaamshouding vereis wanneer ons bid nie?

10 Moet ons ’n spesiale posisie of liggaamshouding aanneem wanneer ons bid? Nee. Jehovah vereis nie enige spesifieke posisie van die hande of die hele liggaam nie. Die Bybel leer dat dit aanvaarbaar is om in ’n groot verskeidenheid posisies te bid. ’n Mens kan onder meer sit, buig, kniel of staan (1 Kronieke 17:16; Nehemia 8:6; Daniël 6:10; Markus 11:25). Wat werklik belangrik is, is nie die een of ander spesiale liggaamshouding wat ander kan sien nie, maar die regte hartsgesindheid. Trouens, gedurende ons daaglikse bedrywighede of wanneer ons in ’n noodsituasie is, kan ons ’n stille gebed doen waar ons ook al is. Jehovah hoor sulke gebede al is niemand om ons daarvan bewus nie.—Nehemia 2:1-6.

11. Wat is ’n paar persoonlike sake wat gepaste onderwerpe vir gebed is?

11 Waarvoor mag ons bid? Die Bybel verduidelik: ‘Hy [Jehovah] hoor ons, ongeag wat ons volgens sy wil vra’ (1 Johannes 5:14). Ons kan dus vir enigiets bid wat in ooreenstemming met God se wil is. Is dit sy wil dat ons oor persoonlike sake bid? Beslis! Om tot Jehovah te bid, kan wees soos om met ’n dierbare vriend te praat. Ons kan openlik praat en ‘ons hart voor God uitstort’ (Psalm 62:8). Dit is gepas dat ons heilige gees vra, want dit sal ons help om te doen wat reg is (Lukas 11:13). Ons kan ook leiding vra om wyse besluite te neem en krag om probleme die hoof te bied (Jakobus 1:5). Wanneer ons sondig, moet ons op grond van Christus se offerande vergifnis vra (Efesiërs 1:3, 7). Persoonlike sake moet natuurlik nie die enigste onderwerpe van ons gebede wees nie. Ons moet ander mense—gesinslede sowel as medeaanbidders—in ons gebede insluit.—Handelinge 12:5; Kolossense 4:12.

12. Hoe kan ons sake met betrekking tot ons hemelse Vader die belangrikste plek in ons gebede gee?

12 Sake wat met Jehovah God te doen het, moet die belangrikste plek in ons gebede gegee word. Ons het beslis rede om hom opreg te loof en te dank vir al sy goedheid (1 Kronieke 29:10-13). Jesus het die modelgebed gegee, wat in Matteus 6:9-13 opgeteken is, waarin hy ons geleer het om te bid dat God se naam geheilig moet word, dit wil sê as heilig behandel moet word. Daarna het hy gebid dat God se Koninkryk moet kom en dat sy wil op die aarde soos in die hemel gedoen moet word. Eers nadat hierdie belangrike sake met betrekking tot Jehovah gedek is, het Jesus aandag gegee aan persoonlike sake. Wanneer ons God op dieselfde manier die belangrikste plek in ons gebede gee, toon ons dat ons in meer as net ons eie welsyn belangstel.

13. Wat toon die Skrif oor die lengte van aanneemlike gebede?

13 Hoe lank moet ons gebede wees? Die Bybel plaas geen beperking op hoe lank private of openbare gebede moet wees nie. Dit kan wissel van ’n kort gebed voor ’n ete tot ’n lang private gebed waarin ons ons hart voor Jehovah uitstort (1 Samuel 1:12, 15). Jesus het egter eiegeregtige mense veroordeel wat lang, vertonerige gebede voor ander gedoen het (Lukas 20:46, 47). Sulke gebede beïndruk Jehovah nie. Die belangrikste is dat ons uit ons hart bid. Daarom kan die lengte van aanneemlike gebede wissel volgens die behoeftes en omstandighede.

Jou gebed kan by enige geleentheid aangehoor word

14. Wat bedoel die Bybel wanneer dit ons aanspoor om ‘aan te hou bid’, en waarom is dit gerusstellend?

14 Hoe dikwels moet ons bid? Die Bybel spoor ons aan om ‘aan te hou bid’, ‘vol te hou met gebed’ en ‘onophoudelik te bid’ (Matteus 26:41; Romeine 12:12; 1 Tessalonisense 5:17). Hierdie woorde beteken natuurlik nie dat ons elke oomblik van die dag tot Jehovah moet bid nie. Die Bybel spoor ons eerder aan om gereeld te bid en Jehovah voortdurend te dank vir sy goedheid teenoor ons en altyd op hom te vertrou vir leiding, vertroosting en krag. Is dit nie gerusstellend om te weet dat Jehovah geen beperking plaas op hoe lank of hoe dikwels ons in gebed met hom kan praat nie? As ons die voorreg van gebed werklik waardeer, sal ons baie geleenthede vind om tot ons hemelse Vader te bid.

15. Waarom moet ons aan die einde van persoonlike en openbare gebede “Amen” sê?

15 Waarom moet ons aan die einde van ’n gebed “Amen” sê? Die woord “amen” beteken “beslis” of “laat dit so wees”. Skriftuurlike voorbeelde toon dat dit gepas is om aan die einde van persoonlike en openbare gebede “Amen” te sê (1 Kronieke 16:36; Psalm 41:13). Deur aan die einde van ons eie gebed “Amen” te sê, bevestig ons dat ons woorde opreg was. Wanneer ons aan die einde van iemand se openbare gebed, stilletjies of hardop, “Amen” sê, toon ons dat ons saamstem met die gedagtes wat uitgespreek is.—1 Korintiërs 14:16.

HOE GOD ONS GEBEDE VERHOOR

16. Watter vertroue kan ons in verband met gebed hê?

16 Verhoor Jehovah werklik gebede? Ja, beslis! Ons het ’n vaste grondslag om te vertrou dat die “Hoorder van die gebed” die opregte gebede van miljoene mense verhoor (Psalm 65:2). Jehovah kan ons gebede op ’n verskeidenheid maniere verhoor.

17. Waarom kan daar gesê word dat God sy engele en sy aardse knegte gebruik om ons gebede te verhoor?

17 Jehovah gebruik sy engele en sy aardse knegte om gebede te verhoor (Hebreërs 1:13, 14). Dit het al dikwels gebeur dat mense wat tot God gebid het vir hulp om die Bybel te verstaan, kort daarna deur een van Jehovah se knegte gekontak is. Sulke ondervindinge lewer bewys dat die engele die Koninkrykspredikingswerk rig (Openbaring 14:6). Jehovah kan ons gebede wat in ’n tyd van ware nood gedoen word, verhoor deur ’n Christen te beweeg om ons te help.—Spreuke 12:25; Jakobus 2:16.

In antwoord op ons gebede kan Jehovah ’n Christen beweeg om ons te help

18. Hoe gebruik Jehovah sy heilige gees en sy Woord om die gebede van sy knegte te verhoor?

18 Jehovah God gebruik ook sy heilige gees en sy Woord, die Bybel, om die gebede van sy knegte te verhoor. Hy kan ons gebede vir hulp om beproewinge te verduur, verhoor deur ons leiding en krag te gee deur middel van sy heilige gees (2 Korintiërs 4:7). Dikwels kry ons die antwoord op ons gebede vir leiding in die Bybel, waardeur Jehovah ons help om wyse besluite te neem. Ons vind dalk nuttige tekste in ons persoonlike Bybelstudie en wanneer ons Christelike publikasies, soos hierdie boek, lees. Skriftuurlike punte wat ons moet oorweeg, kan onder ons aandag gebring word deur iets wat by ’n Christelike vergadering gesê word of deur die woorde van ’n besorgde ouer man in die gemeente.—Galasiërs 6:1.

19. Wat moet ons in gedagte hou as dit soms lyk asof ons gebede nie verhoor word nie?

19 As dit lyk asof Jehovah traag is om ons gebede te verhoor, is dit nooit omdat hy hulle nie kan verhoor nie. Ons moet eerder onthou dat Jehovah gebede volgens sy wil en op sy tyd verhoor. Hy ken ons behoeftes en weet baie beter as ons hoe om daarin te voorsien. Hy laat ons dikwels toe om ‘aan te hou vra, soek en klop’ (Lukas 11:5-10). Sulke volharding wys vir God dat ons begeerte baie diep is en dat ons geloof opreg is. Wat meer is, Jehovah sal moontlik ons gebede op ’n manier verhoor wat nie vir ons ooglopend is nie. Byvoorbeeld, hy verhoor dalk ons gebed oor ’n spesifieke beproewing, nie deur die probleem weg te neem nie, maar deur ons die krag te gee om dit te verduur.—Filippense 4:13.

20. Waarom moet ons ten volle gebruik maak van die kosbare voorreg van gebed?

20 Hoe dankbaar kan ons tog wees dat die Skepper van hierdie ontsaglike heelal naby is aan almal wat hom op die regte manier in gebed aanroep! (Psalm 145:18). Mag ons ten volle gebruik maak van die kosbare voorreg van gebed. As ons dit doen, sal ons die vreugdevolle vooruitsig hê om steeds nader aan Jehovah, die Hoorder van die gebed, te kom.