Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK AGTIEN

Doop en jou verhouding met God

Doop en jou verhouding met God
  • Hoe word Christelike doop uitgevoer?

  • Watter stappe moet jy doen om te kwalifiseer om gedoop te word?

  • Hoe wy ’n mens jou aan God toe?

  • Om watter spesiale rede word ’n mens gedoop?

1. Waarom het ’n Etiopiese hofbeampte gevra om gedoop te word?

“KYK! Water; wat verhinder my om gedoop te word?” ’n Etiopiese hofbeampte in die eerste eeu het hierdie vraag gevra. ’n Christen met die naam Filippus het aan hom bewys dat Jesus die beloofde Messias is. Wat die Etiopiese man uit die Skrif geleer het, het sy hart geraak en hom beweeg om op te tree. Hy het gesê dat hy gedoop wil word!—Handelinge 8:26-36.

2. Waarom moet jy dit ernstig oorweeg om gedoop te word?

2 As jy die vroeëre hoofstukke van hierdie boek sorgvuldig saam met een van Jehovah se Getuies gestudeer het, voel jy dalk gereed om te vra: ‘Wat verhinder my om gedoop te word?’ Teen hierdie tyd het jy al geleer van die Bybel se belofte van ewige lewe in die Paradys (Lukas 23:43; Openbaring 21:3, 4). Jy het ook geleer van die ware toestand van die dooies en die opstandingshoop (Prediker 9:5; Johannes 5:28, 29). Jy het heel moontlik al met Jehovah se Getuies begin omgaan by hulle gemeentelike vergaderinge en self gesien hoe hulle die ware godsdiens beoefen (Johannes 13:35). Nog belangriker, jy het waarskynlik al ’n persoonlike verhouding met Jehovah God begin opbou.

3. (a) Wat het Jesus sy volgelinge beveel om te doen? (b) Hoe word waterdoop uitgevoer?

3 Hoe kan jy wys dat jy God wil dien? Jesus het vir sy volgelinge gesê: “Gaan . . . en maak dissipels van mense van al die nasies, en doop hulle” (Matteus 28:19). Jesus het self die voorbeeld gestel deur in water gedoop te word. Hy is nie met water besprinkel nie, en hy het nie net water oor sy kop laat uitgooi nie (Matteus 3:16). Die woord “doop” is die vertaling van ’n Griekse term wat “onderdompel” beteken. Christelike doop beteken dus dat ’n mens heeltemal onder die water gedompel word.

4. Wat toon waterdoop?

4 Waterdoop is ’n vereiste vir almal wat ’n verhouding met Jehovah God wil hê. Doop toon in die openbaar dat dit jou begeerte is om God te dien. Dit wys dat dit vir jou genot verskaf om Jehovah se wil te doen (Psalm 40:7, 8). Maar om te kwalifiseer om gedoop te word, moet jy besliste stappe doen.

KENNIS EN GELOOF IS NODIG

5. (a) Wat is die eerste stap om vir doop te kwalifiseer? (b) Waarom is Christelike vergaderinge belangrik?

5 Jy het reeds met die eerste stap begin. Hoe? Deur kennis in te neem van Jehovah God en Jesus Christus, moontlik deur middel van ’n stelselmatige studie van die Bybel (Johannes 17:3). Maar daar is nog meer om te leer. Christene wil ‘vervul wees met die juiste kennis van [God se] wil’ (Kolossense 1:9). As jy die gemeentelike vergaderinge van Jehovah se Getuies bywoon, sal dit jou baie hiermee help. Dit is belangrik om dit te doen (Hebreërs 10:24, 25). Gereelde vergaderingbywoning sal jou help om jou kennis van God te vergroot.

Om juiste kennis van God se Woord op te doen, is ’n belangrike stap om vir doop te kwalifiseer

6. Hoeveel Bybelkennis moet jy hê om vir doop te kwalifiseer?

6 Jy hoef natuurlik nie alles in die Bybel te ken om vir doop te kwalifiseer nie. Die Etiopiese hofbeampte het ’n mate van kennis gehad, maar hy het hulp nodig gehad om sekere dele van die Skrif te verstaan (Handelinge 8:30, 31). Jy het ook nog baie om te leer. Trouens, jy sal nooit ophou om van God te leer nie (Prediker 3:11). Maar voor jy gedoop kan word, moet jy ten minste die basiese Bybelleringe ken en aanneem (Hebreërs 5:12). Sulke leringe sluit die waarheid in omtrent die toestand van die dooies en die belangrikheid van God se naam en sy Koninkryk.

7. Watter uitwerking behoort ’n studie van die Bybel op jou te hê?

7 Maar kennis alleen is nie genoeg nie, want “sonder geloof is dit onmoontlik om vir [God] welbehaaglik te wees” (Hebreërs 11:6). Die Bybel sê vir ons dat party mense in die eertydse stad Korinte ‘begin glo het en gedoop is’ toe hulle die Christelike boodskap gehoor het (Handelinge 18:8). Op ’n soortgelyke manier behoort ’n studie van die Bybel jou te vervul met geloof dat dit die geïnspireerde Woord van God is. Bybelstudie behoort jou te help om geloof te hê in God se beloftes en in die reddingskrag van Jesus se offerande.—Josua 23:14; Handelinge 4:12; 2 Timoteus 3:16, 17.

VERTEL ANDER VAN BYBELWAARHEID

8. Wat sal jou beweeg om ander te vertel van die dinge wat jy geleer het?

8 Namate geloof in jou hart groei, sal jy dit moeilik vind om wat jy geleer het, vir jouself te hou (Jeremia 20:9). Jy sal ’n sterk begeerte voel om met ander oor God en sy voornemens te praat.—2 Korintiërs 4:13.

Geloof moet jou beweeg om vir ander te vertel van die dinge wat jy glo

9, 10. (a) Vir wie kan jy van Bybelwaarheid begin vertel? (b) Wat moet jy doen as jy aan die georganiseerde predikingswerk van Jehovah se Getuies wil deelneem?

9 Jy kan ander van Bybelwaarheid begin vertel deur op ’n taktvolle manier met jou familielede, vriende, bure en werksmaats daaroor te praat. Mettertyd sal jy aan die georganiseerde predikingswerk van Jehovah se Getuies wil deelneem. Op daardie stadium kan jy die saak gerus met die Getuie bespreek wat die Bybel met jou studeer. As dit lyk of jy kwalifiseer om aan die openbare bediening deel te neem, sal reëlings getref word sodat jy en jou studiehouer met twee van die gemeentelike ouer manne kan vergader.

10 Dit sal jou die geleentheid gee om van die Christen- ouer manne, wat as herders oor die kudde van God toesig hou, beter te leer ken (Handelinge 20:28; 1 Petrus 5:2, 3). As hierdie ouer manne sien dat jy basiese Bybelleringe verstaan en glo, in ooreenstemming met God se beginsels lewe en werklik een van Jehovah se Getuies wil wees, sal hulle jou laat weet dat jy kwalifiseer om as ’n ongedoopte verkondiger van die goeie nuus aan die openbare bediening deel te neem.

11. Watter veranderinge moet party miskien maak voordat hulle kwalifiseer om aan die openbare bediening deel te neem?

11 Maar miskien moet jy nog ’n paar veranderinge in jou lewenswyse en gewoontes maak voordat jy kwalifiseer om aan die openbare bediening deel te neem. Dit sluit moontlik in dat jy ophou om party dinge te doen waarvan ander nie weet nie. Voordat jy vra of jy ’n ongedoopte verkondiger kan word, moet jy dus vry wees van ernstige sondes, soos geslagsonsedelikheid, dronkenskap en dwelmmisbruik.—1 Korintiërs 6:9, 10; Galasiërs 5:19-21.

BEROU EN BEKERING

12. Waarom is berou nodig?

12 Daar is ’n paar ander stappe wat jy moet doen voordat jy vir doop kwalifiseer. Die apostel Petrus het gesê: “Toon . . . berou en draai om sodat julle sondes uitgewis kan word” (Handelinge 3:19). Om berou te toon, beteken dat ’n mens opreg spyt voel oor iets wat jy gedoen het. Berou is beslis gepas as jy ’n onsedelike lewe gelei het, maar al het jy ’n lewe gelei wat sedelik gesproke redelik skoon was, is dit nog steeds nodig. Waarom? Omdat alle mense sondaars is en God se vergifnis nodig het (Romeine 3:23; 5:12). Voordat jy die Bybel bestudeer het, het jy nie geweet wat God se wil is nie. Hoe kon jy dan in volle harmonie met sy wil gelewe het? Daarom is berou nodig.

13. Wat is bekering?

13 Berou moet gevolg word deur bekering, of ‘om jou om te draai’. Jy moet meer doen as om net spyt te voel. Jy moet jou vorige lewenswyse verwerp en vasbeslote wees om van nou af te doen wat reg is. Berou en bekering is stappe wat jy moet doen voordat jy gedoop word.

’N PERSOONLIKE TOEWYDING

14. Watter belangrike stap moet jy doen voordat jy gedoop word?

14 Daar is nog ’n belangrike stap wat jy moet doen voordat jy gedoop word. Jy moet jou aan Jehovah God toewy.

Het jy in gebed ’n persoonlike toewyding aan God gemaak?

15, 16. Wat beteken dit om jou aan God toe te wy, en wat beweeg ’n mens om dit te doen?

15 Wanneer jy jou in opregte gebed aan Jehovah God toewy, belowe jy dat jy vir ewig jou uitsluitlike toegewydheid aan hom sal gee (Deuteronomium 6:15). Maar waarom sou iemand dit wou doen? Wel, sê nou ’n man begin om ’n vrou die hof te maak. Hoe meer hy omtrent haar uitvind en haar mooi eienskappe sien, hoe meer aangetrokke voel hy tot haar. Mettertyd is dit net natuurlik dat hy haar sal vra om met hom te trou. As hulle trou, sal dit weliswaar bykomende verantwoordelikhede beteken. Maar liefde sal hom beweeg om daardie belangrike stap te doen.

16 Wanneer jy Jehovah leer ken en liefkry, word jy beweeg om hom te dien sonder om enigiets terug te hou of enige perke te stel aan jou aanbidding van hom. Enigiemand wat God se Seun, Jesus Christus, wil volg, moet “homself verloën” (Markus 8:34). Ons verloën onsself deur te sorg dat persoonlike begeertes en doelwitte nie in die pad staan van ons algehele gehoorsaamheid aan God nie. Voordat jy gedoop kan word, moet die uitvoering van Jehovah God se wil dus die belangrikste doelwit in jou lewe wees.—1 Petrus 4:2.

OORKOM DIE VREES VIR MISLUKKING

17. Waarom huiwer party dalk om hulle aan God toe te wy?

17 Party huiwer om hulle aan Jehovah toe te wy omdat hulle bang is om so ’n ernstige stap te doen. Hulle is dalk bang om as ’n toegewyde Christen teenoor God aanspreeklik te wees. Omdat hulle bang is dat hulle sal misluk en Jehovah sal teleurstel, dink hulle dat dit beter is om hulle nie aan hom toe te wy nie.

18. Wat kan jou beweeg om jou aan Jehovah toe te wy?

18 Namate jy Jehovah leer liefkry, sal jy beweeg word om jou aan hom toe te wy en jou bes te doen om jou toewyding na te leef (Prediker 5:4). Nadat jy jou toegewy het, sal jy beslis wil “wandel op ’n wyse wat Jehovah waardig is om hom ten volle te behaag” (Kolossense 1:10). Weens jou liefde vir God sal jy nie dink dat dit te moeilik is om sy wil te doen nie. Jy sal ongetwyfeld met die apostel Johannes saamstem, wat geskryf het: “Dít is wat die liefde vir God beteken, dat ons sy gebooie bewaar; en tog is sy gebooie nie swaar nie.”—1 Johannes 5:3.

19. Waarom hoef jy nie bang te wees om jou aan God toe te wy nie?

19 Jy hoef nie volmaak te wees om jou aan God toe te wy nie. Jehovah weet wat jou beperkings is en verwag nooit dat jy meer moet doen as wat jy kan nie (Psalm 103:14). Hy wil hê dat jy suksesvol moet wees en sal jou ondersteun en help (Jesaja 41:10). Jy kan seker wees dat Jehovah “jou paaie reguit [sal] maak” as jy met jou hele hart op hom vertrou.—Spreuke 3:5, 6

SIMBOLISEER JOU TOEWYDING DEUR GEDOOP TE WORD

20. Waarom kan toewyding aan Jehovah nie ’n private saak bly nie?

20 As jy dink oor die dinge wat ons nou net bespreek het, kan dit jou help om in gebed ’n persoonlike toewyding aan Jehovah te maak. Almal wat God werklik liefhet, moet ook ‘openbare bekendmaking doen tot redding’ (Romeine 10:10). Hoe doen ’n mens dit?

Doop beteken dat ons met betrekking tot ons vorige lewenswandel sterf en lewend word om God se wil te doen

21, 22. Hoe kan jy “openbare bekendmaking” van jou geloof doen?

21 Laat die koördineerder van die liggaam van ouer manne van julle gemeente weet dat jy gedoop wil word. Hy sal reël dat ’n paar ouer manne ’n aantal vrae met jou hersien wat die basiese leringe van die Bybel dek. As hierdie ouer manne saamstem dat jy kwalifiseer, sal hulle vir jou sê dat jy by die volgende geleentheid gedoop kan word. * ’n Toespraak waarin die betekenis van doop bespreek word, word gewoonlik by sulke geleenthede gehou. Die spreker nooi al die doopkandidate dan om twee eenvoudige vrae te beantwoord as een manier om ’n mondelinge “openbare bekendmaking” van hulle geloof te doen.

22 Dit is die doop self wat jou in die openbaar identifiseer as iemand wat ’n toewyding aan God gemaak het en nou een van Jehovah se Getuies is. Doopkandidate word heeltemal onder die water gedompel om in die openbaar te toon dat hulle hulle aan Jehovah toegewy het.

DIE BETEKENIS VAN JOU DOOP

23. Wat beteken dit om “in die naam van die Vader en van die Seun en van die heilige gees” gedoop te word?

23 Jesus het gesê dat sy dissipels “in die naam van die Vader en van die Seun en van die heilige gees” gedoop sal word (Matteus 28:19). Dit beteken dat ’n doopkandidaat die gesag van Jehovah God en van Jesus Christus erken (Psalm 83:18; Matteus 28:18). Hy erken ook die funksie en werk van God se heilige gees, of werkende krag.—Galasiërs 5:22, 23; 2 Petrus 1:21.

24, 25. (a) Wat word deur doop gesimboliseer? (b) Watter vraag moet beantwoord word?

24 Maar doop beteken nie net dat jy onder die water gedompel word nie. Dit is ’n simbool van iets baie belangriks. Wanneer jy onder die water ingaan, simboliseer dit dat jy gesterf het wat jou vorige lewenswandel betref. Wanneer jy uit die water opgelig word, toon dit dat jy nou lewe om God se wil te doen. Onthou ook dat jy jou aan Jehovah God toegewy het, nie aan ’n werk, ’n saak, ander mense of ’n organisasie nie. Jou toewyding en doop is die begin van ’n baie hegte vriendskap met God—’n intieme verhouding met hom.—Psalm 25:14.

25 Doop waarborg nie redding nie. Die apostel Paulus het geskryf: “[Hou aan] om julle eie redding met vrees en bewing te bewerk” (Filippense 2:12). Doop is net die begin. Die vraag is: Hoe kan jy in God se liefde bly? Ons laaste hoofstuk sal die antwoord hierop gee.

^ par. 21 Doopplegtighede is ’n gereelde kenmerk van die byeenkomste wat elke jaar deur Jehovah se Getuies gehou word.