Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

AANHANGSEL

God se naam—Die gebruik en betekenis daarvan

God se naam—Die gebruik en betekenis daarvan

HOE word Psalm 83:18 in jou Bybel vertaal? Die Nuwe Wêreld-vertaling van die Heilige Skrif vertaal hierdie vers soos volg: “Sodat mense kan weet dat u, wie se naam Jehovah is, u alleen die Allerhoogste oor die hele aarde is.” ’n Aantal ander Bybelvertalings gee dit op ’n soortgelyke wyse weer. Maar baie vertalings laat die naam Jehovah weg en vervang dit met titels soos “Here” of “Ewige”. Wat hoort in hierdie vers? ’n Titel of die naam Jehovah?

God se naam in Hebreeuse letters

Hierdie vers praat van ’n naam. In die oorspronklike Hebreeus waarin ’n groot deel van die Bybel geskryf is, verskyn ’n unieke persoonlike naam hier. Dit word met die Hebreeuse letters יהוה (JHVH) geskryf. In Afrikaans word daardie naam gewoonlik as “Jehova(h)” weergegee. Kom daardie naam net in een Bybelvers voor? Nee. Dit verskyn byna 7 000 keer in die oorspronklike teks van die Hebreeuse Geskrifte!

Hoe belangrik is God se naam? Dink aan die modelgebed wat Jesus Christus gegee het. Dit begin so: “Ons Vader in die hemele, laat u naam geheilig word” (Matteus 6:9). Later het Jesus tot God gebid: “Vader, verheerlik u naam.” In antwoord daarop het God uit die hemel gepraat en gesê: “Ek het dit verheerlik en sal dit weer verheerlik” (Johannes 12:28). Dit is duidelik dat God se naam van die allergrootste belang is. Maar waarom het party vertalers dan hierdie naam uit hulle vertalings van die Bybel weggelaat en dit met titels vervang?

Daar is blykbaar twee vername redes. In die eerste plek beweer baie dat die naam nie gebruik moet word nie omdat niemand meer weet hoe dit oorspronklik uitgespreek is nie. Ou Hebreeus is sonder klinkers geskryf. Gevolglik kan niemand vandag vir seker sê presies hoe mense in Bybeltye die naam JHVH uitgespreek het nie. Maar moet dit ons keer om God se naam te gebruik? In Bybeltye is die naam Jesus moontlik as Jesjoea of miskien Jehosjoea uitgespreek—niemand kan met sekerheid sê nie. En tog gebruik mense regoor die wêreld vandag verskillende vorme van die naam Jesus en spreek hulle dit uit op die manier wat algemeen is in hulle taal. Hulle huiwer nie om die naam te gebruik net omdat hulle nie weet hoe dit in die eerste eeu uitgespreek is nie. As jy na ’n vreemde land reis, sal jy ook dalk vind dat jou naam heeltemal anders klink as dit in ’n ander taal uitgespreek word. Onsekerheid oor die eertydse uitspraak van God se naam is dus geen rede om dit nie te gebruik nie.

’n Tweede rede wat dikwels gegee word waarom God se naam uit die Bybel weggelaat word, hou verband met ’n ou tradisie van die Jode. Baie van hulle sê dat God se naam nooit uitgespreek moet word nie. Hierdie opvatting is blykbaar gegrond op ’n verkeerde toepassing van ’n wet in die Bybel wat sê: “Jy mag die naam van Jehovah jou God nie op onwaardige wyse gebruik nie, want Jehovah sal die een wat sy naam op onwaardige wyse gebruik, nie ongestraf laat bly nie.”—Eksodus 20:7.

Hierdie wet verbied die misbruik van God se naam. Maar verbied dit die eerbiedige gebruik van sy naam? Glad nie. Die skrywers van die Hebreeuse Bybel (die “Ou Testament”) was almal getroue manne wat gelewe het volgens die Wet wat God vir die eertydse Israeliete gegee het. Nogtans het hulle God se naam dikwels gebruik. Hulle het dit byvoorbeeld in baie psalms ingesluit wat hardop deur skares aanbidders gesing is. Jehovah God het sy aanbidders selfs beveel om sy naam aan te roep, en getroues was gehoorsaam aan dié bevel (Joël 2:32; Handelinge 2:21). Gevolglik huiwer Christene nie vandag om God se naam op eerbiedige wyse te gebruik nie, soos Jesus ongetwyfeld ook gedoen het.—Johannes 17:26.

Wanneer Bybelvertalers God se naam met titels vervang, maak hulle ’n ernstige fout. Hulle laat God afsydig en onpersoonlik voorkom, terwyl die Bybel mense aanspoor om “intimiteit met Jehovah” aan te kweek (Psalm 25:14). Dink aan een van jou intieme vriende. Hoe heg sou julle vriendskap werklik gewees het as jy nooit uitgevind het wat jou vriend se naam is nie? Hoe kan mense dan werklik na aan God kom as hulle nooit geleer word dat sy naam Jehovah is nie? En as mense God se naam nie gebruik nie, ken hulle ook nie die wonderlike betekenis daarvan nie. Wat beteken God se naam?

God het self aan sy getroue kneg Moses verduidelik wat sy naam beteken. Toe Moses oor God se naam gevra het, het Jehovah geantwoord: “Ek sal word wat ek sal word” (Eksodus 3:14). Rotherham se vertaling gee hierdie woorde soos volg weer: “Ek sal word wat ek ook al wil.” Jehovah kan dus word wat ook al nodig is om sy voornemens te vervul.

Sê nou jy kon enigiets word wat jy wil. Wat sou jy vir jou vriende doen? As een van hulle ernstig siek word, sou jy ’n goeie dokter kon word en hom gesond maak. As ’n ander een ’n finansiële verlies ly, sou jy ’n ryk weldoener kon word en hom help. Maar jy is natuurlik beperk met betrekking tot wat jy kan word. Ons is almal. Wanneer jy die Bybel bestudeer, sal jy verbaas wees om te sien hoe Jehovah enigiets word wat nodig is om sy voornemens te vervul. En dit is vir hom ’n plesier om sy krag te gebruik ten behoewe van diegene wat hom liefhet (2 Kronieke 16:9). Mense wat Jehovah se naam nie ken nie, weet nie van hierdie pragtige fasette van sy persoonlikheid nie.

Dit is duidelik dat die naam Jehovah in die Bybel hoort. Om die betekenis daarvan te ken en dit vryelik in ons aanbidding te gebruik, is kragtige hulpmiddele om nader aan ons hemelse Vader, Jehovah, te kom. *

^ par. 3 Vir meer inligting oor God se naam, die betekenis daarvan en redes waarom dit in aanbidding gebruik moet word, sien die brosjure Die Goddelike naam wat vir ewig sal bestaan, uitgegee deur Jehovah se Getuies.