Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

AANHANGSEL

Hoe Daniël se profesie die koms van die Messias voorspel

Hoe Daniël se profesie die koms van die Messias voorspel

DIE profeet Daniël het meer as 500 jaar voor die geboorte van Jesus gelewe. Jehovah het nietemin aan Daniël inligting gegee wat dit moontlik gemaak het om vas te stel presies wanneer Jesus gesalf, of aangestel, sou word as die Messias, of Christus. Daar is vir Daniël gesê: “Jy moet weet en die insig hê dat daar vanaf die uitgang van die woord om Jerusalem te herstel en te herbou tot op Messias die Leier sewe weke sal wees, ook twee-en-sestig weke.”—Daniël 9:25.

Om die tyd van die Messias se koms te bepaal, moet ons eers uitvind wanneer die tydperk wat na die Messias sou lei, begin het. Volgens die profesie strek hierdie tydperk “vanaf die uitgang van die woord om Jerusalem te herstel en te herbou”. Wanneer het hierdie “uitgang van die woord” plaasgevind? Volgens die Bybelskrywer Nehemia het die woord om die mure van Jerusalem te herbou, “in die twintigste jaar van koning Artasasta” uitgegaan (Nehemia 2:1, 5-8). Geskiedkundiges bevestig dat die jaar 474 v.G.J. die eerste volle jaar van Artasasta se heerskappy was. Die 20ste jaar van sy heerskappy was dus 455 v.G.J. Nou het ons die beginpunt van die tydperk in Daniël se Messiaanse profesie, dit wil sê 455 v.G.J.

Daniël dui aan hoe lank die tydperk sou wees wat sou lei tot die koms van “Messias die Leier”. Die profesie meld “sewe weke . . . , ook twee-en-sestig weke”—altesaam 69 weke. Hoe lank is hierdie tydperk? Etlike Bybelvertalings noem dat hierdie weke nie sewe dae lank is nie, maar dat dit weke van jare is. Dit wil sê, elke week verteenwoordig sewe jaar. Die eertydse Jode was bekend met hierdie konsep van weke van jare, of eenhede van sewe jaar. Hulle het byvoorbeeld elke sewende jaar ’n Sabbatsjaar gehou (Eksodus 23:10, 11). Die profetiese 69 weke is dus 69 eenhede van 7 jaar elk, of altesaam 483 jaar.

Nou moet ons net tel. As ons vanaf 455 v.G.J. tel, bring 483 jaar ons by die jaar 29 G.J. Dit was presies die jaar toe Jesus gedoop is en die Messias geword het! (Lukas 3:1, 2, 21, 22). * Is dit nie ’n merkwaardige vervulling van Bybelprofesie nie?

^ par. 2 Vanaf 455 v.G.J. tot 1 v.G.J. is 454 jaar. Vanaf 1 v.G.J. tot 1 G.J. is een jaar (daar was geen jaar nul nie). En vanaf 1 G.J. tot 29 G.J. is 28 jaar. As ons dié drie getalle bymekaartel, kry ons altesaam 483 jaar. Jesus is in 33 G.J., gedurende die 70ste week van jare, in die dood “uitgeroei” (Daniël 9:24, 26). Sien Gee ag op Daniël se profesie!, Hoofstuk 11, en Insight on the Scriptures, Deel 2, bladsye 899-901. Albei word deur Jehovah se Getuies uitgegee.