Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

AANHANGSEL

1914—’n betekenisvolle jaar in Bybelprofesie

1914—’n betekenisvolle jaar in Bybelprofesie

DEKADES voor die tyd het Bybelstudente verkondig dat daar in 1914 betekenisvolle verwikkelinge sou wees. Wat was dit, en watter bewyse toon dat 1914 so ’n belangrike jaar was?

Soos in Lukas 21:24 opgeteken staan, het Jesus gesê: “Jerusalem sal deur die nasies vertrap word, tot die vasgestelde tye van die nasies vervul is.” Jerusalem was die hoofstad van die Joodse nasie—waar die heerskappy van die koningslyn van die huis van koning Dawid gesetel was (Psalm 48:1, 2). Maar hierdie konings was uniek onder die leiers van die nasies. Hulle het op “Jehovah se troon” gesit as verteenwoordigers van God self (1 Kronieke 29:23). Jerusalem was dus ’n simbool van Jehovah se heerskappy.

Maar hoe en van wanneer af is God se heerskappy “deur die nasies vertrap”? Dit het in 607 v.G.J. gebeur toe Jerusalem deur die Babiloniërs verower is. Niemand het toe meer op “Jehovah se troon” gesit nie, en die lyn van konings wat van Dawid afgestam het, is onderbreek (2 Konings 25:1-26). Sou hierdie ‘vertrapping’ vir ewig voortduur? Nee, want die profesie van Esegiël het aangaande Jerusalem se laaste koning, Sedekia, gesê: “Verwyder die tulband en haal die kroon af. . . . Dit sal beslis niemand s’n word nie totdat hy kom wat die wetlike reg het, en ek sal dit aan hom gee” (Esegiël 21:26, 27). Die een wat “die wetlike reg” op die kroon van Dawid het, is Christus Jesus (Lukas 1:32, 33). Die ‘vertrapping’ sou dus tot ’n einde kom wanneer Jesus Koning word.

Wanneer sou hierdie wonderlike gebeurtenis plaasvind? Jesus het getoon dat die nasies vir ’n vasgestelde tydperk sou regeer. Die verslag in Daniël hoofstuk 4 help ons om uit te vind hoe lank daardie tydperk sou wees. Dit vertel van ’n profetiese droom wat die Babiloniese koning Nebukadnesar gehad het. Hy het ’n ontsaglike boom gesien wat toe afgekap is. Die stomp kon nie groei nie omdat bande van yster en koper daarom gesit is. ’n Engel het gesê: “Laat sewe tye oor hom heen gaan.”—Daniël 4:10-16.

In die Bybel beeld bome soms heerskappy af (Esegiël 17:22-24; 31:2-5). Die feit dat die simboliese boom afgekap is, beeld dus af dat God se heerskappy, soos dit deur die konings in Jerusalem uitgeoefen is, onderbreek sou word. Maar die visioen het getoon dat hierdie ‘vertrapping van Jerusalem’ tydelik sou wees—dat dit “sewe tye” sou duur. Hoe lank is dit?

Openbaring 12:6, 14 toon dat drie en ’n half tye gelyk is aan “duisend-tweehonderd-en-sestig dae”. “Sewe tye” sou dus twee keer so lank wees, of 2 520 dae. Maar die nie-Joodse nasies het nie net 2 520 dae ná die val van Jerusalem opgehou om Jehovah se heerskappy te “vertrap” nie. Dit is duidelik dat hierdie profesie ’n baie langer tydperk dek. Op grond van Numeri 14:34 en Esegiël 4:6 wat praat van “’n dag vir ’n jaar”, sou die “sewe tye” 2 520 jaar duur.

Die 2 520 jaar het in Oktober 607 v.G.J. begin toe Jerusalem deur die Babiloniërs verower is en die Dawidiese koning van sy troon verwyder is. Die tydperk het in Oktober 1914 geëindig. Op daardie tyd het “die vasgestelde tye van die nasies” tot ’n einde gekom, en Jesus Christus is as God se hemelse Koning op die troon geplaas. *Psalm 2:1-6; Daniël 7:13, 14.

Net soos Jesus voorspel het, is sy “teenwoordigheid” as hemelse Koning gekenmerk deur dramatiese verwikkelinge in die wêreld—oorlog, hongersnood, aardbewings, pessiektes (Matteus 24:3-8; Lukas 21:11). Sulke verwikkelinge lewer kragtige getuienis van die feit dat God se hemelse Koninkryk wel in 1914 gebore is en dat “die laaste dae” van hierdie teenswoordige goddelose stelsel van dinge toe begin het.—2 Timoteus 3:1-5.

^ par. 4 Van Oktober 607 v.G.J. tot Oktober 1 v.G.J. is 606 jaar. Aangesien daar geen jaar nul was nie, is daar 1 914 jaar tussen Oktober 1 v.G.J. en Oktober 1914 G.J. As ons 606 jaar en 1 914 jaar bymekaar tel, kry ons 2 520 jaar. Vir inligting oor Jerusalem se val in 607 v.G.J., sien die artikel “Chronology” in Insight on the Scriptures, uitgegee deur Jehovah se Getuies.