Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

AANHANGSEL

Wie is Migael, die aartsengel?

Wie is Migael, die aartsengel?

DIE geesskepsel wat Migael genoem word, word nie dikwels in die Bybel gemeld nie. Maar wanneer daar wel van hom gepraat word, is hy besig om daadwerklik op te tree. In die boek Daniël veg Migael teen bose engele, in die brief van Judas twis hy met Satan en in Openbaring voer hy oorlog teen die Duiwel en sy demone. Deur Jehovah se heerskappy te verdedig en teen God se vyande te veg, tree Migael op in ooreenstemming met die betekenis van sy naam—“Wie is soos God?” Maar wie is Migael?

Soms staan mense onder meer as een naam bekend. Die aartsvader Jakob staan byvoorbeeld ook as Israel bekend, en die apostel Petrus, as Simon (Genesis 49:1, 2; Matteus 10:2). Die Bybel toon dat Migael dan ook ’n ander naam vir Jesus Christus is, voor en ná sy lewe op die aarde. Kom ons kyk na skriftuurlike redes vir hierdie gevolgtrekking.

Aartsengel. God se Woord noem Migael “die aartsengel” (Judas 9). Hierdie term beteken “vernaamste engel”. Let daarop dat Migael die aartsengel genoem word. Dit gee te kenne dat daar net een van hierdie engele is. Trouens, die woord “aartsengel” kom alleenlik in die enkelvoud in die Bybel voor, nooit in die meervoud nie. Wat meer is, Jesus word met die amp van aartsengel verbind. Aangaande die verrese Here Jesus Christus sê 1 Tessalonisense 4:16: “Die Here self sal uit die hemel neerdaal met ’n gebiedende roep, met ’n aartsengel se stem.” Jesus se stem word hier beskryf as dié van ’n aartsengel. Hierdie teks gee dus te kenne dat Jesus self die aartsengel Migael is.

Leëraanvoerder. Die Bybel sê dat ‘Migael en sy engele teen die draak en sy engele geveg het’ (Openbaring 12:7). Migael is dus die Aanvoerder van ’n leërmag van getroue engele. Openbaring beskryf Jesus ook as die Aanvoerder van ’n leërmag van getroue engele (Openbaring 19:14-16). En die apostel Paulus maak spesifiek melding van “die Here Jesus” en “sy magtige engele” (2 Tessalonisense 1:7). Die Bybel praat dus van Migael en “sy engele” sowel as van Jesus en “sy engele” (Matteus 13:41; 16:27; 24:31; 1 Petrus 3:22). Aangesien God se Woord nêrens te kenne gee dat daar twee leërmagte van getroue engele—een onder bevel van Migael en een onder bevel van Jesus—in die hemel is nie, is dit logies om aan te neem dat Migael niemand anders is nie as Jesus Christus in sy hemelse rol. *

^ par. 1 Vir meer inligting wat toon dat die naam Migael op God se Seun van toepassing is, sien Deel 2, bladsye 393-4, van Insight on the Scriptures, uitgegee deur Jehovah se Getuies.