Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

AANHANGSEL

Die identiteit van “Babilon die Grote”

Die identiteit van “Babilon die Grote”

DIE boek Openbaring bevat uitdrukkings wat nie letterlik verstaan moet word nie (Openbaring 1:1). Dit noem byvoorbeeld ’n vrou op wie se voorkop die naam “Babilon die Grote” geskryf is. Daar word van hierdie vrou gesê dat sy op “menigtes en nasies” sit (Openbaring 17:1, 5, 15). Aangesien geen letterlike vrou dit kan doen nie, moet Babilon die Grote simbolies wees. Wat verteenwoordig hierdie simboliese hoer dan?

In Openbaring 17:18 word dieselfde figuurlike vrou beskryf as “die groot stad wat ’n koninkryk oor die konings van die aarde het”. Die woord “stad” dui op ’n georganiseerde groep mense. Aangesien hierdie “groot stad” beheer het oor “die konings van die aarde”, moet die vrou wat Babilon die Grote genoem word, ’n invloedryke, internasionale organisasie wees. Dit kan tereg ’n wêreldryk genoem word. Watter soort ryk is dit? ’n Godsdiensryk. Let op hoe ’n paar verwante gedeeltes in die boek Openbaring ons tot hierdie gevolgtrekking laat kom.

’n Ryk kan polities, kommersieel of godsdienstig van aard wees. Die vrou wat Babilon die Grote genoem word, is nie ’n politieke ryk nie, want God se Woord sê dat “die konings van die aarde”, of die politieke elemente van hierdie wêreld, met haar “hoerery gepleeg het”. Haar hoerery verwys na die bondgenootskappe wat sy met die heersers van die aarde gesmee het en verklaar waarom sy “die groot hoer” genoem word.—Openbaring 17:1, 2; Jakobus 4:4.

Babilon die Grote kan nie ’n kommersiële ryk wees nie, want die “koopmanne van die aarde”, wat die kommersiële elemente afbeeld, sal oor haar treur wanneer sy vernietig word. Trouens, daar word gesê dat konings sowel as koopmanne op “’n afstand” na Babilon die Grote staan en kyk (Openbaring 18:3, 9, 10, 15-17). Dit is dus redelik om tot die gevolgtrekking te kom dat Babilon die Grote nie ’n politieke of ’n kommersiële ryk is nie, maar ’n godsdiensryk.

Babilon die Grote se identiteit as ’n godsdiensryk word verder bevestig deur die stelling dat sy al die nasies deur middel van haar “spiritistiese gebruike” mislei (Openbaring 18:23). Aangesien alle vorme van spiritisme met godsdiens verband hou en deur die demone geïnspireer word, is dit nie verbasend dat die Bybel Babilon die Grote “’n woonplek . . . van demone” noem nie (Openbaring 18:2; Deuteronomium 18:10-12). Daar word ook gesê dat hierdie ryk aktief gekant is teen ware godsdiens en dat dit “profete” en “heiliges” vervolg (Openbaring 18:24). Trouens, Babilon die Grote het so ’n groot haat vir ware godsdiens dat sy “die getuies van Jesus” met geweld vervolg en selfs vermoor (Openbaring 17:6). Gevolglik is dit duidelik dat hierdie vrou, Babilon die Grote, die wêreldryk van valse godsdiens afbeeld, wat alle godsdienste insluit wat Jehovah God teëstaan.