Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 3

Wees lief vir dié vir wie God lief is

Wees lief vir dié vir wie God lief is

“Hy wat met wyses wandel, sal wys word.”—SPREUKE 13:20.

1-3. (a) Watter onweerlegbare waarheid noem die Bybel? (b) Hoe kan ons metgeselle vind wat ’n goeie invloed op ons sal hê?

IN SEKERE sin is mense soos sponse; hulle is geneig om alles om hulle te absorbeer. Dit is alte maklik om—selfs onbewustelik—die gesindhede, standaarde en eienskappe aan te neem van dié met wie ons noue omgang het.

2 Die Bybel noem ’n onweerlegbare waarheid wanneer dit sê: “Hy wat met wyses wandel, sal wys word, maar hy wat hom met die sotte inlaat, met hom sal dit sleg gaan” (Spreuke 13:20). Hierdie spreuk praat nie net van terloopse kontak nie. Die uitdrukking ‘wandel met’ dui op voortgesette omgang. * Een Bybelnaslaanwerk lewer kommentaar op hierdie vers en sê: “Om met iemand te wandel, impliseer liefde en gehegtheid.” Sou jy nie saamstem dat ons geneig is om dié vir wie ons lief is, na te volg nie? Om die waarheid te sê, omdat ons ’n emosionele band vorm met dié vir wie ons lief is, kan hulle ’n groot invloed op ons hê—hetsy goed of sleg.

3 As ons in God se liefde wil bly, is dit noodsaaklik dat ons metgeselle kies wat ’n goeie invloed op ons sal hê. Hoe kan ons dit doen? Eenvoudig gestel, deur lief te wees vir dié vir wie God lief is, deur sy vriende ons vriende te maak. Dink net daaraan. Watter beter metgeselle kan ons kies as diegene wat die eienskappe het waarna Jehovah in sy vriende soek? Kom ons ondersoek dan die soort mense vir wie God lief is. As ons ’n duidelike beeld het van Jehovah se beskouing, sal ons beter toegerus wees om heilsame metgeselle te kies.

DIÉ VIR WIE GOD LIEF IS

4. Waarom het Jehovah die reg om kieskeurig te wees wat sy vriende betref, en waarom het Jehovah Abraham “my vriend” genoem?

4 Jehovah is kieskeurig wanneer dit by vriendskap kom. Het hy nie die reg om te wees nie? Hy is immers die Soewereine Heer van die heelal, en vriendskap met hom is die allergrootste voorreg. Wie kies hy dan as sy vriende? Jehovah kom nader aan diegene wat op hom vertrou en onwrikbare geloof in hom stel. Dink byvoorbeeld aan die aartsvader Abraham, ’n man wat bekend is vir sy besondere geloof. Dit is moeilik om jou iets voor te stel wat ’n groter toets van geloof vir ’n mensevader kan wees as om gevra te word om sy seun te offer. * En tog het Abraham “Isak so goed as geoffer”, met die volle vertroue “dat God hom selfs uit die dode kon opwek” (Hebreërs 11:17-19). Omdat Abraham sulke geloof en gehoorsaamheid aan die dag gelê het, het Jehovah hom uit liefde “my vriend” genoem.—Jesaja 41:8; Jakobus 2:21-23.

5. Hoe beskou Jehovah diegene wat lojaal aan hom gehoorsaam is?

5 Jehovah beskou lojale gehoorsaamheid as iets baie kosbaars. Hy is lief vir diegene wat bereid is om lojaliteit aan hom bo alle ander dinge te stel (2 Samuel 22:26). Soos ons in Hoofstuk 1 van hierdie publikasie gesien het, skep Jehovah groot behae in diegene wat kies om hom uit liefde te gehoorsaam. “Sy intimiteit”, sê Spreuke 3:32, “is met die regskapenes.” Diegene wat lojaal aan God se vereistes voldoen, ontvang ’n wonderlike uitnodiging van Jehovah: Hulle kan gaste in sy “tent” wees—welkom om hom te aanbid en met vrye toegang tot hom deur gebed.—Psalm 15:1-5.

6. Hoe kan ons toon dat ons Jesus liefhet, en hoe voel Jehovah oor diegene wat sy Seun liefhet?

6 Jehovah is lief vir diegene wat lief is vir Jesus, sy enigverwekte Seun. Jesus het gesê: “As iemand my liefhet, sal hy my woord bewaar, en my Vader sal hom liefhê, en ons sal na hom toe kom en ons woning by hom maak” (Johannes 14:23). Hoe kan ons toon dat ons Jesus liefhet? Sekerlik deur sy gebooie te bewaar, wat die opdrag om die goeie nuus te verkondig en dissipels te maak, insluit (Matteus 28:19, 20; Johannes 14:15, 21). Ons toon ook dat ons Jesus liefhet wanneer ons “sy voetstappe noukeurig . . . volg” deur hom in woord en daad na te volg so goed as wat ons as onvolmaakte mense dit kan doen (1 Petrus 2:21). Jehovah se hart word geraak deur die pogings van diegene wie se liefde vir sy Seun hulle beweeg om ’n Christelike weg te volg.

7. Waarom is dit verstandig om vriende te maak met Jehovah se vriende?

7 Geloof, lojaliteit, gehoorsaamheid en liefde vir Jesus en sy weë—dit is van die eienskappe wat Jehovah in Sy vriende soek. Elkeen van ons kan ons afvra: ‘Kan sulke eienskappe in my intieme metgeselle gesien word, en volg hulle daardie weë? Het ek Jehovah se vriende my vriende gemaak?’ Dit is verstandig om dit te doen. Persone wat godvrugtige eienskappe aankweek en die goeie nuus van die Koninkryk ywerig verkondig, kan ’n positiewe invloed op ons hê en ons aanspoor om ons vaste voorneme om God gelukkig te maak, na te leef.—Sien die venster “ Wat is ’n goeie vriend?

LEER BY ’N BYBELSE VOORBEELD

8. Wat beïndruk jou omtrent die verhouding tussen (a) Naomi en Rut? (b) die drie jong Hebreërs? (c) Paulus en Timoteus?

8 Die Skrif bevat baie voorbeelde van mense wat goeie metgeselle gekies het en daarby baat gevind het. Jy kan lees van die verhouding tussen Naomi en haar skoondogter Rut, tussen die drie jong Hebreërs in Babilon en tussen Paulus en Timoteus (Rut 1:16; Daniël 3:17, 18; 1 Korintiërs 4:17; Filippense 2:20-22). Maar kom ons vestig nou die aandag op ’n ander besondere voorbeeld: die vriendskap tussen Dawid en Jonatan.

9, 10. Wat was die grondslag van die vriendskap tussen Dawid en Jonatan?

9 Die Bybel sê dat “die siel van Jonatan aan die siel van Dawid verkleef geraak” het nadat Dawid vir Goliat doodgemaak het, “en Jonatan het hom liefgekry soos sy eie siel” (1 Samuel 18:1). So het ’n onverbreeklike vriendskap begin wat, ondanks ’n groot ouderdomsverskil, voortgeduur het tot Jonatan se dood op die slagveld (2 Samuel 1:26). * Wat was die grondslag vir die sterk band wat tussen hierdie twee vriende gesmee is?

10 Dawid en Jonatan was saamgebind deur hulle liefde vir God en hulle sterk begeerte om aan hom getrou te bly. ’n Geestelike band het tussen hierdie twee manne bestaan. Elkeen het eienskappe aan die dag gelê wat hom by die ander een gelief gemaak het. Jonatan was ongetwyfeld beïndruk deur die moed en ywer van die jong man wat Jehovah se naam vreesloos verdedig het. Dawid het ongetwyfeld respek gehad vir die ouer man wat Jehovah se reëlings lojaal ondersteun het en op onselfsugtige wyse Dawid se belange bo syne gestel het. Dink byvoorbeeld aan wat gebeur het toe Dawid ’n lae punt in sy lewe bereik het, toe hy as ’n voortvlugtige in die wildernis gelewe het om aan die toorn van die goddelose koning Saul, Jonatan se vader, te ontkom. In ’n merkwaardige betoning van lojaliteit het Jonatan die inisiatief geneem en “na Dawid . . . gegaan, sodat hy sy hand kon versterk met betrekking tot God” (1 Samuel 23:16). Stel jou voor hoe Dawid gevoel het toe sy geliefde vriend hom kom ondersteun en aanmoedig het! *

11. Wat leer jy oor vriendskap uit die voorbeeld van Jonatan en Dawid?

11 Wat leer ons uit die voorbeeld van Jonatan en Dawid? Bowenal dat dit vir vriende van die allergrootste belang is om geestelike waardes in gemeen te hê. Wanneer ons nader kom aan diegene wat dieselfde oortuigings as ons het, dieselfde sedelike waardes as ons het en ook soos ons aan God getrou wil bly, kan daar ’n uitruiling van gedagtes, gevoelens en ondervindinge wees waardeur ons aangemoedig en opgebou word (Romeine 1:11, 12). Ons vind sulke geestelikgesinde metgeselle onder medeaanbidders. Maar beteken dit dat almal wat vergaderinge by die Koninkryksaal bywoon, goeie metgeselle is? Nee, nie noodwendig nie.

HOE OM ONS INTIEME METGESELLE TE KIES

12, 13. (a) Waarom moet ons selektief wees selfs as ons ons metgeselle onder mede-Christene kies? (b) Voor watter uitdaging het eerste-eeuse gemeentes te staan gekom, en watter ernstige waarskuwings het Paulus gevolglik gerig?

12 Selfs in die gemeente moet ons selektief wees as ons geestelik opbouende metgeselle wil hê. Behoort dit ons te verbaas? Nie werklik nie. Party Christene in die gemeente neem langer om geestelike rypheid te bereik, net soos party vrugte aan ’n boom dalk langer neem om ryp te word. In enige gemeente vind ons dus Christene wat op verskillende stadiums van geestelike groei is (Hebreërs 5:12–6:3). Ons betoon natuurlik geduld en liefde teenoor mense wat nuut of swak is, want ons wil hulle help om geestelik te groei.—Romeine 14:1; 15:1.

13 Daar is moontlik van tyd tot tyd ’n situasie in die gemeente wat verg dat ons op ons omgang moet let. Party persone raak dalk by twyfelagtige gedrag betrokke. Ander ontwikkel moontlik ’n bitter of klaerige gees. Gemeentes in die eerste eeu G.J. het voor ’n soortgelyke uitdaging te staan gekom. Hoewel die meeste lede getrou was, het party persone hulle nie reg gedra nie. Omdat party in die gemeente in Korinte nie by sekere Christelike leringe gebly het nie, het die apostel Paulus die gemeente gewaarsku: “Moenie mislei word nie. Slegte omgang bederf nuttige gewoontes” (1 Korintiërs 15:12, 33). Paulus het Timoteus gewaarsku dat daar selfs onder mede-Christene party kan wees wat nie eerbaar optree nie. Timoteus is gemaan om weg te bly van sulke persone en hulle nie as sy intieme metgeselle te kies nie.—2 Timoteus 2:20-22.

14. Hoe kan ons die beginsel agter Paulus se waarskuwings oor omgang toepas?

14 Hoe kan ons die beginsel agter Paulus se waarskuwings toepas? Deur noue omgang te vermy met enigiemand wat ’n verderflike invloed kan hê—hetsy binne of buite die gemeente (2 Tessalonisense 3:6, 7, 14). Ons moet ons geestelikheid beskerm. Onthou dat ons die gesindhede en standaarde van ons goeie vriende soos ’n spons absorbeer. Net soos ons nie kan verwag dat ’n spons vol water sal word as ons dit in asyn druk nie, kan ons nie verwag dat ons positiewe dinge sal absorbeer as ons omgaan met mense wat ’n negatiewe invloed op ons het nie.—1 Korintiërs 5:6.

Jy kan goeie metgeselle onder medeaanbidders vind

15. Wat kan jy doen om geestelikgesinde vriende in die gemeente te vind?

15 Gelukkig is daar groot potensiaal om heilsame metgeselle onder medeaanbidders te vind (Psalm 133:1). Hoe kan jy geestelikgesinde vriende in die gemeente vind? Namate jy godvrugtige eienskappe aankweek en godvrugtige weë volg, sal ander wat soos jy dink, tot jou aangetrokke voel. Terselfdertyd sal jy moontlik praktiese stappe moet doen en die inisiatief moet neem om nuwe vriende te maak. (Sien die venster “ Hoe ons goeie vriende gemaak het.”) Soek na diegene wat die eienskappe wat jy wil weerspieël, aan die dag lê. Gee ag op die Bybel se raad om ‘verruim te word’ deur vriendskappe te probeer aanknoop met medegelowiges ongeag hulle ras, nasionaliteit of kultuur (2 Korintiërs 6:13; 1 Petrus 2:17). Moet jou nie beperk tot diegene in jou eie ouderdomsgroep nie. Onthou dat Jonatan baie ouer as Dawid was. Talle ouer persone kan groot ondervinding en wysheid tot ’n vriendskap bydra.

WANNEER PROBLEME ONTSTAAN

16, 17. Waarom moet ons ons nie aan die gemeente onttrek as ’n medeaanbidder ons op die een of ander manier seermaak nie?

16 Aangesien die gemeente bestaan uit mense met verskillende persoonlikhede en uit uiteenlopende agtergronde, kan probleme van tyd tot tyd ontstaan. ’n Medegelowige sê of doen dalk iets wat ons gevoelens seermaak (Spreuke 12:18). Soms word probleme veroorsaak deur persoonlikheidsbotsings, misverstande of meningsverskille. Sal sulke dinge ons laat struikel en ons van die gemeente laat wegbly? Nie as ons ware liefde het vir Jehovah en vir diegene vir wie hy lief is nie.

17 As ons Skepper en die Onderhouer van ons lewe verdien Jehovah ons liefde en algehele toegewydheid (Openbaring 4:11). Daarbenewens verdien die gemeente, wat hy goeddink om te gebruik, ons lojale ondersteuning (Hebreërs 13:17). As ’n medeaanbidder ons dus seermaak of op die een of ander manier teleurstel, sal ons ons nie uit protes aan die gemeente onttrek nie. Waarom sou ons dit wou doen? Jehovah is nie die een wat ons te na gekom het nie. Ons liefde vir Jehovah sou ons nooit toelaat om ons rug op hom en sy volk te draai nie!—Psalm 119:165.

18. (a) Wat kan ons doen om vrede in die gemeente te bevorder? (b) Watter seëninge bring dit mee as ons vergewe wanneer daar goeie rede is om dit te doen?

18 Liefde vir medeaanbidders beweeg ons om vrede in die gemeente te bevorder. Jehovah verwag nie volmaaktheid van dié vir wie hy lief is nie, en ons moet ook nie. Liefde stel ons in staat om klein oortredings te verskoon, met die wete dat ons almal onvolmaak is en foute maak (Spreuke 17:9; 1 Petrus 4:8). Liefde help ons om aan te hou om “mekaar vryelik te vergewe” (Kolossense 3:13). Dit is nie altyd maklik om hierdie raad toe te pas nie. As ons toelaat dat negatiewe emosies die oorhand oor ons kry, sal ons dalk geneig wees om gegrief te bly en voel ons moontlik dat die persoon wat ons te na gekom het, op die een of ander manier deur ons woede gestraf word. Maar in werklikheid is dit skadelik vir ons as ons gegrief bly. As ons vergewe wanneer daar goeie rede is daarvoor, bring dit ryk seëninge mee (Lukas 17:3, 4). Dit gee ons gemoedsrus, bewaar die vrede in die gemeente en beskerm bowenal ons verhouding met Jehovah.—Matteus 6:14, 15; Romeine 14:19.

WANNEER ONS NIE MEER MET IEMAND MOET OMGAAN NIE

19. Watter situasies kan ontstaan wat dit vir ons nodig maak om op te hou om met iemand om te gaan?

19 Soms word daar van ons verwag om op te hou om met iemand om te gaan wat ’n lid van die gemeente was. Hierdie situasie ontstaan wanneer iemand wat God se wet onberouvol skend, uitgesit word of wanneer iemand die geloof verwerp deur valse leerstellings te verkondig of deur hom van die gemeente te dissosieer. God se Woord sê duidelik vir ons om “op te hou om met [sulke persone] om te gaan” (1 Korintiërs 5:11-13; 2 Johannes 9-11). * Dit is dalk ’n ware uitdaging om iemand te vermy wat moontlik ’n vriend was of wat aan ons verwant is. Sal ons ’n sterk standpunt inneem en daardeur toon dat ons lojaliteit aan Jehovah en sy regverdige wette bo alle ander dinge stel? Onthou dat Jehovah lojaliteit en gehoorsaamheid baie hoog op prys stel.

20, 21. (a) Waarom is die uitsettingsreëling ’n liefdevolle voorsiening? (b) Waarom is dit noodsaaklik dat ons ons metgeselle verstandig kies?

20 Die uitsettingsreëling is in werklikheid ’n liefdevolle voorsiening van Jehovah. Hoe so? As ’n onberouvolle sondaar uitgesit word, toon dit liefde vir Jehovah se heilige naam en alles wat dit verteenwoordig (1 Petrus 1:15, 16). Uitsetting beskerm die gemeente. Getroue lede word teen die onheilsame invloed van moedswillige sondaars beskerm en kan hulle aanbidding beoefen met die wete dat die gemeente ’n veilige toevlugsoord is in hierdie goddelose wêreld (1 Korintiërs 5:7; Hebreërs 12:15, 16). Die streng dissipline toon liefde vir die oortreder. Dit is dalk net die skok wat hy nodig het om tot sy sinne te kom en die nodige stappe te doen om na Jehovah terug te keer.—Hebreërs 12:11.

21 Ons kan nie ontken dat ons intieme metgeselle ’n groot invloed op ons kan hê nie. Dit is dus noodsaaklik dat ons ons metgeselle verstandig kies. Deur Jehovah se vriende ons vriende te maak, deur lief te wees vir dié vir wie God lief is, sal ons ons omring met die beste metgeselle wat daar is. Wat ons van hulle absorbeer, sal ons help om ons vaste voorneme om Jehovah gelukkig te maak, na te leef.

^ par. 2 Die Hebreeuse woord wat vertaal word as “inlaat”, word ook vertaal as ‘geselskap hou’ en “omgaan”.—Rigters 14:20; Spreuke 22:24.

^ par. 4 Deur dit van Abraham te vra, het Jehovah ’n voorskou gegee van die opoffering wat hy self sou maak deur sy enigverwekte Seun as offer te voorsien (Johannes 3:16). In Abraham se geval het Jehovah tussenbeide getree en ’n ram in die plek van Isak voorsien.—Genesis 22:1, 2, 9-13.

^ par. 9 Dawid was ’n jong man—“nog maar ’n seun”—toe hy vir Goliat doodgemaak het en was omtrent 30 toe Jonatan gesterf het (1 Samuel 17:33; 31:2; 2 Samuel 5:4). Jonatan, wat omtrent 60 was toe hy gesterf het, was klaarblyklik sowat 30 jaar ouer as Dawid.

^ par. 10 Soos in 1 Samuel 23:17 opgeteken staan, het Jonatan vyf dinge gesê om Dawid aan te moedig: (1) Hy het Dawid aangespoor om nie bang te wees nie. (2) Hy het Dawid verseker dat Saul se pogings sou misluk. (3) Hy het Dawid daaraan herinner dat hy die koningskap sou ontvang, soos God belowe het. (4) Hy het belowe om lojaal te wees aan Dawid. (5) Hy het vir Dawid gesê dat selfs Saul geweet het van Jonatan se lojaliteit aan Dawid.

^ par. 19 Vir meer inligting oor hoe om uitgesette of gedissosieerde persone te behandel, sien die onderwerp in die Aanhangsel, “Hoe om ’n uitgesette persoon te behandel.”