Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 8

God is lief vir rein mense

God is lief vir rein mense

“Teenoor die een wat rein bly, sal u u rein betoon.”—PSALM 18:26.

1-3. (a) Waarom maak ’n ma seker dat haar seuntjie netjies en skoon is? (b) Waarom wil Jehovah hê dat sy aanbidders rein moet wees, en wat spoor ons aan om rein te wil bly?

’N MA maak haar seuntjie reg om uit te gaan. Sy sorg dat hy gebad is en dat sy klere netjies en skoon is. Sy weet dat goeie higiëne noodsaaklik is vir sy gesondheid. Sy besef ook dat haar seun se voorkoms sy ouers in ’n goeie of slegte lig kan stel.

2 Jehovah, ons hemelse Vader, wil hê dat sy knegte rein moet wees. Sy Woord sê: “Teenoor die een wat rein bly, sal u u rein betoon” (Psalm 18:26). * Jehovah is lief vir ons; hy weet dat dit vir ons eie beswil is om rein te bly. Hy verwag ook dat ons as sy Getuies hom tot eer moet strek. Ja, ons rein voorkoms en goeie gedrag sal Jehovah en sy heilige naam tot eer strek, nie tot oneer nie.—Esegiël 36:22; 1 Petrus 2:12.

3 Die wete dat God lief is vir rein mense, spoor ons aan om rein te bly. Ons wil hê dat ons lewenswyse hom tot eer moet strek, want ons is lief vir hom. Ons wil ook in sy liefde bly. Kom ons ondersoek dan waarom ons rein moet bly, wat dit behels om rein te wees en hoe ons ons rein kan hou. So ’n ondersoek kan ons help om te sien of daar gebiede is waarop ons moet verbeter.

WAAROM MOET ONS REIN BLY?

4, 5. (a) Wat is die vernaamste rede waarom ons rein moet bly? (b) Hoe kan Jehovah se reinheid in sy sigbare skeppingswerke gesien word?

4 Een manier waarop Jehovah ons lei, is deur sy voorbeeld. Sy Woord spoor ons dus aan om “navolgers van God” te word (Efesiërs 5:1). Dít is die belangrikste rede waarom ons rein moet bly: Jehovah, die God wat ons aanbid, is in elke opsig rein, suiwer en heilig.—Levitikus 11:44, 45.

5 Jehovah se reinheid kan, soos soveel van sy eienskappe en weë, in sy sigbare skeppingswerke gesien word (Romeine 1:20). Die aarde is ontwerp om ’n rein tuiste vir die mens te wees. Jehovah het ekologiese siklusse in werking gestel wat ons lug en water reinig. Sekere mikrobes tree as ’t ware op as skoonmakers en omskep afvalstowwe in onskadelike produkte. Wetenskaplikes het party van hierdie honger mikro-organismes ingespan om oliestortings en ander besoedeling op te ruim wat deur die selfsug en gierigheid van mense veroorsaak is. Dit is duidelik dat reinheid vir “die Maker van die aarde” belangrik is (Jeremia 10:12). Dit moet ook vir ons belangrik wees.

6, 7. Hoe het die Mosaïese Wet beklemtoon dat reinheid vereis word van diegene wat Jehovah aanbid?

6 Nog ’n rede waarom ons rein moet bly, is dat Jehovah, ons Soewereine Heerser, reinheid van sy aanbidders vereis. Onder die Wet wat Jehovah aan Israel gegee het, was reinheid en aanbidding onlosmaaklik verbonde aan mekaar. Die Wet het bepaal dat die hoëpriester hom op die Versoendag nie net een keer moes bad nie, maar twee keer (Levitikus 16:4, 23, 24). Wanneer priesters diens gedoen het, moes hulle hulle hande en voete was voordat hulle offerandes aan Jehovah gebring het (Eksodus 30:17-21; 2 Kronieke 4:6). Die Wet het sowat 70 oorsake van fisiese onreinheid en seremoniële verontreiniging uiteengesit. Terwyl ’n Israeliet in ’n onrein toestand was, kon hy geen deel aan aanbidding hê nie—in sekere gevalle op straf van die dood (Levitikus 15:31). Enigiemand wat geweier het om die vereiste reinigingsprosedure te volg, wat ingesluit het dat hy sy liggaam en sy klere was, moes “uitgeroei word onder die gemeente uit”.—Numeri 19:17-20.

7 Hoewel ons nie onder die Mosaïese Wet is nie, gee dit ons insig in God se denke oor sake. Dit is duidelik dat die Wet beklemtoon het dat reinheid vereis word van diegene wat God aanbid. Jehovah het nie verander nie (Maleagi 3:6). Ons aanbidding kan nie vir hom aanneemlik wees tensy dit “rein en onbesmet” is nie (Jakobus 1:27). Ons moet dus weet wat hy in hierdie verband van ons verwag.

WAT REINHEID IN GOD SE OË BEHELS

8. In watter opsigte verwag Jehovah van ons om rein te bly?

8 In die Bybel hou die gedagte om rein te wees, verband met meer as net fisiese reinheid. Om in God se oë rein te wees, raak alle aspekte van ons lewe. Jehovah verwag van ons om in vier basiese opsigte rein te bly—geestelik, sedelik, verstandelik en fisies. Kom ons kyk wat elkeen van hierdie aspekte behels.

9, 10. Wat beteken dit om geestelik rein te bly, en wat vermy ware Christene?

9 Geestelike reinheid. Eenvoudig gestel, om geestelik rein te bly, beteken dat ware aanbidding nie met valse aanbidding gemeng moet word nie. Toe die Israeliete Babilon verlaat het om na Jerusalem terug te keer, moes hulle op hierdie geïnspireerde vermaning ag slaan: “Gaan daar uit, raak aan niks wat onrein is nie; . . . hou julle rein” (Jesaja 52:11). Die Israeliete het na hulle vaderland teruggekeer hoofsaaklik om Jehovah se aanbidding te herstel. Hierdie aanbidding moes rein wees—onbesmet deur enige van die godonterende leringe, gebruike en gewoontes van Babiloniese godsdiens.

10 As ware Christene moet ons vandag versigtig wees om nie besoedel te word deur valse aanbidding nie (1 Korintiërs 10:21). Dit is noodsaaklik om in hierdie verband versigtig te wees, want die invloed van valse godsdiens is deurdringend. In baie lande hou verskillende tradisies, aktiwiteite en rituele verband met valse godsdiensleringe, soos die opvatting dat iets binne-in ons ná die dood voortleef (Prediker 9:5, 6, 10). Ware Christene vermy gebruike waarby valse godsdiensopvattings betrokke is. * Ons sal nie toelaat dat druk van ander ons die Bybel se standaarde van rein aanbidding laat prysgee nie.—Handelinge 5:29.

11. Wat behels sedelike reinheid, en waarom is dit noodsaaklik dat ons in hierdie opsig rein bly?

11 Sedelike reinheid. Om sedelik rein te bly, sluit in dat ons enige soort geslagsonsedelikheid vermy (Efesiërs 5:5). Dit is noodsaaklik dat ons sedelik rein bly. Soos ons in die volgende hoofstuk van hierdie boek sal sien, moet ons “vlug vir die hoerery” as ons in God se liefde wil bly. Onberouvolle hoereerders “sal [nie] God se koninkryk beërf nie” (1 Korintiërs 6:9, 10, 18). In God se oë is sulke persone onder diegene wat “walglik is in hulle vuilheid”. As hulle nie sedelik rein bly nie, sal “hulle deel . . . die tweede dood” wees.—Openbaring 21:8.

12, 13. Watter verband bestaan daar tussen gedagtes en dade, en hoe kan ons verstandelik rein bly?

12 Verstandelike reinheid. Gedagtes lei tot dade. As ons toelaat dat verkeerde gedagtes in ons verstand en hart wortelskiet, sal ons heel waarskynlik vroeër of later onrein dade pleeg (Matteus 5:28; 15:18-20). Maar as ons ons verstand met suiwer, rein gedagtes vul, kan dit ons motiveer om rein gedrag te handhaaf (Filippense 4:8). Hoe kan ons verstandelik rein bly? Om maar een ding te noem, ons moet alle vorme van vermaak vermy wat ons denke kan besoedel. * Daarbenewens kan ons ons verstand met rein gedagtes vul deur God se Woord gereeld te bestudeer.—Psalm 19:8, 9.

13 As ons in God se liefde wil bly, is dit noodsaaklik dat ons geestelik, sedelik en verstandelik rein bly. Hierdie aspekte van reinheid word in ander hoofstukke van hierdie publikasie breedvoeriger bespreek. Kom ons kyk nou na die vierde aspek—fisiese reinheid.

HOE KAN ONS FISIES REIN BLY?

14. Waarom is fisiese reinheid nie net ’n persoonlike saak nie?

14 Fisiese reinheid behels dat ons ons liggaam en omgewing skoon hou. Is hierdie reinheid ’n persoonlike saak wat niemand anders aangaan nie? Dit sou sekerlik nie die geval wees vir aanbidders van Jehovah nie. Soos ons reeds gesê het, is ons fisiese reinheid vir Jehovah belangrik, nie net omdat dit vir ons eie beswil is nie, maar ook omdat ons hom daardeur in ’n goeie of slegte lig stel. Dink aan die illustrasie wat aan die begin gebruik is. As jy ’n kind sien wat altyd vuil of slordig is, laat dit jou wonder oor sy ouers, nie waar nie? Ons sou nie wou hê dat enigiets omtrent ons voorkoms of lewenswyse ons hemelse Vader tot oneer moet strek of afbreuk moet doen aan die boodskap wat ons verkondig nie. God se Woord sê: “In geen opsig gee ons enige rede tot struikeling nie, sodat daar nie met ons bediening foutgevind sal word nie; maar in elke opsig beveel ons ons as God se bedienaars aan” (2 Korintiërs 6:3, 4). Hoe kan ons dan fisies rein bly?

15, 16. Wat sluit goeie gewoontes met betrekking tot higiëne in, en wat moet van ons klere gesê kan word?

15 Ons persoonlike higiëne en voorkoms. Hoewel kulture en lewensomstandighede van land tot land verskil, kan ons gewoonlik genoeg seep en water vind om ons gereeld te was en om seker te maak dat ons en ons kinders skoon is. Goeie gewoontes met betrekking tot higiëne sluit in dat ons altyd ons hande met seep en water was voordat ons eet of kos hanteer, nadat ons die toilet gebruik het en nadat ons ’n baba gebad het of sy doek omgeruil het. As ons ons hande met seep en water was, kan dit siektes voorkom en selfs lewens red. Dit kan keer dat skadelike virusse en bakterieë versprei en kan mense sodoende help om diarreïese siektes te voorkom. In lande waar huise nie oor die algemeen aan ’n rioolstelsel gekoppel is nie, kan daar moontlik van afvalstowwe ontslae geraak word deur dit te begrawe, soos in eertydse Israel.—Deuteronomium 23:12, 13.

16 Ons klere moet ook gereeld gewas word om skoon en netjies te wees. ’n Christen se klere hoef nie duur of volgens die nuutste mode te wees nie, maar dit moet netjies, skoon en beskeie wees (1 Timoteus 2:9, 10). Ongeag waar ons is, ons wil hê dat ons voorkoms “die leer van ons Redder, God, . . . versier”.—Titus 2:10.

17. Waarom moet ons huis en omgewing skoon en netjies wees?

17 Ons huis en omgewing. Ons huis hoef nie spoggerig of weelderig te wees nie, maar dit moet so skoon en netjies wees as wat omstandighede toelaat. As ons ’n motor gebruik vir vervoer na vergaderinge en in die veldbediening, kan ons ook ons bes doen om dit redelik skoon te hou, binne sowel as buite. Ons moenie vergeet dat ’n skoon huis en omgewing al klaar ’n getuienis is nie. Ons leer mense immers dat Jehovah ’n rein God is, dat hy “die verderwers van die aarde [gaan] verderf” en dat sy Koninkryk binnekort ons aardse tuiste in ’n paradys gaan omskep (Openbaring 11:18; Lukas 23:43). Ons wil ongetwyfeld hê dat die voorkoms van ons huis en besittings aan ander moet toon dat ons nou reeds rein gewoontes aankweek wat by die komende nuwe wêreld sal pas.

Fisiese reinheid behels dat ons ons liggaam en omgewing skoon hou

18. Hoe kan ons respek toon vir ons Koninkryksaal?

18 Ons plek van aanbidding. Ons liefde vir Jehovah beweeg ons om respek te toon vir ons Koninkryksaal, ’n sentrum van ware aanbidding in die omgewing. Wanneer nuwelinge na die saal toe kom, wil ons hê dat hulle ’n goeie indruk van ons vergaderplek moet kry. Die saal moet gereeld skoongemaak en goed in stand gehou word om te verseker dat dit aantreklik bly. Ons toon respek vir ons Koninkryksaal deur alles in ons vermoë te doen om dit in ’n goeie toestand te hou. Dit is ’n voorreg om ons tyd vrywillig aan te bied om ons plek van aanbidding skoon te maak en “op te knap en te herstel” (2 Kronieke 34:10). Dieselfde beginsels is van toepassing wanneer ons by ’n Byeenkomssaal of elders bymekaarkom vir byeenkomste.

ONS REINIG ONS VAN VERONTREINIGENDE GEWOONTES EN GEBRUIKE

19. Wat moet ons vermy sodat ons fisies rein kan bly, en hoe help die Bybel ons in hierdie opsig?

19 Om fisies rein te bly, moet ons verontreinigende gewoontes en gebruike vermy, soos rook, alkoholmisbruik en die niemediese gebruik van verslawende of bewussynsveranderende middels. Die Bybel noem nie spesifiek al die onrein en afstootlike gewoontes en gebruike wat vandag algemeen is nie, maar dit bevat wel beginsels wat ons help om te onderskei hoe Jehovah oor sulke dinge voel. Omdat ons weet hoe Jehovah sake beskou, beweeg ons liefde vir hom ons om die weg in te slaan wat sy goedkeuring meebring. Kom ons kyk na vyf skriftuurlike beginsels.

20, 21. Van watter soort gebruike wil Jehovah hê dat ons vry moet wees, en watter kragtige rede het ons om hierdie vereiste na te kom?

20 “Aangesien ons dan hierdie beloftes het, geliefdes, laat ons ons van elke verontreiniging van die vlees en die gees reinig en heiligheid in die vrees van God tot volmaaktheid bring” (2 Korintiërs 7:1). Jehovah wil hê dat ons vry moet wees van gebruike wat ons vleeslike liggaam besoedel en ons gees, of oorheersende geestesneiging, skaad. Daarom moet ons ook verslawende gedrag vermy wat ons weet skadelik sal wees vir ons fisiese en geestesgesondheid.

21 Die Bybel gee ’n kragtige rede waarom ons “ons van elke verontreiniging [moet] reinig”. Let op dat 2 Korintiërs 7:1 begin deur te sê: “Aangesien ons . . . hierdie beloftes het.” Watter beloftes? Soos in die vorige verse genoem word, belowe Jehovah: “Ek sal julle inneem. En ek sal vir julle ’n vader wees” (2 Korintiërs 6:17, 18). Dink net: Jehovah belowe om jou onder sy beskermende sorg te neem en om jou lief te hê soos ’n vader sy seun of dogter liefhet. Maar Jehovah sal hierdie beloftes slegs nakom as jy verontreinigings van “die vlees en die gees” vermy. Hoe dwaas sou dit dan tog wees as jy toelaat dat enige afstootlike gewoonte of gebruik jou van so ’n kosbare en innige verhouding met Jehovah beroof!

22-25. Watter skriftuurlike beginsels kan ons help om onrein gewoontes en gebruike te vermy?

22 “Jy moet Jehovah jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand” (Matteus 22:37). Jesus het hierdie gebod as die allergrootste uitgesonder (Matteus 22:38). Jehovah verdien sulke liefde van ons. Om hom met ons hele hart, siel en verstand lief te hê, verg dat ons gebruike vermy wat ons lewe kan verkort of wat ons godgegewe denkvermoëns kan verswak.

23 “[Jehovah gee] aan almal lewe en asem en alles” (Handelinge 17:24, 25). Lewe is ’n gawe van God. Ons is lief vir die Gewer, en daarom wil ons respek toon vir die gawe. Ons vermy enige gewoontes of gebruike wat skadelik is vir ons gesondheid, want ons besef dat sulke gebruike ’n groot gebrek aan respek vir die gawe van lewe toon.—Psalm 36:9.

24 “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself” (Matteus 22:39). Onrein gewoontes en gebruike raak dikwels nie net die een wat dit beoefen nie, maar ook dié om hom. Blootstelling aan tweedehandse rook kan byvoorbeeld ’n skadelike uitwerking op nierokers hê. Iemand wat dié om hom skade aandoen, oortree die goddelike vereiste dat ons ons naaste moet liefhê. Hy weerspreek ook enige bewering dat hy God liefhet.—1 Johannes 4:20, 21.

25 “[Wees] onderdanig en gehoorsaam . . . aan regerings en owerhede as heersers” (Titus 3:1). In baie lande is dit teen die wet om sekere dwelms te besit of te gebruik. As ware Christene besit of gebruik ons nie onwettige dwelms nie.—Romeine 13:1.

26. (a) Wat moet ons doen om in God se liefde te bly? (b) Waarom is om in God se oë rein te bly, die beste manier om te lewe?

26 Om in God se liefde te bly, moet ons rein bly, nie net op een of twee gebiede nie, maar op alle gebiede. Dit is dalk nie maklik om verontreinigende gewoontes en gebruike af te lê en daarvan weg te bly nie, maar dit is moontlik. * Daar is werklik geen beter manier om te lewe nie, want Jehovah leer ons altyd om onsself te bevoordeel (Jesaja 48:17). Maar die belangrikste is dat ons, deur rein te bly, bevrediging kan put uit die wete dat ons die God vir wie ons lief is, tot eer strek, en dat ons sodoende in sy liefde bly.

^ par. 2 Die Hebreeuse woord wat met “rein” vertaal word, beskryf nie net fisiese reinheid nie, maar ook sedelike of geestelike reinheid.

^ par. 12 Hoe om heilsame vermaak te kies, word in Hoofstuk 6 van hierdie publikasie bespreek.

^ par. 67 Naam is verander.