Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 9

“Vlug vir die hoerery”

“Vlug vir die hoerery”

“Maak dan dood julle liggaamsdele wat op die aarde is ten opsigte van hoerery, onreinheid, geslagsdrif, skadelike begeertes en hebsug, wat afgodediens is.”—KOLOSSENSE 3:5.

1, 2. Hoe het Bileam ’n slinkse plan beraam om Jehovah se volk skade te berokken?

DIE visserman gaan na sy geliefkoosde visvangplek. Hy het ’n spesifieke soort vis in gedagte. Hy kies ’n lokaas en gooi sy lyn in die water. Oomblikke later span die lyn styf, die stok buig, en hy katrol sy vangs in. Hy glimlag omdat hy weet dat hy die regte lokaas gekies het.

2 In die jaar 1473 v.G.J. het ’n man met die naam Bileam hard gedink aan ’n lokmiddel. Die prooi wat hy in gedagte gehad het, was egter God se volk, wat in tente gebly het op die vlaktes van Moab, op die grens van die Beloofde Land. Bileam het voorgegee dat hy ’n profeet van Jehovah is, terwyl hy in werklikheid niks anders was as ’n gierige man wat gehuur is om Israel te vervloek nie. Maar danksy Jehovah se tussenkoms kon Bileam Israel net seën. Bileam was vasbeslote om sy beloning te verdien en het geredeneer dat hy God moontlik sover kon kry om sy eie volk te vervloek as hulle maar net versoek kon word om growwe sonde te pleeg. Met dié doel in gedagte het Bileam sy lokmiddel gekies—die verleidelike jong vroue van Moab.—Numeri 22:1-7; 31:15, 16; Openbaring 2:14.

3. Hoe suksesvol was Bileam se plan?

3 Het hierdie strategie gewerk? In ’n mate, ja. Tienduisende Israelitiese mans is verlok en het “onsedelike gemeenskap met die dogters van Moab” gehou. Hulle het selfs begin om Moabitiese gode te aanbid, waaronder die afstootlike Baäl van Peor, ’n god van vrugbaarheid, oftewel seks. As gevolg daarvan het 24 000 Israeliete daar op die grens van die Beloofde Land gesterf. Wat ’n enorme tragedie was dit tog nie!—Numeri 25:1-9.

4. Waarom het duisende Israeliete voor onsedelikheid geswig?

4 Wat het aanleiding gegee tot hierdie ramp? Baie van die volk het ’n goddelose hart ontwikkel omdat hulle hulle teruggetrek het van Jehovah, die God wat hulle uit Egipte verlos het, hulle in die wildernis gevoed het en hulle veilig na die beloofde land gelei het (Hebreërs 3:12). In verband met hierdie saak het die apostel Paulus geskryf: “Laat ons ook nie hoerery beoefen, soos party van hulle hoerery gepleeg het nie, sodat hulle geval het, drie-en-twintigduisend van hulle op een dag.” *1 Korintiërs 10:8.

5, 6. Waarom is die verslag oor Israel se sonde op die vlaktes van Moab vandag vir ons van groot nut?

5 Die verslag in Numeri bevat talle belangrike lesse vir God se volk van vandag, wat op die drumpel van ’n baie groter beloofde land staan (1 Korintiërs 10:11). Byvoorbeeld, die wêreld se obsessie met seks weerspieël dié van die eertydse Moabiete, maar op ’n veel groter skaal. Daarbenewens swig duisende Christene elke jaar voor onsedelikheid—basies dieselfde lokaas waardeur die Israeliete gevang is (2 Korintiërs 2:11). En in navolging van Simri, wat vermetel genoeg was om ’n Midianitiese vrou tot in die Israelitiese kamp na sy eie tent te bring, het party wat vandag met God se volk assosieer, ’n verderflike invloed in die Christengemeente geword.—Numeri 25:6, 14; Judas 4.

6 Sien jy jouself op die hedendaagse vlaktes van Moab? Kan jy jou beloning—die langverwagte nuwe wêreld—op die horison sien? Indien wel, doen dan alles in jou vermoë om in God se liefde te bly deur gehoor te gee aan die gebod: “Vlug vir die hoerery.”—1 Korintiërs 6:18.

Uitsig oor die vlaktes van Moab

WAT IS HOERERY?

7, 8. Wat is “hoerery”, en hoe maai dié wat dit beoefen, wat hulle saai?

7 Soos dit in die Bybel gebruik word, is “hoerery” (Grieks, por·neiʹa) van toepassing op ongeoorloofde geslagsomgang buite ’n skriftuurlike huwelik. Dit sluit egbreuk, prostitusie en geslagsomgang tussen ongetroude persone in, sowel as orale en anale seks en die seksuele manipulering van die geslagsorgane van iemand wat nie jou huweliksmaat is nie. Dit sluit ook sulke dade tussen lede van dieselfde geslag in, sowel as bestialiteit. *

8 Die Skrif stel dit baie duidelik: Diegene wat hoerery beoefen, kan nie in die Christengemeente bly nie en sal nie die ewige lewe ontvang nie (1 Korintiërs 6:9; Openbaring 22:15). Wat meer is, hulle bring nou reeds baie probleme oor hulleself, soos ’n verlies aan vertroue en selfrespek, onenigheid in die huwelik, ’n skuldige gewete, ongewenste swangerskappe, siekte en selfs die dood (Galasiërs 6:7, 8). Waarom sou ’n mens ’n weg wou inslaan wat tot soveel ellende lei? Ongelukkig dink baie nie so ver vooruit wanneer hulle die eerste verkeerde tree gee nie—waarby pornografie heel dikwels betrokke is.

PORNOGRAFIE—’N EERSTE STAP

9. Is pornografie onskadelik, soos party beweer? Verduidelik.

9 In baie lande vind ’n mens pornografie by koerantstalletjies, in musiek en op die televisie, en die Internet is byna deurtrek daarvan. * Is dit onskadelik, soos party beweer? Beslis nie! Diegene wat na pornografie kyk, kan gewoontemasturbeerders word en “skandelike geslagsdrifte” aankweek, wat ’n verslawing aan seks, perverse begeertes, ernstige onenigheid in die huwelik en selfs egskeiding tot gevolg kan hê (Romeine 1:24-27; Efesiërs 4:19). * ’n Navorser vergelyk seksverslawing met kanker. “Dit hou aan om te groei en te versprei”, sê hy. “Min mense herstel ooit daarvan, en die toestand is ook baie moeilik om te behandel en te genees.”

Dit is verstandig om gebruik van die Internet tot ’n openbare deel van die huis te beperk

10. Op watter maniere kan ons die beginsel in Jakobus 1:14, 15 toepas? (Sien ook die venster “ Ek het die krag gevind om sedelik rein te wees.”)

10 Dink aan die woorde wat in Jakobus 1:14, 15 opgeteken staan, waar ons lees: “Elkeen word beproef deurdat hy deur sy eie begeerte meegesleep en verlok word. Daarna, wanneer die begeerte vrugbaar geword het, baar dit sonde; en wanneer die sonde volbring is, bring dit die dood voort.” As ’n slegte begeerte dus by jou opkom, tree onmiddellik op om daarvan ontslae te raak! As jy byvoorbeeld toevallig erotiese beelde sien, kyk vinnig weg, sit die rekenaar af of skakel oor na ’n ander kanaal op die TV. Doen wat ook al nodig is om te keer dat jy voor die onsedelike begeerte swig, voordat dit buite beheer raak en dit jou oorweldig!—Matteus 5:29, 30.

11. Hoe kan ons ons vertroue op Jehovah toon wanneer ons teen verkeerde begeertes stry?

11 Die Een wat ons beter ken as wat ons onsself ken, vermaan ons met goeie rede: “Maak dan dood julle liggaamsdele wat op die aarde is ten opsigte van hoerery, onreinheid, geslagsdrif, skadelike begeertes en hebsug, wat afgodediens is” (Kolossense 3:5). Om dit te doen, kan weliswaar ’n uitdaging wees. Maar onthou dat ons ’n liefdevolle en geduldige hemelse Vader het wat ons om hulp kan vra (Psalm 68:19). Nader hom dus sonder om te huiwer wanneer verkeerde gedagtes by jou opkom. Bid vir “krag wat bo die normale is”, en dwing jou om op ander dinge te konsentreer.—2 Korintiërs 4:7; 1 Korintiërs 9:27; sien die venster “ Hoe kan ek ’n slegte gewoonte te bowe kom?

12. Wat is ons “hart”, en waarom moet ons dit bewaak?

12 Die wyse man Salomo het geskryf: “Bewaak jou hart meer as enigiets anders wat bewaar moet word, want daaruit is die oorspronge van die lewe” (Spreuke 4:23). Ons “hart” is ons innerlike mens, wat ons werklik as ’n persoon in God se oë is. Daarbenewens is dit God se beskouing van ons “hart”—nie hoe ons vir ander lyk nie—wat sal bepaal of ons die ewige lewe sal ontvang of nie. Dit is só eenvoudig. Dit is ook só ernstig. Die getroue Job het ’n verbond, of formele ooreenkoms, met sy oë gesluit sodat hy nie op onbehoorlike wyse na ’n vrou sou kyk nie (Job 31:1). Wat ’n goeie voorbeeld is hy tog vir ons! ’n Psalmis het dieselfde gesindheid geopenbaar en gebid: “Wend my oë af, sodat hulle niks sien wat waardeloos is nie.”—Psalm 119:37.

DINA SE ONWYSE KEUSE

13. Wie was Dina, en waarom was haar keuse van vriende onwys?

13 Soos ons in Hoofstuk 3 gesien het, kan ons vriende ’n kragtige invloed op ons hê, hetsy goed of sleg (Spreuke 13:20; 1 Korintiërs 15:33). Dink aan die voorbeeld van Dina, ’n dogter van die aartsvader Jakob (Genesis 34:1). Al is sy goed grootgemaak, het Dina onwyslik vriende gemaak met Kanaänitiese meisies. Soos die Moabiete, was die Kanaäniete berug vir hulle onsedelikheid (Levitikus 18:6-25). In die oë van Kanaänitiese mans, insluitende Sigem—“die mees geëerde” in sy vader se huis—was Dina net nog ’n meisie waarop hulle kon jag maak.—Genesis 34:18, 19.

14. Hoe het Dina se keuse van vriende tragiese gevolge gehad?

14 Dina het heel waarskynlik nie aan geslagsomgang gedink toe sy Sigem gesien het nie. Maar hy het gedoen wat vir die meeste Kanaäniete natuurlik was wanneer hulle seksueel geprikkel is. Enige weerstand wat Dina op die laaste oomblik gebied het, het niks gehelp nie, want hy het haar “geneem” en “haar onteer”. Sigem het blykbaar later op Dina “verlief geraak”, maar dit het niks verander aan wat hy gedoen het nie (Genesis 34:1-4). En Dina was nie die enigste een wat as gevolg hiervan gely het nie. Haar keuse van vriende het ’n reeks gebeure aan die gang gesit wat skande en smaad oor haar hele familie gebring het.—Genesis 34:7, 25-31; Galasiërs 6:7, 8.

15, 16. Hoe kan ons ware wysheid verkry? (Sien ook die venster “ Tekste om oor te peins.”)

15 As Dina ’n belangrike les geleer het, het sy dit deur dure ondervinding geleer. Diegene wat Jehovah liefhet en gehoorsaam, hoef nie lewenslesse deur dure ondervinding te leer nie. Omdat hulle na God luister, kies hulle om ‘met wyses te wandel’ (Spreuke 13:20a). Sodoende leer hulle om “die hele weg van wat goed is” te verstaan en vermy hulle onnodige probleme en ellende.—Spreuke 2:6-9; Psalm 1:1-3.

16 Goddelike wysheid is beskikbaar aan almal wat daarna smag en wat optree in ooreenstemming met daardie begeerte deur in gebed te volhard en deur God se Woord en die materiaal wat deur ‘die getroue slaaf’-klas voorsien word, gereeld te bestudeer (Matteus 24:45; Jakobus 1:5). Nog ’n belangrike eienskap is nederigheid, wat weerspieël word in ’n bereidwilligheid om op skriftuurlike raad ag te slaan (2 Konings 22:18, 19). Byvoorbeeld, ’n Christen aanvaar dalk in beginsel dat sy hart verraderlik en desperaat kan wees (Jeremia 17:9). Maar is hy nederig genoeg om spesifieke, liefdevolle raad en hulp te aanvaar wanneer die situasie dit vereis?

17. Beskryf ’n situasie wat in ’n gesin kan ontstaan, en toon hoe ’n vader met sy dogter kan redeneer.

17 Stel jou hierdie situasie voor. ’n Vader laat sy dogter en ’n jong Christenman nie toe om sonder ’n chaperone uit te gaan nie. Die meisie sê: “Maar Pa, vertrou Pa my nie? Ons sal mos niks verkeerds doen nie!” Sy is heel moontlik lief vir Jehovah en het die beste bedoelings, maar ‘wandel sy in [goddelike] wysheid’? “Vlug [sy] vir die hoerery”? Of is sy dwaaslik besig om ‘op haar eie hart te vertrou’? (Spreuke 28:26). Moontlik kan jy aan nog beginsels dink wat so ’n vader en sy dogter kan help om oor die saak te redeneer.—Sien Spreuke 22:3; Matteus 6:13; 26:41.

JOSEF HET VIR DIE HOERERY GEVLUG

18, 19. Voor watter versoeking het Josef te staan gekom, en hoe het hy dit hanteer?

18 Josef, Dina se halfbroer, was ’n uitstekende voorbeeld van ’n jong persoon wat vir God lief was en vir die hoerery gevlug het (Genesis 30:20-24). As kind het Josef eerstehands die gevolge van sy suster se dwaasheid gesien. Ongetwyfeld het daardie herinneringe, sowel as Josef se begeerte om in God se liefde te bly, hom jare later in Egipte beskerm toe sy heer se vrou hom “dag na dag” probeer verlei het. As ’n slaaf kon Josef natuurlik nie eenvoudig sy bedanking indien en sodoende wegkom uit die situasie nie! Hy moes die situasie op ’n verstandige en moedige wyse hanteer. Hy het dit gedoen deur herhaaldelik vir Potifar se vrou nee te sê en, op die ou end, van haar af weg te vlug.—Genesis 39:7-12.

19 Dink hieraan: Sou Josef sy onkreukbaarheid kon behou het as hy oor die vrou gefantaseer of dikwels oor seks gedagdroom het? Heel waarskynlik nie. Maar Josef het nie sondige gedagtes bedink nie; hy het sy verhouding met Jehovah op prys gestel, wat duidelik blyk uit sy woorde aan Potifar se vrou. Hy het gesê: “My heer . . . het niks van my teruggehou nie, behalwe u, omdat u sy vrou is. Hoe kan ek dan hierdie groot kwaad doen en in werklikheid teen God sondig?”—Genesis 39:8, 9.

20. Hoe het Jehovah sake in die geval van Josef bewerk?

20 Stel jou voor hoe bly Jehovah was toe hy gesien het hoe die jong Josef, ver van sy gesin af, sy onkreukbaarheid dag na dag handhaaf (Spreuke 27:11). Later het Jehovah sake so bewerk dat Josef nie net uit die gevangenis vrygelaat is nie, maar ook as Egipte se eerste minister en voedseladministrateur aangestel is! (Genesis 41:39-49). Hoe waar is die woorde van Psalm 97:10 tog: “O julle wat Jehovah liefhet, haat die kwaad. Hy bewaar die siel van sy lojales; uit die hand van die goddeloses verlos hy hulle”!

21. Hoe het ’n jong broer in ’n Afrikaland sedelike moed aan die dag gelê?

21 Baie knegte van God toon vandag eweneens dat hulle “haat wat sleg is, en . . . lief [is] vir wat goed is” (Amos 5:15). ’n Jong broer in ’n Afrikaland vertel hoe ’n meisie in sy klas hom skaamteloos seks aangebied het as hy haar met ’n wiskundetoets sou help. “Ek het haar aanbod onmiddellik verwerp”, sê hy. “Deur my onkreukbaarheid te handhaaf, het ek my waardigheid en selfrespek behou, wat baie waardevoller is as goud en silwer.” Sonde bring weliswaar “tydelike genieting” mee, maar sulke kortstondige plesier veroorsaak dikwels baie pyn (Hebreërs 11:25). Boonop kan dit nie eers vergelyk word met die langdurige geluk wat deur gehoorsaamheid aan Jehovah meegebring word nie.—Spreuke 10:22.

AANVAAR HULP VAN DIE GOD VAN BARMHARTIGHEID

22, 23. (a) Waarom is die situasie van ’n Christen wat ’n ernstige sonde pleeg, nie hopeloos nie? (b) Watter hulp is aan ’n oortreder beskikbaar?

22 Omdat ons onvolmaak is, sukkel ons almal om vleeslike begeertes te beheers en te doen wat reg is in God se oë (Romeine 7:21-25). Jehovah is bewus hiervan, “gedagtig dat ons stof is” (Psalm 103:14). Maar soms pleeg ’n Christen dalk ’n ernstige sonde. Is sy situasie hopeloos? Beslis nie! Toegegee, die oortreder sal dalk, soos koning Dawid, die wrange vrugte daarvan pluk. Maar God is altyd “vergewensgesind” teenoor diegene wat berouvol is en hulle sondes ‘openlik bely’.—Psalm 86:5; Jakobus 5:16; Spreuke 28:13.

23 Daarbenewens het God die Christengemeente liefdevol voorsien van “gawes in die vorm van mense”—ryp geestelike herders wat bekwaam sowel as gretig is om te help (Efesiërs 4:8, 12; Jakobus 5:14, 15). Hulle doel is om ’n oortreder te help om sy verhouding met God te herstel en, in die woorde van die wyse man, ‘’n verstandige hart te verkry’ sodat hy nie weer die sonde pleeg nie.—Spreuke 15:32.

“VERKRY ’N VERSTANDIGE HART”

24, 25. (a) Hoe het die jong man wat in Spreuke 7:6-23 beskryf word, getoon dat hy “nie ’n verstandige hart het nie”? (b) Hoe kan ons ‘’n verstandige hart verkry’?

24 Die Bybel praat van mense “wat nie ’n verstandige hart het nie” en van dié wat ‘’n verstandige hart verkry’ (Spreuke 7:7). Weens geestelike onvolwassenheid en onervarenheid in God se diens kom iemand “wat nie ’n verstandige hart het nie”, moontlik onderskeidingsvermoë en goeie oordeel kort. Soos die jong man wat in Spreuke 7:6-23 beskryf word, kan hy makliker voor ernstige sonde swig. Maar “hy wat ’n verstandige hart verkry”, gee noukeurig aandag aan die innerlike persoon deur middel van gereelde, biddende studie van God se Woord. En so ver dit vir hom as onvolmaakte mens moontlik is, bring hy sy gedagtes, begeertes, emosies en doelwitte in die lewe in ooreenstemming met die dinge wat God se goedkeuring wegdra. Gevolglik “het [hy] sy siel lief”, of seën hy homself, en “gaan [hy] die goeie vind”.—Spreuke 19:8.

25 Vra jou af: ‘Is ek ten volle oortuig daarvan dat God se standaarde reg is? Glo ek vas dat die grootste geluk verkry kan word as ek daarby bly?’ (Psalm 19:7-10; Jesaja 48:17, 18). As jy selfs ’n bietjie twyfel, doen iets aan die saak. Peins oor die gevolge daarvan as ’n mens God se wette verontagsaam. “Smaak en sien dat Jehovah goed is” deur die waarheid uit te leef en jou verstand met heilsame gedagtes te vul—dinge wat waar, regverdig, kuis, lieflik en deugsaam is (Psalm 34:8; Filippense 4:8, 9). Jy kan seker wees dat hoe meer jy dít doen, hoe liewer sal jy God kry, hoe liewer sal jy word vir dinge wat hy liefhet en hoe meer sal jy haat wat hy haat. Josef was nie ’n supermens nie. Maar hy kon ‘vir die hoerery vlug’ omdat hy Jehovah oor baie jare heen toegelaat het om hom te vorm, om aan hom ’n verstandige hart te gee. Mag dit ook in jou geval waar wees.—Jesaja 64:8.

26. Watter belangrike onderwerp sal hierna bespreek word?

26 Ons Skepper het ons voortplantingsorgane gemaak, nie om op onverantwoordelike wyse vir blote genot gebruik te word nie, maar om ons in staat te stel om kinders voort te bring en intimiteit in die huwelik te geniet (Spreuke 5:18). God se beskouing van die huwelik sal in die volgende twee hoofstukke bespreek word.

^ par. 4 Die getal wat in Numeri aangegee word, het blykbaar “die hoofde van die volk” wat deur die regters tereggestel is, moontlik altesaam 1 000, ingesluit by dié wat regstreeks deur Jehovah tereggestel is.—Numeri 25:4, 5.

^ par. 7 Vir ’n bespreking van die betekenis van onreinheid en losbandige gedrag, sien “Vrae van lesers” in Die Wagtoring van 15 Julie 2006, uitgegee deur Jehovah se Getuies.

^ par. 9 “Pornografie”, soos dit hier gebruik word, verwys na die uitbeelding van erotiese materiaal, hetsy in prente, in skrif of mondelings, met die doel om seksuele prikkeling te veroorsaak. Pornografie kan wissel van ’n prent van ’n mens in ’n erotiese posisie tot uitbeeldings van die walglikste seksuele dade tussen twee of meer persone.

^ par. 9 Masturbasie word bespreek in die Aanhangsel onder “Behaal die oorwinning oor masturbasie.”