Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 11

‘Laat die huwelik eerbaar wees’

‘Laat die huwelik eerbaar wees’

“Verheug jou met die vrou van jou jeug.”—SPREUKE 5:18.

1, 2. Watter vraag gaan ons bespreek, en waarom?

IS JY getroud? Indien wel, maak jou huwelik jou gelukkig, of ondervind jy ernstige huweliksprobleme? Het jy en jou huweliksmaat van mekaar af weggedryf? Verduur jy net die getroude lewe sonder om dit te geniet? Indien wel, voel jy waarskynlik hartseer dat die hegte huweliksband wat jy voorheen gehad het, verswak het. As ’n Christen wil jy sekerlik hê dat jou huwelik Jehovah, die God wat jy liefhet, tot eer moet strek. Daarom is jou huidige omstandighede heel moontlik vir jou ’n bron van kommer en hartseer. Maar moenie tot die slotsom kom dat die situasie hopeloos is nie.

2 Vandag is daar voorbeeldige Christenegpare wie se huwelik voorheen nie werklik gelukkig was nie. En tog het hulle ’n manier gevind om hulle verhouding te versterk. Jou huwelik kan ook vir jou groter geluk meebring. Hoe?

KOM NADER AAN GOD EN JOU HUWELIKSMAAT

3, 4. Waarom sal huweliksmaats nader aan mekaar kom as hulle daarna streef om nader aan God te kom? Lig toe.

3 Jy en jou huweliksmaat sal nader aan mekaar kom as julle daarna streef om nader aan God te kom. Waarom? Dink aan hierdie illustrasie: Stel jou ’n keëlvormige berg voor—breed by die voet met ’n spits punt. ’n Man staan aan die voet van die noordelike helling, terwyl ’n vrou aan die ander kant staan, aan die voet van die suidelike helling. Albei begin klim. Terwyl albei nog na aan die voet van die berg is, is die afstand tussen hulle groot. Maar hoe hoër hulle klim, hoe kleiner word die afstand tussen hulle. Sien jy die bemoedigende les in hierdie illustrasie?

4 Die inspanning wat dit verg om Jehovah in volle mate te dien, kan vergelyk word met die inspanning wat nodig is om ’n berg te klim. Omdat jy Jehovah liefhet, span jy jou as ’t ware reeds kragtig in om te klim. Maar as jy en jou huweliksmaat van mekaar af weggedryf het, klim julle daardie berg moontlik van teenoorgestelde kante af. Wat gebeur egter namate julle hoër klim? Aan die begin is daar moontlik wel ’n groot afstand tussen julle. Maar hoe meer julle julle inspan om nader aan God te kom—om hoër te klim—hoe nader sal jy en jou maat aan mekaar kom. Ja, die sleutel om nader aan jou huweliksmaat te kom, is om nader aan God te kom. Maar hoe kan jy dit doen?

Wanneer Bybelkennis toegepas word, het dit die krag om jou huwelik te versterk

5. (a) Wat is een manier waarop ’n mens nader aan Jehovah en jou huweliksmaat kan kom? (b) Hoe beskou Jehovah die huwelik?

5 Een belangrike manier waarop jy en jou huweliksmaat as ’t ware die berg kan klim, is deur ag te slaan op die raad oor die huwelik in God se Woord (Psalm 25:4; Jesaja 48:17, 18). Dink dus aan hierdie spesifieke raad wat deur die apostel Paulus gegee is. Hy het gesê: “Laat die huwelik onder almal eerbaar wees” (Hebreërs 13:4). Wat beteken dit? Die woord “eerbaar” impliseer dat iets hooggeag word en kosbaar is. En dit is presies hoe Jehovah die huwelik beskou—as iets kosbaars.

JOU MOTIVERING—OPREGTE LIEFDE VIR JEHOVAH

6. Wat toon die konteks van Paulus se raad oor die huwelik, en waarom is dit belangrik om dit in gedagte te hou?

6 As knegte van God weet jy en jou huweliksmaat natuurlik reeds dat die huwelik kosbaar, selfs heilig, is. Jehovah self het die huweliksreëling ingestel (Matteus 19:4-6). Maar as jy tans huweliksprobleme ondervind, is die blote wete dat die huwelik eerbaar is, moontlik nie genoeg om jou en jou huweliksmaat te motiveer om mekaar met liefde en respek te behandel nie. Wat sal julle dan beweeg om dit te doen? Let noukeurig op die manier waarop Paulus die kwessie van eerbetoning behandel het. Hy het nie gesê: “Die huwelik is eerbaar” nie; hy het eerder gesê: “Laat die huwelik . . . eerbaar wees.” Hier het Paulus nie net ’n algemene opmerking gemaak nie; hy het ’n vermaning gegee. * As jy hierdie onderskeid in gedagte hou, kan dit jou help om meer gemotiveerd te voel om weer respek vir jou huweliksmaat op te bou. Waarom is dit die geval?

7. (a) Watter skriftuurlike gebooie gehoorsaam ons, en waarom? (b) Watter goeie resultate het gehoorsaamheid?

7 Dink vir ’n oomblik aan hoe jy ander skriftuurlike gebooie beskou, soos die opdrag om dissipels te maak of die vermaning om vir aanbidding te vergader (Matteus 28:19; Hebreërs 10:24, 25). Dit kan weliswaar soms ’n uitdaging wees om hierdie gebooie te gehoorsaam. Die mense vir wie jy preek, kan ongunstig reageer, of jou sekulêre werk kan jou so uitput dat dit baie moeilik is om Christelike vergaderinge by te woon. En tog hou jy aan om die Koninkryksboodskap te verkondig, en jy hou aan om Christelike vergaderinge by te woon. Niemand kan jou laat ophou om dit te doen nie—nie eers Satan nie! Waarom nie? Omdat jou opregte liefde vir Jehovah jou beweeg om sy gebooie te gehoorsaam (1 Johannes 5:3). Met watter goeie resultate? Dit bring vir jou innerlike vrede en ware vreugde mee as jy aan die predikingswerk deelneem en vergaderinge bywoon, omdat jy weet dat jy God se wil doen. En hierdie gevoelens gee jou weer nuwe krag (Nehemia 8:10). Watter les leer ons hieruit?

8, 9. (a) Wat kan ons beweeg om gehoorsaam te wees aan die vermaning om die huwelik te eer, en waarom? (b) Watter twee gedagtes sal ons nou bespreek?

8 Net soos jou innige liefde vir God jou beweeg om ondanks struikelblokke gehoorsaam te wees aan die gebooie om te preek en vergaderinge by te woon, kan jou liefde vir Jehovah jou ook beweeg om gehoorsaam te wees aan die skriftuurlike vermaning ‘laat jou huwelik eerbaar wees’, al lyk dit moeilik (Hebreërs 13:4; Psalm 18:29; Prediker 5:4). Daarbenewens, net soos jou pogings om aan die predikingswerk deel te neem en vergaderinge by te woon, ryklik deur God geseën word, sal jou pogings om jou huwelik te eer, ook deur Jehovah raakgesien en geseën word.—1 Tessalonisense 1:3; Hebreërs 6:10.

9 Hoe kan jy dan jou huwelik eerbaar maak? Jy moet gedrag vermy wat die huweliksreëling sal skaad. Daarbenewens moet jy stappe doen wat die huweliksband sal versterk.

VERMY SPRAAK EN GEDRAG WAT DIE EERBAARHEID VAN DIE HUWELIK SKAAD

10, 11. (a) Watter soort gedrag skaad die eerbaarheid van die huwelik? (b) Watter vraag moet ons met ons huweliksmaat bespreek?

10 ’n Christenvrou het ’n tyd gelede gesê: “Ek bid tot Jehovah vir krag om te volhard.” Waarin? Sy het verduidelik: “My man slaan my met woorde. Ek het dalk nie kneusplekke wat ander kan sien nie, maar sy gedurige snydende aanmerkings, soos ‘Jy’s ’n las!’ en ‘Jy’s niks werd nie!’ het letsels op my hart gelaat.” Hier raak sy ’n baie ernstige saak aan—die gebruik van smadende taal in die huwelik.

11 Hoe hartseer is dit tog wanneer huweliksmaats in ’n Christenhuis mekaar bitsige woorde toesnou, wat emosionele wonde kan veroorsaak wat nie maklik genees nie! ’n Huwelik wat deur kwetsende woorde gekenmerk word, is natuurlik nie eerbaar nie. Hoe vaar jou huwelik in dié opsig? Een manier om uit te vind, is deur jou huweliksmaat nederig te vra: “Hoe laat my woorde jou voel?” As jou maat voel dat jou woorde al baie maal emosionele wonde veroorsaak het, moet jy bereid wees om die situasie te verbeter.—Galasiërs 5:15; Efesiërs 4:31.

12. Hoe kan ’n mens se aanbidding vergeefs word in God se oë?

12 Hou goed in gedagte dat die manier waarop jy jou tong in die huwelik gebruik, jou verhouding met Jehovah raak. Die Bybel sê: “As iemand meen dat hy ’n vormlike aanbidder is en tog nie sy tong in toom hou nie, maar voortgaan om sy eie hart te bedrieg, dié man se vorm van aanbidding is vergeefs” (Jakobus 1:26). Jou spraak kan nie van jou aanbidding geskei word nie. Die Bybel ondersteun nie die idee dat enigiets wat by die huis gebeur, onbelangrik is solank ’n mens sê dat jy God dien nie. Moet jou asseblief nie bedrieg nie. Dit is ’n ernstige saak (1 Petrus 3:7). Jy is dalk bekwaam en ywerig, maar as jy jou maat doelbewus seermaak met snydende woorde, skaad jy die eerbaarheid van die huwelik en kan jou aanbidding in God se oë vergeefs wees.

13. Hoe kan ’n huweliksmaat emosionele pyn veroorsaak?

13 Huweliksmaats moet ook versigtig wees dat hulle nie op minder direkte maniere emosionele pyn veroorsaak nie. Dink aan twee voorbeelde: ’n Enkelmoeder bel gereeld vir ’n getroude Christenman in die gemeente om hom raad te vra, en hulle gesels lank oor die telefoon; ’n ongetroude Christenbroer doen elke week ure lank velddiens saam met ’n getroude Christensuster. Daar is moontlik niks fout met die bedoelings van die getroude persone in hierdie voorbeelde nie; maar watter uitwerking het hulle gedrag op hulle onderskeie huweliksmaats? ’n Vrou in so ’n situasie het gesê: “Om te sien hoe my man soveel tyd en aandag aan ’n ander suster in die gemeente gee, maak my seer. Dit laat my minderwaardig voel.”

14. (a) Op watter verpligting in die huwelik vestig Genesis 2:24 die aandag? (b) Wat moet ons ons afvra?

14 Dit is te verstane dat hierdie vrou en ander wat in ’n soortgelyke situasie in die huwelik verkeer, seergemaak sal voel. Hulle maats ignoreer God se basiese voorskrif vir die huwelik: “’n Man [sal] sy vader en sy moeder verlaat, en hy sal sy vrou aankleef” (Genesis 2:24). Diegene wat trou, moet natuurlik nog steeds hulle ouers respekteer; maar volgens God se reëling is hulle grootste verpligting teenoor hulle huweliksmaat. Net so het Christene hulle medegelowiges innig lief; maar hulle vernaamste verantwoordelikheid is teenoor hulle huweliksmaat. Wanneer getroude Christene dus te veel tyd saam met medegelowiges deurbring of te familiêr met hulle raak, veral met dié van die teenoorgestelde geslag, plaas hulle druk op die huweliksband. Is dit dalk ’n oorsaak van spanning in jou huwelik? Vra jou af: ‘Gee ek my maat werklik die tyd, aandag en liefde wat hom of haar toekom?’

15. Waarom moet getroude Christene, volgens Matteus 5:28, nie ongepaste aandag aan iemand van die teenoorgestelde geslag gee nie?

15 Wat meer is, getroude Christene wat ongepaste aandag gee aan persone van die teenoorgestelde geslag wat nie hulle huweliksmaat is nie, begewe hulle onwyslik op gevaarlike terrein. Ongelukkig het party getroude Christene romantiese gevoelens ontwikkel vir diegene met wie hulle te familiêr geraak het (Matteus 5:28). Hierdie emosionele bande het weer tot gedrag gelei wat die eerbaarheid van die huwelik selfs in groter mate skaad. Kom ons kyk na wat die apostel Paulus oor hierdie onderwerp gesê het.

“DIE HUWELIKSBED SONDER VERONTREINIGING”

16. Watter opdrag gee Paulus in verband met die huwelik?

16 Onmiddellik nadat Paulus die vermaning ‘laat die huwelik eerbaar wees’ gegee het, het hy hierdie waarskuwing bygevoeg: “[Laat] die huweliksbed sonder verontreiniging [wees], want God sal hoereerders en egbrekers oordeel” (Hebreërs 13:4). Paulus het die woord “huweliksbed” gebruik om na geslagsomgang te verwys. As geslagsomgang uitsluitlik binne die huweliksreëling plaasvind, sal dit “sonder verontreiniging”, of sedelik rein, wees. Daarom slaan Christene ag op die geïnspireerde woorde: “Verheug jou met die vrou van jou jeug.”—Spreuke 5:18.

17. (a) Waarom maak dit vir Christene nie saak wat die wêreld van egbreuk dink nie? (b) Hoe kan ons Job se voorbeeld volg?

17 Diegene wat geslagsomgang het met iemand wat nie hulle huweliksmaat is nie, toon growwe minagting vir God se sedewette. Vandag beskou baie mense egbreuk weliswaar as betreklik alledaagse gedrag. Maar wat ander mense moontlik van egbreuk dink, moenie Christene se beskouing daarvan beïnvloed nie. Hulle besef dat dit op die ou end nie mense is nie maar ‘God wat hoereerders en egbrekers sal oordeel’ (Hebreërs 10:31; 12:29). Daarom bly ware Christene by Jehovah se beskouing van hierdie saak (Romeine 12:9). Hou in gedagte dat die aartsvader Job gesê het: “’n Verbond het ek met my oë gesluit” (Job 31:1). Ja, ware Christene sorg dat hulle nie eers hulle voet op die pad sit wat dalk na egbreuk lei nie, deur hulle oë te beheer en nooit met begeerte te kyk na iemand van die teenoorgestelde geslag wat nie hulle huweliksmaat is nie.—Sien die onderwerp in die Aanhangsel, “Die Bybel se beskouing van egskeiding en skeiding.

18. (a) Hoe ernstig is egbreuk in Jehovah se oë? (b) Watter ooreenkoms is daar tussen egbreuk en afgodediens?

18 Hoe ernstig is egbreuk in Jehovah se oë? Die Mosa-iese Wet help ons om te besef hoe Jehovah oor die saak voel. In Israel was egbreuk en afgodediens onder die oortredings wat met die dood strafbaar was (Levitikus 20:2, 10). Kan jy ’n ooreenkoms tussen die twee sien? Wel, ’n Israeliet wat ’n afgod aanbid het, het sy verbond met Jehovah verbreek. Net so het ’n Israeliet wat egbreuk gepleeg het, sy verbond met sy huweliksmaat verbreek. Albei het verraderlik opgetree (Eksodus 19:5, 6; Deuteronomium 5:9; Maleagi 2:14). Gevolglik was albei skuldig voor Jehovah, die getroue en betroubare God.—Psalm 33:4.

19. Wat kan ons versterk in ons voorneme om egbreuk te vermy, en waarom?

19 Christene is natuurlik nie onder die Mosaïese Wet nie. Maar deur in gedagte te hou in watter ernstige lig egbreuk in eertydse Israel beskou is, kan Christene versterk word in hulle voorneme om hulle nie aan so iets skuldig te maak nie. Waarom? Dink aan hierdie vergelyking: Sal jy ooit in ’n kerk instap, voor ’n beeld kniel en daar bid? ‘Nooit nie!’ sal jy sê. Maar sal jy in die versoeking kom om dit te doen as jy ’n groot bedrag geld aangebied word? ‘Beslis nie!’ sal jy antwoord. Ja, die blote gedagte om Jehovah te verloën deur ’n afgod te aanbid, is vir ’n ware Christen afstootlik. Net so behoort Christene die gedagte om hulle God, Jehovah, sowel as hulle huweliksmaat te verloën deur egbreuk te pleeg, weersinwekkend te vind—ongeag wat dalk as aansporing kan dien om daardie sonde te pleeg (Psalm 51:1, 4; Kolossense 3:5). Ons wil nooit iets doen wat Satan bly maak maar Jehovah tot groot oneer strek en die eerbaarheid van die heilige huweliksreëling skaad nie.

HOE OM JOU HUWELIKSBAND TE VERSTERK

20. Wat het in party huwelike gebeur? Lig toe.

20 Buiten om gedrag te vermy wat die eerbaarheid van die huwelik skaad, watter stappe kan jy doen om weer jou respek vir jou huweliksmaat op te bou? Om die antwoord hierop te vind, kan ons die huweliksreëling met ’n huis vergelyk. Die liefdevolle woorde, bedagsame dade en ander maniere waarop huweliksmaats mekaar eer, kan dan vergelyk word met die versierings in die huis. As daar ’n hegte band tussen julle bestaan, is julle huwelik soos ’n huis met pragtige versierings wat dit kleur en ’n warm atmosfeer gee. As julle liefde afneem, verdwyn daardie versierings geleidelik en word julle huwelik so koud soos ’n huis sonder enige versierings. Aangesien dit jou begeerte is om gehoorsaam te wees aan God se gebod om ‘die huwelik eerbaar te laat wees’, sal jy beweeg word om die situasie te verbeter. Iets wat kosbaar en eerbaar is, is immers die moeite werd om te herstel. Hoe kan jy dit doen? God se Woord sê: “Deur wysheid sal ’n huisgesin opgebou word, en deur onderskeidingsvermoë sal dit stewig gevestig word. En deur kennis sal die binnekamers met allerhande kosbare en lieflike dinge van waarde gevul word” (Spreuke 24:3, 4). Kom ons kyk hoe hierdie woorde op die huwelik toegepas kan word.

21. Hoe kan ons ons huwelik geleidelik versterk? (Sien ook die venster “ Hoe kan ek my huwelik versterk?”)

21 Onder die ‘kosbare dinge’ wat ’n gelukkige huis vul, is eienskappe soos ware liefde, godvrugtige vrees en vaste geloof (Spreuke 15:16, 17; 1 Petrus 1:7). Dit bou ’n sterk huwelik. Maar het jy opgemerk hoe die kamers in die bogenoemde spreuk met kosbare dinge gevul word? “Deur kennis.” Ja, wanneer Bybelkennis toegepas word, het dit die krag om mense se denke te verander en hulle te beweeg om weer hulle liefde vir mekaar op te bou (Romeine 12:2; Filippense 1:9). Elke keer as jy en jou huweliksmaat saam sit en rustig ’n gedeelte uit die Bybel bespreek, soos die dagteks, of ’n skriftuurlike artikel in Die Wagtoring of Ontwaak! wat oor die huwelik handel, is dit dus asof julle ’n pragtige voorwerp bestudeer wat julle huis kan versier. Wanneer liefde vir Jehovah julle beweeg om die raad wat julle so pas ondersoek het, in julle huwelik toe te pas, bring julle as ’t ware daardie versiering in “die binnekamers” in. Gevolglik sal julle moontlik die kleur en warmte wat julle voorheen in julle huwelik gehad het, weer kan geniet.

22. Watter tevredenheid kan ons geniet as ons ons inspan om ons huwelik te versterk?

22 Toegegee, dit sal moontlik baie tyd en inspanning verg om daardie versierings een vir een op hulle plek terug te sit. Maar as jy jou inspan om jou deel by te dra, sal jy diepe tevredenheid put uit die wete dat jy hierdie opdrag in die Bybel gehoorsaam: “Neem die leiding in eerbetoning aan mekaar” (Romeine 12:10; Psalm 147:11). Bowenal sal jou ywerige pogings om jou huwelik te eer, jou in God se liefde hou.

^ par. 6 Die konteks toon dat Paulus se raad oor die huwelik deel van ’n reeks vermanings is.—Hebreërs 13:1-5.