Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 14

Wees eerlik in alles

Wees eerlik in alles

‘Ons wil ons in alles eerlik gedra.’—HEBREËRS 13:18.

1, 2. Waarom is Jehovah bly as hy sien dat ons daarna streef om eerlik te wees? Lig toe.

’N MA en haar seuntjie stap saam uit ’n winkel. Skielik steek die kind vas met ’n geskokte uitdrukking op sy gesig. In sy hand hou hy ’n klein speelding wat hy in die winkel opgetel het. Hy het vergeet om dit terug te sit of om sy ma te vra of sy dit sal koop. Hy wys dit paniekerig vir haar. Sy stel hom gerus en neem hom terug in die winkel in sodat hy dit kan teruggee en verskoning kan vra. Wanneer hy dit doen, swel die ma se hart van vreugde en trots. Waarom?

2 Daar is min dinge wat ouers blyer maak as om te sien dat hulle kinders die belangrikheid van eerlikheid leer. Dit is ook waar van ons hemelse Vader, “die God van waarheid” (Psalm 31:5). Wanneer hy ons vordering tot geestelike rypheid sien, maak dit hom bly as hy sien dat ons daarna streef om eerlik te wees. Omdat ons hom wil behaag en in sy liefde wil bly, spreek ons dieselfde gevoelens uit as die apostel Paulus: ‘Ons wil ons in alles eerlik gedra’ (Hebreërs 13:18). Kom ons konsentreer op vier vername gebiede in die lewe waarin dit soms vir ons ’n besondere uitdaging is om eerlik te wees. Dan sal ons ’n paar van die seëninge bespreek wat dit meebring.

EERLIK MET ONSSELF

3-5. (a) Hoe waarsku God se Woord ons teen die gevare van selfbedrog? (b) Wat sal ons help om eerlik met onsself te wees?

3 Ons eerste uitdaging is om te leer om eerlik met onsself te wees. Dit is baie maklik vir ons as onvolmaakte mense om voor selfbedrog te swig. Byvoorbeeld, Jesus het vir die Christene in Laodisea gesê dat hulle gedink het dat hulle ryk is terwyl hulle in werklikheid in geestelike sin “arm en blind en naak” was—waarlik ’n bejammerenswaardige toestand (Openbaring 3:17). Hulle selfbedrog het hulle situasie net gevaarliker gemaak.

4 Jy onthou dalk ook dat die dissipel Jakobus gewaarsku het: “As iemand meen dat hy ’n vormlike aanbidder is en tog nie sy tong in toom hou nie, maar voortgaan om sy eie hart te bedrieg, dié man se vorm van aanbidding is vergeefs” (Jakobus 1:26). As ons sou redeneer dat ons Jehovah nog steeds op ’n aanneemlike wyse kan aanbid al misbruik ons ons tong, bedrieg ons net ons eie hart. Ons aanbidding van Jehovah sou vergeefs wees, heeltemal nutteloos. Wat kan ons help om nie so ’n droewige weg te volg nie?

5 In daardie selfde Skrifgedeelte vergelyk Jakobus die waarheid van God se woord met ’n spieël. Hy spoor ons aan om diep te kyk in God se volmaakte wet en dienooreenkomstig veranderinge te maak (Jakobus 1:23-25). Die Bybel kan ons help om eerlik met onsself te wees en te besef wat ons moet doen om te verbeter (Klaagliedere 3:40; Haggai 1:5). Ons kan ook tot Jehovah bid en hom vra om ons te ondersoek en ons te help om enige ernstige tekortkominge raak te sien en reg te stel (Psalm 139:23, 24). Oneerlikheid is ’n verraderlike swakheid, en ons moet dieselfde beskouing as ons hemelse Vader daarvan hê. Spreuke 3:32 sê: “Die slinkse persoon is vir Jehovah verfoeilik, maar Sy intimiteit is met die regskapenes.” Jehovah kan ons help om oor hierdie saak te voel soos hy daaroor voel en onsself te beskou soos hy ons beskou. Onthou dat Paulus gesê het: ‘Ons wil ons eerlik gedra.’ Ons kan nie nóú volmaak wees nie, maar ons het ’n opregte begeerte om eerlik te wees en streef ywerig daarna om dit te doen.

EERLIK IN DIE GESIN

As ons eerlik is, help dit ons om gedrag te vermy wat ons dalk vir ander sou wou wegsteek

6. Waarom moet huweliksmaats eerlik met mekaar wees, en watter gevare vermy hulle gevolglik?

6 Eerlikheid moet ’n kenmerk van die Christengesin wees. Die man en die vrou moet dus openhartig en eerlik met mekaar wees. In ’n Christenhuwelik is daar geen plek vir skadelike, onrein gebruike soos flankeerdery met iemand buite die huwelik, die aanknoop van geheime verhoudings op die Internet of om jou aan enige vorm van pornografie bloot te stel nie. Party getroude Christene het sulke verkeerde gedrag begin beoefen terwyl hulle dit vir ’n onskuldige maat weggesteek het. Om dit te doen, is oneerlik. Let op die woorde van die getroue koning Dawid: “Ek het nie by mense van onwaarheid gesit nie; en by dié wat verberg wat hulle is, gaan ek nie in nie” (Psalm 26:4). As jy getroud is, moet jy jou nooit skuldig maak aan gedrag wat jou dalk in die versoeking sal bring om vir jou huweliksmaat te verberg wat jy is nie!

7, 8. Watter Bybelvoorbeelde kan kinders help om die waarde van eerlikheid te leer?

7 Dit is goed as ouers gebruik maak van Bybelvoorbeelde wanneer hulle hulle kinders die waarde van eerlikheid leer. Aan die negatiewe kant is daar verslae soos dié oor Agan, wat gesteel het en sy diefstal probeer wegsteek het; Gehasi, wat leuens vertel het vir finansiële gewin; en Judas, wat gesteel het, asook kwaadwillige leuens vertel het om Jesus leed aan te doen.—Josua 6:17-19; 7:11-25; 2 Konings 5:14-16, 20-27; Matteus 26:14, 15; Johannes 12:6.

8 Aan die positiewe kant is daar verslae soos dié oor Jakob, wat sy seuns aangespoor het om geld wat hulle in hulle sakke gevind het, terug te gee omdat hy gedink het dat dit dalk per ongeluk daar gesit is; dié van Jefta en sy dogter, wat haar vader se gelofte gestand gedoen het, al het dit groot persoonlike opoffering van haar geverg; en dié van Jesus, wat hom moedig voor ’n gewelddadige gepeupel geïdentifiseer het sodat die profesie vervul kon word en hy sy vriende kon beskerm (Genesis 43:12; Rigters 11:30-40; Johannes 18:3-11). Hierdie gedeeltelike lys gee ouers dalk ’n voorsmakie van die ryk skat van inligting in God se Woord wat hulle kan help om hulle kinders te leer om eerlikheid lief te hê en op prys te stel.

9. Wat moet ouers vermy as hulle ’n voorbeeld van eerlikheid vir hulle kinders wil stel, en waarom is so ’n voorbeeld belangrik?

9 As ouers hulle kinders dít leer, plaas dit hulle onder ’n belangrike verpligting. Die apostel Paulus het gevra: “Leer jy, die een wat iemand anders leer, dan nie jouself nie? Jy, die een wat preek: ‘Moenie steel nie’, steel jy?” (Romeine 2:21). Party ouers verwar hulle kinders deur hulle te leer om eerlik te wees terwyl hulle self oneerlik optree. Hulle regverdig dalk geringe diefstal en bedrieglike woorde met verskonings soos: “Hulle verwag maar dat mense hierdie goed sal vat” of “Dit was net ’n wit leuentjie”. In werklikheid is steel altyd steel, ongeag wat die waarde is van die item wat gesteel word; en ’n leuen bly ’n leuen, ongeag waaroor dit handel of hoe ernstig dit is (Lukas 16:10). * Kinders sien geveinsdheid gou raak en kan ernstig daardeur geskaad word (Efesiërs 6:4). Maar wanneer hulle uit hulle ouers se voorbeeld leer om eerlik te wees, sal hulle heel moontlik, wanneer hulle grootword, Jehovah in hierdie oneerlike wêreld verheerlik.—Spreuke 22:6.

EERLIK IN DIE GEMEENTE

10. Watter waarskuwings aangaande eerlike kommunikasie onder medegelowiges moet ons in gedagte hou?

10 Assosiasie met mede-Christene gee ons baie geleenthede om eerlikheid aan te kweek. Soos ons in Hoofstuk 12 geleer het, moet ons let op hoe ons die gawe van spraak gebruik, veral onder ons geestelike broers en susters. Kletspraatjies kan baie maklik in skadelike skinderpraatjies, selfs laster, ontaard! As ons ’n onbevestigde storie oorvertel, help ons dalk om ’n leuen te versprei; dit is dus baie beter om ons lippe in toom te hou (Spreuke 10:19). Aan die ander kant weet ons dalk van iets wat waar is, maar dit beteken nie dat dit nodig is om dit oor te vertel nie. Byvoorbeeld, die saak het dalk niks met ons te doen nie, of dit is dalk liefdeloos om daaroor te praat (1 Tessalonisense 4:11). Party mense verskoon onbeskoftheid deur dit eerlikheid te noem, maar ons woorde moet altyd aangenaam en liefdevol wees.—Kolossense 4:6.

11, 12. (a) Hoe vererger party wat by ernstige oortreding betrokke raak, die probleem? (b) Wat is party van die leuens wat Satan bevorder aangaande ernstige sondes, en hoe kan ons daarteen stry? (c) Hoe kan ons eerlik wees met Jehovah se organisasie?

11 Dit is veral belangrik dat ons eerlik moet wees met diegene wat die leiding neem in die gemeente. Party wat by ernstige oortreding betrokke raak, vererger die probleem deur hulle sonde te probeer wegsteek en vir die gemeentelike ouer manne leuens te vertel wanneer hulle daaroor gevra word. Hierdie persone begin selfs ’n dubbele lewe lei en gee voor dat hulle Jehovah dien terwyl hulle ernstige sonde beoefen. So ’n weg maak in werklikheid ’n persoon se hele lewe ’n leuen (Psalm 12:2). Ander vertel die ouer manne ’n deel van die waarheid, maar verswyg noodsaaklike feite (Handelinge 5:1-11). Sulke oneerlikheid is dikwels die gevolg wanneer mense die leuens glo wat Satan bevorder.—Sien die venster “ Sataniese leuens aangaande ernstige sondes.”

12 Dit is ook belangrik om eerlik te wees met Jehovah se organisasie wanneer ons vrae skriftelik beantwoord. Byvoorbeeld, wanneer ons ons bedrywighede in die bediening rapporteer, is ons versigtig dat ons nie onjuiste feite verskaf nie. Wanneer ons ’n aansoekvorm vir enige diensvoorreg invul, moet ons ook nooit ’n verkeerde indruk skep van die ware toestand van ons gesondheid of enige ander aspek van ons agtergrond nie.—Spreuke 6:16-19.

13. Hoe kan ons eerlikheid in ’n sakeverhouding met ’n medegelowige handhaaf?

13 Ons moet ook in sakeaangeleenthede eerlik wees met medegelowiges. Soms doen Christenbroers en -susters sake met mekaar. Hulle moet sorg dat hulle dit apart hou van hulle aanbidding by die Koninkryksaal of in die bediening. Die sakeverhouding is dalk ’n werkgewer-werknemer-verhouding. As broers of susters vir ons werk, moet ons sorg dat ons hulle eerlik behandel, dat ons hulle op die regte tyd betaal, dat hulle die bedrag betaal word waaroor daar ooreengekom is en dat hulle die voordele ontvang wat deur die wet toegelaat of vereis word (1 Timoteus 5:18; Jakobus 5:1-4). Aan die ander kant, as ons vir ’n broer of suster werk, moet ons die werk waarvoor ons betaal word, pligsgetrou doen (2 Tessalonisense 3:10). Ons verwag nie voorkeurbehandeling weens ons geestelike verhouding nie, asof ons werkgewer ons verlof, voordele of ander gunste verskuldig is wat ander werknemers nie ontvang nie.—Efesiërs 6:5-8.

14. Watter wyse voorsorgmaatreël tref Christene wat by ’n gesamentlike onderneming betrokke is, en waarom?

14 Sê nou ons is betrokke by die een of ander gesamentlike transaksie, soos ’n belegging of ’n lening? Die Bybel verskaf ’n belangrike en nuttige beginsel: Stel alles op skrif! Byvoorbeeld, toe Jeremia ’n stuk grond gekoop het, het hy twee afskrifte van ’n dokument laat opstel, dit deur getuies laat onderteken en veilig laat bewaar vir toekomstige verwysing. (Jeremia 32:9-12; sien ook Genesis 23:16-20.) Wanneer ons met medegelowiges sake doen, impliseer dit nie dat ons hulle wantrou as ons al die besonderhede opteken in ’n noukeurig saamgestelde dokument wat deur die betrokke partye sowel as getuies onderteken is nie. Dit help eerder om misverstande, teleurstellings en selfs verdelende meningsverskille te voorkom. Enige Christene wat met mekaar sake doen, moet onthou dat geen sakeonderneming so belangrik is dat dit die eenheid en vrede van die gemeente in gevaar mag stel nie. *1 Korintiërs 6:1-8.

EERLIK IN DIE SEKULÊRE WÊRELD

15. Hoe voel Jehovah oor oneerlike sakegebruike, en hoe tree Christene op ondanks sulke gewilde neigings?

15 ’n Christen se eerlikheid is nie tot die gemeente beperk nie. Paulus het gesê: ‘Ons wil ons in alles eerlik gedra’ (Hebreërs 13:18). Wanneer dit by sekulêre sakeaangeleenthede kom, is eerlikheid vir ons Skepper van groot belang. In die boek Spreuke alleen word daar vier keer na bedrieglike weegskale verwys (Spreuke 11:1; 16:11; 20:10, 23). In antieke tye was dit algemeen om weegskale en gewigte in saketransaksies te gebruik om die goedere wat gekoop is sowel as die geld waarmee dit gekoop is, af te weeg. Oneerlike handelaars het twee stelle gewigte en ’n onakkurate weegskaal gebruik om hulle klante te bedrieg en te verkul. * Jehovah haat sulke gebruike! Om in sy liefde te bly, vermy ons enige oneerlike sakegebruike ten alle koste.

16, 17. Watter vorme van oneerlikheid is algemeen in vandag se wêreld, en wat is ware Christene vasbeslote om te doen?

16 Omdat Satan die heerser van hierdie wêreld is, is ons nie verbaas dat ons oneerlikheid oral om ons sien nie. Ons kom daagliks te staan voor versoekings om oneerlik te wees. Wanneer mense ’n CV saamstel om vir werk aansoek te doen, is dit algemeen om van leuens en oordrywing gebruik te maak, om kwalifikasies te versin en hulle ondervinding te oordryf. Wanneer mense immigrasie-, belasting-, versekeringsvorms en dies meer invul, gee hulle dikwels onjuiste antwoorde sodat hulle kan kry wat hulle wil hê. Baie leerders kul tydens toetse; of wanneer hulle op skool werkstukke en verslae moet inlewer, gaan hulle dalk op die Internet, skryf af wat hulle daar vind en gee voor dat dit hulle eie werk is. En wanneer mense met korrupte amptenare te doen kry, probeer hulle hulle dikwels omkoop om te kry wat hulle wil hê. Ons verwag dit in ’n wêreld waar baie mense “liefhebbers van hulleself . . . , liefhebbers van geld, . . . sonder liefde vir die goeie” is.—2 Timoteus 3:1-5.

17 Ware Christene is vasbeslote om nie by enige van hierdie gebruike betrokke te raak nie. Iets wat dit soms ’n uitdaging maak om eerlik te wees, is die feit dat diegene wat oneerlik optree, lyk asof hulle suksesvol is en selfs opgang maak in vandag se wêreld (Psalm 73:1-8). Intussen ly Christene dalk finansiële verlies omdat hulle hulle “in alles” eerlik wil gedra. Is dit die opoffering werd? Beslis! Maar waarom? Watter seëninge bring eerlike gedrag mee?

DIE SEËNINGE WAT DEUR EERLIKHEID MEEGEBRING WORD

18. Waarom is ’n reputasie as ’n eerlike persoon baie kosbaar?

18 Daar is min dinge in die lewe wat so kosbaar is soos ’n reputasie as ’n eerlike, betroubare persoon. (Sien die venster “ Hoe eerlik is ek?”) En dink net daaraan—enigiemand kan so ’n reputasie opbou! Dit is nie afhanklik van jou talente, rykdom, voorkoms, sosiale agtergrond of enige ander faktor buite jou beheer nie. Nietemin is daar baie wat nie daarin slaag om so ’n kosbare, goeie reputasie op te bou nie. Dit is seldsaam (Miga 7:2). Party sal jou dalk spot omdat jy eerlik is, maar ander sal jou eerlikheid waardeer, en hulle sal jou beloon met hulle vertroue en hulle respek. Baie van Jehovah se Getuies het selfs gevind dat hulle eerlikheid vir hulle finansiële voordele meegebring het. Hulle het hulle werk behou wanneer oneerlike werknemers afgedank is, of hulle het werk gevind wanneer eerlike werknemers dringend nodig was.

19. Hoe kan ’n eerlike lewe ons gewete en ons verhouding met Jehovah raak?

19 Of dit nou met jou gebeur of nie, jy sal vind dat eerlikheid selfs groter seëninge meebring. Jy sal ’n skoon gewete geniet. Paulus het geskryf: “Ons vertrou dat ons ’n eerlike gewete het” (Hebreërs 13:18). Daarbenewens is ons liefdevolle hemelse Vader ongetwyfeld bewus van jou reputasie, en hy het eerlike mense lief (Psalm 15:1, 2; Spreuke 22:1). Ja, eerlikheid help jou om in God se liefde te bly, en daar is geen groter beloning nie. Kom ons kyk nou na ’n verwante onderwerp: Jehovah se beskouing van werk.

^ par. 9 As iemand in die gemeente ’n gewoonte daarvan maak om blatante, kwaadwillige leuens te vertel—wat duidelik bedoel is om ander te skaad—sal dit dalk nodig wees dat die ouer manne regterlik moet optree.

^ par. 14 Raadpleeg die onderwerp in die Aanhangsel, “Hoe om sakegeskille op te los”, om te sien wat gedoen kan word as sakeaangeleenthede skeefloop.

^ par. 15 Hulle het een stel gewigte gebruik wanneer hulle gekoop het en ’n ander stel wanneer hulle verkoop het, wat hulle in albei gevalle bevoordeel het. Hulle het dalk ook ’n weegskaal gebruik waarvan die een arm langer of swaarder as die ander een was sodat hulle die klant tydens enige transaksie kon verkul.