Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 16

Staan die Duiwel en sy listige dade teë

Staan die Duiwel en sy listige dade teë

“Staan die Duiwel teë, en hy sal van julle af wegvlug.”—JAKOBUS 4:7.

1, 2. Aan wie verskaf doopplegtighede vreugde?

AS JY Jehovah al dekades lank dien, het jy heel waarskynlik al baie dooptoesprake by ons byeenkomste gehoor. Maar ongeag hoe dikwels jy al sulke geleenthede bygewoon het, dit ontroer jou moontlik nog elke keer as jy sien hoe dié wat in die voorste rye van die ouditorium sit, opstaan om hulle vir doop aan te bied. Op daardie oomblik is die opwinding in die gehoor amper tasbaar, en dan volg geesdriftige applous. Trane wel moontlik in jou oë op terwyl jy na nog ’n groep kosbare persone kyk wat hulle standpunt vir Jehovah ingeneem het. Hoe vreugdevol is ons tog by sulke geleenthede!

2 Hoewel ons dalk ’n paar keer per jaar doopplegtighede in ons omgewing sien, het die engele die voorreg om dit baie meer dikwels te aanskou. Kan jy jou indink hoeveel ‘vreugde daar in die hemel is’ wanneer hulle sien hoe duisende mense wêreldwyd elke week by die sigbare deel van Jehovah se organisasie gevoeg word? (Lukas 15:7, 10). Die engele is ongetwyfeld verheug om hierdie vermeerdering te sien!—Haggai 2:7.

DIE DUIWEL “LOOP ROND SOOS ’N BRULLENDE LEEU”

3. Waarom loop Satan rond “soos ’n brullende leeu”, en wat wil hy doen?

3 In skrille teenstelling hiermee is daar egter geesskepsele wat hierdie doopplegtighede met toorn aanskou. Dit grief Satan en die demone om te sien dat duisende hulle rug op hierdie verdorwe wêreld draai. Satan het immers gespog dat geen mens Jehovah uit opregte liefde sal dien nie en dat niemand onder swaar beproewing getrou sal bly nie (Job 2:4, 5). Elke keer as iemand beweeg word om hom aan Jehovah toe te wy, word Satan verkeerd bewys. Dit is asof Satan elke week van die jaar derduisende kere ’n klap in die gesig kry. Dit is geen wonder hy “loop rond soos ’n brullende leeu en is daarop uit om iemand te verslind” nie! (1 Petrus 5:8). Hierdie “leeu” is gretig om ons geestelik te verslind sodat ons ons verhouding met God sal skaad of selfs sal verbreek.—Psalm 7:1, 2; 2 Timoteus 3:12.

Elke keer as iemand hom aan Jehovah toewy en gedoop word, word Satan verkeerd bewys

4, 5. (a) Op watter twee belangrike maniere het Jehovah Satan se invloed beperk? (b) Waarvan kan ’n ware Christen seker wees?

4 Hoewel ons met ’n wrede vyand te kampe het, het ons geen rede om deur vrees oorweldig te word nie. Waarom nie? Omdat Jehovah die invloed van hierdie “brullende leeu” op twee belangrike maniere beperk het. Wat is hierdie maniere? Eerstens het Jehovah voorspel dat “’n groot menigte” ware Christene die komende “groot verdrukking” sal oorleef (Openbaring 7:9, 14). God se profesieë faal nooit nie. Daarom moet selfs Satan weet dat God se volk as ’n geheel buite sy bereik is.

5 Die tweede beperking kan afgelei word uit ’n grondwaarheid wat een van God se getroue manne van ouds genoem het. Die profeet Asarja het vir koning Asa gesê: “Jehovah is met julle solank julle met hom is” (2 Kronieke 15:2; 1 Korintiërs 10:13). Talle opgetekende voorbeelde toon dat Satan in die verlede dit nog nooit kon regkry om enige van God se knegte wat na aan Hom gebly het, te verslind nie (Hebreërs 11:4-40). Ook vandag sal ’n Christen wat na aan God bly, dit kan regkry om die Duiwel teë te staan en hom selfs te oorwin. Trouens, God se Woord verseker ons: “Staan die Duiwel teë, en hy sal van julle af wegvlug.”—Jakobus 4:7.

“ONS HET ’N WORSTELSTRYD . . . TEEN DIE BOSE GEESMAGTE”

6. Hoe veg Satan teen individuele Christene?

6 Satan kan nie die oorlog wen nie, maar hy kan ons as individue laat sneuwel as ons in ons waaksaamheid verslap. Satan weet dat hy ons kan verslind as hy ons band met Jehovah kan verswak. Hoe probeer Satan dit doen? Deur intense, persoonlike en slinkse aanvalle teen ons te rig. Kom ons kyk na hierdie vername strategieë van Satan.

7. Waarom rig Satan intense aanvalle teen Jehovah se volk?

7 Intense aanvalle. Die apostel Johannes het gesê: “Die hele wêreld lê in die mag van die bose” (1 Johannes 5:19). Hierdie woorde bevat ’n waarskuwing vir alle ware Christene. Aangesien Satan reeds die hele goddelose mensewêreld verslind het, kan hy nou sy aandag toespits op diegene wat hom tot dusver ontwyk het—Jehovah se volk—en hy maak sy aanvalle op hulle nog intenser (Miga 4:1; Johannes 15:19; Openbaring 12:12, 17). Hy het groot toorn omdat hy weet dat sy tyd kort is. Hy oefen dus groter druk uit. Ons staan vandag voor sy finale wrede, vernietigende aanslag. Ons moet gevolglik nou meer as ooit tevore “die tye . . . onderskei om te weet wat [ons] behoort te doen”.—1 Kronieke 12:32.

8. Wat bedoel die apostel Paulus wanneer hy sê dat ons “’n worstelstryd” teen bose geeste het?

8 Persoonlike worstelstryd. Die apostel Paulus het mede-Christene gewaarsku: “Ons het ’n worstelstryd . . . teen die bose geesmagte in die hemelse plekke” (Efesiërs 6:12). Waarom het Paulus die term “worstelstryd” gebruik? Omdat dit die gedagte oordra van ’n stryd wat man teen man geveg word. Deur hierdie term te gebruik, het Paulus dus beklemtoon dat elkeen van ons ’n persoonlike stryd teen bose geeste het. Of ons nou in ’n land woon waar geloof in bose geeste algemeen is of nie, ons moet nooit vergeet dat ons, toe ons ons aan Jehovah toegewy het, as ’t ware in ’n stoeikryt geklim het nie. Ten minste van sy toewyding af is elke Christen in ’n stryd gewikkel. Dit is geen wonder nie dat Paulus dit nodig geag het om Christene in Efese drie keer aan te spoor om ‘vas te staan’!—Efesiërs 6:11, 13, 14.

9. (a) Waarom maak Satan en die demone gebruik van verskeie “listige dade”? (b) Waarom probeer Satan ons denke verderf, en hoe kan ons sy pogings weerstaan? (Sien die venster “ Pas op vir Satan se listigheid!”) (c) Watter listige daad gaan ons nou ondersoek?

9 Slinkse sette. Paulus vermaan Christene om vas te staan teen Satan se “listige dade” (Efesiërs 6:11, voetnoot in NW). Let op Paulus se gebruik van die meervoud. Bose geeste gebruik nie net een slinkse plan nie, maar baie—en met goeie rede. Party gelowiges wat vasgestaan het tydens die een soort beproewing, het mettertyd geswig wanneer hulle voor ’n ander beproewing te staan gekom het. Gevolglik let die Duiwel en die demone noukeurig op die gedrag van elkeen van ons om te sien waar ons die kwesbaarste is. Dan buit hulle enige geestelike swakheid uit wat ons dalk het. Maar gelukkig kan ons baie van die Duiwel se metodes herken, want hulle word in die Bybel geopenbaar (2 Korintiërs 2:11). Vroeër in hierdie publikasie het ons van sy sette bespreek, soos die aantrekkingskrag van materialisme, skadelike assosiasie en geslagsonsedelikheid. Kom ons ondersoek nou nog een van Satan se listige dade—spiritisme.

DIE BEOEFENING VAN SPIRITISME—’N VERRADERLIKE GEBRUIK

10. (a) Wat is spiritisme? (b) Hoe beskou Jehovah spiritisme, en hoe beskou jy dit?

10 Deur spiritisme, of demonisme, te beoefen, maak ’n mens regstreeks kontak met bose geeste. Waarsêery, towery, om towerspreuke oor iemand uit te spreek en die dooies te raadpleeg, is ’n paar vorme van spiritisme. Soos ons goed weet, beskou Jehovah spiritisme as “verfoeilik” (Deuteronomium 18:10-12; Openbaring 21:8). Aangesien ons ook moet “verafsku wat goddeloos is”, is dit ondenkbaar dat ons ooit in kontak sal wil kom met bose geesmagte (Romeine 12:9). Wat ’n afstootlike, verraderlike daad sou dit tog teen ons hemelse Vader, Jehovah, wees!

11. Waarom sou dit ’n groot oorwinning vir Satan wees as hy ons sover kan kry om iets met spiritisme te doen te hê? Lig toe.

11 Maar juis omdat dit sulke growwe verraad teen Jehovah is as ’n mens enigiets met spiritisme te doen het, is Satan vasbeslote om party van ons daarby betrokke te laat raak. Elke keer as Satan ’n Christen sover kan kry om iets met demonisme te doen te hê, is dit vir hom ’n groot oorwinning. Waarom? Dink aan hierdie vergelyking: As ’n soldaat oorreed kan word om sy eenheid te versaak en te verraai en by vyandelike magte aan te sluit, sal die vyand se bevelvoerder in sy noppies wees. Hy sal moontlik selfs die verraaier as ’n trofee ten toon stel as ’n belediging vir daardie soldaat se voormalige bevelvoerder. As ’n Christen iets met spiritisme te doen het, sou hy Jehovah eweneens willens en wetens versaak en hom regstreeks onder Satan se beheer plaas. Stel jou voor hoeveel genot dit Satan sou verskaf om daardie droster as ’n oorlogstrofee ten toon te stel! Sou enigeen van ons die Duiwel so ’n oorwinning wou gee? Beslis nie! Ons is nie verraaiers nie.

VRAE WAT TWYFEL LAAT ONTSTAAN

12. Watter metode gebruik Satan om ons beskouing van spiritisme te beïnvloed?

12 Solank ons spiritisme verafsku, sal Satan dit nie kan gebruik om die oorhand oor ons te kry nie. Hy besef dus dat hy ons denke moet verander. Hoe? Hy soek maniere om Christene dermate te verwar dat party sal dink dat “goed sleg is en sleg goed” (Jesaja 5:20). Om dit reg te kry, val Satan dikwels terug op een van sy ou beproefde metodes—hy opper vrae wat twyfel laat ontstaan.

13. Hoe het Satan die metode gebruik om vrae te opper wat twyfel laat ontstaan?

13 Kyk hoe Satan daardie benadering in die verlede gebruik het. In Eden het hy vir Eva gevra: “Is dit werklik so dat God gesê het dat julle nie van al die bome van die tuin mag eet nie?” In Job se tyd het Satan by ’n vergadering van die engele in die hemel die vraag geopper: “Is dit verniet dat Job God gevrees het?” En aan die begin van Jesus se aardse bediening het Satan vir Christus uitgedaag deur te sê: “As jy ’n seun van God is, sê vir hierdie klippe om brode te word.” Stel jou dit voor—in Jesus se geval het Satan dit gewaag om die presiese woorde te bespot wat Jehovah self sowat ses weke vroeër geuiter het: “Dit is my Seun, die geliefde, wat ek goedgekeur het”!—Genesis 3:1; Job 1:9; Matteus 3:17; 4:3.

14. (a) Hoe gebruik Satan sy set om onsekerheid oor spiritisme te laat ontstaan? (b) Wat gaan ons nou bespreek?

14 Vandag gebruik die Duiwel ’n soortgelyke set in ’n poging om onsekerheid te laat ontstaan oor die goddeloosheid van spiritisme. Ongelukkig het hy twyfel in die gedagtes van party gelowiges gewek. Hulle het begin wonder of sekere vorme van spiritisme dan werklik so sleg is. Hulle dink as ’t ware: ‘Is dit werklik so?’ (2 Korintiërs 11:3). Hoe kan ons sulke persone help om hulle denke reg te stel? Hoe kan ons seker maak dat Satan se set ons nie beïnvloed nie? Om dit te beantwoord, kan ons na twee gebiede van die lewe kyk wat Satan op geslepe wyse met spiritistiese elemente besoedel het. Dit is vermaak en gesondheidsorg.

ONS BEGEERTES EN BEHOEFTES

15. (a) Hoe beskou baie in die Westerse wêreld spiritisme? (b) Hoe is party Christene deur die wêreld se beskouing van spiritisme beïnvloed?

15 Veral in die Westerse wêreld word okkultisme, toorkuns en ander vorme van spiritisme in toenemende mate ligtelik opgeneem. Rolprente, boeke, TV-programme en rekenaarspeletjies beeld demonistiese gebruike al hoe meer as pret, slim en onskadelik uit. Party rolprente en boeke wat die okkulte as tema het, het so gewild geword dat aanhangers bewonderaarsklubs gestig het. Die demone het dit klaarblyklik reggekry om die gevare van die okkulte na ’n kleinigheid te laat lyk. Het hierdie neiging om spiritisme ligtelik op te neem, Christene beïnvloed? Dit het wel ’n invloed op die denke van party gehad. Hoe so? Om ’n tipiese voorbeeld te gee, nadat een Christen na ’n rolprent gekyk het wat oor die okkulte handel, het hy gesê: “Ek het na die fliek gekyk, maar ek het nie spiritisme beoefen nie.” Waarom is so ’n redenasie gevaarlik?

16. Waarom is dit gevaarlik om vermaak te kies wat oor okkulte gebruike handel?

16 Om spiritisme te beoefen en daarna te kyk is weliswaar twee verskillende dinge, maar dit beteken sekerlik nie dat dit geen gevaar inhou as ’n mens kyk hoe ander okkulte gebruike beoefen nie. Waarom nie? Dink hieroor: God se Woord toon dat nóg Satan nóg sy demone die vermoë het om ons gedagtes te lees. * As bose geeste wil uitvind wat ons dink en enige geestelike swakheid in ons bespeur, moet hulle dus, soos vroeër genoem is, ons gedrag noukeurig dophou—ons keuse van vermaak inkluis. Wanneer ’n Christen se gedrag toon dat hy rolprente of boeke geniet wat oor geesmediums, towerspreuke, demoonbesetenes of soortgelyke demonistiese onderwerpe handel, stuur hy ’n boodskap aan die demone. Hy maak hulle in werklikheid bewus van sy swakheid! In reaksie daarop kan die demone hulle worstelstryd met daardie Christen verskerp om die swakheid wat hy geopenbaar het, uit te buit totdat hulle hom as ’t ware vasgepen het. Trouens, party wie se belangstelling in spiritisme die eerste keer geprikkel is deur vermaak wat oor die okkulte handel, het uiteindelik wel spiritisme begin beoefen.—Galasiërs 6:7.

Vind baat by Jehovah se ondersteuning in tye van siekte

17. Deur middel van watter listige daad kan Satan die oorhand kry oor siekes?

17 Satan probeer nie net ons begeerte na vermaak uitbuit nie, maar ook ons behoefte aan gesondheidsorg. Hoe? ’n Christen wie se gesondheid verswak ten spyte van al sy pogings om ’n geneesmiddel te vind, sal dalk mismoedig raak (Markus 5:25, 26). Dit kan Satan en die demone ’n goeie geleentheid gee om die oorhand oor hom te kry. Hulle weet alte goed dat God se Woord daarteen waarsku om “die hulp van dié wat skadelike dinge beoefen”, te soek (Jesaja 31:2). Om ’n Christen in stryd met hierdie waarskuwing te laat optree, kan die demone ’n sieke moontlik in die versoeking bring om hom uit desperaatheid tot behandelings of prosedures te wend waarby die gebruik van “towerkrag”, of spiritisme—iets baie skadeliks—betrokke is. As daardie listige daad van die demone suksesvol is, kan dit die sieke se verhouding met God verswak. Hoe so?

18. Watter soort prosedures sal ’n Christen verwerp, en waarom?

18 Jehovah het die Israeliete wat van “towerkrag” gebruik gemaak het, gewaarsku: “Wanneer julle julle palms uitstrek, verberg ek my oë vir julle. Selfs al doen julle baie gebede, luister ek nie” (Jesaja 1:13, 15). Ons wil natuurlik nooit enigiets doen wat ons gebede kan verhinder en die ondersteuning wat ons van Jehovah ontvang, kan laat afneem nie—des te meer wanneer ons siek is (Psalm 41:3). As daar dus aanduidings is dat daar spiritistiese elemente betrokke is by ’n sekere diagnostiese prosedure of terapeutiese behandeling, moet ’n ware Christen dit verwerp (Matteus 6:13). * Sodoende sal hy seker wees dat hy Jehovah se steun behou.—Sien die venster “ Is dit werklik spiritisme?

WANNEER STORIES OOR DEMONE ALGEMEEN IS

19. (a) Wat het die Duiwel baie mense wysgemaak in verband met sy krag? (b) Watter stories moet ware Christene nie versprei nie?

19 Terwyl baie mense in Westerse lande die gevaar van Satan se krag ligtelik opneem, gebeur die teenoorgestelde in ander wêrelddele. Daar het die Duiwel baie wysgemaak dat hy meer krag het as wat hy wel het. Party mense leef, eet, werk en slaap in vrees vir bose geeste. Stories oor kragtige dade van demone is algemeen. Sulke stories word dikwels met kleur en geur oorvertel; mense word daardeur gefassineer. Behoort ons sulke stories te versprei? Nee, knegte van die ware God sal dit om twee belangrike redes vermy.

20. Hoe kan ’n mens, moontlik onwetend, Satan se propaganda versprei?

20 Eerstens, deur stories oor die aktiwiteite van die demone oor te vertel, bevorder ’n mens die belange van Satan. Hoe so? God se Woord bevestig dat Satan in staat is om kragtige werke te doen, maar dit waarsku ook dat hy van “leuenagtige tekens” en “bedrog” gebruik maak (2 Tessalonisense 2:9, 10). Aangesien Satan die aartsbedrieër is, weet hy hoe om die verstande te beïnvloed van diegene wat ’n geneigdheid het tot spiritisme, en hoe om hulle dinge te laat glo wat nie waar is nie. Sulke persone glo dalk opreg dat hulle sekere dinge gesien en gehoor het, en vertel hulle ondervindinge moontlik as die waarheid oor. Mettertyd word hulle stories al hoe erger omdat dit dikwels oorvertel word. As ’n Christen sulke stories versprei, doen hy in der waarheid die wil van die Duiwel—“die vader van die leuen”. Hy versprei Satan se propaganda.—Johannes 8:44; 2 Timoteus 2:16.

21. Waaroor wil ons hê moet ons gesprekke handel?

21 Tweedens, al het ’n Christen in die verlede werklike ondervindinge met bose geeste gehad, sal hy nie medegelowiges herhaaldelik vermaak met stories oor sulke dinge nie. Waarom nie? Ons word vermaan: “[Hou] die blik stip gerig . . . op die Hoofbewerker en Vervolmaker van ons geloof, Jesus” (Hebreërs 12:2). Ja, ons moet ons aandag op Christus toespits, nie op Satan nie. Dit is opmerkenswaardig dat Jesus, toe hy op die aarde was, nie sy dissipels vermaak het met stories oor bose geeste nie, al kon hy baie gesê het oor wat Satan kan doen en wat hy nie kan doen nie. Jesus het eerder sy aandag op die Koninkryksboodskap toegespits. In navolging van Jesus en die apostels wil ons dus hê dat ons gesprekke om “die luisterryke dinge van God” moet draai.—Handelinge 2:11; Lukas 8:1; Romeine 1:11, 12.

22. Hoe kan ons aanhou om tot ‘vreugde in die hemel’ by te dra?

22 Satan maak weliswaar gebruik van etlike listige dade, insluitende spiritisme, om ons verhouding met Jehovah te probeer vernietig. Maar deur te verafsku wat goddeloos is en vas te hou aan wat goed is, gee ons die Duiwel geen geleentheid om ons te laat verswak in ons voorneme om alle vorme van spiritisme te verwerp nie (Efesiërs 4:27). Stel jou voor watter groot ‘vreugde daar in die hemel’ sal wees as ons aanhou “vasstaan teen die [listige dade] van die Duiwel” totdat hy nie meer daar is nie!—Efesiërs 6:11; voetnoot in NW.

^ par. 16 Die beskrywende name wat aan Satan gegee word (Teenstander, Lasteraar, Bedrieër, Versoeker, Leuenaar), gee nie te kenne dat hy die vermoë het om ons harte en verstande te deursoek nie. In teenstelling daarmee word Jehovah beskryf as “die ondersoeker van harte” en Jesus as die een wat “die niere en harte deursoek”.—Spreuke 17:3; Openbaring 2:23.

^ par. 18 Vir verdere inligting, sien die artikel “’n Gesondheidstoets vir jou?” in Die Wagtoring van 15 Desember 1994, bladsye 19-22, en die artikel “Die Bybelse beskouing: Jou keuse van mediese behandeling—Maak dit saak?” in die Ontwaak! van 8 Januarie 2001.