Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

AANHANGSEL

Behaal die oorwinning oor masturbasie

Behaal die oorwinning oor masturbasie

Masturbasie is ’n geestelik skadelike gewoonte wat gesindhede aanwakker wat egotisme bevorder en die verstand verderf. * Iemand wat masturbeer, begin ander dalk beskou as blote seksvoorwerpe—middele om seksuele bevrediging te verkry. Seks hou nie meer verband met liefde nie en word bloot ’n reflekshandeling wat kortstondige genot verskaf en seksuele spanning verlig. Maar daardie verligting is net tydelik. In plaas van die liggaamsdele dood te maak “ten opsigte van hoerery, onreinheid, [ongepaste] geslagsdrif”, wek masturbasie dit in werklikheid op.—Kolossense 3:5.

Die apostel Paulus het geskryf: “Geliefdes, laat ons ons van elke verontreiniging van die vlees en die gees reinig en heiligheid in die vrees van God tot volmaaktheid bring” (2 Korintiërs 7:1). As jy sukkel om gehoorsaam te wees aan hierdie woorde, moet jy nie mismoedig raak nie. Jehovah is altyd “vergewensgesind” en bereid om te help (Psalm 86:5; Lukas 11:9-13). Trouens, jou selfveroordelende hart en jou pogings om met die gewoonte te breek—ondanks terugslae van tyd tot tyd—dui op ’n goeie gesindheid. Hou ook in gedagte dat ‘God groter is as ons hart en alles weet’ (1 Johannes 3:20). God sien meer as net ons sondes; hy sien die hele persoon. Hierdie kennis stel hom in staat om met simpatie na ons te luister wanneer ons hom opreg smeek om ons barmhartig te wees. Moet dus nooit moeg word om nederig en opreg tot God te bid nie, soos ’n kind wat na sy vader gaan wanneer hy in die moeilikheid is. Jehovah sal jou met ’n gereinigde gewete seën (Psalm 51:1-12, 17; Jesaja 1:18). Jy moet natuurlik positiewe stappe in ooreenstemming met jou gebede doen. Jy sal byvoorbeeld alles in jou vermoë doen om alle vorme van pornografie sowel as slegte assosiasie te vermy. *

As jou masturbasieprobleem voortduur, kan jy gerus met ’n Christenouer of ’n geestelik volwasse en liefdevolle vriend daaroor praat. *Spreuke 1:8, 9; 1 Tessalonisense 5:14; Titus 2:3-5.

^ par. 1 Masturbasie is die stimulering van die geslagsorgane, wat gewoonlik tot orgasme lei.

^ par. 2 Baie gesinne vind dat die gebruik van ’n tuisrekenaar op ’n praktiese manier beheer kan word deur dit in ’n openbare deel van die huis te hou. Daarbenewens koop party gesinne sagteware wat nie toegang gee tot ongewenste materiaal nie. Daar is egter geen stelsel wat heeltemal betroubaar is nie.

^ par. 1 Vir praktiese wenke oor hoe om masturbasie te bowe te kom, sien die artikel “Jongmense vra . . . Hoe kan ek hierdie gewoonte oorwin?” in die Ontwaak! van November 2006, en bladsye 205-11 van die boek Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk, Deel 1.