Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 12

Hulle het “moedig gepreek omdat Jehovah hulle die gesag gegee het”

Hulle het “moedig gepreek omdat Jehovah hulle die gesag gegee het”

Paulus en Barnabas lê nederigheid, volharding en moed aan die dag

Gebaseer op Handelinge 14:1-28

1, 2. Watter reeks gebeure speel af terwyl Paulus en Barnabas in Listra is?

 CHAOS heers in Listra. ’n Man wat van sy geboorte af kreupel was, spring van vreugde rond nadat twee vreemdelinge hom genees het. Mense staan verbaas, en ’n priester bring kranse na die twee manne wat deur die skare vir gode aangesien word. Bulle proes en bulk terwyl ’n priester van Zeus gereedmaak om hulle te slag. Paulus en Barnabas protesteer luidkeels. Hulle skeur hulle klere, spring tussen die skare in en smeek die mense om hulle nie te aanbid nie, maar hulle kan amper nie die bewonderende skare keer om dit te doen nie.

2 Dan kom Joodse teenstanders uit Pisidiese Antiogië en Ikonium daar aan. Hulle vergiftig die verstande van die mense van Listra met kwaadwillige laster. Die skare wat Paulus vroeër wou aanbid, maal nou om hom en gooi hom met klippe totdat hy bewusteloos is. Nadat hulle hulle woede gekoel het, sleep hulle die beseerde Paulus tot buite die stadspoort en laat hom vir dood agter.

3. Watter vrae sal ons in hierdie hoofstuk bespreek?

3 Wat het tot hierdie dramatiese gebeurtenis aanleiding gegee? Wat kan hedendaagse verkondigers van die goeie nuus leer uit die gebeure waarby Barnabas, Paulus en die wispelturige inwoners van Listra betrokke was? En hoe kan Christenouermanne die voorbeeld navolg van Barnabas en Paulus, getroue manne wat in hulle bediening volhard het en “moedig gepreek [het] omdat Jehovah hulle die gesag gegee het”? – Hand. 14:3.

‘’n Groot groep het gelowiges geword’ (Handelinge 14:1-7)

4, 5. Waarom het Paulus en Barnabas na Ikonium gereis, en wat het daar gebeur?

4 ’n Paar dae vroeër is Paulus en Barnabas uit die Romeinse stad Antiogië in Pisidië verdryf nadat Joodse teenstanders vir hulle moeilikheid veroorsaak het. Die twee manne het egter nie mismoedig geraak nie, maar het “die stof van hulle voete . . . afgeskud” teen die stad se onontvanklike inwoners (Hand. 13:50-52; Matt. 10:14). Paulus en Barnabas het vreedsaam vertrek en daardie teenstanders aan God se oordeel oorgelaat (Hand. 18:5, 6; 20:26). Die twee sendelinge het hulle predikingsreis met ongedempte vreugde voortgesit. Hulle het sowat 150 kilometer in ’n suidoostelike rigting gereis en ’n vrugbare plato tussen die Taurus- en Sultangebergte bereik.

5 Paulus en Barnabas het eers aangedoen by Ikonium, ’n sentrum van Griekse kultuur en een van die vernaamste stede in die Romeinse provinsie Galasië. a Hierdie stad het ’n invloedryke Joodse bevolking en ’n groot aantal nie-Joodse proseliete gehad. Volgens Paulus en Barnabas se gebruik het hulle in die sinagoge ingegaan en begin preek (Hand. 13:5, 14). Hulle het “so goed gepraat dat ’n groot groep Jode sowel as Grieke gelowiges geword het”. – Hand. 14:1.

6. Waarom was Paulus en Barnabas doeltreffende onderrigters, en hoe kan ons hulle navolg?

6 Waarom was die manier waarop Paulus en Barnabas hulle boodskap oorgedra het, so doeltreffend? Paulus was ’n skatkis van skriftuurlike wysheid. Hy het verwysings na die geskiedenis, profesieë en die Mosaïese Wet op meesterlike wyse met mekaar verbind om te bewys dat Jesus die beloofde Messias was (Hand. 13:15-31; 26:22, 23). Barnabas se besorgdheid oor mense kon duidelik gesien word (Hand. 4:36, 37; 9:27; 11:23, 24). Nie een van hulle het op sy eie begrip staatgemaak nie, maar hulle het gepraat “omdat Jehovah hulle die gesag gegee het”. Hoe kan jy hierdie sendelinge in jou predikingswerk navolg? Deur die volgende te doen: Raak deeglik vertroud met God se Woord. Kies Bybeltekste wat die hart van jou toehoorders sal bereik. Soek na praktiese maniere om diegene vir wie jy preek, te vertroos. En baseer altyd jou onderrigting op die gesag van Jehovah se Woord, nie op jou eie wysheid nie.

7. (a) Watter uitwerking het die goeie nuus? (b) Wat moet jy onthou as jou gesin verdeeld is omdat jy gehoorsaam is aan die goeie nuus?

7 Maar nie almal in Ikonium was bly om te hoor wat Paulus en Barnabas te sê gehad het nie. “Jode wat nie geglo het nie”, het Lukas verder gesê, “het die mense van die nasies teen die broers opgesteek en hulle beïnvloed om die broers te haat.” Paulus en Barnabas het besef dat hulle daar moes aanbly om die goeie nuus te verdedig, en hulle het “’n tyd lank daar gebly en het moedig gepreek”. Gevolglik was “die mense van die stad . . . verdeeld. Party was vir die Jode, maar ander vir die apostels” (Hand. 14:2-4). Vandag het die goeie nuus ’n soortgelyke uitwerking. Vir party is dit ’n verenigende krag; vir ander, ’n oorsaak van verdeeldheid (Matt. 10:34-36). As jou gesin verdeeld is omdat jy gehoorsaam is aan die goeie nuus, moet jy onthou dat teenstand dikwels ’n reaksie is op ongegronde gerugte of laster. Jou goeie gedrag kan die teenmiddel teen sulke gif word en uiteindelik die harte van diegene wat jou teëstaan, versag. – 1 Pet. 2:12; 3:1, 2.

8. Waarom het Paulus en Barnabas uit Ikonium weggegaan, en wat leer ons uit hulle voorbeeld?

8 Ná ’n ruk het teenstanders in Ikonium ’n komplot gesmee om Paulus en Barnabas te stenig. Toe die twee sendelinge hiervan vertel is, het hulle besluit om na ’n ander predikingsgebied te gaan (Hand. 14:5-7). Koninkryksverkondigers lê vandag ook sulke onderskeidingsvermoë aan die dag. Wanneer mense ons met woorde aanval, praat ons met vrymoedigheid (Fil. 1:7; 1 Pet. 3:13-15). Maar wanneer geweld dreig, sal ons nie iets onverstandigs doen wat ons lewe of die lewe van medegelowiges onnodig in gevaar sal stel nie. – Spr. 22:3.

‘Aanbid die lewende God’ (Handelinge 14:8-19)

9, 10. Waar was Listra, en wat weet ons van die inwoners daarvan?

9 Paulus en Barnabas het na Listra gegaan, ’n Romeinse kolonie sowat 30 kilometer suidwes van Ikonium. Listra het sterk bande met Pisidiese Antiogië behou, maar het, in teenstelling met daardie stad, nie ’n prominente Joodse gemeenskap gehad nie. Hoewel die inwoners waarskynlik Grieks gepraat het, was hulle moedertaal Likaonies. Moontlik omdat daar nie ’n sinagoge in die stad was nie, het Paulus en Barnabas in ’n openbare plek begin preek. Toe Petrus in Jerusalem was, het hy ’n man genees wat gebreklik gebore is. Nou het Paulus ’n man in Listra genees wat van sy geboorte af kreupel was (Hand. 14:8-10). Die wonderwerk wat Petrus verrig het, het daartoe gelei dat ’n groot skare gelowiges geword het (Hand. 3:1-10). Die wonderwerk wat Paulus verrig het, het ’n heel ander reaksie uitgelok.

10 Toe die kreupel man opspring, het die heidense skare in Listra onmiddellik tot die verkeerde gevolgtrekking gekom, soos aan die begin van hierdie hoofstuk beskryf is. Hulle het Barnabas Zeus, die hoofgod, genoem en Paulus Hermes, die seun van Zeus en woordvoerder van die gode. (Sien die venster “ Listra en die kultus van Zeus en Hermes”.) Maar Barnabas en Paulus was vasbeslote om die skare te laat verstaan dat hulle nie op gesag van heidense gode praat en optree nie, maar op gesag van Jehovah, die enigste ware God. – Hand. 14:11-14.

‘Hou op om hierdie waardelose dinge te doen en aanbid die lewende God, wat die hemel en die aarde gemaak het.’ – Handelinge 14:15

11-13. (a) Wat het Paulus en Barnabas vir die inwoners van Listra gesê? (b) Wat is een les wat ons uit die woorde van Paulus en Barnabas kan leer?

11 Ten spyte van die dramatiese omstandighede het Paulus en Barnabas nog steeds die harte van hulle gehoor op die beste manier probeer bereik. In sy beskrywing van hierdie voorval het Lukas ’n doeltreffende metode opgeteken om die goeie nuus aan heidene te verkondig. Let op hoe Paulus en Barnabas met hulle toehoorders gepraat het: “Manne, hoekom doen julle hierdie dinge? Ons is ook mense met dieselfde gebreke as julle. En ons maak die goeie nuus aan julle bekend sodat julle kan ophou om hierdie waardelose dinge te doen en die lewende God kan aanbid, wat die hemel en die aarde en die see en alles daarin gemaak het. In vorige geslagte het hy al die nasies toegelaat om te doen wat hulle wil, maar tog het hy getuienis oor homself gegee deur goeie dinge te doen. Hy het vir julle reën uit die hemel en vrugbare seisoene gegee, en hy het vir julle oorgenoeg voedsel en ’n hart vol blydskap gegee.” – Hand. 14:15-17.

12 Watter lesse kan ons uit hierdie gedagteprikkelende woorde leer? Eerstens het Paulus en Barnabas hulle nie as verhewe bo hulle gehoor beskou nie. Hulle het nie voorgegee dat hulle iets is wat hulle nie is nie. Hulle het eerder nederig erken dat hulle dieselfde swakhede as hulle heidense toehoorders het. Paulus en Barnabas het weliswaar die heilige gees ontvang en is van valse leringe bevry. Hulle is ook geseën met die hoop om saam met Christus te regeer. Maar hulle het besef dat die inwoners van Listra daardie selfde gawes kon ontvang as hulle aan Christus gehoorsaam is.

13 Wat is ons gesindheid teenoor diegene vir wie ons preek? Beskou ons hulle as ons gelykes? Probeer ons, soos Paulus en Barnabas, dit vermy dat ander ons ophemel wanneer ons hulle help om waarhede uit God se Woord te leer? Charles Taze Russell, ’n uitsonderlike onderrigter wat in die laat 19de en vroeë 20ste eeu die leiding geneem het in die predikingswerk, het in hierdie verband ’n goeie voorbeeld gestel. Hy het geskryf: “Ons soek geen hulde, geen verering, vir onsself of ons geskrifte nie; en ons wil ook nie as Eerwaarde of Rabbi aangespreek word nie.” Broer Russell se nederige gesindheid was ’n weerspieëling van die gesindheid van Paulus en Barnabas. Net so is ons doel in die predikingswerk nie om onsself te verheerlik nie, maar om mense te help om “die lewende God” te aanbid.

14-16. Wat is die tweede en derde les wat ons kan leer uit wat Paulus en Barnabas vir die inwoners van Listra gesê het?

14 Dink aan ’n tweede les wat ons uit hierdie toespraak kan leer. Paulus en Barnabas was aanpasbaar. In teenstelling met die Jode en proseliete in Ikonium het die inwoners van Listra min of geen kennis van die Skrif of van God se handelinge met die nasie Israel gehad nie. Maar diegene wat na Paulus en Barnabas geluister het, was deel van ’n landbougemeenskap. Listra was geseën met ’n gematigde klimaat en vrugbare landerye. Daardie mense kon oorgenoeg bewys van die Skepper se eienskappe sien in dinge soos vrugbare seisoene, en die sendelinge het hierdie gemeenskaplike grond gebruik in hulle pogings om met hulle te redeneer. – Rom. 1:19, 20.

15 Kan ons ook so aanpasbaar wees? Hoewel ’n boer dalk dieselfde soort saad op etlike van sy landerye saai, moet hy verskillende metodes gebruik om die grond voor te berei. Van die grond is dalk reeds sag en gereed vir die saad. Ander grond het miskien meer voorbereiding nodig. Net so is die saad wat ons saai, altyd dieselfde – die Koninkryksboodskap wat in God se Woord gevind word. Maar as ons soos Paulus en Barnabas is, sal ons die omstandighede en godsdiensagtergrond van die mense vir wie ons preek, probeer onderskei. Dan sal ons hierdie kennis gebruik om te besluit hoe ons die Koninkryksboodskap kan aanbied. – Luk. 8:11, 15.

16 Ons kan ’n derde les uit die verslag oor Paulus, Barnabas en die inwoners van Listra leer. Al doen ons ons bes, word die saad wat ons saai, soms weggeruk of val dit op rotsagtige grond (Matt. 13:18-21). As dit gebeur, moet ons nie moedeloos raak nie. Soos Paulus die dissipels in Rome later herinner het, “sal [God] elkeen van ons [met inbegrip van elke persoon met wie ons God se Woord bespreek] volgens ons dade oordeel”. – Rom. 14:12.

‘Hulle het hulle in die sorg gelaat van Jehovah’ (Handelinge 14:20-28)

17. Waarheen het Paulus en Barnabas gereis nadat hulle Derbe verlaat het, en waarom?

17 Nadat Paulus tot buite Listra gesleep en vir dood agtergelaat is, het die dissipels rondom hom gaan staan, en hy het opgestaan en in die stad gaan oornag. Die volgende dag het Paulus en Barnabas die reis van 100 kilometer na Derbe aangepak. Dink net hoeveel ongemak Paulus gedurende hierdie veeleisende reis moes verduur het, aangesien hy net ure tevore met klippe gegooi is. Nogtans het hy en Barnabas volhard, en toe hulle in Derbe aangekom het, het hulle “’n hele paar dissipels gemaak”. Daarna het hulle “na Listra, Ikonium en [Pisidiese] Antiogië [teruggegaan]”, pleks van die korter roete na hulle basis in Siriese Antiogië te volg. Waarom? Om “die dissipels [te] versterk en hulle [aan te moedig] om in die geloof te bly” (Hand. 14:20-22). Wat ’n voorbeeld is hierdie twee manne tog! Hulle het die belange van die gemeente bo hulle eie gerief gestel. Reisende opsieners en sendelinge volg vandag hulle voorbeeld.

18. Wat behels die aanstelling van ouermanne?

18 Behalwe om die dissipels deur hulle woorde en voorbeeld te versterk, het Paulus en Barnabas ook “in elke gemeente vir hulle ouermanne” aangestel. Hoewel hulle op hierdie sendingreis “deur die heilige gees uitgestuur is”, het Paulus en Barnabas nog steeds gebid en gevas toe hulle die ouermanne ‘in die sorg van Jehovah gelaat’ het (Hand. 13:1-4; 14:23). Vandag word ’n soortgelyke patroon gevolg. Voordat aanbevelings vir aanstellings gedoen word, oorweeg die plaaslike liggaam van ouermanne ’n broer se skriftuurlike kwalifikasies biddend (1 Tim. 3:1-10, 12, 13; Tit. 1:5-9; Jak. 3:17, 18; 1 Pet. 5:2, 3). Hoe lank hy al ’n Christen is, is nie die belangrikste faktor nie. Dit is eerder die broer se spraak, gedrag en reputasie wat toon in watter mate die heilige gees in sy lewe werksaam is. As hy voldoen aan die vereistes vir opsieners wat in die Skrif uiteengesit word, kwalifiseer hy om as ’n herder van die kudde te dien (Gal. 5:22, 23). Die kringopsiener het die verantwoordelikheid om sulke aanstellings te maak. – Vergelyk 1 Timoteus 5:22.

19. Van watter aanspreeklikheid is ouermanne bewus, en hoe volg hulle Paulus en Barnabas na?

19 Aangestelde ouermanne weet dat hulle voor God aanspreeklik is vir die manier waarop hulle die gemeente behandel (Heb. 13:17). Soos Paulus en Barnabas, neem ouermanne die leiding in die predikingswerk. Hulle versterk mededissipels met hulle woorde. En hulle is bereid om die belange van die gemeente bo hulle eie gerief te stel. – Fil. 2:3, 4.

20. Hoe vind ons daarby baat wanneer ons verslae lees oor die getroue werk van ons broers?

20 Toe Paulus en Barnabas uiteindelik na hulle sendingbasis in Siriese Antiogië teruggekeer het, het hulle vertel van “die baie dinge wat God deur middel van hulle gedoen het en dat hy die deur vir die nasies oopgemaak het sodat hulle geloof kan betoon” (Hand. 14:27). Wanneer ons van die getroue werk van ons Christenbroers lees en sien hoe Jehovah hulle pogings geseën het, sal dit ons aanspoor om aan te hou om ‘moedig te preek omdat Jehovah ons die gesag gegee het om dit te doen’.

a Sien die venster “ Ikonium – Stad van die Frigiërs”.