Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

DEEL 1

Die Skepper gee die mens ’n paradys

Die Skepper gee die mens ’n paradys

God skep die fisiese heelal asook lewe op die aarde; hy skep ’n volmaakte man en vrou, plaas hulle in ’n pragtige tuin en gee hulle gebooie om te gehoorsaam

DIT is al die beroemdste openingswoorde genoem wat nog ooit geskryf is. “In die begin het God die hemel en die aarde geskep” (Genesis 1:1). Met hierdie eenvoudige, sinryke verklaring stel die Bybel die Persoon wat die hooffiguur dwarsdeur die Heilige Skrif is—die almagtige God, Jehovah—aan ons bekend. Die eerste vers van die Bybel openbaar dat God die Skepper is van die ontsaglike fisiese heelal, met inbegrip van die planeet waarop ons woon. Die daaropvolgende verse verduidelik dat God gedurende ’n reeks lang tydperke, wat in figuurlike sin dae genoem word, ons aardse tuiste voorberei het en al die wonders van ons natuurlike wêreld gemaak het.

Die mens was die merkwaardigste van God se aardse skeppingswerke. Hier was ’n wese wat na God se beeld gemaak is—in staat om Jehovah se persoonlike eienskappe, soos sy liefde en wysheid, te weerspieël. God het die mens uit die stof van die aarde gemaak. God het hom Adam genoem en hom toe in ’n paradys—die tuin van Eden—geplaas. God het self hierdie tuin aangeplant en dit met pragtige, vrugbare bome gevul.

God het gesien dat die mens ’n maat nodig het. God het een van Adam se ribbebene gebruik en ’n vrou gemaak, wat later Eva genoem is, en haar na die man toe gebring as sy vrou. Adam was verheug en het liries uitgeroep: “Dit is eindelik been van my gebeente en vlees van my vlees.” God het verduidelik: “Daarom sal ’n man sy vader en sy moeder verlaat, en hy sal sy vrou aankleef en hulle sal een vlees word.”—Genesis 2:22-24; 3:20.

God het Adam en Eva twee gebooie gegee. Eerstens het hy hulle aangesê om hulle aardse tuiste te bewerk en daarvoor te sorg en om dit uiteindelik met hulle nakomelinge te vul. Tweedens het hy hulle verbied om van die vrugte van net een boom in daardie hele groot tuin te eet, “die boom van die kennis van goed en kwaad” (Genesis 2:17). Indien hulle ongehoorsaam was, sou hulle sterf. Met hierdie gebooie het God die man en die vrou ’n geleentheid gegee om te toon dat hulle hom as hulle Heerser aanvaar. Hulle gehoorsaamheid sou ook hulle liefde en dankbaarheid toon. Hulle het alle rede gehad om sy liefdevolle heerskappy te aanvaar. Hierdie volmaakte mense het geen gebreke gehad nie. Die Bybel sê vir ons: “God [het] alles gesien wat hy gemaak het, en kyk! dit was baie goed.”—Genesis 1:31.

—Gebaseer op Genesis hoofstukke 1 en 2.