Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

DEEL 9

Die Israeliete vra ’n koning

Die Israeliete vra ’n koning

Israel se eerste koning, Saul, word ongehoorsaam. Hy word opgevolg deur Dawid, met wie God ’n verbond vir ’n ewige koninkryk sluit

NÁ DIE dae van Simson het Samuel as profeet en rigter in Israel gedien. Die Israeliete het vir hom bly sê dat hulle soos ander nasies wil wees en ’n mensekoning oor hulle wil hê. Hoewel hierdie versoek vir Jehovah ’n belediging was, het hy Samuel beveel om aan die versoek te voldoen. God het ’n nederige man genaamd Saul gekies om koning te wees. Maar koning Saul het mettertyd hoogmoedig en ongehoorsaam geword. Jehovah het hom as koning verwerp en Samuel aangesê om ’n ander koning aan te stel—’n jong man met die naam Dawid. Jare sou egter verloop voordat Dawid koning word.

Terwyl Dawid waarskynlik nog in sy tienerjare was, het hy sy broers besoek wat in Saul se leër gedien het. Die hele leër was baie bang vir een van die vyand se krygsmanne, ’n reus met die naam Goliat, wat hulle en hulle God bly uittart het. Dawid was verontwaardig en het die reus se uitdaging aanvaar om teen hom te veg. Gewapen met net ’n slinger en ’n paar klippe, het die jong man uitgegaan om sy teenstander, wat amper drie meter lank was, te ontmoet. Toe Goliat met hom die spot dryf, het Dawid geantwoord dat hy beter gewapen is as die reus, want Dawid het in die naam van Jehovah God geveg! Dawid het Goliat met ’n enkele klip neergevel en die reus toe met sy eie swaard onthoof. Die Filistynse leër het vreesbevange gevlug.

Saul was aanvanklik beïndruk deur Dawid se moed en het die jong man oor sy leër aangestel. Maar Dawid se oorwinnings het Saul bitter jaloers gemaak. Omdat Dawid se lewe in gevaar was, moes hy vlug en jare lank as ’n voortvlugtige lewe. Dawid het nietemin lojaal gebly aan die koning wat hom probeer doodmaak het, want hy het geredeneer dat koning Saul deur Jehovah God aangestel is. Uiteindelik het Saul in ’n geveg gesterf. Kort daarna het Dawid koning geword, soos Jehovah belowe het.

“Ek sal beslis die troon van sy koninkryk tot onbepaalde tyd stewig vestig.”—2 Samuel 7:13

As koning was dit Dawid se innige begeerte om ’n tempel vir Jehovah te bou. Maar Jehovah het vir Dawid gesê dat een van sy nakomelinge dit sou doen. Hierdie nakomeling was toe Dawid se seun Salomo. God het Dawid egter beloon deur ’n opwindende verbond met hom te sluit: Sy geslagslyn sou ’n unieke koninklike dinastie oplewer. Dit sou uiteindelik die Verlosser, of Saad, voortbring wat in Eden belowe is. Hy sou die Messias wees, oftewel die “Gesalfde”, wat deur God aangewys is. Jehovah het belowe dat die Messias die Heerser sou wees in ’n regering, of Koninkryk, wat vir ewig sal bestaan.

Uit diepe dankbaarheid het Dawid ontsaglike hoeveelhede boumateriaal en kosbare edelmetale vir die tempelbouwerk bymekaargemaak. Hy het ook talle geïnspireerde psalms geskryf. Teen die einde van sy lewe het Dawid erken: “Die gees van Jehovah het deur my gespreek, en sy woord was op my tong.”—2 Samuel 23:2.

—Gebaseer op 1 Samuel; 2 Samuel; 1 Kronieke; Jesaja 9:7; Matteus 21:9; Lukas 1:32; Johannes 7:42.