Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

DEEL 10

Salomo is ’n wyse koning

Salomo is ’n wyse koning

Jehovah gee koning Salomo ’n wyse hart; gedurende Salomo se heerskappy geniet die Israeliete ongeëwenaarde vrede en voorspoed

HOE sal die lewe wees as ’n hele nasie en hulle heerser Jehovah as hulle Soewerein volg en Sy wette gehoorsaam? Die antwoord kan gevind word in koning Salomo se 40 jaar lange heerskappy.

Voordat Dawid gesterf het, het hy sy seun Salomo as sy opvolger aangestel. In ’n droom het God Salomo genooi om ’n versoek te doen. Salomo het wysheid en kennis gevra sodat hy die volk regverdig en wyslik kon rig. Dit het Jehovah behaag, en hy het Salomo ’n wyse hart met begrip gegee. Jehovah het hom ook rykdom, heerlikheid en ’n lang lewe belowe as hy gehoorsaam bly.

Salomo het beroemd geword vir sy wyse beslissings. In een geval het twee vroue oor ’n babaseuntjie gestry, want elkeen het beweer dat sy die ma is. Salomo het beveel dat die baba in twee gesny word en dat ’n helfte aan elke vrou gegee word. Die eerste vrou het ingestem, maar die werklike ma het dadelik gepleit dat die kind aan die ander vrou gegee word. Salomo het toe duidelik gesien dat die medelydende vrou die ma is en het die seuntjie vir haar gegee. Die hele Israel het weldra van hierdie regterlike beslissing gehoor, en die volk het besef dat die wysheid van God in Salomo is.

Een van Salomo se grootste werke was die oprigting van Jehovah se tempel—’n luisterryke gebou in Jerusalem wat as ’n sentrum van aanbidding in Israel sou dien. By die tempel se inwyding het Salomo gebid: “Kyk! Die hemel, ja, die hemel der hemele, kan u nie bevat nie; hoeveel minder dan hierdie huis wat ek gebou het!”—1 Konings 8:27.

Mense in ander lande, selfs so ver as Skeba, in Arabië, het van Salomo gehoor. Die koningin van Skeba het gekom om Salomo se heerlikheid en rykdom te sien en die diepte van sy wysheid op die proef te stel. Die koningin was so beïndruk deur Salomo se wysheid en die voorspoed van Israel dat sy Jehovah geloof het omdat hy so ’n wyse koning op die troon geplaas het. Ja, danksy Jehovah se seën was Salomo se heerskappy die voorspoedigste en vreedsaamste in die geskiedenis van eertydse Israel.

Ongelukkig het Salomo nie aangehou om in ooreenstemming met Jehovah se wysheid op te tree nie. Hy het God se gebod verontagsaam en met honderde vroue getrou, van wie talle aanbidders van vreemde gode was. Sy vrouens het sy hart geleidelik van Jehovah laat afwyk sodat hy afgode aanbid het. Jehovah het vir Salomo gesê dat deel van die koninkryk van hom weggeskeur sou word. Net ’n gedeelte sou in sy familie bly, het God gesê, ter wille van Salomo se vader, Dawid. Ondanks Salomo se ontrouheid het Jehovah lojaal gebly aan sy Koninkryksverbond met Dawid.

—Gebaseer op 1 Konings hoofstukke 1 tot 11; 2 Kronieke hoofstukke 1 tot 9; Deuteronomium 17:17.