Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

DEEL 18

Jesus verrig wonderwerke

Jesus verrig wonderwerke

Deur sy wonderwerke toon Jesus hoe hy sy mag as Koning sal gebruik

GOD het Jesus die mag gegee om dinge te doen wat ander mense nie kon doen nie. Jesus het baie wonderwerke verrig—dikwels voor skares ooggetuies. Hierdie wonderwerke het getoon dat Jesus mag het oor vyande en struikelblokke wat onvolmaakte mense nog nooit met blywende welslae kon bestry nie. Kyk na ’n paar voorbeelde.

Honger. Jesus se eerste wonderwerk was om water in goeie wyn te verander. By twee ander geleenthede het hy duisende honger mense met slegs ’n paar brode en visse gevoed. In albei gevalle was daar meer as genoeg kos vir almal.

Siekte. Jesus het mense met “elke soort kwaal en elke soort gebrek” genees (Matteus 4:23). Blindheid, doofheid, melaatsheid en epilepsie is deur sy helende hand genees. Hy het ook die verlamdes, die kreupeles en die verminktes genees. Daar was geen siekte wat hy nie kon genees nie.

Gevaarlike weerstoestande. Terwyl Jesus en sy dissipels oor die See van Galilea gevaar het, het ’n groot windstorm losgebars. Die dissipels was vreesbevange. Jesus het eenvoudig na die storm gekyk en gesê: “Bedaar! Wees stil!” Toe het daar ’n groot kalmte gekom (Markus 4:37-39). By ’n ander geleentheid het hy gedurende ’n ontsettende storm op die water geloop.—Matteus 14:24-33.

Bose geeste. Bose geeste is baie sterker as mense. Baie mense kon eenvoudig nie loskom uit die greep van hierdie boosaardige vyande van God nie. Tog het Jesus keer op keer die geeste se houvas op hulle slagoffers verbreek wanneer hy hulle beveel het om uit die mense uit te kom. Hy het hierdie geeste nie gevrees nie. Inteendeel, hulle het hom gevrees omdat hulle bewus was van sy gesag.

Die dood. Die dood, wat gepas “die laaste vyand” genoem word, is ’n vyand wat deur geen mens oorwin kan word nie (1 Korintiërs 15:26). Maar Jesus het die dooies opgewek; hy het onder andere ’n jong man aan sy weduwee-moeder en ’n jong meisie aan haar bedroefde ouers teruggegee. ’n Uiters merkwaardige geval was toe Jesus sy dierbare vriend Lasarus voor ’n skare rouklaers opgewek het, al was die man byna vier dae lank dood! Selfs Jesus se mees verbete vyande het erken dat hy hierdie wonderwerk verrig het.—Johannes 11:38-48; 12:9-11.

Waarom het Jesus al hierdie wonderwerke verrig? Het almal wat hy gehelp het, tog nie maar uiteindelik gesterf nie? Ja, maar Jesus se wonderwerke was van blywende nut. Dit het bewys dat al die opwindende profesieë oor die heerskappy van die Messiaanse Koning op feite gegrond is. Daar is geen rede om te twyfel dat God se aangestelde Koning honger, siekte, gevaarlike weerstoestande, bose geeste of selfs die dood uit die weg kan ruim nie. Hy het reeds getoon dat God hom die mag gegee het om dit alles te doen.

—Gebaseer op die boeke Matteus, Markus, Lukas, en Johannes.