Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Wat glo jy?

Wat glo jy?

Baie godsdiensfundamentaliste glo dat die ­aarde en alles daarop net ’n paar duisend jaar gelede in ses dae van 24 uur elk geskep is. ­Party ateïste probeer jou wysmaak dat God nie bestaan nie, dat die Bybel ’n boek vol mites is en dat alle lewe die produk van toevallige, ­onbeheerde gebeurtenisse is.

Die meeste mense het ’n beskouing wat êrens tussen hierdie teenstrydige idees val. Die feit dat jy hierdie brosjure lees, toon waarskynlik dat jy een van hulle is. Jy glo moontlik aan God en respekteer die Bybel. Maar jy heg miskien ook waarde aan die menings van hoogs opgeleide en invloedryke wetenskaplikes wat nie glo dat lewe geskep is nie. As jy ’n ouer is, wonder jy dalk wat jy vir jou kinders moet sê wanneer hulle vrae oor evolusie en die skepping vra.

Wat is die doel van hierdie brosjure?

Dit is nie die doel van hierdie materiaal om die spot te dryf met die beskouing van fundamentaliste of mense wat besluit om nie aan God te glo nie. Ons hoop eerder dat hierdie brosjure jou sal aanspoor om weer die grondslag van party van jou opvattings te ondersoek. Dit sal ’n verduideliking van die Bybel se skeppingsverslag bied waaraan jy dalk voorheen nie gedink het nie. En dit sal beklemtoon waarom dit werklik saak maak wat jy omtrent die ontstaan van lewe glo.

Sal jy die bewerings vertrou van mense wat sê dat daar geen intelligente Skepper is nie en dat die Bybel onbetroubaar is? Of sal jy ondersoek wat die Bybel werklik sê? Watter leringe is jou vertroue, jou geloof, waardig: dié van die Bybel of dié van evolusioniste? (Hebreërs 11:⁠1). Ondersoek gerus die feite.