Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Evolusie—Mites en feite

Evolusie—Mites en feite

“Evolusie is net soseer ’n feit as wat die hitte van die son is”, verklaar professor Richard Dawkins, ’n vooraanstaande evolusiewetenskaplike.16 Eksperimente en regstreekse waarnemings bewys natuurlik dat die son warm is. Maar verleen eksperimente en regstreekse waarnemings dieselfde onbetwiste steun aan die evolusieleer?

Voordat ons hierdie vraag beantwoord, moet ons eers iets opklaar. Baie wetenskaplikes het al opgemerk dat afstammelinge van lewende wesens mettertyd effens kan verander. Mense kan byvoorbeeld honde selektief teel sodat hulle afstammelinge uiteindelik korter bene of langer hare as hulle voorouers het. * Party wetenskaplikes noem hierdie klein veranderinge “mikro-evolusie”.

Maar volgens evolusioniste het klein veranderinge geleidelik oor miljarde jare geakkumuleer en die groot veranderinge teweeggebring wat nodig was om visse in amfibieë en aapagtige diere in mense te verander. Hierdie veronderstelde groot veranderinge word omskryf as “makro-evolusie”.

Charles Darwin en sy boek Origin of Species

Charles Darwin het byvoorbeeld geleer dat die klein veranderinge wat ons kan waarneem, daarop dui dat baie groter veranderinge​—⁠wat niemand waargeneem het nie​—⁠ook moontlik is.17 Hy het geglo dat ’n paar oorspronklike, sogenaamde eenvoudige lewensvorme oor ontsaglike lang tydperke stadig geëvolueer het​—⁠deur middel van “uiters klein veranderinge”​—⁠om die miljoene verskillende lewensvorme op aarde voort te bring.18

Vir baie klink hierdie bewering redelik. Hulle wonder: ‘As klein veranderinge binne ’n spesie kan plaasvind, waarom sou evolusie dan nie oor lang tydperke groot veranderinge kon teweegbring nie?’ * Maar in werklikheid berus die evolusieleer op drie mites. Kyk na die volgende.

Mite 1. Mutasies voorsien die boustene wat nodig is om nuwe spesies te skep. Die leer van makro-evolusie berus op die bewering dat mutasies​—⁠willekeurige veranderinge in die genetiese kode van plante en diere​—⁠nie net nuwe spesies nie, maar ook heeltemal nuwe families van plante en diere kan voortbring.19

Mutasies kan veranderinge in plante teweegbring—soos hierdie mutant met groot blomme—maar net binne perke

Die feite. Baie kenmerke van ’n plant of dier word bepaal deur die instruksies in sy genetiese kode, die bloudruk in die kern van elke sel. * Navorsers het ontdek dat mutasies veranderinge in die afstammelinge van plante en diere kan voortbring. Maar bring mutasies werklik heeltemal nuwe spesies voort? Wat het ’n eeu se navorsing op die gebied van genetika aan die lig gebring?

In die laat 1930’s het wetenskaplikes ’n nuwe idee geesdriftig aangeneem. Hulle het reeds gedink dat natuurlike seleksie​—⁠die proses waartydens die organisme wat die beste by sy omgewing aangepas is, die beste kans het om te oorleef en voort te plant⁠—​nuwe plantspesies uit willekeurige mutasies kan voortbring. Daarom het hulle nou aangeneem dat kunsmatige, of mensgeïnduseerde, seleksie van mutasies dieselfde behoort te kan doen, maar doeltreffender. Wolf-Ekkehard Lönnig, ’n wetenskaplike by die Max Planck-instituut vir Navorsing oor Planteteelt in Duitsland, het gesê: “Euforie het onder bioloë oor die algemeen en genetici en telers in die besonder versprei.” * Waarom die euforie? Lönnig, wat al sowat 30 jaar lank mutasiegenetika in plante bestudeer, het gesê: “Hierdie navorsers het gedink dat die tyd aangebreek het om die tradisionele metode waarop plante en diere geteel word, drasties te verander. Hulle het gedink dat hulle, deur gunstige mutasies te veroorsaak en te kies, nuwe en beter plante en diere sou kon voortbring.”20 Trouens, party het gehoop om heeltemal nuwe spesies voort te bring.

Mutante vrugtevlieë is nog steeds vrugtevlieë, al is hulle misvormd

Wetenskaplikes in die Verenigde State, Asië en Europa het goed befondste navorsingsprogramme van stapel gestuur en metodes gebruik wat beloof het om evolusie te versnel. Wat was die resultate ná meer as 40 jaar se intensiewe navorsing? “Ten spyte van ontsaglike finansiële koste”, sê die navorser Peter von Sengbusch, “was die poging om produktiewer variëteite deur middel van bestraling te teel [om mutasies te veroorsaak], in baie opsigte ’n mislukking.”21 En Lönnig het gesê: “Teen die 1980’s het wetenskaplikes se verwagtinge en euforie in wêreldwye mislukking geëindig. Mutasieteling as ’n afsonderlike navorsingsveld is in Westerse lande laat vaar. Bykans al die mutante . . . het doodgegaan of was swakker as die wilde variëteite.” *

Die data wat ingesamel is ná sowat 100 jaar se mutasienavorsing oor die algemeen en 70 jaar se mutasieteling in die besonder, stel wetenskaplikes nogtans in staat om gevolgtrekkings te maak aangaande die vermoë van mutasies om nuwe spesies voort te bring. Nadat Lönnig die bewyse ondersoek het, het hy tot hierdie gevolgtrekking gekom: “Mutasies kan nie ’n oorspronklike spesie [van ’n plant of dier] in ’n heeltemal nuwe spesie verander nie. Hierdie gevolgtrekking stem ooreen met al die ondervindinge en resultate van mutasienavorsing van die 20ste eeu sowel as met die waarskynlikheidswette.”

Kan mutasies dus een spesie tot ’n heeltemal nuwe soort laat evolueer? Die bewyse toon dat die antwoord nee is! Lönnig se navorsing het hom tot die gevolgtrekking laat kom dat “behoorlik gedefinieerde spesies ware grense het wat nie deur toevallige mutasies opgehef of oorskry kan word nie”.22

Dink aan die implikasies van die bogenoemde feite. As hoogs opgeleide wetenskaplikes nie nuwe spesies kan voortbring deur gunstige mutasies kunsmatig te veroorsaak en te kies nie, is dit dan waarskynlik dat ’n onintelligente proses dit sou ­regkry? As navorsing toon dat mutasies nie ’n oorspronklike spesie in ’n heeltemal nuwe spesie kan verander nie, presies hoe moes makro-evolusie dan plaasgevind het?

Mite 2. Natuurlike seleksie het tot die ontstaan van nuwe spesies gelei. Darwin het geglo dat die proses wat hy natuurlike seleksie genoem het, die lewensvorme sou begunstig wat die beste by die omgewing aangepas is, terwyl minder geskikte lewensvorme uiteindelik sou uitsterf. Toe spesies versprei het en van mekaar afgesonder geraak het, sê moderne evolusioniste, het natuurlike seleksie dié begunstig met geenmutasies wat hulle in staat gestel het om in hulle nuwe omgewing te oorleef. As gevolg daarvan, bespiegel evolusioniste, het hierdie afgesonderde groepe uiteindelik tot heeltemal nuwe spesies ontwikkel.

Die feite. Soos vroeër gemeld is, dui die bewyse wat deur navorsing verkry is, sterk daarop dat mutasies nie heeltemal nuwe soorte plante of diere kan voortbring nie. Maar watter bewyse voorsien evolusioniste om die bewering te staaf dat natuurlike seleksie nuttige mutasies kies om nuwe spesies voort te bring? ’n Brosjure wat in 1999 deur die Nasionale Akademie vir Wetenskappe (NAS) in die Verenigde State uitgegee is, verwys na “die 13 vinkspesies wat Darwin op die Galápagos-eilande bestudeer het en wat nou as Darwin se vinke bekend staan”.23

In die 1970’s het ’n navorsingsgroep onder leiding van Peter R. en B. Rosemary Grant van die Princeton-universiteit hierdie vinke begin bestudeer en gevind dat vinke met effens groter snawels ná ’n jaarlange droogte op die eilande makliker oorleef het as dié met kleiner snawels. Aangesien die waarneming van die grootte en vorm van die snawels een van die vernaamste maniere is om die 13 vinkspesies te kategoriseer, is daar aangeneem dat hierdie bevindinge belangrik is. Die NAS-­brosjure sê verder: “Die Grants het gemeen dat ’n nuwe vinkspesie moontlik in net sowat 200 jaar sou ontstaan indien ’n droogte ongeveer een keer elke 10 jaar op die eilande voorkom.”24

Die NAS-brosjure meld egter nie dat die vinke met kleiner snawels in die jare ná die droogte weer eens die bevolking oorheers het nie. Die navorsers het gevind dat, na gelang van die veranderinge in klimaatstoestande op die eiland, vinke met groter snawels een jaar die bevolking oorheers het, maar dat dié met kleiner snawels later oorheersend was. Hulle het ook opgemerk dat sommige van die verskillende “spesies” van vinke met mekaar paar en nakomelinge voortbring wat beter as hulle ouers vaar. Hulle het tot die slotsom gekom dat die onderlinge kruisings, indien dit sou voortduur, daartoe kon lei dat twee “spesies” tot net een saamsmelt.25

Darwin se vinke toon hoogstens dat ’n spesie hom by veranderende klimaatstoestande kan aanpas

Skep natuurlike seleksie dus werklik heeltemal nuwe spesies? Dekades gelede het die evolusiebioloog George Chris­to­pher Williams begin bevraagteken of natuurlike seleksie sulke krag het.26 Die evolusieteoretikus Jeffrey H. Schwartz het in 1999 geskryf dat natuurlike seleksie spesies moontlik help om hulle by die veranderende bestaansbehoeftes aan te pas, maar dat dit niks nuuts skep nie.27

Ja, Darwin se vinke word “niks nuuts” nie. Hulle is nog steeds vinke. En die feit dat daar onderlinge kruising plaasvind, wek twyfel oor die metodes wat sommige evolusioniste gebruik om ’n spesie te definieer. Daarbenewens openbaar inligting oor ­hierdie voëls dat selfs hoogaangeskrewe wetenskaplike akademies hulle daaraan skuldig maak om bewyse op ’n bevooroordeelde manier aan te bied.

Mite 3. Die fossielverslag lewer bewys van makro-evolusionêre veranderinge. Die voorgenoemde NAS-brosjure laat die leser met die indruk dat fossiele wat deur wetenskaplikes gevind is, meer as genoeg bewyse van makro-evolusie bevat. Dit sê: “Daar is al soveel tussenvorme ontdek tussen visse en amfibieë, tussen amfibieë en reptiele, tussen reptiele en soogdiere en in die afstammingslyne van die primate dat dit dikwels moeilik is om kategories te identifiseer wanneer die oorgang van een spesie na ’n ander spesifieke spesie plaasvind.”28

Die feite. Dit is nogal verbasend dat die NAS-brosjure hierdie stelling met vrymoedigheid maak. Waarom? Volgens Niles ­Eldredge, ’n onversetlike evolusionis, toon die fossielverslag nie dat daar ’n geleidelike akkumulasie van veranderinge is nie, maar dat daar oor lang tydperke “min of geen evolusionêre veranderinge in die meeste spesies akkumuleer nie”. *29

Volgens die fossielverslag het al die hoofgroepe van diere skielik verskyn en feitlik onveranderd gebly

Tot op hede het wetenskaplikes regoor die wêreld ongeveer 200 miljoen groot fossiele en miljarde klein fossiele ontdek en gekatalogiseer. Baie navorsers stem saam dat hierdie enorme en gedetailleerde verslag toon dat al die hoofgroepe van diere skielik verskyn het en feitlik onveranderd gebly het, met baie spesies wat net so skielik verdwyn het as wat hulle verskyn het.

Geloof in evolusie—’n daad van “geloof”

Waarom hou talle vooraanstaande evolusioniste vol dat makro-evolusie ’n feit is? Richard Lewontin, ’n invloedryke evolusionis, het ronduit geskryf dat baie wetenskaplikes bereid is om onbewese wetenskaplike bewerings te aanvaar omdat hulle hulle “reeds tot materialisme verbind het”. * Baie wetenskaplikes weier om eens die moontlikheid van ’n intelligente Ontwerper te oorweeg omdat, soos Lewontin skryf, “ons nie ’n Goddelike Voet in die deur kan toelaat nie”.30

In hierdie verband word die sosioloog Rodney Stark in Scientific American soos volg aangehaal: “Die gedagte dat jy jou verstand vry van die kettings van godsdiens moet hou as jy ’n wetenskaplike persoon wil wees, word al 200 jaar lank bevorder.” In navorsingsuniversiteite, sê hy verder, “hou godsdienstige mense hulle mond”.31

As jy die leer van makro-evolusie as die waarheid wil aanvaar, moet jy glo dat agnostiese of ateïstiese wetenskaplikes nie sal toelaat dat hulle persoonlike opvattings hulle interpretasies van wetenskaplike bevindings beïnvloed nie. Jy moet glo dat mutasies en natuurlike seleksie alle komplekse lewensvorme voortgebring het, ondanks die feit dat ’n eeu se navorsing toon dat mutasies nie eens een behoorlik gedefinieerde spesie in iets heeltemal nuuts verander het nie. Jy moet glo dat alle wesens geleidelik van ’n gemeenskaplike voorouer geëvolueer het, ondanks die feit dat daar sterk aanduidings in die fossielverslag is dat die hoofsoorte plante en diere skielik verskyn het en nie in ander soorte geëvolueer het nie, selfs nie oor ontelbare eeue nie. Klink hierdie soort geloof asof dit op feite of op mites gegrond is? In werklikheid is geloof in evolusie ’n daad van “geloof”.

^ par. 3 Die veranderinge wat hondetelers kan voortbring, word dikwels deur ’n verlies aan geenfunksie veroorsaak. Die worshond is byvoorbeeld so klein weens ’n afwyking in die normale ontwikkeling van kraakbeen, wat tot dwergisme lei.

^ par. 6 Hoewel die woord “spesie” dikwels in hierdie deel gebruik word, is dit goed om daarop te let dat hierdie term nie in die Bybelboek Genesis voorkom nie. Daar vind ons die term ‘soort’, wat ’n baie breër betekenis het. Wat wetenskaplikes verkies om die evolusie van ’n nuwe spesie te noem, is dikwels bloot ’n kwessie van variasie binne ’n ‘soort’, soos die woord in die Genesisverslag gebruik word.

^ par. 8 Navorsing toon dat die sitoplasma, membrane en ander dele van die sel ook ’n rol speel in die vorming van ’n organisme.

^ par. 9 Lönnig glo dat lewe geskep is. Sy kommentare in hierdie publikasie is sy eie en verteenwoordig nie die mening van die Max Planck-instituut vir Navorsing oor Planteteelt nie.

^ par. 10 Tydens mutasie-eksperimente is daar herhaaldelik gevind dat die aantal nuwe mutante geleidelik afgeneem het, terwyl dieselfde soort mutante gereeld verskyn het. Daarbenewens is minder as 1 persent van plantmutante vir verdere navorsing gekies, en minder as 1 persent van hierdie groep was geskik vir kommersiële gebruik. Maar nie een heeltemal nuwe spesie is ooit voortgebring nie. Die resultate van mutasieteling by diere was selfs nog swakker as dié by plante, en die metode is heeltemal laat vaar.

^ par. 21 Selfs die paar voorbeelde uit die fossielverslag waarna navorsers verwys as bewys van evolusie, is vatbaar vir bespreking. Sien bladsye 22 tot 29 van die brosjure Vyf belangrike vrae oor die oorsprong van lewe, uitgegee deur Jehovah se Getuies.

^ par. 24 “Materialisme” verwys hier na ’n teorie dat alles in die heelal, insluitende alle lewe, ontstaan het sonder enige bonatuurlike ingryping in die proses.