Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LES 2

Waarom word ons Jehovah se Getuies genoem?

Waarom word ons Jehovah se Getuies genoem?

Noag

Abraham en Sara

Moses

Jesus Christus

Baie mense dink dat Jehovah se Getuies die naam van ’n nuwe godsdiens is. Maar meer as 2 700 jaar gelede is die knegte van die enigste ware God sy “getuies” genoem (Jesaja 43:10-12). Tot 1931 het ons as Bybelstudente bekend gestaan. Waarom het ons die naam Jehovah se Getuies aangeneem?

Dit identifiseer ons God. Volgens ou manuskripte kom God se naam, Jehovah, duisende kere in die Bybel voor. In baie vertalings is hierdie naam met titels, soos Here of God, vervang. Maar die ware God het hom deur middel van sy persoonlike naam, Jehovah, aan Moses geopenbaar en gesê: “Dit is my naam tot onbepaalde tyd” (Eksodus 3:15). Só het hy hom van alle valse gode onderskei. Ons is trots om God se heilige naam te dra.

Dit beskryf ons toewysing. ’n Lang lyn van mense uit die ou tyd, van wie die regverdige man Abel die eerste was, het van hulle geloof in Jehovah getuig. Deur die eeue heen het Noag, Abraham, Sara, Moses, Dawid en ander by hierdie groot “wolk van getuies” aangesluit (Hebreërs 11:4–12:1). Net soos iemand in die hof vir ’n onskuldige persoon kan getuig, is ons vasbeslote om die waarheid omtrent ons God bekend te maak.

Ons volg Jesus na. Die Bybel noem hom “die getroue en waaragtige getuie” (Openbaring 3:14). Jesus het self gesê dat hy ‘God se naam bekend gemaak het’ en bly ‘getuig het van die waarheid’ omtrent God (Johannes 17:26; 18:37). Christus se ware volgelinge moet dus Jehovah se naam dra en dit bekend maak. Jehovah se Getuies beywer hulle om dit te doen.

  • Waarom het die Bybelstudente die naam Jehovah se Getuies aangeneem?

  • Hoe lank het Jehovah al getuies op die aarde?

  • Wie is die grootste Getuie van Jehovah?