Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LES 10

Wat is gesinsaanbidding?

Wat is gesinsaanbidding?

Suid-Korea

Brasilië

Australië

Guinee

Van die vroegste tye af wou Jehovah hê dat elke gesin tyd saam moet deurbring om hulle geestelikheid op te bou en die gesinsband te versterk (Deuteronomium 6:6, 7). Daarom sit Jehovah se Getuies elke week tyd opsy vir die gesin om saam te aanbid—om in ’n ontspanne atmosfeer geestelike sake te bespreek wat in hulle spesifieke behoeftes voorsien. Selfs al woon jy alleen, kan hierdie tyd goed saam met God deurgebring word deur aan ’n Bybelstudieprojek van jou keuse te werk.

Dit is ’n tyd om nader aan Jehovah te kom. “Kom nader aan God, en hy sal nader aan julle kom” (Jakobus 4:8). Ons leer Jehovah beter ken wanneer ons uit sy geskrewe Woord besonderhede oor sy persoonlikheid en sy dade leer. ’n Maklike manier om julle gesinsaanbidding te begin, is onder andere deur die Bybel saam hardop te lees, miskien deur die weeklikse rooster vir die Lewe en Bediening-vergadering te volg. Elke gesinslid kan gevra word om ’n toegewese deel te lees, en dan kan julle bespreek wat julle uit die Skrif geleer het.

Dit is ’n tyd om as ’n gesin nader aan mekaar te kom. Huweliksmaats, sowel as ouers en kinders, versterk hulle bande met mekaar wanneer hulle die Bybel as ’n gesin bestudeer. Dit moet ’n gelukkige, vreedsame tyd en ’n hoogtepunt van die week wees. Na gelang van die ouderdomme van hulle kinders kan ouers praktiese onderwerpe vir bespreking kies, miskien deur artikels uit Die Wagtoring en Ontwaak!, of ons webwerf jw.org, te gebruik. Julle kan praat oor ’n probleem wat julle kinders by die skool ondervind het en hoe dit te bowe gekom kan word. Julle kan ook ’n program op JW BROADCASTING (tv.pr418.com) saam kyk en dit bespreek. Dit sal dalk ook vir julle aangenaam wees om die liedere te oefen wat by die vergaderinge gesing sal word en om verversings ná gesinsaanbidding te geniet.

Hierdie spesiale tyd wat julle elke week daaraan bestee om Jehovah saam te aanbid, sal almal in die gesin help om behae in God se Woord te skep, en hy sal julle pogings ryklik seën.—Psalm 1:1-3.

  • Waarom sit ons tyd opsy vir gesinsaanbidding?

  • Hoe kan ouers hierdie geleentheid genotvol maak vir almal in die gesin?