Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LES 19

Wie is die getroue en verstandige slaaf?

Wie is die getroue en verstandige slaaf?

Ons vind almal baat by ons geestelike voedsel

Kort voor sy dood het Jesus ’n private gesprek met vier van sy dissipels—Petrus, Jakobus, Johannes en Andreas—gehad. Terwyl Jesus die teken van sy teenwoordigheid in die laaste dae voorspel het, het hy ’n baie belangrike vraag geopper: “Wie is werklik die getroue en verstandige slaaf vir wie sy heer oor sy huisknegte aangestel het om hulle hulle voedsel op die regte tyd te gee?” (Matteus 24:3, 45; Markus 13:3, 4). Jesus het sy dissipels verseker dat hy, as hulle “heer”, diegene sou aanstel wat gedurende die tyd van die einde aan sy volgelinge ’n bestendige voorraad geestelike voedsel sou voorsien. Wie sou hierdie slaaf uitmaak?

Hulle is ware geesgesalfde volgelinge van Jesus. Die “slaaf” voorsien tydige geestelike voedsel aan mede-aanbidders van Jehovah. Ons maak staat op hierdie getroue slaafklas om ons “op die regte tyd [ons] deel van die voedsel” te bly gee.—Lukas 12:42.

Hulle bestuur die huisgesin van God (1 Timoteus 3:15). Jesus het die slaaf die gewigtige verantwoordelikheid gegee om die werk van die aardse deel van Jehovah se organisasie te bestuur—om na die materiële bates daarvan om te sien, die predikingswerk te rig en ons deur middel van ons gemeentes te onderrig. Om ons te voorsien van wat ons nodig het wanneer ons dit nodig het, stel “die getroue en verstandige slaaf” dus geestelike voedsel beskikbaar deur middel van die publikasies wat ons in die bediening gebruik, asook deur middel van die programme wat by ons vergaderinge en byeenkomste aangebied word.

Die slaaf is getrou aan Bybelwaarhede en aan die opdrag wat hulle ontvang het om die goeie nuus te verkondig, en hulle is verstandig met betrekking tot die manier waarop hulle wyslik na Christus se belange op die aarde omsien (Handelinge 10:42). Jehovah seën die slaaf se werk met vermeerdering en oorvloedige geestelike voorsienings.—Jesaja 60:22; 65:13.

  • Wie is deur Jesus aangestel om sy dissipels geestelik te voed?

  • In watter opsigte is die slaaf getrou en verstandig?