Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LES 21

Wat is Bethel?

Wat is Bethel?

Kunsafdeling, VSA

Duitsland

Kenia

Colombia

Bethel, ’n Hebreeuse naam, beteken “huis van God” (Genesis 28:17, 19). Dit is ’n gepaste benaming vir die komplekse wat Jehovah se Getuies regoor die wêreld opgerig het en waarvandaan die predikingswerk gerig en ondersteun word. Die Bestuursliggaam dien by die wêreldhoofkwartier in die staat New York, VSA, en daarvandaan hou dit toesig oor die werk van die takkantore in baie lande. Diegene wat by hierdie fasiliteite dien, staan gesamentlik bekend as die Bethelgesin. Soos ’n gesin, lewe en werk hulle saam, eet hulle saam en bestudeer hulle die Bybel in eenheid saam.—Psalm 133:1.

’n Unieke plek waar gesinslede van hulleself gee. By elke Bethel is daar Christenmans en -vroue wat hulle voltyds daaraan wy om God se wil te doen en Koninkryksbelange te bevorder (Matteus 6:33). Nie een van hulle ontvang ’n loon of salaris nie, maar almal word voorsien van kos en verblyf en ’n toelaag om hulle met persoonlike uitgawes te help. Elkeen by Bethel het ’n toewysing, hetsy in ’n kantoor, ’n kombuis of ’n eetsaal. Party dien in ’n drukkery of ’n boekbindery, doen skoonmaakwerk, werk in ’n wassery of doen instandhoudingswerk of iets anders.

’n Besige plek wat die Koninkrykspredikingswerk ondersteun. Die vernaamste oogmerk van elke Bethel is om Bybelwaarheid aan soveel mense moontlik beskikbaar te stel. Hierdie brosjure is ’n voorbeeld hiervan. Dit is onder toesig van die Bestuursliggaam geskryf, elektronies na honderde vertaalspanne regoor die wêreld gestuur, op hoëspoedperse in etlike Betheldrukkerye gedruk en na meer as 110 000 gemeentes versend. Gedurende elke deel van hierdie proses voorsien Bethelgesinne noodsaaklike ondersteuning aan die allerdringendste taak—die verkondiging van die goeie nuus.—Markus 13:10.

  • Wie dien by Bethel, en waarvan word hulle voorsien?

  • Watter dringende werk word deur die bedrywighede by elke Bethel ondersteun?