Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LES 26

Hoe kan ons help om ons Koninkryksaal in stand te hou?

Hoe kan ons help om ons Koninkryksaal in stand te hou?

Estland

Zimbabwe

Mongolië

Puerto Rico

Elke Koninkryksaal van Jehovah se Getuies dra God se heilige naam. Daarom voel ons dat dit ’n voorreg en ’n belangrike deel van ons heilige aanbidding is om te help om die gebou skoon, netjies en in ’n goeie toestand te hou. Almal kan daarmee help.

Bied aan om ná ’n vergadering te help skoonmaak. Ná elke vergadering maak broers en susters met graagte ’n bietjie skoon om die Koninkryksaal op te ruim. Een keer per week word dit deegliker skoongemaak. ’n Ouer man of ’n bedieningskneg koördineer die werk, gewoonlik deur ’n lys te volg van dinge wat gedoen moet word. Na gelang van wat nodig is, bied persone aan om die vloer te vee, te mop of te stofsuig, af te stof, die stoele reg te skuif, die badkamers skoon te maak en te ontsmet, vensters en spieëls te was, die vullis weg te gooi of buite skoon te maak en die erf op te ruim. Ten minste een keer per jaar word ’n groot skoonmaakdag gereël. As ons ons kinders by party pligte betrek, leer ons hulle om ons plek van aanbidding te respekteer.—Prediker 5:1.

Help met enige herstelwerk wat nodig is. Elke jaar word die binnekant sowel as die buitekant van die Koninkryksaal deeglik geïnspekteer. Op grond van hierdie inspeksie word gereelde instandhoudingswerk gedoen om die saal in ’n goeie toestand te hou, wat help om onnodige uitgawes te vermy (2 Kronieke 24:13; 34:10). ’n Koninkryksaal wat skoon en goed in stand gehou word, is ’n waardige plek om ons God te aanbid. Deur met hierdie werk te help, toon ons hoe na Jehovah en ons plek van aanbidding ons aan die hart lê (Psalm 122:1). Dit skep ook ’n goeie indruk in die gemeenskap.—2 Korintiërs 6:3.

  • Waarom moet ons nie ons plek van aanbidding verwaarloos nie?

  • Watter reëlings word getref om die Koninkryksaal skoon te hou?