Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LES 10

Hoe kan jy uitvind wat die ware geloof is?

Hoe kan jy uitvind wat die ware geloof is?

1. Is daar net een ware godsdiens?

“Pasop vir die valse profete.” – MATTEUS 7:15.

Jesus het sy volgelinge net een godsdiens, die ware godsdiens, geleer. Dit is soos ’n pad na die ewige lewe. Jesus het van hierdie pad gesê: “Daar is min mense wat dit vind” (Matteus 7:14). God aanvaar net aanbidding wat met die Bybel saamstem. Alle ware aanbidders is verenig in een geloof. – Lees Johannes 4:23, 24; 14:6; Efesiërs 4:4, 5.

Kyk na die video Aanvaar God alle vorme van aanbidding?

2. Wat het Jesus oor valse Christene gesê?

“Hulle verkondig in die openbaar dat hulle God ken, maar hulle dade toon dat hulle hom nie wil ken nie.” – TITUS 1:16.

Jesus het gewaarsku dat valse profete die waarheid van die Christelike godsdiens sou verdraai. Dit lyk asof hulle ware aanbidders is. Hulle kerke sê dat hulle Christene is. Maar jy kan sien wat hierdie mense regtig is. ’n Mens kan hulle uitken deur wat hulle doen en wat hulle sê. Dit is ook hoe ’n mens ware Christene kan uitken. – Lees Matteus 7:13-23.

3. Hoe kan jy ware aanbidders uitken?

Kyk na hierdie vyf kenmerke:

  • Ware aanbidders respekteer die Bybel as God se Woord. Hulle probeer om volgens die beginsels daarin te lewe. Die ware godsdiens kom nie van mense se idees af nie (Matteus 15:7-9). Ware aanbidders verkondig nie een ding en doen dan iets anders nie. – Lees Johannes 17:17; 2 Timoteus 3:16, 17.

  • Jesus se ware volgelinge eer God se naam, Jehovah. Jesus het God se naam geëer deur dit bekend te maak. Hy het mense gehelp om God te leer ken en het hulle geleer om te bid dat God se naam geheilig word (Matteus 6:9). Watter godsdiens in jou gebied maak God se naam bekend? – Lees Johannes 17:26; Romeine 10:13, 14.

  • Ware Christene verkondig God se Koninkryk. God het Jesus gestuur om die goeie nuus van die Koninkryk te verkondig. God se Koninkryk is die enigste hoop vir die mens. Jesus het tot die dag van sy dood aangehou om hieroor te praat (Lukas 4:43; 8:1; 23:42, 43). Hy het gesê dat sy volgelinge dit sou verkondig. As iemand met jou oor God se Koninkryk kom praat, aan watter godsdiens behoort hy heel moontlik? – Lees Matteus 24:14.

  • Jesus se volgelinge is geen deel van hierdie goddelose wêreld nie. Jy kan hulle uitken omdat hulle nie by die politiek of die wêreld se probleme betrokke raak nie (Johannes 17:16; 18:36). Hulle doen nie die slegte dinge wat die mense in die wêreld doen nie, en hulle word ook nie beïnvloed deur die idees van die wêreld nie. – Lees Jakobus 4:4.

  • Ware Christene het intense liefde vir mekaar. God se Woord leer hulle om mense van alle rasse te respekteer. Al ondersteun valse godsdienste dikwels die oorloë van die nasies, weier ware aanbidders om dit te doen (Miga 4:1-3). Ware Christene gebruik eerder hulle tyd en materiële dinge om ander te help en aan te moedig sonder om iets terug te verwag. – Lees Johannes 13:34, 35; 1 Johannes 4:20.

4. Kan jy die ware godsdiens uitken?

Watter godsdiens se leringe kom uit die Bybel, eer God se naam en verkondig God se Koninkryk as die mens se enigste hoop? Watter groep beoefen liefde en ondersteun nie oorlog nie? Wat dink jy? – Lees 1 Johannes 3:10-12.