Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LES 1

Ons ken ’n spesiale geheim

Ons ken ’n spesiale geheim

Het iemand al ooit vir jou ’n geheim vertel?— * Die Bybel praat van ’n spesiale geheim wat “die heilige geheim” genoem word. Dit is heilig omdat dit van God af kom. En dit word ’n geheim genoem omdat mense nie daarvan geweet het nie. Selfs engele wou meer hiervan weet. Wil jy graag weet wat die geheim is?—

Wat dink jy het die engele probeer uitvind?

Lank, lank gelede het God die eerste man en vrou geskep. Hulle name was Adam en Eva. God het hulle ’n pragtige plek gegee om in te bly wat die tuin van Eden genoem is. As Adam en Eva aan God gehoorsaam was, sou hulle en hulle kinders die hele aarde ’n paradys kon maak soos daardie tuin was. En hulle sou vir ewig in die Paradys kon lewe. Maar onthou jy wat Adam en Eva gedoen het?—

Adam en Eva was ongehoorsaam aan God, en daarom lewe ons nie vandag in ’n paradys nie. Maar God het gesê dat hy die hele aarde mooi sal maak en dat almal vir ewig sal lewe en gelukkig sal wees. Hoe sal hy dit doen? Mense het baie lank nie geweet nie. Dit was ’n geheim.

Toe Jesus aarde toe gekom het, het hy mense meer oor hierdie geheim geleer. Hy het gesê dit gaan oor God se Koninkryk. Jesus het vir mense gesê om te bid dat hierdie Koninkryk moet kom. Dit sal die aarde ’n pragtige paradys maak.

Is jy opgewonde omdat jy hierdie geheim ken?— Onthou dat net mense wat aan Jehovah gehoorsaam is, in die Paradys sal lewe. In die Bybel is daar baie verhale van manne en vroue wat aan Jehovah gehoorsaam was. Wil jy graag van hulle leer?— Kom ons kyk wie party van hulle was en hoe ons soos hulle kan wees.

^ par. 3 In al hierdie verhale sal jy ’n aandagstreep (—) ná party van die vrae sien. Dit sal goed wees om daar te pouseer en jou kind te laat antwoord.