Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LES 4

Sy het haar pa en Jehovah bly gemaak

Sy het haar pa en Jehovah bly gemaak

Watter belofte maak Jefta aan Jehovah?

Dit was nie maklik nie, maar Jefta se dogter het gedoen wat haar pa belowe het

Sien jy die meisie in die prent?— Sy is die dogter van ’n man met die naam Jefta. Die Bybel sê nie wat haar naam is nie, maar ons weet dat sy haar pa en Jehovah bly gemaak het. Kom ons leer van haar en haar pa, Jefta.

Jefta was ’n goeie man en het baie tyd saam met sy dogter deurgebring om haar van Jehovah te leer. Hy was ook ’n sterk man en ’n goeie leier. Daarom het die Israeliete hom gevra om hulle in die geveg teen hulle vyande te lei.

Jefta het gebid en gevra dat God hom moet help om die geveg te wen. Jefta het belowe dat hy, as hy die geveg wen, die eerste persoon wat uit sy huis uitkom wanneer hy terugkeer, aan Jehovah sou gee. Hierdie persoon sou vir die res van sy of haar lewe by God se tabernakel bly en werk. Die tabernakel was die plek waarheen mense in daardie tyd gegaan het om God te aanbid. Jefta het toe die geveg gewen! Weet jy wie eerste uit sy huis uitgekom het toe hy teruggekeer het?—

Ja, Jefta se dogter! Sy was sy enigste kind, en nou moes Jefta haar wegstuur. Dit het hom baie hartseer gemaak. Maar onthou, hy het ’n belofte gemaak. Sy dogter het dadelik gesê: ‘Pa het ’n belofte aan Jehovah gemaak, en daarom moet Pa dit hou.’

Haar vriendinne het elke jaar vir haar gaan kuier

Jefta se dogter was ook hartseer. By die tabernakel sou sy nie kon trou en kinders kry nie. Maar sy wou baie graag haar pa se belofte hou en Jehovah bly maak. Dít was vir haar belangriker as om te trou en kinders te kry. Daarom het sy vir die res van haar lewe by die tabernakel gaan bly.

Dink jy dit het haar pa en Jehovah bly gemaak?— Ja, dit het! As jy gehoorsaam is en lief is vir Jehovah, kan jy soos Jefta se dogter wees. Jy sal ook jou ouers en Jehovah baie bly maak.